Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Hans du Plessis

Hans du Plessis is ’n geliefde naam in die Afrikaanse letterkunde. Sy historiese romans staan stewig in die hede gewortel en hy is bekend vir die bedrieglike eenvoud in sy verhale wat dieper waarhede dra.

Sy omdigtings van Bybelverse na Griekwa-Afrikaans was ewe gewild. Innie skylte vannie Jirre het pas ’n negende druk beleef. Meer as 60 000 kopieë is verkoop.

Hans du Plessis is in Pretoria gebore en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy verwerf ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en ’n DLitt ET Phil by Unisa. Hy besoek Harvard Universiteit in 1976 en neem kursusse in kreatiewe skryfkuns by Iowa en die Oklahoma Arts Institute. Hy aanvaar die pos as senior dosent by die Randse Afrikaanse Universiteit en in 1981 word hy professor van Afrikaans by die Noordwes Universiteit en in 1990 die Direkteur van die Skool vir Kreatiewe Skryfkuns by dieselfde universiteit.

Tans is hy voltyds skrywer en navorsingsgenoot aan die Skool vir Tale by die Noordwes Universiteit.

Hy word vir sy skryfwerk bekroon met onder andere die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die CBSA-prys vir algemene Christelike literatuur.

Hy is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier seuns en nege kleinkinders.


Opsomming

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386110

Iets van Bosman en Coetzee, ook darem hoop; dit is Hans du Plessis se nuutste.

“Ek het vir prof ʼn storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan.

Wat volg is soms lig en sexy, maar dié roman belig ter selfter tyd die afgryslike armoede van wit en swart Suid-Afrikaners, asook die klaspbeheptheid van die vroeë Afrikanerelite.

Hans du Plessis het die vermoë om die leser te tart met heerlik speelse inligting, net om jou daarna weer bloot te stel aan die ellende van hulle wat nie het nie.

Ons leef nou, in die een-en-twintigste eeu, weer in ’n fase waar die politieke elite hulle vergryp aan die duurste en die beste terwyl die armes gewoon van honger sterf. Du Plessis hou ’n spieël na die verlede op en wys hoe eenders dit was toe die vorige heersersklas net vir hulself gesorg het en niks vir ander omgegee het nie.

Die einde bring hoop en daar is beeldskone verhale ook in die boek, maar uiteindelik is Drie vroue en ’n meisie ’n roman wat ’n diep seer blootlê en geen pleisters vir die wonde bied nie. Armoede se pyn en die elite se argwaan is skynbaar universeel.

Die ingrepe van die kerk en die staat se maatskaplike werkers bring uiteindelik verligting.

Drie vroue en ’n meisie vertel die saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop, wat byna reeds uitgewerk is, begin. Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een.

Die roman toon sterk ooreenkomste met JM Coetzee se Disgrace, hoewel die storie gans anders is.

Jeanette Ferreira beskryf die verhaal so: “Du Plessis vermaak ons met sy ongemaklike kennis van die mens se swakheid soos Herman Charles Bosman dit gedoen het, nooit haatlik en moedswillig nie, altyd met die wete dat dit hierdie swakhede is wat van ons mense maak. ʼn Wonderlike verhaal, Du Plessis se Du Plessiste roman.”


Uittreksel

Toe die vrou by die kaia kom, skuur die deur blikkerig van binne af oop asof iemand die besoeker te wagte was. ’n Lenige vrou hou die deur halfoop teen die wind en glimlag, maar maak die deur nie verder oop nie. Sy is ver swanger. ’n Mens sou so ’n netjiese vrou nie juis in die deur van ’n delwerspondokkie verwag nie, asof sy nie hier hoort nie. Jonk, blond en nogal mooi, ten spyte van die verslete grys trui wat oor die dragtige magie span.

“Hetta, kom in,” groet sy gul in Engels met ’n swaar Skotse aksent.

“Môre, Amléth,” antwoord die besoeker in Afrikaans.

Die twee is gewoond aan min woorde tussen hulle, want die een ken nie die ander se taal nie. Nogtans het hulle oor die afgelope maande al geleer dat vriendskap nie veel woorde nodig het nie. Respek en liefde hoef nie baie te praat nie.

“Wind,” sê Amléth en dwing die deur groter oop.

