Herkomsseminaar: Afrikaans sonder grense

  • 1

Hans du Plessis (foto: Naomi Bruwer)

Lesing gelewer by die Herkomsseminaar van die ATR, ATM en DES, Pretoria, 20 Oktober 2018

Inleiding

In Carstens en Le Cordeur haal Willa Boezak (2016:14) ’n Namakwalandse uitdrukking aan: "Veral die oudstes is lief om op hardmiddag, al sê die son 'tjieng!' te sitstap."

Sitstap? Ek kan my kwalik ’n meer on-Germaanse konstruksie indink as sitstap. Dit klink egter of dit verband kan hou met ’n eg moderne Afrikaanse konstruksie, soos sit en rus of loop gesels. Tradisioneel sou voorgaande konstruksies teruggevoer word na die Nederlandse verbale hendiadis, wat die spontane ontwikkeling van ’n Afrikaanse konstruksie uit Nederlands veronderstel. Die vraag waarom dit vir my in hierdie artikel gaan, is egter hoe houbaar dié afleiding is, naamlik dat die sogenaamde skakelwerkwoordkonstruksie in moderne Afrikaans teruggevoer kan word na ’n Germaanse oorsprong? ’n Studie van ’n soortgelyke Khoi-konstruksie lyk vir my na ’n geloofwaardige hipotese, wat daarop kan dui dat Afrikaans inderdaad die resultaat is van ’n aanleerdersvariëteit, eerder as bloot die spontane ontwikkeling uit 17de-eeuse Nederlands. Die doel van hierdie artikel is egter nie ’n deelname aan die Kreools-debat of die oplossing van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans nie. Dit gaan vir my uiteindelik om ’n herdefiniëring van moderne Afrikaans gegrond op die werk van wyle Christo van Rensburg, ofskoon die herinterpretasie van “Afrikaans sonder grense” in die slotsom van hierdie artikel my eie siening is.

Die skakelwerkwoordkonstruksie, ’n herinterpretasie

Sou ’n mens noukeurig luister na die uitspraak van die Nama-weergawe van die konstruksie hulle loop gesels, val die invoeging van ’n nasaalklank in Nama op:

//in ge !nu ǀxī ra //gam.

In persoonlike korrespondensie merk die Kora-kenner Menán du Plessis op dat ǀxī moontlik “aankom” kan wees. Hierdie woordjie word baie in die Khoi-dialekte van Griekwa en Nama gebruik, waar dit dikwels in verbinding met ander werkwoorde gebruik word. Du Plessis merk in dieselfde korrespondensie op: “Wat belangrik is om te weet is … (w)oorde met hierdie genasaliseerde vokale klink wel asof hulle met ’n nasaal eindig, en in hierdie geval sal dit seker geklink het presies asof daar ’n n tussenin die twee werkwoorde gevoeg is.”

In 1673 teken die plantkundige en medikus Willem ten Rhyne die eerste samehangende sinne van ’n vertelling in Khoi-Afrikaans op, sê Van Rensburg (2018:25): “Dat is doet: Was mak-om? Duytsman altyt kall-om …” (Wat is die dood? Wat maak dit saak? Die Hollanders vertel altyd …)

Het Ten Rhyne nie dalk gehoor: mak-n en kall-n nie?

Van hier af loop my gedagte so: loopn praatn word loop en praat word loop praat.

Vergelyk die semantiese verskil tussen:

hulle het geloop en gesing
hulle het geloop en sing
hulle het loop sing.

Let op die betekenisverlies van loop as hoofwerkwoord in die eerste van bostaande voorbeeldsinne, wat dui op die letterlike liggaamlike proses. In die eerste voorbeeld is loop ’n hoofwerkwoord, terwyl dit in die tweede en derde voorbeelde onderskeidelik ’n indirekte en direkte skakelwerkwoord is. Voorts wil ek argumenteer dat die direkteskakelwerkwoordkonstruksie die basiese Afrikaanse konstruksie is, en dat dit in oorsprong ’n Khoi-konstruksie is, en nie in oorsprong ’n Nederlandse konstruksie is nie, en ook nie ’n voorbeeld van die sogenaamde verbale hendiadis is nie.

