
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 20 September 2024 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Kuns en/of moraliteit
Dink aan jou gunstelingfliek. Dalk het Woody Allen se Love and death by jou opgekom, of Roman Polanski se Chinatown. Dink aan ’n skilder wie se werk jou meesleur: Gaugin, Picasso, Francis Bacon of Lucian Freud. Luister jy na Wagner – of dalk na Michael Jackson of R Kelly? In die letterkunde, hoeveel waardering het jy vir Ezra Pound of Roald Dahl?
Hierdie is ’n kort uittreksel uit ’n baie lang lys van kunstenaars wat beskuldig word van pedofilie, verkragting, rassisme, seksisme, geslagsgeweld of ander morele vergrype. Ons kan die dade afwys, maar behoort ons die kunstenaars te boikot – in die taal van ons tyd, te kanselleer – weens hul verwerplike optrede of sienings? Hierdie vraag het te make met die rol van die kunstenaar in die samelewing, die aard, doel en waarde van kuns, die verband tussen estetika en etiek, en ook die waarde van vrye ondersoek en meningsuiting. Dit is ’n breë terrein wat ek onmoontlik in een praatjie kan dek. Wat ek wil doen, is om twee moontlike argumente téén die boikot van immorele kunstenaars en een argument vír so ’n boikot te oorweeg, en te verduidelik waarom nie een van hulle steek hou nie. En dan sal ek afsluit met ’n voorstel vir ’n meer genuanseerde benadering wat ons dalk ’n pad uit die doolhof kan bied.
Die eerste moontlike argument teen enige vorm van boikot is dat kunstenaars verhewe is bo alledaagse morele verantwoordelikheid. Hiervolgens is die kunstenaar ’n onverbonde enkeling wat die sedes en norme van die samelewing deurbreek uit toewyding aan sy of haar genialiteit. Solank ons die produk van daardie genialiteit waardeer, so lui die argument, kan ons nie die bron van die kuns smoor nie. En omgekeerd: As ons kunstenaars wel aan alledaagse morele standaarde sou onderwerp, sal ons dalk ’n meer harmonieuse samelewing hê, maar een sonder die soort skeppende werk wat die lewe in daardie samelewing die moeite werd maak.
Is hierdie ’n oortuigende argument? Ek dink nie so nie. Baie van die omstandighede waarin kunstenaars hulself bevind is nie uniek aan hul kunstenaarskap nie. Die redes om eerlik teenoor ander op te tree, om betroubaar te wees, om beloftes na te kom, om mense met respek te behandel, is nie anders vir ’n kunstenaar as vir die res van die samelewing nie (Berleant 1977: 194). Betroubaarheid, respek, medemenslikheid in ’n kunstenaar is nie kwalitatief anders as die morele vereistes vir ’n onderwyser of vlieënier of bouer of sjef nie. Die genialiteit van die kunstenaar ás kunstenaar, net soos die uitnemendheid van die onderwyser of dokter of sportafrigter, het geen relevansie vir ons oordeel oor die moraliteit van hul optrede teenoor hul medemens nie. Die argument dat die kunstenaar vrygestel is van enige morele beoordeling en daarom in beginsel nie geboikot mag word nie is dus onoortuigend.
Hier is ’n tweede moontlike argument teen so ’n boikot. Neem die volgende sin uit Balzac se roman Sarrasine: “This was woman herself, with her sudden fears, her irrational whims, her instinctive worries, her impetuous boldness, her fussings, and her delicious sensibility.” Dié van julle met ’n agtergrond in literêre teorie sal hierdie voorbeeld herken as komende uit Roland Barthes se opstel oor die sogenaamde “dood van die outeur”. Wie presies is hier aan die woord?, vra Barthes. Die karakter in wie se mond hierdie woorde gelê word? Honoré de Balzac die individu, wat ons vertel hoe hy oor vroue dink? Of Balzac die skrywer, wat een of ander literêre beskouing oor vroulikheid aan die leser voorhou? Hierdie vrae is in beginsel onbeantwoordbaar, beweer Barthes (1977). Die kunswerk is ’n seleksie en ekstrapolering van elemente van die werklikheid; dit het geen vasstelbare verband met ’n individuele skepper nie.
As Barthes reg is, het ons geen rede om enige kunswerk te boikot op grond van die karakter van die kunstenaar nie. Terselfdertyd sou daar geen rede wees om enige kunstenaar te vereer vir sy of haar werke nie. Ons behou die genot van die kunswerke, en word bevry van die obsessie met die kunstenaar.
