Die rigtingverandering

  • 1

Die twee negatiewe resensies vandeesweek op Boeke24 en die gloeiende lofuitende een in Rapport het aangekom pas nadat ek John Maher se artikel in Publishers Weekly oor die Londense boekebeurs (LBF) gelees het.

Die Londense boekebeurs, verklaar Maher, is deesdae die eerste groot boekebeurs van die kalenderjaar. Almal wat dit bywoon, of op die buitewyke van die groot leesjolyt beweeg, sien soveel tekens in Londen by die Olympiasaal raak. Nuwe giere. Sinjale van die groot swaaie. Verwagtings van watse soort boeke goed gaan verkoop vanjaar. Wie die "name" van die toekoms gaan wees.

So, wat kan ons verwag? "Hoopgevulde, opbouende, vermaakgedrewe werke", volgens die agent Felicity Blunt. Sy sê ook romantasie is in ’n doodloopstraat. Vergeet van "gesellige Japannese of Koreaanse boek met ’n kat in", volgens ’n ander agent.

Die agente wéét altyd, het ek op boekebeurse geleer. Jy moet agente ken om geselsies te dekodeer.

Drie dae se LBF-verslae het my hier aan die suidpunt van die oerkontinent tot die volgende gevolgtrekkings gedwing:

  • Die agente verwag dat daar ’n swaai na meer positiewe, vermaaklike skryfwerk gaan wees – soos reeds ’n jaar lank sigbaar was.
  • Die geldmaakgenres van die verlede (misdaad, liefde, fantasie) gaan steeds bevolk word deur nuwe publikasies, maar die groot geld gaan gemaak word deur boeke waarin sowel lesers as hoofkarakters in die boeke agterna ’n gevoel van diepe blymoedigheid het en ’n vreugde in die dinge wat mooi in die lewe is.
  • Daar gaan meer topverkoperromans wees waarin daar ’n aantoonbare godsdienstige element is.
  • Skrywers gaan hul bloederige skryfwerk aanvul met humor en komiese vertellings. Vir elke Kassie Kasselman is daar ’n Hans du Plessis, by wyse van spreke.
  • Galgehumor, in die trant van die Coen-broers se movies, gaan ’n groot comeback maak.
  • Verlede jaar het die agente gedink dat as Trump die verkiesing sou wen, die niefiksiemark in sy malle moeder in sou wees. Nou is hulle meer optimisties. Ek is nie, maar wat de hel. Ek stem met Felicity Blunt saam: "Om ’n boek te skryf oor wat nou gebeur, is onmoontlik, want môre is dit heeltemal anders."

Soos altyd, wonder mens wat die toekoms vir Afrikaanse boeke inhou. Is dit toevallig dat Jonathan Amid, die Tromp van Diggelen van die resensiewese, so ruim reageer op Elizabeth Wasserman se Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag? Amid is so vrolik oor hierdie "knussie" dat ek die hele resensie gelees het net ingeval ek nie die boek te kope kry nie. En wat ’n heerlike term is knussie nie! Laat my dink aan die dae van die kwamfie, toe Frans Maree nog die mynkaptein van populêre fiksie was en Cecilia Britz vars lug in die Dutch oven van die Afrikaanse boekewêreld gebring het.

Ewe interessant was Amid se reaksie op Hans du Plessis se Klein wonderwerk. As ’n mens dan nou en dan iets negatiefs moet skryf om balans te bring in jou uitsette, die chakras as ’t ware te rig, dan is Klein wonderwerk ’n maklike teiken. Postume publikasies word normaalweg sagkens aangevat. Nie deur Amid nie. Soos ek Hans geken het, sou hy die laaste een gewees het wat sou voorgegee het Klein wonderwerk is hoge literatuur. Hy sou miskien van Amid verwag het om die raakpunte tussen Petrus en die outeur se swak sig raak te sien, maar nou ja, que sera, sera.

Ek noem hierdie dinge omdat dit in sommige opsigte moeiliker is om iets soos Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag te bespreek sonder om verlei te word deur die versoekinge van die roman en dit in dieselfde styl te wil doen. Amid het sterk gestaan, indrukwekkend sterk. Mens kan verwag dat hy, sou die agente by die LBF se toekomsvisie bewaarheid word, die positiewe, warme lektuur met ewe veel flair sal kan hanteer wanneer dit uiteindelik in Afrikaans deurslaan. Rudie van Rensburg en Elizabeth Wasserman is gewis die voorlopers van die rigtingverandering.

Anschen Conradie se bespreking van Riaan Grobler se Hospitaal Weltevreden het ’n ander soort verrassing gebring. Die roman klink asof dit die voorspellings van die mense by die LBF vooruitloop. Die gelol is net, wel, dat die uitgewer nie foute in die manuskrip raakgesien het nie. Dít is hoekom skrywers uitgewers nodig het. Soms gaan dit só holderstebolder om ’n manuskrip af te handel dat mens blind raak vir jou eie foute.

Wat my terugbring by die dermuitrygery oor resensies die afgelope maande. Boekresensies is onontbeerlik. Skrywers én lesers gebruik dit as barometer, ’n maatstaf en waardebepaler.

’n Boekebedryf sonder resensies is een waar uitgewers se gesondheid nooit openlik gediagnoseer word nie, en waar die afsterwe ’n skok is.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top