Laat die skrywers skrywe

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Toe ek die eerste maal gehoor het van hierdie aanlyn seminaar, Poolshoogte, het ek nie die term geken nie. “Nou watter Pool is hierdie dan van Poolshoogte?” begin ek in my onkunde familie uit te lê, vertel van die karakter Ian Pool, in my nuwe roman – Hollywood Kans – Die Rooigesig Rooinek Eiendomsontwikkelaar, die Doosdronk Soutpiel wie se naam so heerlik inverteer.

So vind ek toe uit dat poolshoogte ’n bestekopname is: Waar is ons nou en waarheen wil ons koers kies? Mooi term.

 

Haruki Murakami

Salman Rushdie

John Irving

Van die huidige stand van die Afrikaanse letterkunde weet ek te min. Daar is nog soveel lieflike boeke waarby ek so graag wil uitkom, maar nog net nie die tyd of ruimte gehad het nie – ek het maar hard gelewe om ’n bestaan te maak in die televisie- en reklamebedryf – was daardeur ingesleur, totaal opgeneem – gelukkig in die proses darem ook ’n paar stories versamel wat geskryf kan word.

Maar dit bring my by my eerste punt – en dalk my enigste punt van waarde vir die Afrikaanse uitgewersbedryf. As iemand wat swak sien, verkies ek oudioboeke, “lees” dit net soveel makliker. En met ’n wêreldkultuur waar al hoe meer lesers verkies om stories te luister – in motors op pad werk toe, in vliegtuie onderweg êrens heen – is die beste boeke nou op aanlyn winkels soos Audible beskikbaar – lieflike, inspirerende skrywers soos Haruki Murakami, Salman Rushdie, John Irving en soveel meer.

CD’s is beslis iets van die verlede – oudiolesers laai gewoon die boeke op hul slimfone af. Dit beteken dat jou produksiekoste en risiko om ’n oudioboek te publiseer geweldig afgeneem het. ’n Waagmoedige uitgewer kan vir so min as R50 000 ’n uitstekende klankweergawe van enige Afrikaanse roman produseer. Indien jy so R200 per oudioboek vra, is jou produksiekoste gedek deur slegs 250 verkope – van daar af is dit als skoon wins. Net ’n gedagte.

*

Soos genoem, weet ek regtig te min om werklik ’n peiling of bestekopname te doen oor waar enige deel van ons letterkunde tans staan, waarheen ons op pad is, óf ons trouens êrens heen op pad is. Dit klink vir my die boeke – veral die misdaadgenre – verkoop goed, so dit beteken die mense lees darem.

Dit klink ook vir my asof die sterk stemme van die afgelope 30 jaar maar steeds die mense is wat vandag nog die goeie boeke skryf en die pryse wen – ek hoop natuurlik altyd vir nuwe, opwindende stemme wat sal opstaan en getel word voordat die ouer stemme uitsterf.

Gegee my kennelike kantlynstatus, kan ek gevolglik hier bloot oor my eie poolshoogte skryf. Vir my was dit nog altyd in elk geval ’n individuele ervaring.

*

Met die veranderinge in Suid-Afrika en opkoms van ’n nuwe-media-gedrewe wêreldkultuur het baie skeppende stemme – stemme wat dalk in die Afrikaanse letterkunde ’n merk kon gemaak het – verlore gegaan – hul talente elders benut. Ons verdien geld as sepieskrywers, TV-regisseurs en rekenaarprogrammeerders. Ons jeug en ambisie het ons gedryf tot die voorpunt van geldgedrewe bedrywe – die akademie as tradisionele hawe vir skrywers is nie meer vir ons ’n heenkome nie – daar is min beskermheerskappe wat die uitleef van ons talente kan finansier.

Tot twee jaar gelede is dit waar ek ook was: my tyd spandeer deur agter bobbejane en renosterstropers aan te loop, TV te maak vir die Amerikaners.

