Dinge kom en dinge gaan, nè? Ook hier in Pretoria, waar die Karoo Cafe steeds die bakermat van die goeie ontbyt is en die padwerke in en om Die Wilgers nooit ooit klaar gaan kry nie. En as hierdie 36 grade Celsius wat my vandag lamlê, net 6 grade wil afskud dan sal my gemoed ook meer hanteerbaar wees.
Daar is altyd reent op pad, maar nie in die joernalistiek nie. Rapport is, soos my man altyd sê, “totally gawn”. Feit soos ’n tollie, nè? Nie regtig nie, skattebol. Desember moet eers verby wees voordat Rapport verby is. Tog doem een van André Brink se titels by my op. Die kreef raak gewoond daaraan.
En toe kry ek (vroom aan die droom oor moontlike sakereddings en dinge) ’n screenshot van Annelise Erasmus se verklaring op Facebook dat haar loopbaan as vryskutresensent verby is.
Gaan sy werklik ophou boeke resenseer? Sy is een van die helderste ligte wat skyn in die donker hoekies van my vermoedelik menslike siel. Oké, dalk is ek effe oordramaties, maar as julle haar grootse resensie in Rapport Boeke gelees het van Zelda la Grange se What Nelson Mandela taught me, sal julle weet hoe ’n groot verlies dit is.
Komaan, Annelise, laat Pretoria se vlag hoog wapper! Moenie ophou nie. Terwyl jy nog resensies skryf, voel ek altyd nettement mieux oor die boekeblaaie.
Die La Grange-boek is in Engels, so eintlik moet ek dit nie hier bysleep nie, maar ek het nou eenmaal ’n nuk om my lyf Hägar te hou.
Erasmus begin met: “Geseënd is die persoon wat so gelukkig was om ’n lewe met een van die groot geeste van die geskiedenis te deel.” Dit eggo ten minste 15 (ek is seker daar is meer) Bybelverse wat begin met die woorde: “Welgeluksalig is hy/hulle ...” of “Salig is ...”. Hierdie verse beklemtoon God se seëninge op diegene wat Sy wil volg, gelowig en in geregtigheid lewe.
Dit is ’n resensie wat gedurig inspeel op die rol van die profeet in elkeen se lewe – het jy só iemand? Kan jy jou op mense rig? “Sy strooi Madiba se pêrels en jy kan besluit of jy hulle wil optel of nie.” Erasmus bou in haar betoog skadelose stellings in teen moontlike aanvalle op haar resensie deur dwepers.
Sy lees Le Grange se kategese soos iemand wat Matthéüs 5 verse 3 tot 11 aanhaal en ’n disclaimer plaas. “Niemand gaan ooit iets leer of nuwe insig oor ’n situasie kry as hulle bloot gekanselleer word wanneer hulle ’n fout maak nie”, is vir Erasmus een van die belangrikste boodskappe van die boek.
Voorwaar, mens lees die resensie met ’n gevoel dat jy besig is met ten minste twee ander geïmpliseerde Groot Argumente. En dít is vir my die krag van hierdie resensie. Dit is ’n betoog oor geloof en die uitwerking van die profetiese voorbeeld op die gewone mens se handel en wandel.
Annelise Erasmus se naam by ’n resensie het deur die jare een ding beteken. ’n Redenasie. Ek het nie altyd volledig met haar oordeel saamgestem nie. Dis nie belangrik nie, ons vrouens moet met mekaar kan verskil. Ons is nie soos mans wat mekaar vir ’n bier nooi terwyl die avatar van die ander kant af die verwoestingswerk verrig nie. (Ek dink nou aan die vervaardigers van anti-Rassie TikToks, voordat julle my verkeerd verstaan.)
Erasmus is lid van Afrikaanse boekresensente se eerste span. Saam met Johann Kriegler, Jean Meiring, Louise Viljoen en ’n paar ander. Hopelik kan Jo Prins haar anders laat besluit.
Laat ek terugkeer na die groter Crito-projek, hierdie keer om te kyk na resensies waarin ’n sterk betoog volg op die inleiding. As jou resensie nie hier bespreek word nie, is dit bloot omdat ek nie gevoel het die resensie word gebou rondom ’n deurlopende argumentering nie:
Willie Burger skryf oor Bloedbroers deur Deon Lamprecht en Troep deur Bun Booyens (Rapport Boeke)
Die beplanning van hierdie resensie is opvallend. In die intro sê Burger: “By die Infanterieskool op Oudtshoorn het kmdt. JD Malan trots vir my gesê geen ander opleidingsinstansie het so ’n groot impak op mense se lewe as die weermag nie.” Sy afsluitingsin is: “Oral waar daar oorlog is, is ’n geslag mense wie se lewe in ’n baie kort tydjie ingrypend en op ’n negatiewe manier verander.” Burger plaas homself as een van diegene wat militêre diensplig moes doen. Tussen intro en die woord “negatiewe” aan die einde is ’n reaksie op twee boeke wat handel oor die uitwerking van die militêre omgewing op mense wat deur omstandighede of wettelike verpligting daarin geplaas is. Burger reageer met begrip en ’n sober, kritiese oog. Die subtitel van Troep is Die dinge wat hulle saamdra (’n eggo van Tim O’Brien se skitterende Viëtnam-verslag The things they carried). Burger merk op dat Booyens met sy boek wil keer dat “alles vergete raak”, wat sekerlik ook die geval met Bloedbroers is. In sy betoog oor dié twee boeke werk hy dan met die implikasies van presies wat dit is wat nie vergeet moet word nie. Hierbinne is daar subtiliteite wat Burger meesterlik hanteer.
