Salvador Dalí se slap horlosie

  • 0
...........
Dit voel asof daar ’n groeiende skare mense van my trop is wat saam met my huis toe stap.
.............

Credit: Profile of time by Salvador Dalí, Wikimedia Commons; available under the Creative Commons CC0 License and under the Creative Commons Attribution-ShareAlike License. (This work has been released into the public domain by its author, Julo. Julo grants anyone the right to use this work for any purpose, without any conditions, unless such conditions are required by law.)

TS Eliot het geskryf, onvergeetlik, in “The Love Song of Alfred J Prufrock:

For I have known them all already, known them all –
Have known the evenings, mornings, afternoons,
I have measured out my life with coffee spoons.

Van kleins af het ek die gevoel gehad dat ek dit alles – aande, oggende, namiddae – reeds ken, asof ek agteruit leef. Ek onthou die bekendheid aan wintersoggende, die déjà- vu-herkenning van herfsmiddae wat ruik na lemoene en die rook van blare wat brand. Lentedae by die skool met koue, pers knieë in ’n somerrokkie, met dreigende onweerswolke in die lug. Paasnaweke en Kersfeeste. Die opeenstapeling van dae, die manier waarop alles wat was, weer verbykom. ’n Mengsel van verveling en afwagting. Ennui en hipnotiese halfdroom.

Soveel van my lewe, besef ek nou, is verwyl met wag. As ek terugkyk op my kinderdae, was dit ’n landskap van hulpeloosheid. Dinge het met jou gebeur. Jy het min agentskap gehad. Jy het gewag dat jou beurt moet aanbreek. Jy het gewag op vryheid, die reg om te besluit, ’n stem.

Ek onthou in my twintigs – toe ek begin werk het en self oor sekere dinge kon besluit – die verlammende besef dat die aansprake van die alledaagse jou erger verkneg as die magteloosheid van kindwees. Ek onthou dae en jare van wag. Wag vir die volgende ding om te gebeur. Wonder wat die volgende groot ding is. Wat my te doen staan. Wat om met hierdie lewe te doen. Wat om met al hierdie tyd te doen.

.........
Toe ek ’n jong ma was, het ek altyd gewag dat die kinders moet gaan slaap sodat ek kan lees. Dat die huiswerk gedoen is sodat ek kan lees. Dat ek tuiskom van die werk sodat ek kan lees. Ek onthou die skuldige, benewelende vreugde van verdwyn in die blaaie van ’n boek terwyl dringende take ophoop.
............

Toe ek ’n jong ma was, het ek altyd gewag dat die kinders moet gaan slaap sodat ek kan lees. Dat die huiswerk gedoen is sodat ek kan lees. Dat ek tuiskom van die werk sodat ek kan lees. Ek onthou die skuldige, benewelende vreugde van verdwyn in die blaaie van ’n boek terwyl dringende take ophoop.

Noudat ek in my sestigs is, het ek ophou wag. Die volgende ding is seker die dood, waarin ek geen sê het nie. Maar vir wag is daar nie meer tyd nie. Elke dag moet by die horings gegryp word. Nou het ek Torschlusspanik – ’n wonderlike Duitse woord wat beteken jy is bang die hek maak toe voordat jy binne is – dat daar dalk nie genoeg tyd gaan wees om jou ideale te verwesenlik en alles te doen wat jy nog altyd wou nie.

As jy een van die gelukkige aardlinge is wat doen presies waarvoor jy in die wieg gelê is, wie se werk haar hartstog is, is aftree nie ’n opsie nie. Ek knyp nie meer tyd af om te lees nie; dis my werk.

...........
As jy een van die gelukkige aardlinge is wat doen presies waarvoor jy in die wieg gelê is, wie se werk haar hartstog is, is aftree nie ’n opsie nie. Ek knyp nie meer tyd af om te lees nie; dis my werk.
.............

