Frank Hendricks het dit in sy stimulerende artikel “Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P Nel” (LitNet Akademies, 11(2)) oor die destigmatisering van Afrikaanse variëteite in die letterkunde, en daarmee saam die demarginalisering daarvan. Natuurlik moet ’n mens die stigmatisering en marginalisering van ’n taalvorm ook in oordragtelike sin verstaan: dit gaan, soos wat Jakes Gerwel in sy proefskrif aantoon, eintlik oor die stigmatisering en marginalisering van die sprekers van ’n bepaalde variëteit. (Gerwel se proefskrif is in 1983 gepubliseer as Literatuur en Apartheid: Konsepsies van “Gekleurdes” in die Afrikaanse Roman tot 1948 deur Kampen Uitgewers in Bellville.)
Stigmatisering van die variëteite van ’n taal is nie net ’n Afrikaanse verskynsel nie, en beslis ook nie ’n moderne een nie. Daarvan getuig George Bernard Shaw se Pygmalion uit 1912 al, waarin die fonetiekprofessor ’n weddenskap aangaan dat hy die agtergeblewe spreker van die gestigmatiseerde Cockney-sosiolek, Eliza Doolittle, sosiaal kan ophef bloot deur haar die gestigmatiseerde variëteit te laat afleer en haar Standaardengels te leer.
Vir my kommentaar op Hendricks se artikel is die duidelike onderskeid wat hy tussen vertelkode en sitaatkode tref, belangrik. Die funksie waarvoor ’n variëteit in die literatuur gebruik word, is die stigmatiserende merker. Hendricks se betoog is dan juis dat Elias P Nel die Oranjerivierdialek vir sowel vertel- as sitaatkode gebruik en daardeur die variëteit destigmatiseer en demarginaliseer. Dit lyk vir my of ’n mens hier ook eers ’n duidelike verband moet lê tussen die hoë en lae funksies van ’n taal. Hoë funksies dui op die gebruik van ’n taalkode vir sogenaamde intellektuele registers. Voorbeelde van hierdie registers is staats-, regs- en onderwystaal en die taal van die formele godsdiens. Hierteenoor is die spreek- of omgangstaal die gebruik van taal in sy lae funksie. Dit is so dat die voortbestaan van ’n taal afhanklik is van die gebruik daarvan as hoë- én laefunksietaal. In taalbeplanningsterme is Hendricks se argument, as ek die artikel reg verstaan, juis dan dat Nel in sy bundels veral die Oranjeriviervariëteit van Afrikaans destigmatiseer deur dit vir die hoë funksie van verteltaal en die laer funksie as sitaattaal te gebruik. Nel se destigmatisering van die betrokke variëteit is daarin geleë dat hy die variëteit nie net as dialoogkode van die karakters gebruik nie, maar ook as vertelkode in sy verhale in die twee bundels. Hendricks sê dit nêrens pertinent nie, maar ’n mens sou uit die loop van die argument ook kon aflei dat dit nie net om die stigmatisering en die marginalisering van die kode gaan nie, maar ook om die vestiging van woordkunswerke in Afrikaanse variëteite as integrerende deel van die Afrikaanse literêre kanon.
Ek vermoed dat stigmatisering daarop neerkom dat enige regiolek of sosiale dialek, dus enige niestandaardvorm van ’n taal, nie as "geskik" vir hierdie hoë funksie beskou word nie, en dat dit een van die belangrikste merkers is van ’n kode as minderwaardige kode.
Verder lyk dit vir my of ’n mens in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis sal kan aantoon dat dit nie net die skep van personasies is wat marginalisering en stigmatisering in die hand werk nie, maar inderdaad ook die funksie waarvoor die skrywer in die skeppingsproses die betrokke taalkode in die woordkunswerk aanwend.
Dit is nie die doel van my kommentaar om in besonderhede op Afrikaanse voorbeelde in die literatuur in te gaan nie, want dit is ’n navorsingsprojek op sigself. Sonder die steun van deeglike empiriese navorsing meen ek tog dat die gebruik van verskillende variëteite as sitaat- of vertelkode in werke soos GR von Wielligh se Jakob Plaatjie, Mikro se Toiings, Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, miskienselfs André Brink se Bidsprinkaan of AHM Scholtz se Vatmaar,ook tekens van marginalisering in Hendricks se terme sal kan aantoon. Vergelyk dit dan met literatuur in Afrikaans vóór die standaardisering daarvan, byvoorbeeld die gebruik van ’n variëteit as vertel- en sitaatkode in ’n werk soos Kaatje Kekkelbek. Hiermee saam kan dit ook loon om na die tienerliteratuur te kyk. Word Tienerafrikaans in die Afrikaanse jeugliteratuur nie ook op dieselfde wyse as mindere vorm van Standaardafrikaans gestigmatiseer nie?
Dit sou ook ’n gespreksonderwerp kon wees as daar gekyk word na die gebruik van Afrikaans in die werk van ouer Suid-Afrikaanse Engelse skrywers, soos in Olive Schreiner se The Story of an African Farm (1883) of in Pauline Smith se The Little Karoo (1925), waarin Afrikaans byna uitsluitlik as sitaatkode gebruik woed.
Vanuit ’n ander hoek kan Hendricks se gesprek ook verder gevoer word deur die sosiolinguistiek van die sestigerjare van die vorige eeu by die debat te betrek. Veral onder die invloed van die Amerikaanse sosiolinguis William Labov kan daar geargumenteer word dat ons eintlik met ’n futiele debat besig is, omdat die era waarin variëteite van ’n taal as minderwaardige kodes beskou is, reeds lankal verby is. Die sosiolinguistiek gaan juis daarom dat ’n standaardtaal in ’n sekere sin bloot ’n abstrakte kode is wat in geskrewe vorm as verwysingsnorm bestaan, maar nie gesien moet word as korrek of dan as "meer algemeen of beskaafd" nie. Oranjerivierafrikaans, Kaaps of Tienerafrikaans is daarom nie minderwaardige vorme van Afrikaans nie.
Hierteenoor kan daar ten slotte geredeneer word dat Afrikaanse variëteite, in teenstelling met hierdie kommentaar se beginargument, tog verskil van dié van ander tale s’n, want variëteitmarginalisering en -stigmatisering in Afrikaans was nie net ’n spontane linguistiese proses nie. Dit is doelbewus deur ’n onnatuurlike, separatistiese ideologie geïnstitusionaliseer. In die lig hiervan is die destigmatisering en demarginalisering van variëteite in Afrikaans ook nie sonder meer ’n spontane herstelproses nie, en dit moet deur akademiese gesprek gestimuleer word. Hierin lê ’n belangrike bydrae van Frank Hendricks se artikel, waarop hierdie kommentaar ’n reaksie is.
’n Verdere belangrike bydrae wat ek uit die artikel aflei, en uit Elias P Nel se werk self weet, is die feit dat hierdie kortverhale nie kanonstatus het net omdat dit die variëteit destigmatiseer nie, maar omdat dit op sigself goeie letterkunde is. Dit is nie die variëteit wat van ’n woordwerk woordkuns maak nie, maar die literêre gehalte daarvan.
Lees nog ’n bydrae tot die gesprek: Afrikaans se taalvariasiespore