“Wind,” beaam Hetta Minnaar, val byna die pondok binne en bly rillend in die vertrekkie staan. Sy moet eers haar asem aamborstig intrek en rou hoes voordat sy uitasem sê: “Die koue is erger as die wind, my liewe Amléth.” Sy hyg en vou haar hande oor haar pofferige blou wange. Haar oë gaan oor die vertrek met die enkelbed, ’n tafel en twee kombuisstoele. Die gehekelde deken en die skoon tafeldoek weerspreek die mure van sink en sak. Voor die venstertjie ’n gordyn wat hang soos ’n kind se rok wat veels te kort is. Die kamertjie ruik na spiritus en paraffien.

“Tee?” vra Amléth.

“Tee,” antwoord Hetta.

Buite gier die wind.

“Die houtwa is aan die kom,” sê Hetta. “Jy het gesê ek moet kom sê.”

“Hout?” vra Amléth. “Vuurmaakhout?”

“Ek sien jou hout is op, Amléth.”

“Geld is op, Hetta.”

“Het julle niks gekry nie?”

“Net, hoe sê julle nou weer, net ’n pintertjie. Ons moes water koop. Sonder water kan ’n mens nie delf nie. Drie dromme.”

“En Gys Grootbek vra seker weer ’n arm en ’n been vir een drom vuil water wat hy in elk geval net hier onder by die rivier loop skep?”

“Arm?” vra Amléth Murray. Die sin is veels te lank vir haar Skotse oor, en sy draai om om die blink keteltjie uit die emmer water vol te skep.

“Ek sien jy drink soms die water sonder om dit te kook,” sê Hetta.

“Moet ek dit kook?”

“Altyd,” antwoord Hetta byna driftig. “Die delwerye se water is permanent vuil. Jy sal siek word.”

Die wind loei om die vier hoeke van die huis.

“Jy kan tog nie sonder brandhout in hierdie koue nie, nie in jou toestand nie, vriendin?” Hetta beduie met haar hande om haar middel om betekenis te probeer gee.

Amléth glimlag. “Daar is net geld vir water.”

“Julle het ’n kleim.” Hetta sug en gaan op die een stoel by die kombuistafeltjie sit.

Met die ketel wat op haar maag rus, bly Amléth ’n rukkie lank staan, asof sy nie die laaste woorde van Hetta begryp het nie. Nogtans antwoord sy: “’n Kleim ís nie ’n diamant nie.”

Die vrouens sug in stilte, asof die woorde tussen hulle te veel geword het om ’n verbale gesprek te voer. Buite sleep die wind vlaag op vlaag oor die vlak. Toe draai Amléth weg, sit die ketel op die kant van die tafel neer en draai na die primusstofie op ’n paraffienkis.

Goedig hou Hetta haar vriendin dop. Sy sien hoe handig die Skotse vrou al met die stofie is. Toe sy hier aangekom het, moes hulle haar eers leer hoe die ding werk. Sy en Mieta moes haar meer as een keer kom help. Amléth gooi versigtig die bietjie spiritus in die bakkie, steek dit aan en begin die stofie pomp en wag vir die vlammetjie wat uit die spiritus spring. Hetta voel jammer vir haar, want al het sy alles reg gedoen, pas die Skot steeds nie by die sinkkamer en die primus nie.

Die klank vul die vertrek en die intieme reuk van paraffien slaan sterker in Hetta se neus op. Die primus suis toe Amléth die lugkraantjie oopdraai, toe eers uit die siffie spring ’n vlam. Amléth sit die keteltjie versigtig op die stofie en staar momenteel na die blougeel vlammetjie van die heserige primus onder die swartgebrande boom. Sy vou haar hande oor haar maag asof sy wil seker maak dat daar nog lewe in die baarmoeder is. Toe sy die twee koppies ongemaklik van die hoërige rakkie afhaak, sien Hetta hoe haar hande effens geswel is, maar sy sê niks. Sy kyk geamuseerd na haar vriendin, want sy ken Amléth Murray se ritueel. Twee fyn wit koppies met ’n goue randjie en delikate roospatroontjies. Twee bypassende pierings. Klein, silwer teelepeltjies, ’n suikerpot met swierige ore en ’n melkbekertjie met ’n boepens.

Victorian, weet Hetta al. Amléth het dit by haar ma geërf.

Al wat sy kon saambring, het Amléth gesê.

Die teepot met die deksel en ’n tuit wat vir Hetta soos ’n gans se nek lyk. Die gekrulde handvatsel buig soos die slank arm van ’n ryk vrou met haar hand in haar sy.

