Titel: Verbrande Paradys
Skrywer: Hans du Plessis
Uitgewer: Lapa
Formaat: Sagteband
ISBN: 978 0 7993 4313 7
Publikasiedatum: 2009
Aantal bladsye: 406
Hans du Plessis se jongste roman, Verbrande Paradys, is ’n fiktiewe verhaal oor die hedendaagse probleme waarmee die plaaseienaars van Vredefortkoepel worstel. Die Koepelaars se liefde vir die omgewing staan in hierdie roman voorop, en daar word algaande besef dat die toekoms van dié unieke landskap nie in boerdery lê nie, maar eerder in die bewaring daarvan.
Verbrande Paradys is die sesde roman van hierdie skrywer van die gewilde Griekwapsalms, en is onlangs as Die Burger se boek van die maand aangewys. Du Plessis is ook professor in Skryfkunde aan die Noordwes-Universiteit. Hy debuteer reeds in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy ander publikasies sluit die jeugverhaal Disse flippen stukkende wêreld die my ou (1991) en verskeie romans in.
Verbrande Paradys vertel die storie van die Venter-gesin wat al vir ses geslagte in die Koepel naby Vredefort boer. Hul plaas, Eden, is geleë in ’n natuurwonder – ’n krater wat gemaak is toe ’n asteroïed die aarde meer as twee miljard jaar gelede getref het. Soos die roman se dramatiese titel voorspel, is daar reeds vroeg in die verhaal ’n verwoestende brand wat die Venters se lewens onherroeplik verander en hulle "Eden", hulle onskuld, vernietig. As jong hoërskoolseuns moet die twee Venter-broers, Sybrand en Henro, leer om die trauma van Pa-Isak se dood te verwerk. Aangesien hul ma, Reinet, hulpeloos voel sonder haar man en met bipolêre depressie sukkel, rus die verantwoordelikheid toenemend op die jong seuns se skouers om na die plaas om te sien.
Ná die brand sit die twee broers vas oor die beste wyse om die plaas te bestuur. Sybrand, die oudste, voel dat die toekoms van die plaas in die bewaring daarvan lê, maar Henro meen weer dat ’n suksesvolle boerdery die weg vorentoe is. Terwyl Henro alles in sy vermoë doen om skool te los en die boerdery oor te neem, besluit Sybrand dat dit sy plig is om sy studies te los en na die plaas te kyk, al wil hy eintlik eerder universiteit toe gaan en eendag ’n boek skryf. Intussen probeer hy sy bes om die mooie Emma Nel as sy meisie te behou. Ook Andries Spogter, wat op Eden grootword, se wêreld word deur die dood van oom Isak omgekeer.
Hierdie brand kan dan ook verbind word met die brand wat destyds deur die asteroïed veroorsaak is. Hoewel die brand op Eden met vernietiging en verlies gepaardgaan, bring dit tog transformasie en groei mee. Elk van die karakters moet op haar/sy eie manier leer om die trauma van die gebeure, asook dinge wat jare vroeër gebeur het, te verwerk.
Met die gemeenskap se noue verbintenis aan die grond waarop hulle woon, sluit Du Plessis se verhaal by die tradisie van die plaasroman aan. Die Koepelaars se identiteit word ten nouste met die grond verweef. Soos die boek se motto, ’n aanhaling van Jimmie Durham, te kenne gee, speel die omgewing as ruimte ’n belangrike rol in die verhaal. Want vir hulle is Eden nie net ’n stuk grond nie, maar die "Paradys". Vervolgens vra Sybrand hom af: "Ek is Eden. Of is Eden ek?" (p 399).
Ook die Spogters, wie se familie al vir meer as tagtig jaar op Eden werk, se identiteit word aan die grond gekoppel en dit is te verstane dat Andries ontwortel voel wanneer hy ná die brand van die plaas af wegloop. Later word die sensitiewe kwessie van grondeise betrek, maar dit word aan die leser oorgelaat om ’n oordeel hieroor te vel.
Die Koepel vorm die bindende element tussen die verskillende karakters in die verhaal en Du Plessis se roman benadruk dat die gemeenskapslede op mekaar aangewese is. Voor sy dood, tydens een van sy filosofiese mymeringe oor die omgewing, merk Isak teenoor sy vrou op: "Gooi ’n klomp mense in ’n reuseskottel waaruit hulle nie kan klim nie. Hulle kan nie anders as om by mekaar betrokke te raak nie" (p 145).
Die stryd tussen boerdery en bewaring is een van die spilpunte van die roman. Terwyl die meeste boere verseg om die waarheid in die gesig te staar dat boerdery stadigaan besig is om hulle erfenis te vernietig, is daar darem ’n paar wat besef dat hulle fokus eerder op bewaring moet val. Wildplase en toerisme kan hier ’n uitkoms bied, hoewel daar versigtig met gewetenlose ontwikkelaars omgegaan moet word.
