Toyota US Woordfees 2020-verslag: Pedofiele skuil dikwels in die kerk

  • 3

Pedofiele en kindermolesteerders kruip graag weg in die wye mantel van die kerk. So sê Christine Barkhuizen-Le Roux, die skrywer van die roman My naam is Prins, ek slaap met die lig aan.

Sy sê pedofiele is dikwels van die aangenaamste mense en kies graag beroepe waar hulle agter ’n morele kombers kan wegkruip. In baie gevalle kruip hulle weg agter die kerk of as onderwysers in koshuise.

Barkhuizen-Le Roux het indringende navorsing gedoen oor die verskynsel van pedofilie vir die skryf van haar roman. Sy het verskeie onderhoude gevoer met slagoffers wat as kinders gemolesteer is, asook sielkundiges en psigiaters wat met slagoffers te doen het. Agter in haar boek is ’n indrukwekkende lys verwysings na boeke en artikels wat oor die onderwerp handel.

Een van die skrywers na wie sy verwys, is Peter Adriaenssens, ’n kinder- en jeugpsigiater en dosent aan die Universiteit van Leuven. Adriaenssens was gemoeid met onder andere die begeleiding van talle van die meer as 800 manlike slagoffers van seksuele misbruik deur Rooms-Katolieke priesters nadat die gebeure in 2010 aan die lig gekom het.

Chris Jones van die Eenheid vir Morele Leierskap by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch het die onderhoud met haar gevoer. Hy het die boek beskryf as ’n broodnodige boek wat ’n stem gee aan diegene wat as kinders deur pedofiele misbruik is.

Barkhuizen-Le Roux sê hoewel dit nie ’n maklike boek was om te skryf of om te lees nie, moes iémand oor die onderwerp skryf. Die kinders met wie die dinge gebeur het, is stilgemaak en staan bekend as die stilgemaakte generasie. Sy en haar suster is self as kinders deur haar oupa gemolesteer. Sy sê sy was twee en ’n half jaar oud toe sy vir die eerste keer die emosie van onreg ervaar het en mens vergeet dit nooit nie.

Sy het besluit om die boek as ’n roman te skryf omdat die leser makliker met die karakters kan identifiseer en hulle as’t ware beter leer ken. “In ’n roman leef jy saam met die karakters en voel hulle pyn terwyl dit dikwels anders is as mens ’n koerantberig of artikel daaroor lees.”

Oor vergifnis sê Barkhuizen-Le Roux dit is iets waaroor elke mens self moet besluit. Sy dink nie mens kan ’n pedofiel maklik vergewe vir sy dade nie. Voor in haar boek haal sy die skrywer Dalene Matthee aan in Fiela se kind waar Fiela sê: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”

Sy sê pedofilie is ’n psigopatiese siekte en lê groot klem daarop dat dit geensins in verband gebring kan word met homoseksualiteit nie. “Om gay te wees is nie ’n siekte soos wat party mense dink nie. Pedofilie is ’n siekte wat behandel moet word en mens kan nooit die twee met mekaar vergelyk nie.” Sy sê daar is ook baie meer heteroseksuele mans wat kinders molesteer as gay mans wat dit doen.

Diegene wat kinders molesteer, is dikwels gerespekteerde mense in die samelewing. “Dit is ’n groot fout om te dink dis net mense wat in slegte omstandighede leef wat kinders misbruik.” Sy sê pedofiele is slu mense wat op weerlose kinders teer en eers hulle vertroue wen voordat hulle toeslaan.

Baie van die kinders voel agterna self skuldig en dit is een van die redes waarom baie van hulle jare lank daaroor stilbly. Dit gaan ook nie vir pedofiele oor die seks nie, maar eerder oor die mag wat hulle oor kinders het.

Haar roman handel spesifiek oor die molestering van seuns wat in ’n koshuis deur die koshuisvader gemolesteer word. Sy sê statistiek toon dat 36 persent van alle seuns en 33 persent van alle meisies een of ander tyd gemolesteer word.

Oor die kerke se hantering hiervan is sy baie skepties. Sy sê in die meeste gevalle wil kerke dit onderdruk en toesmeer. “Kerke wil nie hê die instelling moet skade ly nie, omdat dit dikwels vir hulle meer oor die instelling self gaan as oor die mense wat seerkry. Daarom word dit toegesmeer.” Sy sê kerke is traag om deursigtige ondersoeke te loods wanneer daar klagtes is, of hulle verwag van die slagoffer om die oortreder te vergewe.

“Ek het bedenkinge of die kerk daarin slaag om dit reg te hanteer en kry die indruk daar is ’n paar mense daar bo wat alles veto as daar sulke bewerings van kindermolestering is.”

In My naam is Prins, ek slaap met die lig aan vra die skrywer skreiende, dapper vrae. Wat beteken dit om ’n goeie man te wees? Hoe raak ’n mens ontslae van die verlede? En bowenal, hoe heel jy veertig jaar later die pyn van ’n klein seuntjie genaamd Prins?

Corinne Prinsloo, ’n kliniese sielkundige, se huwelik is nie meer wat dit eens was nie. Dis asof haar domineeman, Frank, wegkruip in sy studeerkamer, en saans al hoe vroeër die whiskeybottel nadertrek. Die liefdevolle saamwees van vroeër het verander in ’n versigtige eierdans rondom mekaar.

Wanneer Deon, ’n oudpasiënt, haar nader om saam met hom ’n pelgrimstog te onderneem na die dorp van sy kinderjare, word Corinne voor ’n belangrike keuse geplaas. Begelei sy Deon ’n laaste maal terug na die trauma van sy verlede, of moet sy by Frank bly en self agter die kap van die byl van haar man se drinkprobleme probeer kom?

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

Resensie: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Lesersindruk: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-le Roux

  • 3

Kommentaar

  • Robert van Staden

    F** die NG Kerk. Die NGK spits hom daarop toe om mense soos gays te breek en te verneder. Die NGK is 'n werktuig in die hande van Satan. Verfoeilike spul.

  • Dit is nie instansies as instellings wat mense misbruik nie, dit is die mense binne die instellings. As 'n mens die kerk as instelling verwerp kan jy net sowel die staat verwerp waarin korruptes die afgelope paar dekades gefloreer en die ekonomie en mense se lewens verwoes het.

  • ROBERT L BARRIE

    Die problem is dat die Kerk 'n menslike instelling geword het met al die tekorte wat daarmee gepaard gaan wat met sonde te doen het. Dan is die hierargie gevorm uit netwerke wat mekaar se ruens heeltyd krap en gunsies die met gepaardgaande voordele. Kerkrade betsaan uuit 'n groep wat oor jare en dekades die septer swaai sonder onafhanklike oorsig. Baie sake wat eindelik met die gemeente gedeel word, word in stilte gehou en gedoen. Daarom dat die getalle daal want die leierskap is verdag en hulle relevansie in die gemeenskap bestaan omtrent nie. Hoeveel getuigskrifte word nog van predikante gevra? Baie min en min mense ken hulle

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top