kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Thys Human

  • 0

  

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Thys Human was een van die beoordelaars van die Fiksie-kategorie.

Thys Human

Koop Die aanspraak van lewende wesens by Kalahari.com.

Koop The God of Small Things by Kalahari.com.

Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?

Benewens die feit dat die prys die leemte vul wat gelaat is na die opskorting van die M-Net Literêre toekennings, dien dit ook as uiters noodsaaklike platform vir voortgesette literêre gesprekvoering (al is dit net by die lede op die beoordelingspaneel of diegene wat hewig van hulle verskil).

Die aard van die borge, die samestelling van die keurpaneel en die gestelde beoordelingskriteria bied die gerusstelling dat ekonomiese oorwegings en markkragte nie sommer die intellektuele outonomie van die prys behoort te bedreig nie.

Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?

Wat die inskrywings vir vanjaar se prys betref, is daar meer as ’n handvol tekste wat my besonder opgewonde stem. Neem ’n mens egter ook dié tekste in aanmerking wat die afgelope jaar verskyn het en dus vir volgende jaar se prys in aanmerking gaan kom, is dit duidelik dat daar geen rede tot kommer bestaan nie. Inteendeel. Die oes staan ryp op die lande!

Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?

Die grens wat tradisioneel tussen hogere letterkunde enersyds en populêre fiksie (of erger nog, “goeie, gewilde prosa”) andersyds getref word, is toenemend besig om te vervaag. In ’n sekere sin vind van die opwindendste eksperimentering juis op die terrein van sogenaamde “genrefiksie” plaas. 

Naas ernstige (en soms distopiese) besinnings oor identiteitsproblematiek, die komplekse wyse waarop die hede ingeënt bly op die verlede, en uitdagings wat met toenemende globalisering gepaard gaan, is daar ook heelwat tekste wat ’n (welkome) ligter, speelser aanslag verraai. Dat dié ligtheid nie met ligsinnigheid verwar moet word nie, blyk egter duidelik uit van die voorgelegde romans.

Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?

Al drie romans op die kortlys is veelvlakkig, maar terselfdertyd (verrassend) toeganklik; daag bestaande strukturele of tematiese grense uit; werp ’n oorspronklike lig op alledaagse bestaansprobleme; beïndruk met vars, vernuwende taalgebruik en tree op intrigerende wyse met ander tekste in die plaaslike én wêreldliteratuur in gesprek.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Ingrid Winterbach, JM Coetzee, Ivan Vladislavi?, Marlene van Niekerk, Antjie Krog, Saul Bellow, Julian Barnes, Javier Marias, Alice Munroe.  

En nou vers twee ...

Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Alles van Ingrid Winterbach. Arundhati Roy se The God of Small Things. Wells Tower se Everything ravaged, everything burned. Meestal in daardie volgorde.

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top