Verbale hendiadis kan verduidelik word as die verbinding van woorde, soos substantiewe, adjektiewe of werkwoorde, byvoorbeeld vuur en vlam, kant en klaar, hy het gestaan en kyk, hy het gesit en wag. In Afrikaans word die werkwoorde staan, sit, en loop dikwels deur en indirek aan ’n ander werkwoord gekoppel, soos in sit en slaap. ’n Werkwoord soos kom kan direk aan ’n ander werkwoord gekoppel word sonder en, byvoorbeeld kom kuier. Die verbale hendiadis in Afrikaans word deur Kempen (1965:78) beskryf as: “(Dit) bestaan meesal uit drie lede, naamlik twee werkwoorde plus en, byvoorbeeld staan en slaap.”

Vreemd genoeg verwys FA Ponelis (1979:241) nie na hierdie soort konstruksies as verbale hendiadis nie, want hy onderskei aanvanklik tussen medewerkwoorde en wat hy skakelwerkwoorde, soos sit, staan en kom noem. Hy onderskei vervolgens tussen direkte skakelwerkwoorde, sonder en as bindpartikel, byvoorbeeld kom kuier, en dié met en, die mense staan en gesels. Dit is betekenisvol dat Ponelis die en as bindpartikel beskou, en nie as voegwoord nie.

Volgens Du Plessis (1984:133) is die indirekteskakelwerkwoordkonstruksie skaars in die Afrikaans van die Griekwas, wat impliseer dat die direkte konstruksie die basiese konstruksie in dié variëteit moet wees en dat die en as bindpartikel dalk nie ’n leksikale item met enige semantiese waarde is nie. Daarom is die en weglaatbaar. Indien dit waar is, is die skakelwerkwoordkonstruksie in Afrikaans nie afkomstig uit sewentiende-eeuse Nederlands nie, maar eerder, soos die -goed-konstruksie of die dubbele ontkenning, van Khoi-herkoms. Ek kon geen Nederlandse konstruksie kry soos hulle loop kuier nie. My vermoede is dat die Afrikaanse konstruksie loop en gesels nie Nederlands is nie en dat die en ’n blote verbindingsklank is na aanleiding van ’n nasale n wat dikwels in Khoi-tale ná ’n klapklank voorkom.

Hy loop en gesels
Hulle sit en praat
Die man staan en lag vir die kinders

Hierdie konstruksie kan daarom nie na Nederlands teruggevoer word nie, veral nie sonder die verbindings-en nie.

Hy loop gesels
Hulle sit praat
Die man staan lag vir die kinders

In Griekwaafrikaans, byvoorbeeld, is daar veel meer konstruksies met loop sonder en (Du Plessis 1984:134). Die vraag is daarom dat as bostaande voorbeelde nie voorbeelde van verbale hendiadis is nie, wat is dit dan en wat is die woordsoortfunksie van en?

Die vroegste voorbeeld van die Nederlandse verbale hendiadis vind ons in die Middelnederlandse teks van Karel ende elegastr:

lach ende sliep

wat in Afrikaans vertaal kan word as

gelê en (toe) geslaap

Dit lyk vir my egter of die voorafgaande voorbeeld uit Middelnederlands heeltemal ’n ander konstruksie is as die Afrikaans gelê en slaap. Die dieptestruktuur van die Afrikaanse konstruksie is iets soos lêende aan’t slape, terwyl die dieptestruktuur van die Nederlandse voorbeeld gepostuleer kan word as twee hoofsinne wat neweskikkend gekoppel word deur middel van en as neweskikkende voegwoord. Dit is hoekom Ponelis verkies om die en van die skakelwerkwoordkonstruksie ’n bindpartikel te noem.

Aangesien die direkte skakelwerkwoord in variëteite van Oranjerivierafrikaans frekwent gebruik word, volg dit dat ’n mens die oorsprong van die skakelwerkwoordkonstruksie in Khoi-Afrikaans sal gaan soek.

Vergelyk die volgende voorbeelde:

hulle loop en gesels
hulle sit en rus

Anzil Kulsen het twee moedertaalsprekers van Nama, Trudy Rhyn en Pia Vas, gevra om hierdie sinnetjies in Nama te vertaal. In die gesproke weergawe van die voorbeelde hieronder is die nasaalinvoeging duidelik.