Amléth spoel die teepot met ’n bietjie warm water uit voordat sy ’n lepeltjie tee in die pot skep. Toe die water op die stofie stoom, giet Amléth die kokende water op die teeblare onderin die teepot. Amléth gaan sit. “Tee moet trek,” sê sy en skuif die koppies reg.

Hetta weet hulle wag ’n minuut of vyf vir die tee om te trek. Eers die melk, dan die tee.

“Melk eerste,” sal Amléth sê.

“Sommer nonsens,” moet Hetta dan antwoord.

Dit is hoe ’n mens tee skink.

Hulle wag vir die tee om te trek, Amléth lig die melkbekertjie versigtig en keer dit fyntjies om.

Daar is nie melk in die beker nie.

“Ons het nie melk nie,” verklaar Amléth, druk die teepot se deksel vas en skink met konsentrasie, stadig, swart tee deur die silwer siffie, en skuif dan die een koppie oor die tafel na Hetta.

Toe sy met die koppie tee voor haar sit, gee Amléth die suikerpotjie aan.

Hetta lig die deksel aan die deftige vatsel.

Die suikerpot is leeg.

“Niks suiker nie,” sê Amléth.

Elfuur die oggend drink die twee vriendinne swart tee op die delwerye van Miersehoop op die Hoëveld en geniet mekaar se gesellige stilte.

“Dankie, die tee was lekker.” Hetta skuif die koppie versigtig weg asof sy bang is dit kan dalk breek.

“Dankie,” antwoord Amléth en neem ’n laaste beskaafde slukkie.

Hulle bly teenoor mekaar sit, sonder woorde. Twee beskimmelde siele wat mekaar gevind het, maar dit nie in woorde en sinne kan uitspreek nie omdat hulle mekaar se woorde moeilik verstaan. Hulle verstaan mekaar desondanks, weet wat dit is om verwerp te voel, al is die oorsaak van hulle verwerping verskillend. Dalk ook nie so anders nie, want hulle is uit ’n laer klas, die een is ’n delwer se vrou en die ander een ’n bywoner se vrou. Onaanvaarbaar vir ’n deel van die gemeenskap met ’n skuldige gewete, dié deel wat ná meer as twee dekades steeds met hulleself ’n Boereoorlog voer op soek na ’n vyand en ’n geskikte slagveld.

“Dis koud,” sê Hetta.

“Julle weet nie wat koud is nie.”

Soos gewoonlik raak die sinne al hoe langer en die gespreksgenote se verstaan word al hoe minder soos die woorde meer word. Maar hulle bly gesels, voel mekaar aan. Soos altyd weet die een dan nie presies wat die ander sê nie. Dit strem egter nie die nieverbale gesprek nie, al loop die woorde later op twee spore wat parallel bly en oënskynlik nooit by mekaar behoort uit te kom nie. Tog is daar die emosie wat twee siele bind.

“By ons in Skotland is dit kouer, maar dit voel nie so nie. Hier is die wind droog en onvriendelik, soos die mense,” gaan Amléth voort asof Hetta elke woord verstaan.

“Buite is dit beter,” antwoord Hetta.

“Ek gaan net buitetoe om die blou lug te bewonder.”

“Dis te koud, Amléth.”

“Daar is nie nog so ’n intense blou as hierdie blou nie.”

“Dis koud,” sê Hetta.

“Soos die mense,” antwoord Amléth.

“Jy ken net vir ons.”

“En Gertruida Deysel.”

“Onbekend maak onbemind,” sê Hetta.

“Hulle verwerp ons omdat ons delwers is,” sê Amléth sag.

Hetta weet daar is ’n Afrikaanse woord vir wanneer mense sommer net vooraf besluit wie of wat jy is, nog voordat hulle jou ken. Die woord kan sy nie nou onthou nie, maar Amléth sal dit in elk geval nie verstaan nie, en wat die woord in Engels is, weet Hetta nog minder. “Dis soos om te sê ’n tamatie is sleg voordat jy eers een geproe het. Hulle verneder ons omdat ons nie grond het nie,” sê sy dan maar, en dink ’n oomblik voordat sy byvoeg: “En julle omdat julle Engelse is.”

“Skotte.”

“Donkie Deysel sien op almal neer wat anders is as wat hy dink hulle behoort te wees.”

“Donkie?” vra Amléth.

