Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

  • 2

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386110

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Diamante blink tussen die mense, maar die mense blink nie tussen diamante nie, het hy op die Hoëveld geleer” (Du Plessis, 2017:45).

Hans Du Plessis se nuutste roman, drie vroue en ’n meisie (2017), handel oor die geskiedenis en nalatenskap van ’n Skotse delwer en sy vrou in die Hoëveld van Suid-Afrika. Angus Murray het saam met sy vrou, Amlèth Murray, Suid-Afrika toe geëmigreer, agter die blink toekoms aan wat die diamante in die droë grond belowe het. Die lewe in die Hoëveld was egter net so hard soos die grond en die minagtende gemeenskap.

In plaas van rykdom te vind, verloor die Skotse delwer sy vrou en plaas sy enigste geborene (Cathy) onder die sorg van twee bywoners op die plaas genaamd Varkfontein. Die armoede en swaarkry waarin haar ouers gelewe het, het egter in Cathy se lewe oorgespoel. Telkens was daar een of twee karakters wat Cathy probeer help het, maar dit is net asof die wêreld, of die skrywer, teen hierdie karakter gekant was. Sy is herhaaldelik deur een terugslag of die ander getref. Tot die dag wat sy en haar drie kinders ’n heenkome vind in ’n garage in Pretoria. Te danke aan haar buurvrou, ’n dominee, ’n welsynswerker en ’n juffrou kon sy ’n beter toekoms vir haar kinders voorsien. So word daar uiteindelik deur die armoede gebreek, wat veroorsaak dat die dromer se droom kon voortleef.

Die voorblad van die roman bestaan hoofsaaklik uit ’n foto van ’n jong blondekopmeisie. Die meisie staan egter met haar rug na die leser soos sy die veld instaar. Hiermee word haar identiteit antoniem gehou en kan sy meer as een karakter voorstel. In hierdie opsigte skakel die beeld met die roman se titel. Die drie vroue na wie daar verwys word, is die drie generasie van vrouens in die Murray-stamboom: Amlèth, Cathy en Kartin. Die “meisie” in die titel is die agterkleinkind van Amlèth wat as Katryn bekend staan. Al vier hierdie karakters het die kenmerkende blonde hare gehad en kan met ander woorde as die meisie op die voorblad geïdentifiseer word.

Aan die onderkant van die voorblad is daar ’n uitgewaste foto van delwers op soek na diamante. Hiermee word die geskiedenis van hierdie vier karakters uitgebeeld, aangesien hulle afstammelinge van delwers is. Die rede waarom hierdie foto amper soos ’n watermerk op die voorblad verskyn, kan wees dat dit die verlede uitbeeld. Dit verwys na ’n tydperk wat verby is en net vaagweg onthou kan word. Daarom is dit nie so in fokus soos die meisie op die voorblad nie.

Hierdie verhaal van swaarkry en minagting word deur Katryn as ’n uitdaging aan haar skryfdosent gegee: “Ek het vir Prof ’n storie om te skryf ... ’n Novel oor my ma se mense” (bl 9).

Soos wat die dosent navorsing doen oor die drie generasies wat op Miersehoop gelewe het, word die verhaal aan die leser uitgelê. Die roman word met ander woorde hoofsaaklik vanuit die skryfkunsprofessor se perspektief vertel. Daar word wel soms verwissel tussen die verskillende generasies se perspektiewe, byvoorbeeld die verwisseling tussen Angus se perspektief en Amlèth, Cathy en Kartin s’n. Hierdie verskillende perspektiewe vorm deel van die roman wat die professor skryf. Daarom kan dit ook as sy perspektiewe geklassifiseer word.

’n Tegniek wat hierdie stelling kan staaf, is die feit dat daar deurlopend tussen die ek-verteller en ’n alomteenwoordige verteller gewissel word. Die ek-verteller is aan die woord as die roman in die huidige tyd afspeel. Dit is die tyd waarin die professor besig is met die skryf van die novel oor Kartin se familie. Daar word gewissel na die alomteenwoordige verteller wanneer die verhaal van Angus, Almèth, Cathy en Katrina vertel word. Die gedeeltes van Du Plessis se roman wat deur hierdie verteller vertel word, is met ander woorde die novel wat die professor skryf. Dit is die tipe verteller wat hy gebruik.

Hierdeur kom een van die roman se temas te voorskyn, naamlik die verskil tussen feit en fiksie. Du Plessis se roman handel oor die skryf van ’n roman. Dit is ’n storie in ’n storie. Alhoewel die professor sy eie navorsing doen en Katryn se ma, Katrina, se vertelling van haar verlede gebruik, moet hy steeds by tye op sy eie verbeelding staatmaak. Die roman wat die professor oor die delwer en sy nageslagte skryf, is op die ou einde ’n kombinasie van feite en fiksie. Daar is gebeurtenisse in Du Plessis se roman wat hierdie tema ondersteun.