//in ge !nu ‡si ra //gam
loop gesels

//in ge nu †si ra †sá
sit rus

Volgens die Nama/Damara-ortografie (1977:62) word die volgende sin so in Afrikaans vertaal as:

//Goe ra!â di ge ra ‡gam
lêende vra hulle

Dit is hierdie vertaling wat my interesseer, sowel as die Nama-voorbeelde. Die teenwoordige deelwoord lêende is klaarblyklik nie aanwesig in die Nederlandse sin nie, maar tog in sowel die Afrikaanse as in die Khoivoorbeelde. My vermoede is dat iets soos loop slaap in werklikheid ’n saamgestelde werkwoord kan wees, ontwikkel uit die Khoi-konstruksie. Op grond van die bespreking in die volgende afdeling is dit vir my moontlik dat dit ’n voorbeeld uit Voorposafrikaans, spesifiek Khoi-Afrikaans, is. Teen hierdie agtergrond kan sit kyk as ’n Khoi-konstruksie en as ’n saamgestelde werkwoord bestaande uit twee verbale elemente en dat dit vergelykbaar is met die Afrikaanse onskeibare saamgestelde werkwoord, soos deurloop of omskep. Verder het die indirekte konstruksie sit en kyk dieselfde onderbou as sit kyk. Die Khoi-nasaal n word as semanties leë en ingevoeg.

Hoe sou dié proses werk?

Vergelyk ’n Afrikaanse saamgestelde werkwoord, soos omhels. Party saamgestelde werkwoorde is skeibaar, soos optel en deursny, terwyl ander onskeibaar is, omhels en deurloop.

Hy omhels haar
Hy het haar omhels

Hy sitkyk haar
Hy het haar (ge)sitkyk

Hy het haar geloopkyk

Ek stel dit dat sitkyk, soos omhels, ’n onskeibaar saamgestelde werkwoord is. En dat die dieptestruktuur afgelei is uit Khoi, want: sitkyk is ’n Khoi konstruksie.

Die bo-segmentele patroon van sitkyk is dieselfde as dié van die onskeibaar saamgestelde werkwoord deurloop; sitkyk is onskeibaar en Nederlands het geen werkwoord + werkwoord as saamgestelde werkwoord nie.

As sitkyk dan Khoi van herkoms is, dan moet sit en kyk van dieselfde oorsprong wees. Dit hou in dat die indirekte skakelwerkwoord nie deur en as voegwoord of as bindpartikel aan die tweede element geskakel word nie. Dit is hoogs moontlik dat sit en kyk oorspronklik sitkyk was, en dat die sprekers van Veeboerafrikaans, in ooreenstemming met hulle gebrekkige kennis van Nederlands, gemeen het daar moet ’n verbindingsklank tussen die twee verbale elemente wees en toe die Khoi-nasaal ingevoeg het: sitnkyk, wat toe sit en kyk geword het.

Die Afrikaanse skakelwerkwoordkonstruksie sit en slaap is daarom nie ’n voorbeeld van die Nederlandse verbale hendiadis nie, maar eerder ’n voorbeeld van die Khoi se saamgesteldewerkwoord, vertaal as sitslaap. Vergelyk verder die volgende voorbeelde uit die Khoi-woordeboek van Haacke en Eiseb:

sit en rus < sàá‡nòá, letterlik russit
sit en slaap < //òm‡nòá slaapsit
sit en bak < sàà‡nòá baksit

Afrikaans sonder grense

Teen hierdie agtergrond begin Boezak se stapsit sin maak. Nie net omdat om dit iets oor die herkoms van Afrikaans vertel nie, maar ook iets oor moderne Afrikaans kan sê. In die lig van voorgaande bespreking van ’n moderne Afrikaanse taalkonstruksie, kan daar opnuut besin word oor wat ons eintlik met die betreklik nuwe term Afrikaans bedoel. Ten einde hierdie doel te bereik, kan daar verwys word na die navorsingswerk van Christo van Rensburg, soos vervat in sy laaste publikasies. In ’n poging om Afrikaans te herdefinieer, kan daar met vrug verwys word na Van Rensburg se seining van Afrikaans as aanleerdersvariëteit van vóór die koms van Van Riebeeck. Waar Van Rensburg op veral die sewentiene eeu konsentreer, kan dit sinvol wees om sy beskouing van die twee aanleerdersvariëteite op die Oosgrens by die gesprek van hierdie artikel oor die verbale hendiadis te betrek, want VanRensburg (2018:48 ev) identifiseer twee aanleerdersvariëteite op die Oosgrens, naamlik Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans.