Maar is die “dood van die outeur”-argument oortuigend? Hierop is my antwoord eweneens ’n “nee”. Dit mag so wees dat daar nie ’n eenduidige verband bestaan tussen skepper en kunswerk nie. Maar dit is ook so dat iemand ’n doelbewuste keuse gemaak het vir hiérdie verhaal, hiérdie karakters, hiérdie sinne en woorde. Iemand het hierdie dinge uit die stroom van taal en idees en gebeure geëkstrapoleer om presies dít, en nie iets anders nie, vas te lê. Hierdie soort besluite is nie die toepassing van ’n algemene reël wat net sowel deur iemand anders uitgevoer kon word nie. Daar is ’n eiesoortigheid aan ’n kunswerk wat noodwendig voortspruit uit die bewussyn van die kunstenaar. Vergelyk hoe ons dink oor kunswerke met hoe ons dink oor wetenskaplike teorieë en ontdekkings. Ons sal nie mediese behandeling vermy of die wette van die fisika ontken weens morele besware teen die uitvinders daarvan nie. En dit is juis omdat die wetenskap te make het met algemene reëlmatighede in die natuur wat in beginsel deur iemand anders ontdek sou kon word. ’n Kunswerk, daarenteen, sou nooit kon bestaan het as dit nie was vir die unieke bewussyn van die skepper daarvan nie. Anders as in die wetenskap, bly die kunswerk ’n uitdrukking van ’n uniek persoonlike beskouing van die wêreld.
Tweedens: Hoe die toeskouer met die kunswerk omgaan, hoe ons sin maak van die werk, het deels te make met wat ons weet van die sosiale en historiese konteks waarbinne dit geskep is. Sou jy meer uit ’n skildery kon put wanneer jy bloot gekonfronteer word met die beeld op die doek, of wanneer jy óók weet dat dit dateer uit die 15de of 18e eeu, of uit die 1960’s; dat dit in Tahiti, Bilboa of Johannesburg geskilder is, en binne hierdie of daardie politieke en kulturele verband? Die punt is: Die kunstenaar se biografie, en sy of haar bedoelings met die skep van die kunswerk, is deel van hierdie konteks. Die “dood van die outeur”-benadering bevry ons van ’n besluit oor of ons moet boikot of nie moet boikot nie, maar ons betaal ’n prys daarvoor. Weg is die meulsteen van die immorele kunstenaar, maar wat oorbly, is net die onmiddellike ervaring van die werk, sonder enigiets buite die raam wat ons waardering van die werk kan verdiep en verruim.
Noudat ons gekyk het na twee argumente teen ’n boikot en waarom hulle faal, kom ons verskuif ons aandag na die mees algemene argument ten gunste van ’n boikot van kunstenaars wat hul skuldig gemaak het aan moreel laakbare opinies en optrede. Hierdie argument berus op aannames omtrent die skadelike gevolge daarvan om aan so ’n kunstenaar ’n openbare platform te gee. Die eerste mense wat geskaad word, so lui die argument, is die direkte slagoffers van die oortreder – Woody Allen se aangenome kinders; die vroue wat deur R Kelly gemolesteer is – deurdat hulle voortdurend herinner word aan hul trauma en gekonfronteer word met die verheerliking van die oorsaak van daardie trauma. Dan is daar ook indirekte skade aan die slagoffers van dieselfde kategorie van morele oortreding, al is daardie oortredings deur iemand anders gepleeg. En laastens is daar die skade aan die breër samelewing, aan wie voorgehou word dat mense wat verskriklike dinge aan ander doen, steeds navolgenswaardig is; dat hulle verdien om deur die res van ons geëer te word. Dit maak van die samelewing ’n teelaarde vir verdere onreg. Op hierdie manier word ons almal geskaad deur aan monsteragtige individue ’n verhewe openbare status te gee. Dieselfde geld vir immorele kunstenaars wat reeds dood is. Al is hul direkte slagoffers nie meer met ons nie, bestaan die kategorieë van slagoffers steeds. En daarmee saam ook die potensiële skade aan die breër samelewing indien ons die kwaad wat hierdie kunstenaars aan ander gedoen het, of die laakbare sienings wat hulle gehuldig het, sou verskoon ter wille van hul kuns.
Die argument vir die boikot van kunstenaars op grond van skade aan ander is ’n spesifieke instansie van ’n meer omvattende argument teen ongebreidelde vryheid van spraak. Die argument draai om die skadelike gevolge daarvan om aan sekere sienings, of verteenwoordigers van daardie sienings, ’n openbare platform te gee.
Maar ek is bevrees ook hierdie argument staan op losse skroewe.
In die eerste plek moet ons vra: Wat is die essensiële eienskappe vir iets om as skade te geld? In die debat oor die kansellering van kunstenaars word gewoonlik aangevoer dat iemand geskaad word wanneer dit as skadelik ervaar word dat moreel laakbare kunstenaars ’n platform gegun word. Die achilleshiel van hierdie argument is dat diegene wat ontneem word van die geleentheid om die kunstenaar se werke te geniet, of die geleentheid vir kritiese gesprek met die kunstenaar oor sy of haar sienings, óók daarop kan aanspraak maak dat húlle geskaad word. Uiteindelik word dit ’n opweeg van skade teenoor skade. Wat is die gronde vir so ’n berekening? Wié is gekwalifiseer om dit te maak? En op ’n meer fundamentele vlak: Wat presies is dit wat hier opgeweeg moet word – die uiteenlopende subjektiewe ervarings van mense of die gedeelde objek van daardie ervarings?
