Die etiek van interpretasie

  • 0

Een van die sentrale probleemstellings in die ontwikkeling van die literatuurwetenskap was (en is ten dele steeds) dié tussen literatuurwetenskap en kritiek. Daar is al dikwels beweer dat die (hermeneutiese) proses van interpreteer ’n subjektiewe proses is, omdat die ondersoeker se eie teoretiese invalshoek altyd ter sprake kom. Interpretasies is ’n verslag van wat "gebeur" tussen teks en leser – dit is ’n poging tot singewing, en soos die bekende Nederlander JJ Oversteegen gesê het, die kritikus bring in sy uitsprake ’n houding ten opsigte van bepaalde objekte tot uitdrukking.

Foto: Pixabay.com

Hoewel die verslag van hierdie "begryp" vir ander toeganklik en beoordeelbaar behoort te wees, is dit steeds iets anders as die begrip intersubjektiwiteit, een van die vereistes vir wetenskaplike uitsprake, omdat toetsbaarheid en ’n vaste parameter daarvoor ontbreek. Oversteegen praat in hierdie verband van "een waarheidsgevoel" wat die kritikus by sy lesers tot stand wil bring. Hoewel hy sy bes doen om die hermeneutiek by wyse van spreke te "red" deur dit te onderskei van kritiek, moet hy oplaas toegee dat die hermeneutiese tak van die literatuurwetenskap metodologies digter staan by die kritiek.

Selfs die historiese kontekstualisering of rekonstruksie met sy aanspraak op objektiwiteit gaan mank aan wetenskaplikheid. In die grond bly dit steeds ’n subjektiewe rekonstruksie en hermeneutiese werkswyse: "History speaks in our own voice. History does not tell us what the text is, because we decide what history is and then put history in the text, rather than the other way around," sê Pechter.

Wat egter by herhaling gesê behoort te word, is dat die proses van interpreteer nie daarom verdag geraak het nie. Die tweedeling wat vroeër bestaan het tussen die empiriese wetenskap en hermeneutiek het sy krag verloor. Hoewel valsifiëring nie meer die alfa en die omega is nie, moet hermeneutici steeds verantwoording aflê van die hoe en waarom van hul interpretatiewe handeling. Beter as die bekende Hillis Miller kan dit kwalik verwoord word: die etiek van lees hou verband met die respek vir die teks wat bespreek word. "Dit is die verpligting om te lees ... sorgvuldig, geduldig en noulettend, met die basiese voorveronderstelling dat die teks wat jy lees iets totaal anders mag sê as dit wat jy verwag dit moet sê of wat jy graag daarin sou wou lees óf wat ander daaroor te sê gehad het."

Van ’n kritikus word ’n oordeel verwag; van ’n resensent of die boek onder bespreking goed is. Die goeie eksegeet sou op sy minste – selfs by implikasie – moet sê wat die bepaalde narratologiese, strukturele of mimetiese aspek wat bespreek is, se uiteindelike bydrae tot die beskrywing van die literêre werk is en behoort ook die poëtikale agtergrond daarvan te verhelder. Wat in ’n ander verband van die psigoanalitiese benadering gesê is, is ook hier van toepassing. Soms is mense geneig om interpretasies slegs op grond van dele van tekste te laat berus, maar dit is eintlik ’n verpligting om die samehang van alle elemente te verreken. ’n Interpretatiewe handeling gaan mank aan etiek wanneer die objek (byvoorbeeld ’n literêre teks) nie binne konteks geïnterpreteer word nie en wanneer alle relevante aspekte daarvan nie verklaar word nie.

Uit die voorafgaande redenering is dit duidelik dat ook die begrip waarde geproblematiseer geraak het. Is waarde naamlik ’n inherente eienskap van die objek, of relatief tot die funksies en norme van die interpreterende gemeenskap? Mukarovsky beweer op uitdagende wyse dat die literêre werk bloot ’n versameling buite-estetiese waardes is. Barbara Herrnstein Smith stel sonder meer dat "All value is radically contingent being neither an inherent property of objects nor an arbitrary projection of subjects but, rather the product of the dynamics of the economic system." Hiervolgens is waarde ’n produk van sistemiese kragte wat aan die objek as sodanig steeds ’n prominente plek verleen, maar dan waarde sien as die verhouding tussen die klassifikasie van ’n entiteit en die funksies wat dit behoort te vervul.