En toe slaan ek my eie poolshoogte.

*

Om op die ouderdom van 40 bestekopname van jou eie lewe te maak, is sekerlik nie iets ongewoon nie – sommige mense beskryf dit as ’n middeljarekrisis, en tot ’n sekere mate was dit beslis vir my so. Ek was in een woord “uitgebrand”, en het gesukkel om waarde te sien in dit waarin ek soveel van my tyd, energie en passie geploeg het.

Toe kom rus ons vir twee weke op Knysna uit en bly sommer hier.

Vir nog ’n jaar en ’n bietjie het ek bly geld verdien met dit wat ek ken, die reklamebedryf, maar in my hart, het ek nog altyd geweet, is ek maar ’n storieverteller – iemand wat met woorde speel – dalk soos ’n kleuter met klei – vir iets wat meer as geld werd is.

Toe vra Fourie Botha van Random House vir my om Mike Nicol se Of Cops and Robbers in Afrikaans te vertaal, en in die proses ontdek ek weer my liefde vir speel met Afrikaans. Skielik raak ek self weer lus vir skryf en besef dat ek nou genoeg gelewe het om darem so een of twee stories te hê om te vertel – ervaringe om te verwoord.

Êrens, agter die kombuis, gis ’n seekat in ’n asdrom.

Vreemd, al die verskillende reuke van dood, dink Spider terwyl hy die regte sleutel tussen die ander in die bos uitvoel. Hy onthou die reuk van dooie renoster agter die lapa van ’n lodge waar hy op ’n kol kroegman was – brommers by dosyne, maaiers wat maai om die grou karkas. Dooie gras, verrottende plante ruik weer anders. Dooie vis, dooie rob, dooie seemeeu, dooie drolle, het elkeen sy unieke reuk van verrotting en verganklikheid. Dan het hy die regte sleutel.

Uit: Hollywood Kans deur Jaco Botha

*

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek skeppend geskryf het nie,” sê ’n joernalisvriendin, wat ook ’n bekroonde skrywer is, vir my. Hoeveel van ons talent word nie gemors op goed wat geen skoonheid of ewigheidswaarde het nie? Hoeveel van ons talent gaan nie om den brode verlore nie?

Sally vertel Die Kaptein dat na haar bekering het sy baie rein gelewe, maar tog het sy altyd gewonder, net gewonder of naai nie dalk haar groot talent was nie. Sy het daarmee gewoeker, daarmee net soveel troos aan soveel gebroke mans gebring. “Regtig, dis hoe ek baie keer gevoel het,” bieg sy, “ek het regtig gewonder of ek nie dalk die Here in die gesig spoeg deur nie die groot talent wat Hy vir my gegee het, uit te leef nie. Ek weet nie hoekom werk ’n mens se kop soos hy werk nie.” Sy maak haar oë toe, vertel met ’n dromerige glimlag dat sy op haar rug op haar mees onbaatsugtigste was, dat sy, wat Sally Kramer is, ’n beker van liefde was.

Uit: Hollywood Kans deur Jaco Botha

Dit is basies die gevolgtrekking waartoe ek gekom het toe ek my eie poolshoogte bereik. Toe ek bestekopname gedoen het en vir myself begin afvra het: Wat het jy nou eintlik al met jou eie talent uitgerig?

Koop Of Cops and Robbers by Kalahari.com.

Koop Dieners en Donners by Kalahari.com.

Want dit, in wese, glo ek: Ons is hier om ons potensiaal uit te lewe. As jy ’n skrywer is, moet jy skrywe.

En ek dink dit is ons groot uitdaging vir die nuwe skrywers van die afgelope tien tot vyftien jaar: Om nie jou talent op kak te verkwis nie. Om, indien jy ’n literêre skrywer is, nie verlei te word deur populêre sukses nie. En, veral, om slim maniere te vind om meer skryftyd te koop om goed van waarde te kan skep.