Dit lyk dus asof die beroep op skade meer vrae as antwoorde bied. Op die minste gesê, kan oorwegings van skade ons nie help om ’n oorwoë besluit te neem oor die boikot al dan nie van kunstenaars of hul werke nie.
Die drie argumente wat ek bespreek het, verteenwoordig drie algemene standpunte in die debat oor die boikot van kunstenaars. As ons van hierdie argumente sou afsien, waar laat dit ons dan?
Ek dink die roete uit die doolhof is om in te sien dat daar eintlik twee verskillende soorte morele oordeel ter sprake is. Aan die een kant is daar die evaluering van die kunstenaar in sy of haar verhouding met ander mense. In hierdie geval geld al die redes wat ons het om enigiemand se optrede en sienings te beoordeel. Ons sou inderdaad vir Roman Polanski of Woody Allen of Michael Jackson vir hul dade kon veroordeel, en volhou dat hulle nie navolgenswaardige voorbeelde is van hoe om met ander mense om te gaan nie.
Die ander soort morele oordeel het te make met die integriteit van die kunstenaar ás kunstenaar. Hiermee bedoel ek hul getrouheid aan hul visie; die eerlikheid waarmee hulle hul onderwerp aanpak; hul onafhanklikheid van gees. En met “visie” bedoel ek: die verbeeldingryke aanbied van ’n aspek van die werklikheid; die na vore bring van elemente van ons belewenis wat gewoonlik slegs obskure agtergrondverskynsels is; die verskerpte bewussyn wat dit by ons skep (Berleant 1977:198). Alice Munro beskryf hierdie oriëntasie so: “What I wanted was every last thing, every layer of speech and thought, stroke of light on bark or walls, every smell, pothole, pain, crack, delusion, held still and held together – radiant, everlasting.”
Die kunstenaar kan hierdie visie verloën deur die werk onderhewig te stel aan ’n politieke ideologie. Of deur die leser of toeskouer te manipuleer ter wille van geld, of populariteit, of status, of nog ander oorwegings. En hierdie verloëning van visie is ’n morele tekortkoming uit eie reg – analoog aan die wetenskaplike wat lieg oor die aard of resultate van eksperimente, of wat sy of haar integriteit as navorser inboet ter wille van sosiale of politieke oorwegings (Berleant 1997:199).
Dit is nie toevallig dat ek vir Alice Munro aangehaal het nie. Sy is beide ’n ma wat haarself versoen het met haar man se seksuele misbruik van haar 15-jarige dogter én die skrywer van weergalose prosa. Haar ontoereikendheid as ’n ouer is nie relevante gronde vir ’n oordeel oor haar toereikendheid as kunstenaar nie. En die feit dat sy sonder gelyke is as kunstenaar is geen rede om haar te vergewe vir wat sy haar kind aangedoen het nie.
Ons kan albei sienings gelyktydig handhaaf. Net soos wat ons tegelykertyd vir Newton kan veroordeel as ’n selfsugtige, gemene, bedrieglike, wraaksugtige persoon én kan volhou dat sy bydrae tot die fisika en wiskunde getuig van integriteit, eerlikheid, en ’n verbintenis tot die waarheid.
Hier is my punt: Nie alle morele oordele is versoenbaar nie. Nie alle waardes kan op ’n enkele skaal geweeg word nie. Daar is meer dinge waaroor ons omgee as waaroor daar vaste reëls gemaak kan word.
Beteken dit dan dat geen kunstenaar ooit geboikot mag word nie? Nie noodwendig nie. Maar hieroor moet elke leser, elke toeskouer, elke luisteraar self besluit. So ’n besluit verg omsigtigheid en onderskeidingsvermoë; dit kan nie uitgekontrakteer word aan die staat of ander instellings nie. So ’n besluit kan ook nie geneem word bloot op grond van die biografie van die kunstenaar nie. Ons is gemoeid met die kunstenaar vanweë sy of haar werke. En dit bly die werke waar ons moet begin.
Bibliografie
Barthes, R. 1977. The death of the author. In Image-Music-Text , vertaler Stephen Heath. Fontana, ble 142–8.
Berleant, A. 1977. Towards an ethics of art. Leonardo, 10(3):195–202.
Munro, A. 1971. Lives of girls and women. Whitby, Ontario: McGraw-Hill Ryerson.
Lees ook:
Marita van der Vyver: Seks, kuns en die waarheid
Diane Awerbuck: On sexuality, erotics, disease, ageing, privacy, piercing, abuse
Jaco Botha: Laat die skrywers skrywe
Hennie Aucamp: ’n Doodshemp mag wel sakke hê
Naomi Bruwer: kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Thys Human
Hennie van Coller: Die etiek van interpretasie