“Deysel het donkies en muile aan die Kakies in die oorlog verkoop. Donkies by die ander Boere gesteel en aan die Engelse verkoop.”

“Aan die vyand?” vra Amléth.

“Aan die vyand,” beaam Hetta. “Die oorlog het seergemaak.”

“Dis twintig jaar terug.” Amléth skuif die teepot nader.

“Onreg word nie oud nie,” sê Hetta. “Dis nie net ons áárde wat verskroei is nie.”

“Onreg is ’n sonde wat ons nie maklik vergewe gaan word nie,” meen Amléth. “Hoekom haat julle ons so?”

“Wie?” maak Hetta of sy nie verstaan nie.

“Julle Boere haat ons Engelse. Vir julle is daar nie ’n verskil tussen ’n Skot en ’n Engelsman nie. As jy Engels praat, is jy een van die vyand.”

“Jy moet iets van die vernedering agter die loopgrawe probeer verstaan,” verduidelik Hetta. “Ek wil nog altyd die siel van oorlog begryp. Die slagvelde is erg, maar oorlog se dieper dood is in die vroue wat ’n oorlog moreel in stand moet hou. Vat nou maar vir my en my Gert.”

“Vertel,” sê Amléth en Hetta kan sien die vrou wil probeer verstaan.

“Ons is albei so tien jaar voor die begin van die oorlog gebore, in ’n tyd toe dit goed met ons in die Republiek gegaan het, totdat vreemdelinge die goud onder ons begin uitgrawe het. Dit sou goed bly gaan het, maar toe raak die Engelse regering vraatsig en probeer die rykdom wat die Here onder ons aarde gesit het, steel.”

“Ons aarde?” vra Amléth. “Wie is ons, Hetta?”

“Ons Afrikaners,” sê Hetta.

“En dié wat voor julle hier was, en voor hulle?”

“Dis ons grond,” maar Hetta is nou self nie meer so seker van die verloop van die gesprek nie.

“Die aarde behoort aan die Here,” sê Amléth stilweg, en sy wil oor die diamante op die delwerye vra, maar Hetta verkies om verder oor haar eie geskiedenis te praat. Sy bly eers stil asof sy die volgorde van gebeure oorweeg.

“En toe kom die oorlog,” help Amléth met haar oë op haar vriendin.

“Toe kom die oorlog, en ek was skaars tien, te klein om iets daarvan te kon begryp. En dit was ver van ons af. Ek het toe al ’n hele rukkie by my ouma gebly omdat my pa in oom Paul se artillerie was en my ma nie vir al sewe haar kinders kon sorg nie. Totdat ek en my ouma op ’n bitter koue Hoëveldse winternag saam met baie ander vrouens en kinders hier na die dorp se konsentrasiekamp toe gebring is.” Sy bly stil, sluk swaar voordat sy voortgaan. “Dood het in die kamp ’n gewoonte geword, begrafnisse was deel van elke dag se roetine. My ouma is in die eerste drie maande al oorlede. Sy was oud. Ek het toe gedink sy is nooit begrawe nie, want hulle het haar een oggend saam met ’n hoop ander dooies in ’n oop muilwa weggery. Eers toe ons hier op Varkensfontein kom woon het, het ek gehoor dit is muile wat Hendrik Deysel aan die Engelse verkoop het.”

“Hoekom bly jy en Gert dan nou nog hier?” vra Amléth.

“Waarheen anders?” vra Hetta. “Gert het in dieselfde kamp as ek beland. Saam met sy ma en vyf ander kinders. Hulle is almal in die kamp dood. Teen die tyd dat die vrede gekom het, was hy al wat oor is en ná die oorlog is hy eers terug na hulle plaas toe. Daar het niks van die spogplaas oorgebly nie, alles verbrand. Huis, waenhuis, krale, landerye. Nie ’n lewende dier het agtergebly nie. Toe kom hy terug kamp toe waar hulle my en hom in die weeshuis vir kampkinders gesit het. Ek het as verpleegstertjie gehelp en Gert is as messelaar opgelei. Só het die kampwesies hulle eie weeshuis gebou. Dit is daar waar Gert ’n belofte aan homself gemaak het dat hy in sy lewe nooit weer aan ’n baksteen sal vat nie en hy sal nooit vir iemand laat agterkom dat hy ’n messelaar is nie.”

“Toe trou julle?” vra Amléth.

