Vinjette in tyd: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck: ’n resensie

  • 0

Titel: Twa die tydloper
Skrywer: Anoeschka von Meck
ISBN: 9781776380442
Uitgewer: Penguin

...
’n Gaanhaler is iemand wat van kleins af ongemaklik in hierdie wêreld se karos is. (Twa die tydloper, 2024).
... 
1 Inleiding

Alhoewel Twa op die voorblad van die roman die toekoms tegemoet loop, beide as tydloper én gaanhaler, maak die tyd soms ook ’n deur na agtertoe oop om sodoende ’n blik op die verlede te gee. Hierdie afbeelding van Twa aktiveer die titel van die roman eensklaps en lok die leser die roman in. Die omslagontwerp deur Flame Design skets die fiktiewe wêreld waarin Twa leef. Deur middel van klein vinjette (woordskilderye) wat chronologies in tyd afgemeet is (vanaf 1997–2023), ontvou die veelbewoë lewensverhaal van Twa van die fiktiewe plaas Tabernakel op die magiese vlakte tussen die Maanhaarberg en Haaslipkop. Die romanhoofstukke dien enersyds as tydsmerkers deur die aanduiding van die jaartal en andersyds as leidrade deur die gebruik van titels wat as prikkels vir die leser dien. Op die uitsondering van twee (naamlik Skool en Matriek), het al die hoofstukke se titels jaartalle en strek oor ’n tydperk van 26 jaar in die lewe van Twa.

Anoeschka Von Meck volg in die voetspore van voorganger-skrywers soos Johann Wolfgang von Goethe, Christoph Martin Wieland en Charlotte Brontë, wat bekendheid verwerf het vir hulle Bildungs-/vormingsromans en die benutting van die sogenaamde coming of age-genre. Hier te lande is Valsrivier (2013) deur Dominique Botha ’n goeie voorbeeld van die vormingsroman wat gedefinieer kan word as ’n literêre genre wat fokus op die sielkundige en morele groei van die protagonis van kindsbeen tot volwassenheid en waarin die ontwikkeling van die hoofkarakter sentraal tot die gebeure in die roman is. Dié term is afgelei van die Duitse woord bildung wat dui op die opvoedingsproses. ’n Vormingsroman is ’n uitbeelding van die volwassewording van ’n naïewe persoon wat op soek is na antwoorde op lewensvrae met die verwagting dat ervaring van die wêreld opgedoen sal word. Twa word as sterk karakter uitgebeeld, kenmerkend van Von Meck wat dikwels sterk vrouefigure as hoofkarakters in haar romans, byvoorbeeld die karakters Ginkelsnoek in Annerkant die longdrop (1998) en Helena Bosman in Vaselinetjie (2017), benut. Hierdie nuutste roman bring dus nie juis enige vernuwing in Von Meck se oeuvre nie, maar bevestig haar vermoëns as Bildungsromansier.

’n Tradisionele vormingsroman beskik volgens Buckley (1974:19) oor die volgende eienskappe: uitbeeldings van die kinderjare van die hoofkarakter teen ’n landelike agtergrond soos ’n plaas of ’n plattelandse dorp; ’n protagonis wat dikwels vaderloos, wees of onderworpe is aan ’n antagonistiese vaderfiguur; generasiekonflik en vervreemding; die groter samelewing en selfonderrig; die soeke na ’n lewensroeping; ’n liefdesbeproewing en ’n lewensfilosofie. Von Meck plaas die verhaal teen ’n magies-realistiese agtergrond waarin die karakters met universele temas soos die Covid-pandemie, eko-vriendelike behuising, DNS-toetsing en ’n volhoubare lewenswyse te doene kry. In hierdie roman is die naamgewing van karakters en plekke gelaai met simboliek wat die leser help om verbeeldingsprente se skep.

Met inagneming van bepaalde bestaande literêr-teoretiese insigte ten opsigte van die Bildungsroman, word Twa die tydloper vervolgens as voorbeeld daarvan ondersoek in ’n poging om die roman vir voornemende lesers te ontsluit.

2 Inhoud

Die vormingsroman is in wese ’n soeke na ’n betekenisvolle bestaan binne ’n spesifieke sosiale orde, wat gewoonlik chronologies ontplooi en waarin die innerlike krag van die protagonis onthul word. In die eerste hoofstuk, getiteld “Die draak”, wat in 1997 afspeel, ontmoet die leser Twalie op sewejarige ouderdom waar sy op die plaas Tabernakel saam met haar vader Braam Albrecht, haar moeder ma-Niggie, ouma Saar, oupa Kortlont, oom Loessias, verskeie sibbe en Letgoed woon. Dié familieplaas is in die barre landskap van die Richtersveld geleë. Dit is in hierdie afgeslote ruimte van die plaas waar die Albrecht-familie hulle lewens uitleef.