In Die Byeboer se Bed, lê die poedelkaal Digter in die arms van Die Byeboer se Vrou. Soos hy slaap, soos hy droom, sweef Jaap in Alice Kriel se reuk, die gloed van haar gloeiende vel.

Die Digter droom dat hy besig is om in elegante woorde aan Alice Kriel die verskil tussen die populêre en die literêre te verduidelik. “Populêr neem jou van onseker na seker,” fluister hy in Alice Kriel se nek. “’n Moord word gepleeg. ’n Moord word opgelos. Al die leidrade lei sekuur van onseker na seker. Elke woord op sy plek.”

“Mmmm,” sug Die Byeboer se Vrou, stu met haar onderlyf teen Die Digter se heup.

“Die populêre neem jou uit die koue, siedende reën en tot in die snoesige beskutting van die grot.” Hy voel hoe sy met haar hand sy ottertaai orgaan tot binne haar sopnat geslagsdeel stuur.

Hy voel hoe kringspiere sy glans omvou, los, vat, los, hoe hy geluidloos kom, sy pêrel tot in haar oester laat rol.

“Oe,” sê sy.

“Ah,” sug hy, soek na woorde, wil huil soos ’n begrafnisganger by die roudiens van die kleindood.

“By die literêre word die leser daaraan herinner dat daar ’n beer in die grot is,” praat Die Digter verder, voel hoe Alice Kriel onder hom roer, draai sy gesig na bo, die duisende hande van die mandala teen die plafon seën klaarblyklik hierdie buite-egtelike samekoms. “Sekerheid word met onsekerheid verplaas. Die literêre is ’n lofsang vir onsekerheid,” mymer Die Digter voort. “Die literêr stap met ’n beervel oor die skouer deur die bos,” voeg hy by.

Hy voel hoe haar lyf weer begin stoot teen hom, op en af. Die Digter kwyn, maar lê met sy rug teen die matras. “Hoe meer ons glo ons weet, hoe minder weet ons,” sê hy sagter, amper so sag soos sy verlepte, middeljarige ou pieletjie.

Uit: Hollywood Kans deur Jaco Botha

Hoekom dan al hierdie aanhalings uit ’n onvoltooide manuskrip?  Dit is omdat selfs die skryf oor skryf vir my te klinies, te steriel, te onspeels voel. Omdat daar waar ek skeppend skryf is ek op my beste – blom ek dalk so ietsie van die veelpolige hart van die heelal.

Daar is nog soveel, soveel stories wat ek wil neerskryf. Stories waarvoor ek gebore is en waarvoor ek geleef het om te skryf.  En dit is wat ek van hier af sal doen, voor die balju met sy swawelasem of die asemlose emfiseem my inhaal.

Of, dalk ontsluit dit ander moontlikhede, wanneer die skrywers begin skrywe. Wie weet?

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Literatuur in die marge: Die plek van die middelmoot-literatuur
– Hennie van Coller
2011-06-22
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die tydskrif Wurm (1966-1970) en die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing
– Philip John
2009-06-19
Interview
Found in Translation
– Mike Nicol, Jaco Botha
2013-09-04
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die miskruier, hoop en die verlede – Miskruier (2005) deur Jaco Botha as kritiese distopiese roman
– Joan-Mari Barendse
2013-09-04
Resensie
'n Resensie van Jaco Botha se eerste roman, Miskruier
– Jaco Fouché
2005-10-24
Essay
Erotiese verhulling as invalshoek vir outobiografiese prosa
– Eben Venter
2004
Young Voices Conference 2004
Die wetenskap van liefde, en ander maniere om te dobbel
– Nèlleke de Jager
2004-11-23
Briewe deur die lug
Vaders en moeders
– Jeanette Ferreira
2000

Young Voices Conference 2004
Die woord worcester
– Jaco Botha
2004-10-07

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die fotogedig: ’n Teoretiese onderbou
– Hans Pienaar
2013-12-05
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top