Myns insiens kan ’n ontleding van die Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap van die agtiende eeu op die Oosgrens ons help om Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap van vandag beter te verstaan.

In die eerste plek wil ek in aansluiting by Du Plessis (2015 en 20) die term Voorpos gebruik in plaas van die tradisionele Oosgrens omdat die term Oosgrens tradisioneel die niewit Afrikaanssprekendes van die tyd kan uitsluit. Voorpos sluit die totale binnelandse grensgebied van die 18de-eeuse Kaapkolonie tot aan die Gariep in. Voorpos word as term gebruik om juis meer in te sluit as die sogenaamde Oosgrens. So ’n siening sluit aan by dié van die Amerikaanse historikus, Frederick Jackson Turner, wat volgens Nigel Penn (1995:3) in 1893 'n lesing voor die American Historical Association in Chicago lewer onder die titel "The significance of the Frontier in American history". Turner se uitgangspunt is dat Frontier, of dan Voorpos in die Kaapse geval, nie net 'n plek nie, maar 'n toestand of 'n proses veronderstel. Die ongevestigdes in die betrokke gebied word tydens hierdie proses die gevestigdes as gevolg van die fisieke beweging van die inkommers. Die Kaapse Voorpos van die 18de eeu was, soos die Amerikaanse Frontier, 'n streek in konstante transformasie. (Vergelyk Du Plessis 2013 vir ’n vollediger bespreking hiervan.)

Op die Kaapse Voorpos het verskillende gemeenskappe mekaar in die loop van die 18de eeu intiem ontmoet, omdat die mense op mekaar aangewese was vir oorlewing. Dit het ook vir linguistiese oorlewing gegeld, want Afrikaans was die bindende kommunikasietaal. Die omgewing, die aard van die veebedryf en die gemeenskaplike gebruik van meer as een vroeë variëteit van Afrikaans bind die Voorpos se mense saam in ’n transformerende, nuwe gemeenskap. Dit is wat Van Rensburg (2015a:7) impliseer as hy aanvoer dat die Oosgrens die bakermat van Afrikaans is. Nederlands was die gemeenskaplike teikentaal van die Afrikaanse dialeksprekers op die Voorpos.

Die punt is dat die inwoners van die Voorpos in die 18de eeu byna deur die bank Afrikaanssprekend was, maar dit moet beklemtoon word dat hierdie primêre taalgemeenskap nie etnies homogeen was nie en volgens verskillende oorwegings ook taalkundig gedifferensieer was. Die Voorpos was nie die tuiste van ’n homogene wit gemeenskap nie. Die diverse gemeenskap sluit Boesmans, Khoi, Oorlams, Basters, Trekboere en Veeboere in (vergelyk Penn 1995). Daar was dus heelwat gemeenskappe wat deel gevorm het van die Afrikaanssprekende Kaapse Voorpos. Daar was net ’n beperkte aantal slawe.

Die Afrikaanssprekende Voorposgemeenskap kan egter moeilik in etniese groepe verdeel word, want die grense tussen mense mag sosioekonomies gewees het, maar dit was nie volgens rasselyne getrek nie (vergelyk Du Plessis 2013).

Dit is hierdie diverse Afrikaanse gemeenskap waarna ek in 1992 (Du Plessis, 1992:8) verwys het as die Afrikaanses, naamlik die totale Afrikaansprekende moedertaalgemeenskap.

Wat my betref, is die term Afrikaanses daarom ’n sambreelterm vir die Afrikaanse mense van die 18de-eeuse Voorpos, en dit sluit die Afrikaanse gemeenskappe en al hulle variëteite van Afrikaans in.