Ek weet dis geen nuwe gedagte nie, maar dit voel my ’n mens moes in jou sestigs gebore word, met al die kennis wat mense van daardie ouderdom al in pag het. Dan leef jy agteruit en weet om elke ledige uur en komateuse dagdroom te waardeer en niks om te wens nie. Jy weet dat jy later net gaan droom terwyl jy slaap. Net voor jy gebore word, kry jy dan as bonus nog tien of twintig jaar as bejaarde, met lewensinsig plus die optimisme en magteloosheid van kindwees nog vars in jou geheue.

Maar hierdie lewe is al wat ons het, hier op aarde. Sover ons weet. Ek weet nie waaraan om die vonkies herkenning toe te skryf wat ek van kleins af ervaar nie: Was ek al hier? Gaan ek weer hier wees? Want ek ken dit alles. En alles is vreemd.

Ek het kamers in my kop waar my broers nog leef, en my pa. In drome gaan kuier ek by hulle en hulle bly vir ewig soos hulle was. Nuwe gesprekke is wel moontlik. Hulle weet nie dat hulle dood is nie. Die volgende dag is ek besiel met die begeerte om ook namens almal van hulle te leef.

Soms bekyk ek die dogtertjie wat ek was van bo af, die lomp kind wat gedwing is om regs te skryf en altyd alles omgestamp het, alles onderstebo benader het. In die jare sedertdien het sy al so dikwels vervel dat daar min van die oorspronklike oorgebly het. Sy kyk nie meer konstant af grond toe nie. Sy kan mense se gesigsuitdrukkings en lyftaal min of meer lees. Maar sekere aspekte van die kind het onveranderd gebly, behoue: Haar begeerte om te lees. Haar nuuskierigheid. Haar groen oë en plat voete.

Ek het opgehou om die pas te markeer. Ek het die teenswoordige wêreld lief en ek bestorm nou elke dag. Soos nog altyd, vandat ek gebore is, praat mense van die eindtye, want die ongeregtighede het so opgestapel dat die Oordeel nie ver kan wees nie, glo.

..........
Ek het opgehou om die pas te markeer. Ek het die teenswoordige wêreld lief en ek bestorm nou elke dag. Soos nog altyd, vandat ek gebore is, praat mense van die eindtye, want die ongeregtighede het so opgestapel dat die Oordeel nie ver kan wees nie, glo.
............

My kinders is nou groot en krap hul eie potjies; die huis word nie meer so deurmekaar nie; en daar is meer tyd om te lees. Dit laat my dink aan ’n Oostenrykse boek, Herbstmilch, die outobiografie van ’n boervrou wat haar lewe lank soos ’n slaaf gewerk het: Haar ma is dood toe sy klein was, en as enigste dogter moes sy die hele huishouding behartig. Toe is sy getroud en moes sy haar man, kinders en sy inwonende ouers versorg. Toe sy oud is, het sy gesê: Uiteindelik kan ek slaap tot ek wakker word (Endlich kan ich mich ausschlafen.)

Maar ek is so opgewonde oor elke dag dat ek lank voor dagbreek wakker word. Ek is bly om hier te wees. En ek is toenemend oortuig daarvan dat gaafheid, bedagsaamheid, liefde en besorgdheid die somtotaal is van alles wat die lewe leefbaar maak. Moet op prinse nie vertrou nie, het my ouma graag die Skrif aangehaal. Nou het die Dalai Lama my diep teleurgestel toe hy ’n seuntjie vra om sy tong te suig, en ek besef my ouma en die Skrif was reg. Ons is broos en feilbaar. Ons is besig om saam met mekaar huis toe te stap.

Dit laat my dink aan ’n skoolkind se weergawe van die storie van Enog: Enog het elke dag saam met God gaan stap. Eendag sê God vir Enog: Jy het nou so ver saamgestap en dit het so laat geword, jy moet maar saam met my huis toe kom.

Dit voel asof daar ’n groeiende skare mense van my trop is wat saam met my huis toe stap. En ons is gaaf met mekaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top