“Twee jaar ná die vrede trou ons en stap met ons voete van plaas tot plaas om te hoor wie soek ’n bywoner, maar die meeste verskroeide plase kon skaars hulle eienaars dra. Tot hier op Varkensfontein het ons gestap, waar ons toe blyplek by Hendrik Davel kry.”

“Ek glo nie ek verstaan heeltemal nie, maar dit help tog.”

“Dis van toe af dat my Gert nie eintlik praat nie. Ek dink nie hy vertrou mense nie, selfs nie ander Afrikaners nie.”

Weer raak die talige te ingewikkeld en die stilte val gemaklik tussen die twee totdat Hetta vra: “Hoe gaan dit met die baba?”

“Ek sukkel,” sê Amléth.

“Hoe so?”

“Ek is nie gesond nie.”

“Dis die water,” sê Hetta. “Jy moet dit kook.”

“Seker nie die water wat ons koop nie?”

“Vandat die delwery hier begin het, kook ek alles. Die delwers weet nie eens meer wat ’n kleinhuisie is nie.” Sy bly stil asof sy besef sy praat met die vrou van ’n delwer.

“Kleinhuisie?” vra Amléth.

Hetta dink, maar sy kom nie op die Engelse woord nie.

“Toilet?” vra Amléth.

Hetta glimlag. Nou verstaan hulle mekaar.

“Jy kan gerus ons kleinhuisie gebruik,” nooi Hetta gul. “Dit is die klein geboutjie tussen ons huis en die leivoor.” Hetta glimlag. “Donkie Deysel wou nie die bywoner se kleinhuisie aan sy kant van die bywonershuis hê nie.” Maar sy sien Amléth volg nie en Hetta beduie toe maar huis se kant toe, en vervolg, al is dit net vir haar privaat humor. “Vóór die delwerye hier was, kon ’n mens die deur oop los en oor die veld uitkyk tot daar onder waar die rivier buig, maar nou moet jy maar die deur toemaak en sonder ’n uitsig sit. Dis nou die een plekkie waar ons almal gelyk is. Of jy nou arm of ryk is, as jy moet sit, moet jy sit.” Hetta verkneukel haar in haar eie grappie.

Die glimlag op Amléth se lippe getuig inderdaad daarvan dat sy nie ’n snars volg nie.

Hetta kyk bekommerd na haar vriendin totdat dié sê: “Ek voel nie lekker nie. Ek dink nie ek gaan melk vir my baba hê nie.”

“Ons sal ’n plan kan maak,” troos Hetta en staan op.

“Op hierdie godverlate plek?” Amléth bly sit asof sy vra dat Hetta nie so gou weer moet loop nie.

“Hier is bokke om te melk.”

“Hoekom laat die Here toe dat kinders op ’n delwery gebore word?”

“Dit is sy wil.”

Amléth glimlag effens. “Dit voel vir my meer soos Angus se wil.”

“Wil jy dan nie ’n kind hê nie?”

“Dis nie dat ek nie die kind wil hê nie, Hetta!” Die skraal vrou met die intense blou oë kyk by die pondokkie se venster uit buitetoe. Die wind waai weer ’n vlaag stof. “Moenie my verkeerd verstaan nie,” vervolg sy asof sy raai dat haar vriendin haar nie volg nie.

Hetta skuifel deur toe sonder om te antwoord.

“Sal mens ’n baba hier kan grootmaak?” Amléth wuif met die regterhand oor die karige kamer, die kombuistafeltjie en die twee stoele wat nie by mekaar of by die tafeltjie pas nie. Op die een hoek die Victoria-teestel. Dit kan die vyandige wind wees, of sy huil regtig. “Ek verlang na my noordelike verlede,” sê sy.

Die koue sny deur alles.

“Wees dankbaar dat jy ’n kind kan hê, my liewe Amléth.”

“Ek sou dit net nie hier wou hê nie.”

“Mens kan nie altyd kies nie, veral nie ons armes nie,” troos Hetta.

“So arm was ons nie in Skotland nie. Ons moes nooit Suid-Afrika toe gekom het nie. Diamante is die hel nie werd nie.”

“Het julle al iets gekry?”

“Pintertjies.”

“Dit sal kom,” sê Hetta met ’n heserige laggie.

“Hulle het gesê dit lê sommer op die grond, dis net vir optel.” Amléth staan op.

“Dan het ek ook al een opgetel, maar bywoners tel nie diamante op nie, dis die ryk mense se gruis waarin die goed lê.”