Kommunikasie, of eerder die gebrek daaraan, is ’n deurlopende tema in Verbrande Paradys. Min karakters het die moed om oor hul gevoelens of verlede te praat, wat groot pyn en misverstand veroorsaak. Die twee broers, Sybrand en Henro, kry dit maar net nie reg om openlik met mekaar oor hulle verskillende sieninge oor die voortbestaan van die plaas te praat nie en die leser voel teleurgesteld dat ma-Reinet nooit daarin slaag om haar besondere traumatiese verlede te verwerk en tot dieper selfkennis te kom nie. Sy sluk maar net ’n pil as sy voel hoe die depressie "soos ’n donker wolk ... om haar vou."
Verbrande Paradys karteer ook die ontluikende liefde tussen Sybrand en Emma Nel, die dogter van ’n arm winkelier wat op die buurplaas, Uitval, woon. Soos die naam van die plaas suggereer, kom die Nels en die Venters nie oor die weg nie, en moet Sybrand en Emma mekaar in die geheim by die wildkamp se grensdraad ontmoet. Onbeantwoorde liefde is ook ’n tema, met die gebroke Hans Nel, Emma se pa, wat maar net nie oor sy eertydse liefdesteleurstelling kan kom nie.
Verder word die liefde tussen Reinet en Isak beklemtoon, hoewel sy steeds die letsels van ’n jeugliefde dra. Reinet kan nie sonder haar man bestaan nie, en voor sy ontydige dood kan Isak nie sy oë van sy mooi vrou afhou nie. Vir die leser kom hierdie lofbetuigings dalk net te soetsappig voor: "Hoe groen is haar oë nie? Daar is nie nog so ’n groen nie. Nie in die bome nie, nie in die berge nie. Die Here het nie nog so ’n groen gemaak nie. Nêrens nie. Die lig blink in haar lang, blonde hare. Haar vel soos vars room. Die heel mooiste vrou in die hele Riemland" (p 19).
En dan moet ’n mens nie van die bronstige Mollie Smit vergeet nie. Dié Mollie maak op die mees onverwagte tye haar verskyning, dikwels met katastrofiese gevolge. Reeds op die vyfde bladsy gaan lê sy vir die drie plaasseuns "agteroor op die sak" met "haar bloes oop, die bene effentjies wyd". Eers later kom die leser agter dat ook sý ’n donker geheim wegsteek.
Verbrande Paradys steun grootliks op verwikkelde intriges en skokkende geheime om stukrag aan die verhaal te verleen. Die gereelde verwysings na Reinet se verskriklike verlede, die hoop klippe op Hans Nel se plaas, en die blomme op die graf van Adam se broer suggereer dat daar geheime is wat mettertyd onthul gaan word.
Een of twee dinge pla: om een of ander rede het bykans al die hoofkarakters "slank hande", sommige gesprekke oor bewaring klink geforseerd, en die veelvuldige verwysings na Reinet en Andries se uiterlike voorkoms raak te veel – op p 64 word daar byvoorbeeld na Andries se "gespierde bors" en "plat maag" verwys wanneer hy sy baadjie uittrek om die vuur te help blus!
Tog bied Du Plessis se roman mooi natuurbeskrywings en kom die leser dadelik agter dat hy ’n wêreld skets wat hom na aan die hart lê. Saam met die Koepelaars kan die leser sien hoe die fisant "in die geel son oor die pad trippelê" (p 165) en "hoor hoe dit aan die voet van Rhebokkop tussen die plaat haakdoring skelê" (p 179).
Veral die jongmense se studentedae, waar hulle met tipiese studenteprobleme te make kry, word knap neergepen. Ook die studentewoning, Huissonnermoeder, met Kasteel Carstens wat ’n indrukwekkende sosiale netwerk van die stoep af bestuur, word met humor ’n erns beskryf.
Du Plessis se verhaal bied belangrike insae in die voortbestaan van tradisionele plase in ekologies-sensitiewe areas. "Bewaar ons om te kan boer, of boer ons om te bewaar?" vorm ’n relevante vraag in vandag se wêreld van natuurskommelinge en aardverwarming.
Die verwikkelde verhoudings tussen gesinslede ’n die groter gemeenskap word in ’n gemaklike vertelstyl geskets wat die leser sonder veel moeite kan baasraak. Met behulp van die vele tydspronge word Verbrande Paradys se spanningsvolle storielyn tot aan die einde volgehou, wat daarvoor sorg dat die leser aanhou blaai. Dié wat sommer net lus is vir ’n lekker storie, kan gerus Du Plessis se jongste roman aanskaf.