Die basis van Voorposafrikaans is nie net Nederlands nie. Op grond hiervan is Afrikaans ’n inheemse taal, een van die tale van Afrika. Afrikaans is van die begin af ’n kontinuum van aanleerdersvariëteite, en Afrikaans en die Afrikaanses is vandag nog dieselfde kontinuum wat grafies voorgestel kan word:

Gevolgtrekking

Op grond van ’n ander ontleding van die sogenaamde verbale hendiadis in moderne Afrikaans blyk die herkoms van hierdie konstruksie duidelik nie Germaans te wees nie, maar in oorsprong ’n Khoi sintaktiese konstruksie. Hieruit volg ’n herdefinisie van die Afrikaans van die agtiende eeu, wat ’n herdefinisie van moderne Afrikaans moontlik maak: Afrikaans sonder grense.

Bibliografie

Boezak, Willa. In Carstens en Le Cordier.

Carstens, W.A.M. en Michael Le Cordeur (reds.). 2016. Ons kom van vêr. Kaapstad: Naledi.

Den Besten, H. 2006. Neerlandismen, pidginismen en Afrikaans in brieven van twee Khoekhoen uit 1800. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 13: 30-42.

Du Plessis, Hans. 1984. Sintaktiese variasie in die Afrikaans van Griekwas. In: Van Rensburg, 1984.

Du Plessis, Hans.1992. En nou Afrikaans? Pretoria: Van Schaik.

Du Plessis, Hans. 2013. Die Groot Trek 175, Storie of historie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 53 No. 3: September 2013.

Du Plessis, Hans. Afrikaans, gekry of gemaak? Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans, 22ste jaargang (2015) 2de uitgawe. 71-89.

Giliomee, Herman. 2009. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.

Haacke, Wilfrid H.G. en Eliphas Eiseb. Khoekhoegowab dictionary. Windhoek: Gamsberg Macmillan.

Kempen. W. 1965. Woordvorming en funksiewisseling in Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Nama/Damara Taalraad. 1977. Nama/Damara Ortografie/ Nr2.

Penn, Nigel, G. 1995. "The Northerh Cape Frontier zone", 1700-c.1815. Ongepubliseerde Ph.D., Universiteit van Kaapstad.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Van Rensburg, Christo. 1984. "Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare." Pretoria, Ongepubliseerde verslag . Pretoria: RGN.

Van Rensburg, Christo. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3):319-42. http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v55n3/01.pdf.

Van Rensburg, Christo. 2018. Van Afrikaans gepraat. Pretoria: Lapa.

 

  • Hans du Plessis: Navorsingsgenoot, Navorsingseenheid Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus

Van Afrikaans gepraat: ’n onderhoud met Hans du Plessis

  • 1

Kommentaar

  • Cav. Andre Martinaglia

    Natuurlik is Nederlands, Vlaamse, Fries en Afrikaans, Germaanse tale en Germaans kom oorspronklik van Swede, daarna met die beweging van mense Denemarke toe , daarvan af na noord-Duitsland toe. Fries is 'n Viking Skandinawiese taal, wat ook onder hierdie ingedeel word. Die suid-Duitsers is van Oos-Europa soos die Schwabe en Beiriese tale, wat na jare in Baden Wurttemberg en Beire self het hulle eie vorm van Duits ontwikkel. Normaal in suiwer Duits word mense gegroet om ''Guten Morgen, Guten Tag, Guten Abend en Guten Nacht. In die Schwaebische taal word die terme ''Christ Gott''(Ek groet jou in die naam van God) gebruik. Die woord ''Bischen'' word in Schwaebisch ''Bischele''; tuiste ''Heum'' , soos ''Ek gaan huistoe''; in Schwaebisch sal dit wees ''I geh' heum''(Duits- ''Ich gehen nach hause) Meeste van die Wes-Europese tale se oorsprong is in noord-Indie waar die ''Indo-Europese nasie'' ontwikkel het. Baie Wes-Europese woorde se oorsprong kom van die ou taal ''Sanskrit'' af. Sanskrit word nou geleer in skole in Duitsland, Engeland en Amerika (lees, praat en skryf).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top