Op hierdie einste plaas word die natuur Twalie se bondgenoot en vind sy vertroosting daarin om ure lank in die veld rond te dwaal. Dis in die omgewing van Die Poort, wat tydens heuningmaan ’n magiese plek word, waar Twa haarself met die intrapslag bevind. Op die dag van die draak – wat ’n sandstorm blyk te wees – volg Twalie vir Letgoed (die Namavrou van wie die verbintenis met die Albrechts uiteindelik openbaar word) in die rigting van Die Poort. Die verwoestende stofstorm waarin Twa en Letgoed hulleself bevind, is reeds aanduidend dat dinge vir Twalie van vroeg af al skeefloop. Letgoed beskik oor kennis van die natuur en weet presies waar om na die ingang tot Die Poort te soek – na “die dun spasie in ’n spesifieke rotsgleuf waaroor selfs die wilde diere en die Maanhaarberg swyg” (8). Algaande lei Letgoed vir Twalie Die Poort binne en onthul die verborge geheimenisse van die natuur. Twalie ontmoet die “lyfwagte” (8) van Die Poort en verstom haar aan dié reuse-wildevyebome. Dis veral die “Ou Grote”, die grootjie van die wildevyebome, wat haar beïndruk en later vir haar ’n metafoor word “vir iemand by wie se skaduwee ’n mens kan sit” (70).

Letgoed beskik oor die kennis om Twa se noemnaam aan haar te verklaar:

Dis goed jy het ’n Nama-naam ook. Dit help dat jy nie net kort kyk soos die meeste wit mense nie. Partymaal dink ek dis omdat daar soveel Lig in jouse binneste is, dat jouse kophare uitskiet soos ’n twa! Al is jy nog ’n tjênd, is jouse gees klaar gebrandsteek. Min het daai vuur. (11)

Letgoed vertrou die geheim van Die Poort met die volgende woorde aan Twalie toe: “[...] daar gaan ’n geheim op jou skouers kom rus wat nie vir tjênners bedoel is nie. Dis nie eers vir die meeste grootmanne gabedoel nie. Net gaanhalers” (9). Dit is juis hierdie vermoë tot insig en verder kyk wat van Twalie ’n “gaanhaler” (9) sou maak. Op daardie dag word Twalie se “lewenskaart” (15) in Die Poort vasgemaak.

2.1 “die min genade werf”

Volgens Hirsch (1979:296–8) fokus die vormingsroman op die biografiese en die sosiale ontwikkeling van die protagonis. Die samelewing in só ’n roman figureer as die antagonis en dien as die skool van én vir die lewe. Die lotgevalle van die protagonis weerspieël die waardes van die sosiale orde. Braam Albrecht openbaar homself as ’n antagonistiese vaderfiguur wat die siening huldig dat “dié wat paraat bly” (19) nog ’n dag sal sien. Volgens tante Innes is Braam ’n “halfbliksem” en vir Twalie is die grootste geskenk die tye wanneer haar pa en oupa Kortlont weg van die plaas is “en almal hul pasop kan los om te kan lag en vrolik wees” (18). Sulke goeie tye bêre Twalie om weer “op slegte dae wanneer daar geen lag of glimlag op hierdie min genade werf is nie” (18) uit te haal en te onthou.

Genealogiese onsekerheid is ook kenmerkend van so ’n protagonis wat aanleiding gee daartoe dat daar ’n soeke na ’n plaasvervanger-vader of mentor ontstaan (Buckley 1974:19). Twalie vind geen beskerming in die kring van haar familie nie. Sy word deur haar vader verwerp en haar moeder faal daarin om haar te verdedig. Braam Albrecht gebruik dikwels sy geweer om sy gesinslede te intimideer en vir Letgoed is “daai blessitse skietyster soos ’n pyp wat uitgroei reg daar waar sy hart moet wees. Hy kon net sowel ook sy pa se bynaam (Kortlont) gehad het” (16). Twalie sou mettertyd leer om nie meer Braam Albrecht se goedkeuring en aanvaarding te soek nie.