“Die wind is nie die Skotse wind nie,” sê Amléth en raak aan Hetta se wang, “dis droog en soos ’n vyand wat haat.”

Hetta volg nie meer nie en hou Amléth se hand ’n oomblik vas.

“Hoekom moes ek in hierdie wye wildernis swanger raak?”

“’n Vrou raak op enige plek swanger,” glimlag Hetta Minnaar.

“Kon dit maar nie gebeur het toe ons nog in Skotland was nie? Daar is dokters en ’n hospitaal. Vroedvrouens.”

“Mieta Direko sal help, Amléth. Dit sal nie die eerste bevalling wees waar sy hand moet bysit nie.”

“Verstaan my mooi, Hetta, dis nie dat ek die kind nie wil hê nie. Ek wil! Net nie hier op hierdie woeste delwerye nie.”

“Dit sal goed gaan.”

Die blikdeur swaai van buite af oop. In die deuropening staan die maer Skotse delwer met die min hare, Angus Murray. Sy vuil gesig straal. In sy arms hou hy ’n swart bondeltjie hond. Net die twee groot, regop ore is duidelik sigbaar.

“Ag, hoe dierbaar,” sê Hetta, staan op en streel oor die hondjie se kop.

“’n Skotse terriër,” sê Angus en sit die hondjie op die vloer neer. Twee ore so groot soos ’n varkie s’n, skerperige bek en ’n stertjie wat sekel staan.

“Vir ons seuntjie,” kondig Angus met trots aan.

“En as dit ’n dogtertjie is?” vra Hetta.

“Dis ook reg, dis ’n tefie. Egte Skotse terriër,” sê hy.

Amléth buk en tel die hondjie op, druk haar teen haar vas, en die hondjie vroetel haar koppie in haar nek in. Toe kyk sy na Angus. “Dis dan die middel van die dag, Angus?” Maar dit is duidelik uit Amléth se hoë stem dat sy weet iets belangriks moes gebeur het, en op ’n delwery beteken dit gewoonlik meer as net ’n nuwe hondjie.

“Die geluk het gedraai,” sê hy en hou sy toe vuis na sy vrou toe uit.

“Hoeveel?” vra Hetta.

Hy huiwer, sê dan: “Ek het gekry!”

“Jy kan maar voor Hetta praat.”

“Toemaar,” sê Hetta, “ek loop. Ek hoop dit is ’n grote. Ek sal nie praat nie.”

“So ’n halfkaraat,” fluister Angus.

“Ek is bly.” Hetta loop uit in die wind.

“Sal ons kan teruggaan?” vra Amléth toe Angus die deur toemaak.

“Nog nie, my skat. Nog net een of twee grotes en ons kan begin dink aan Skotland.” Hy trek haar teen hom vas. Sy stribbel nie teë nie, leun selfs met haar kop teen die modderige skouer, die hond nog in haar arm.

Angus staan weg. “Bêre dit.” Hy vou die diamantjie in haar hand toe. “Saterdag verkoop ons die diamant. Ek gaan verder soek sodat ons een van die dae ryk kan teruggaan huis toe.”

Amléth sit die hond op die vloer neer. Die tefie sak net daar neer en slaap asof dit lankal haar huis is.

“Waar kry jy die hondjie?” vra sy.

“Een van die Skotse delwers het haar vir my gebring omdat sy ’n Skotse terriër is. Syne het kleintjies gekry. Hy sê sy is omtrent drie maande oud.”

Op die vloer lig die hondjie haar kop asof sy presies verstaan wat die mense sê.

Amléth tel weer die hond op, sy glimlag mooi. “Dankie, my skat.”

Angus staan net verleë en sê niks.

“Dit is my kind se speelmaatjie.”

“Jy moet vir haar ’n naam kry,” sê Angus met sy sagte, mompelende stem.

“Ek het klaar vir haar ’n naam, Roxy. Dit was my eerste hond se naam.”

“Roxy,” sê Angus en die hondjie maak haar oë oop. “Sy ken haar naam.” Angus soen sy vrou sag op haar voorkop, hou sy hand ’n ruk op die baba totdat hy lewe voel en uitloop in die koue om ’n diamant so groot soos ’n skaapkop te gaan soek.

Amléth gaan weer by die tafel sit, die hond stil in die een arm. Voor haar lê die klippie, klein, maar blink soos suiwer glas.

“Dankie, liewe Vader,” bid sy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top