Oorspronklik wou Katryn se ma, Katrina, nie haar deel van die verhaal vertel nie. Die idee om haar verlede te herbeleef was net te swaar, maar met tyd kon Kartin haar ma oortuig. Dit kan in die volgende uittreksels gesien word;

“Sê vir jou ma ek skryf nie haar storie nie,” het ek darem my gerusstellinkie probeer oordra. “Ek maak van haar storie ’n roman. Niemand hoef te weet oor wie die storie in die werklikheid gaan nie.” (198)

Die professor gebruik Kartin se ma se vertelling en sy eie navorsing oor die familie as riglyne, terwyl hy die gaping met sy eie verbeelding inkleur:

“Uit my pa se vae herinneringe en Katryn se ma se aantekeninge kan ek ’n bietjie van die veertigerjare se geskiedenis herwin en geloofwaardig bylieg waar die plot plat raak.” (200)

Vanuit hierdie gebeurtenis en uittreksel word die vraag oor feite en fiksie uitgelig.

’n Ander tema wat sterk in die roman na vore kom, is armoede. Dit is die rede waarom Angus en Amlèth in die eerste plek Suid-Afrika toe gekom het;

Amlèth is nie een wat kla nie, dink Angus. Soos wat sy nie in Skotland gekla het toe hy aangekondig het dat hy na die verre suidpunt van Afrika wil gaan nie.

“Hulle praat van diamante so groot soos ’n skaapkop, Amlèth,” het hy verduidelik.

“Glo jy dit, my liewe Angus?”

“Daar is baie wat ryk geword het uit diamante in Suid-Afrika.”

“Ons krepeer tog nie hier nie en ons is nog jonk,” het sy gesê en by hom kom sit.

“Watse toekoms is daar vir my in die fabriek? Nie veel meer as ’n arm werker nie.” (46)

Rykdom is egter die laaste ding wat die Murry-gesin gevind het. Soos daar alreeds genoem is, het hierdie armoede ook oorgevloei in hul dogter, Cathy Murry, sê lewe. Sy het grootgeword in die huis van tannie Hetta en oom Paul – bywoners op die plaas genaamd Varkfontein. Cathy moes op die bywoners staatmaak, want al wat Angus en Amlèth oorgehad het om vir hul dogter agter te laat was “twee diamante en ’n onvolledige Victoriaanse teestel” (83).

Buiten die gebrek aan diamante in die kleims, is industrialisasie ook ’n oorsaak van armoede in Du Plessis se roman. Die roman speel af in die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog en die Depressiejare in Suid-Afrika. Talle arbeiders het hul werk verloor weens trekkers en dorsmasjiene wat tien of meer mense se werk kon doen. Die gevolg hiervan was dat baie mense stede toe moes verhuis en werk op die spoorweë of myne gaan soek het. Dit word in die volgende uittreksel uitgelig;

Die enkele bywoners wat nog oor is, sal moet trek. Deelsaaiers is bekommerd omdat so ’n sterk ding mos osse oorbodig sal maak en daar minder hande op die plase nodig sal wees. ’n Wit mens sal moet gaan werk soek in die stad, en watse soort werk is daar nou in ’n stad vir ’n man wat net van boer weet? Is net myne wat werk het ... Selfs die seisoenoesters weet dat so ’n trekker die begin van masjiene is wat eendag seker sommer self op wiele deur ’n mielieland loop en oes. Dalk nog ’n ding wat dros ook. (121)

Twee ander temas wat met armoede skakel, is vervreemding en die minagtende gemeenskap. Die gemeenskap van Miersehoop waarin Angus en sy nageslag gelewe het, was onverwelkomend en genadeloos. Die aard van die gemeenskap is dat enige persoon wat in die kategorie van ’n delwer, bywoner, Engelsman, weggooikind of nieblanke geval het, deur die gemeenskap verwerp is – en die Murry’s was beide delwers en Engels.

Delwers, weet hy teen dié tyd al, moet agterdeur toe. Delwers en swart mense. Engelse delwers moet dalk eerder voor die hekkie bly staan totdat iemand hulle gewaar? (59)

Hierdie temas word beklemtoon in Katryn se motivering agter die skryf van die roman oor haar ma se geskiedenis:

“Ons wil die storie van minagting vertel, Ma ... Mense moet weet hoe party sogenaamde voorste Afrikaners hulle arm mense vir ’n paar sandale sal verkwansel.” (197–8)

Du Plessis beklemtoon die verwerping wat sy karakters in die Hoëveld ervaar het deur hierdie minagtende gemeenskap te kontrasteer met ’n barmhartige gemeenskap in die stad. Alhoewel Cathy Murry en haar kinders steeds in armoede in die stad gelewe het, is dit opmerklik hoe die gemeenskap as meer behulpsaam geskets word. Hierdie barmhartigheid kan veral gesien word in die karakter Judy, Cathy se buurvrou, ouderling De Koker, Mercia die welsynswerkster en juffrou Gous.

Du Plessis se roman is met ander woorde ’n hartseer en swaar uitbeelding van ’n harde en genadelose wêreld, maar terselfdertyd ’n pragtige uitbeelding van hoe arm mense mekaar in moeilike tye ondersteun:

“As die armes mekaar nie help nie,” sê Judy vir Cathy toe sy uitloop, dan vreet die rykes ons op.” (263)

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top