2.2 Twalie “kies om die boonste pad te gat soek”

In die vormingsroman is die protagonis dié enkele sentrale karakter wat groei en ontwikkel binne die konteks van ’n bepaalde sosiale orde. In teenstelling met die protagonis in die tradisionele vormingsroman, wat in wese ’n passiewe karakter is, is Twalie egter ’n gaanhaler. Twalie is uitgelewer aan haar disfunksionele gesin en sy ervaar dikwels generasiekonflik wat uiteindelik tot haar vervreemding lei. Sy voel onsigbaar en lastig en verkeer onder die indruk dat sy as kwaadstoker in die gesin gesien word. Die een wat “ander mense so kwaad maak hulle wil jou met die vuis regsien” (42). Ná ’n uitval met een van haar broers wat haar tydens ’n argument letterlik met die kop stamp, besluit Twalie dat sy nie langer op Tabernakel kan woon nie. Twa onderneem onverwags ’n geografiese en psigiese reis na die buitewêreld om sodoende uiteindelik selfverwesenliking te bereik. Op sestienjarige ouderdom verlaat sy Tabernakel met die gedagte dat sy nie meer welkom is nie. Sy dink: “Die plaas is nie meer my tuiste nie. My gesin is nie my veilige hawe nie” (41). Terwyl Twa padlangs dorp toe begin aanstap herinner sy haarself aan Letgoed se wyse woorde:

“Die lewe loop nie sag en pasop-pasop vir ons gevoelens nie. Maar jy kan kies wáár jy lewe,” beduie sy op haar borskas. “Hier binne – vat jy die lewe laag of kies jy ’n hoër pad? Min mense kies om die boonste pad te gat soek, want jy moet klim om tot daar te kom en jy moet baie, baie vergewe om daar te mag loop.” (44)

Twa ryloop dorp toe en word deur Leighton Farmer en sy ma, Magdalena, opgelaai en tot by haar tante Innes se huis geneem. Sy word vir Magda Farmer ’n “opheffingsprojek” waartydens Twalie ’n transformasieproses ondergaan om stelselmatig haar nuwe lewe as Isabeau (haar doopnaam) te begin.

2.3 “Meneer Vyeboom”

Die vormingsroman is in wese ’n didaktiese roman wat die opvoeding van die leser ten doel het deur middel van die uitbeelding van die opvoeding van die protagonis. Isabeau word as “vergunningsleerling” by Koperberg Hoërskool ingeskryf en dit is hier waar die proses begin om haar pa as antagonistiese vaderfiguur met meneer Frankel Regop Strauss as mentor te vervang. Dié saggeaarde skoolhoof ontferm hom oor haar en vind sodoende ook sy eie pad na genesing omdat hy “verwerping by ’n ander kan aanvoel asof hulle met ’n sigbare wond sy kantoor binnegekom het” (64). Hy is vir Isabeau ’n veilige hawe. Sy dink dikwels terug aan die geheime plek, Die Poort, waar sy saam met Letgoed die groot ou vyeboom, wat as bewaker van Die Poort wagstaan, gesien het. In meneer Frankel Regop Strauss sien Isabeau se gees “iemand wat verstaan” (68). Hierdie gevoel is wederkerig en Frankel Regop Strauss verduidelik aan sy vrou Norene dat sy gesprekke met en troos vir die woestynkind besig is om heling in homself te bring. Isabeau maak haar hart oop teenoor meneer Strauss en vind in hom die vaderfiguur wat Braam Albrecht nooit vir haar kon wees nie. Meneer Strauss stel Isabeau bekend aan dinge wat vir haar groter wêrelde oopmaak.

2.4 “boeke is almal soos poorte”

Alhoewel die hoofkarakter in die vormingsroman sentraal tot die gebeure staan, vervul die ander karakters spesifieke funksies, byvoorbeeld om as opvoeders ten opsigte van die protagonis op te tree. Hierdie karakters tree op as tussengangers en onderhandelaars tussen die protagonis en die samelewing. Op die familieplaas is dit hoofsaaklik Letgoed wat as mentor vir Twalie optree. Sy is altyd gereed met goeie raad en lewenswysheid wat sy op haar sonderlinge manier aan Twalie oordra en waaraan Twalie haarself dikwels herinner. Die skoolverpleegster, meneer Strauss en tante Innes help onder andere vir Twalie om in Isabeau te transformeer. Meneer Strauss stel haar bekend aan die biblioteek en ’n versteekte kamertjie vol boeke wat haar na ander wêrelde en tye toe wegvoer. Dis hier waar sy ontdek dat boeke poorte tot die wêreld is. Meneer Strauss word die metaforiese wildevyeboom in wie se koelte Isabeau kan rus. Wanneer sy ’n angsaanval beleef, wend sy haar tot die skoolverpleegster wat haar met deernis behandel. Met tye kruip sy in ’n tuin vol bome weg om sodoende van die geroesemoes van mense te ontsnap.

