Biebouw-resensie: Inboekeling deur Hans du Plessis

  • 0

Titel: Inboekeling
Outeur: Hans du Plessis
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN:9780624069355

Koop Inboekeling by Kalahari.com

I

Hans du Plessis beklee ’n eiesoortige plek binne die Afrikaanse letterkunde. Enersyds is hy ’n gerespekteerde taalkundige, andersyds ’n romanskrywer. Maar dit is veral as digter van die Griekwa-Psalms dat hy binne die Afrikaanse letterkunde vir hom ’n besondere plek oopgeskryf het. Ons ken immers almal hierdie besondere herdigting:

Ek slat my twee oge op:
my kyk vang die verste kop
waarvan sal my hulp nou kom?
My hulp is vannie Jirre, van Hom.

Ook is daar ’n drama in Griekwa-Afrikaans, Broerse,en ’n digbundel, Gewete van glas.

Hierdie taalvariant word so beskryf op http://af.wikipedia.org/wiki/Griekwa-Afrikaans (18 September 2014 besoek) ter agtergrond van my resensie oor Inboekeling:

Griekwa-Afrikaans is 'n subvariëteit of dialek ('n taalvariant) van die Oranjerivier-Afrikaanse geolek wat saam met ene Adam, 'n vrygestelde slaaf, op die plek wat later Griekwastad genoem is, aangekom het. Lank het die geolek goed bewaar gebly omdat die kontak na buite beperk was, maar saam met die moderne media soos televisie het die afsterf begin.

Du Plessis se kennis van die marginale diskoerse, op sowel linguistiese as historiese gebied, is tersaaklik. Hierdie jongste roman ontgin ’n onbekende stuk geskiedenis.

II

Die bandontwerp van Michelle Staples is waarskynlik een van die mooiste ontwerpe in ’n lang tyd. Die roman is in min, spaars woorde geskryf. Dit begin met ’n gedig van Henry Wadsworth Longfellow (“The Village Blacksmith”) met sy bekende slot:

Thus on its sounding anvil shaped
Each burning deed and thought.

Hierna volg ’n stamboom van die Oppermans en die Coetzees wat die leser se leeswerk vergemaklik.

Die agterblad vertel die volgende:

Hy word met ’n riem op die werf aangesleep. ’n Seun. ’n Vreemdeling. Van balans af op sy lomp voete, die slaprandhoed diep tot op sy bakore getrek, rooi in die gesig van die riem om sy nek. Die mense wat hom staan en aangaap, is nie vreemdelinge gewoond nie. Hier waar hulle woon, het niemand vantevore gewoon nie. Hul leier het hul trek ’n jaar of ses gelede tot hier gelei, met sy velskoen se hak in die grond gekap, sy groot hand besitlik gewuif en die gebied tot sy eiendom verklaar. Hier is sy woord wet. Die sieleherder het sy gesag uit die Bybel bekragtig. Ook oor die inboekelinge, daardie kinders wat ná skermutselinge met die inheemse mense teruggebring is laer toe. Die pa’s en die ma’s het hulle geskiet – veediewe, almal van hulle – en die kinders is weggevoer om as slawe groot te word.

Inboekelinge.

Die seun aan die tou sien ’n swart meisie vanuit ’n tuitkappie na hom staar. Eers later, toegesluit in ’n smidswinkel, sal hy agterkom wie en wat sy is. En as hy saamgeneem word op ’n ekspedisie om gesteelde vee terug te kry, sal hy te staan kom voor die godskreiende werklikheid van háár lewe: ’n kind wat tussen die lyke van haar ouers opgeraap en op die saal van ’n ruiter weggevoer is.

En dit sal hierdie eenvoudige seun wees, wat aan ’n riem op daardie trekkerswerf aangesleep is, wat dit in die hinterland tuisbring dat daar geen durender band is, g’n tou so sterk nie, soos die verbintenisse wat die hart aangaan.

Die roman vertel die verhaal van ’n inkommer of vreemdeling. Daar is ’n aanranding en uiteraard weet ons hoe ’n gemeenskap se vooroordele werk.

Die roman begin pakkend:

“Ek het heeltemal niks gesien nie, Oom, ek belowe Oom.” Verward, verwese en verdwaas; die donker oë dof van bietjie verstaan en baie skrik.

Dan word die verhaal met simboliek gelaai. Die mense woon op Hier. Japie Niemand is van Elders. Daar is rondlopers versus herders. Daar is ’n Meester …

’n Mens sien die hand van die digter wat dikwels beeldend en digterlik skryf, byvoorbeeld:

Die son dam soos taai sweet op in die oksels van die kliprant; die hitte hang ’n jakkalsvelkaros oor die skouers van Hier se warm werwe. (60)

In hom veg honger en inkennigheid soos twee wildehonde. (63)

Die weer hoes soos 'n onsigbare tierwyfie voordat sy storm. (149)

III

Die Longfellow-gedig is belangrik, omdat Japie voorgee hy is ’n smid. Die verhaal ondersoek die rol van die gemeenskap se reaksie op ’n buitestander en vreemdeling en uiteindelike aanvaarding (203).

Du Plessis aktiveer die geskiedenis, en meer spesifiek die geskiedenis van die Voortrekkers en die gebruik van slawe in die 19de eeu. Swart kinders is as slawe misbruik. (Hulle word swart ivoor genoem.) Op bladsy 109 word die implikasies van die onwettige ruilhandel beskryf en dat ’n boete van 500 riksdaalders of ses maande tronkstraf opgelê kon word. Daar is ook handel gedryf met hierdie kinders wat as sogenaamde inboekelinge opgeskryf is. Die rol van strafkommando’s en ’n burgerraad word eweneens behandel. Net soos die “makvolk”, wat ’n diens mag bywoon – maar buite staan (122).

Dit is egter ’n onbekende stuk geskiedenis vir die meeste lesers, en hieruit maak die skrywer ’n hoogs leesbare verhaal van Japie wat aankom met ’n riem om sy nek. Sy broer is dood langs die pad en sy reaksie is dié van ’n persoon wat aan skok ly.
Meester is ’n soort ouktoriale verteller wat optree as buikspreker van die werklike outeur, Hans du Plessis, wat die historiese gegewe vir die leser oopmaak.

IV

’n Resensent het kritiek uitgespreek teen die verteller Meester wat as’t ware die verhaal binnedring. Dit fiksionaliseer die gegewe: “Ek sug, maak die inkpot toe en bêre die pouveerpen. Skryf is nooit maklik nie” (128).

Ook op bladsy 182 kom skryf aan bod.

Hier word die teks se spanning tussen waarheid en fiksie geproblematiseer, die sogenaamde “frame breaking” (Brian McHale), “framing the sign” (Jonathan Culler) of "irony's edge" (Linda Hutcheon). Op hierdie plek in ’n roman word die leser dus medepligtige of medeskrywer in Roland Barthes se siening van die “scriptible” teks. Hierdie roman het my op hierdie oomblik geneem na ’n herbesoek van die Afrikaanse geskiedenis en in welke mate romans die waarheid beter kan vergestalt as geskiedenisboeke.

Dit is 'n roman klein in omvang wat baie nadenke tot gevolg het.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top