Elke geslag is geneig om hiper-krities te wees oor die geslagte daarna. Hier in Pretoria weet ons dit nog beter as elders. Theunis Engelbrecht (hy was Randy in die groep Randy Rambo en die Rough Riders, wat Fokofpolisiekar vooruitgegaan het) is die ideale resensent vir hierdie boek. Hy weet presies hoe groot Van Coke en sy groep se prestasies is, en hoe gelukkig hulle was om met hul lewens daarvan af te kom. Ek is nie een van die mense op wie hierdie boek gemik is nie, en ek sukkel met Van Coke-hulle se musiek. Maar as Theunis Engelbrecht vir my sê: “Uit hul lirieke is dit duidelik dat dié musiekgroepe en Van Coke se verset nie betekenisloos en leeg is/was nie”, dan weet ek dat dit sekerlik vir die boek ook geld. Hoekom? Omdat sy betoog so vaderlik ontfermend is.
Fanie Olivier bespreek Liefde en verset deur André le Roux (Rapport Boeke)
Soms begin die argument eintlik by die opskrif, hang net af wat gekies word daarvoor. Hier is dit “André le Roux se tweede digbundel is ontsettend belangrik vir Afrikaans”. Dít is ook die slotsom van die resensie; die groot liggaam van die bespreking is dan ’n aaneenskakeling van argumentspunte, gerig deur die volgorde waarin Olivier die bundeldele bespreek. Hy sou dit seker tematies ook kon gerig het, en dit sou ’n ander soort resensie tot gevolg gehad het; die slotsom sou dieselfde wees.
Louise Viljoen bespreek Liefde en verset deur André le Roux (Boeke24)
Fanie Olivier sê Liefde en verset bevestig dat Le Roux ’n digter van formaat is; Louise Viljoen neig weer daarna om die temas uit te lig en hemel dan die digter op vir sy digterlike vakmanskap en die wyse waarop hy deur die gebruik van alledaagse taal digkuns vorm. In ’n era waarin woorde soos briljant en skitterend deur misbruik semanties gekapater is, is dit ’n vreugde om te sien hoe Viljoen haar bespreking opbou en uiteindelik die bundel opsom met ’n woord wat skielik die volledige lading van sy betekenis het: verfrissend. Jy weet sommer dit is, heeltemal.
Danie Marais bespreek Hoe ek dit onthou deur Francois van Coke en Annie Klopper (Boeke24)
Daar is een ding waaroor Danie Marais niks hardop sê nie, maar wat die ferm ruggraat van sy resensie is – mens skinder nie oor jouself nie. Hy keer telkens reguit of by implikasie daarna terug. Francois van Coke, wat hy beskryf met die nimmer te vergete uitdrukking “gentleman-werfetter”, vertel op ouderdom 44 sy lewensverhaal, maar swyg oor baie dinge (onder meer oor die manier waarop hy sy verskillende verslawings te bowe gekom het) en was ook geen vuil wasgoed in die openbaar nie. Mens is deurentyd daarvan bewus dat Marais ’n kritiese afstand het, dat hy bewus is van buite-kontekstuele dinge, maar hy lê sy argument rustig uit om te kom by die punt waarop hy soort van kan suggereer dat Francois van Coke nou volwassenheid bereik het.
Linda Roothman bespreek Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck (LitNet)
Roothman weet sy skryf vir ’n ander gehoor as die een wat ’n kort koerantresensie lees; haar betoog is gekonsentreer op die manier waarop sy Twa die tydloper as Bildungs- en vormingsroman kan bespreek. Stilisties maak sy geen toegewings aan diegene wat kort paragrawe en baie tipografiese wit soek nie. Maar ek hét waardering vir die resensie en wanneer ek weer gevra word om ’n boek vir ’n leeskring te bespreek, sal dit oor Twa die tydloper wees en sal ek ruim gebruik maak van hierdie bespreking.
Stefaans Coetzee bespreek Die keiser se duim deur Chris Karsten (Rapport Boeke)
Elke keer wanneer mens in ’n boekwinkel staan (ons het darem nog ’n paar daarvan in Pretoria, kan ek met trots getuig) en jy sien die loftuitinge op die omslae, dan wonder jy presies oor die dinge wat Stefaans Coetzee as aanknopingspunt gebruik: “Vrywaar verskeie ATKV-Woordveertjies vir spanningsromans, ’n skrywersnaam wat oor dekades opgebou is en blitsverkoperstatus ’n skrywer van kritiek?” Stefaans, dis dieselfde met die silwer en goue plakkertjies op wynbottels. Jy moet maar lees en/of drink. Sy resensie van Karsten se jongste beskryf dan ’n boog van gedagtes tot by die punt waarop hy sy vraag in die slot beantwoord. Hy spreek baie kritiek uit, maar uiteindelik is dit die klimaks en ontknoping van die verhaal wat hom oortuig dis Karsten op sy beste. Hy sou ook kon genoem het dat Karsten besig is om sy eie konvensies om te dolwe, maar dis nou net weer ek wat graag my eie eiertjie wil lê. Basta daarmee!
Ek sal weer terugkom by die onderwerp van die betoog of argumentering binne ’n resensie. Bring darem ook net ’n slag jul kant en sorg dat ek voorbeelde het om te gebruik.


Kommentaar
Ek kon sweer Kerneels Breytenbach is 'n man.
Deel van die masker!