Daar is baie voorbeelde van onetiese gedrag in die Afrikaanse letterkunde en soms setel dit ongelukkig in enkele persone. Om stukke uit boeke buite konteks aan te haal is oneties, maar óók om ’n konteks te (re)konstrueer om tekste te regverdig. Nog meer oneties is om mense en tekste te beoordeel met ’n vooropgestelde doel, meestal om hulle te na te kom. Maar die ergste doodsonde is plagiaat: om die geestesgoedere van ander te steel en byvoorbeeld uitsprake van ander kritici aan te haal sonder die nodige erkenning. Verwant hieraan is die verswyging van ander se bydraes tot die bepaalde wetenskapsgebied. Dit is byvoorbeeld ondenkbaar dat ’n literatuurgeskiedenis sonder ’n bronnelys, voetnote en uitvoerige aantekeninge ooit in byvoorbeeld Nederland sou kon verskyn. In Suid-Afrika is dit wél moontlik, ook om heruitgawes van tekste te onderneem, sonder verantwoording en ’n lys van wysigings. Hier is dit óók moontlik dat versamelde werke van digters verskyn waarin die samesteller (!) besluit wat die uiteindelike versie van ’n gedig behoort te wees!

Maar die mees bedenklike werkwyse is die wysiging van tekste (sonder inspraak van die outeur) – dikwels deur ’n radikale ingryp in die oorspronklike, om dit geskik te maak vir ’n nuwe leserspubliek. Om te sê tekste is heilig, mag klink na ’n anachronisme, maar dit is ’n beginsel wat onetiese gedrag verhoed.

Onlangs was daar ’n klein polemiekie oor ’n poësieresensie en daar was pleidooie dat poësie "anders" behandel moet word as prosa, onder andere as gevolg van die finansiële risiko's verbonde aan die uitgee daarvan. Daar is ook gewag gemaak van die "eis" om vernuwing en die gevare daaraan verbonde. Bloot die feit dat die potensiële lesersgetal van ’n poësiebundel veel kleiner is as dié van ’n prosawerk, is geen argument dat dit nie blootgestel behoort te word aan dieselfde kritiese prosesse nie. Dalk veroorsaak die term kritiek probleme vir baie van ons resensente. In feite is dit ’n wetenskaplike en evaluerende ondersoek of beoordeling, geen opdrag om soos ’n suur kritikaster net foute aan te dui nie.

Vernuwing as kriterium (selfs eis) vir letterkundige werke is ’n nalatenskap van die Russiese Formaliste uit die jare twintig van die vorige eeu, en as dit op die spits gedryf word, sou dit kon lei tot die "eis tot vernuwing, sonder gehalte", soos dit na vore gekom het in die destydse polemiek tussen Van Wyk Louw en Opperman. Maar verantwoordelike kritici (soos in die onderhawige geval) bedoel daarmee waarskynlik eerder ’n vindingrykheid, ’n "sprankel" en tegniese vernuf, selfs binne ’n bepaalde soort "konvensionele" literatuur.

Daar is voldoende bewyse dat resensies ’n manier het om gekanoniseerde uitsprake te raak; trouens, ondersoek het getoon dat resensies van debuutwerke later byna ongewysigd (dus "gefossileerd") in literatuurgeskiedenisse opgeneem word. Boonop is kritici geneig om mekaar te eggo, veral as belangrike kritici eers die woord spreek. Daarom is die impak van ’n resensie op die beeld van ’n skrywer of digter baie belangrik en skud ’n skrywer of digter moeilik ’n bepaalde etiket af.

Maar wat onderskat word, is hoe so ’n negatiewe en afbrekende resensie skrywers muilband en selfs vir ewig tot swye kan dwing. Party mense mag redeneer dat die letterkunde baat vind by die swye van ’n swak skrywer, maar daar is ook oorvloedige bewys dat swak werke, veral debute (en daar is heelwat sodanige werke ook onder die werk van groot skrywers), dikwels opgevolg word met beter werke. ’n Kritikus het ’n reuse-verantwoordelikheid, ook ten aansien van die wyse waarop geskrywe word, want kritiek moet indringend wees sonder om persoonlik en kwetsend te raak.

’n Groot ego en deelname aan belangepolitiek is doodsteke vir die kritiese bedryf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top