Alhoewel Isabeau as vormingskarakter ontwikkel en selfvertroue kweek, bly sy steeds onvolmaak en maak sy soms groot oordeelsfoute. Gedurende haar matriekjaar neem Isabeau se vriendin Frances haar onder hande deur haar na ’n skoonheidsalon te neem waar haar uiterlike transformasie begin. Dit is egter juis hierdie vriendin wat Isabeau aan alkoholiese drank blootstel en haar aanmoedig om uitdagende situasies met die hulp van drank te trotseer. Mettertyd word drank die kruk waarop Isabeau steun wanneer die lewe uitdagend is.

2.5 “vreesloosgek”

Die vormingsroman word ook as ’n roman van vakmanskap, met die klem op die vormingsproses van die protagonis, aangebied. Die hooffokus van die vormingsroman is die ontwikkeling van die selfkonsep van die protagonis. Die gebeure wat Twalie se karakter help vorm, geniet dus voorkeur in die roman. Alhoewel verskeie karakters ’n positiewe rol vertolk, is dit hoofsaaklik Letgoed wat Twalie bewus maak daarvan dat daar meer aan die lewe is as om net op die familieplaas te worstel om ’n bestaan. Letgoed verduidelik aan Twalie: “Jy en ek is heel eerste ’n ewigheidswese. Iemand wat uit die ewigheid kom en net vir ’n rukkie hier op Planeet Aarde kom skoolgaan voordat ons na ons ware tuiste en Vader terugkeer” (81). Met hierdie aanhaling vat Von Meck die essensie van die vormingsroman saam. Op agtienjarige ouderdom is Isabeau ’n geloofwaardige, maar steeds naïewe matrikulant wat haar toekoms tegemoet gaan.

Stelselmatig begin Twalie begrip ontwikkel vir haar eie familie en ontferm sy haar oor hulle deur hulp te verleen juis wanneer hulle dit die minste verdien. Sy raak selfs by oom Loessias betrokke en neem hom na ’n kliniek waar hy hulp vir sy “skiso-affektiewe versteuring” (118) ontvang. Sy ontdek die geheim waarmee die familie al jare lank worstel; sodoende vind sy antwoorde op vele vrae oor haar eie herkoms. Sy ontwikkel empatie en insig teenoor hierdie familie wat vir soveel jare teen die elemente en hulleself moes stry ter wille van oorlewing. Haar “Ouma se wit kappie is vir haar die onverbiddelike lewensmoed en oorlewingsdrang van haar voorsate in een prentjie saamgevat” (151). Wanneer haar gesinslede in ’n rusie betrokke raak, besef sy dat sy nie bereid is om hulle toe te laat om mekaar uit te wis nie: “Dis of haar ruggraat skielik van staal gemaak en sy nes hulle vreesloosgek [is]” (157). “Sy ervaar hoe haar lyf die ruimte anders vul. Asof sy pas in ’n antieke vegarena geklim het” (157). Sy oortuig haarself dat sy die een is wat die verskil kan maak en glo vas “dit is wie ék is” (157). Sy deel haar lewenservaring met Letgoed en in hierdie ontboeseming vind sy matelose verligting: “Asof daar maskers van haar gesig afkom en knope uit haar ingewande gehaal word. Voor Letgoed kan sy kaalhart staan, oopgekloof” (161).

Letgoed se filosofie is dat ’n gaanhaler se lewenspad nie reguit loop nie. Sy reken dat ’n gaanhaler iemand is wat op ander plekke moet gaan soek na oplossings sodat die oplossings uiteindelik weer vir sy eie familie se welsyn aangewend kan word. Haar voorspelling dat Twalie haar eie toekoms sal moet gaan haal, word verwesenlik. Isabeau ontdek algaande dat haar lewensroeping in die klein kring van haar familie gesetel is. Dis hier waar sy tuishoort en ’n verenigende rol op haarself neem.

2.6 “’n Reddingsboei”

In die tradisionele vormingsroman beleef die vormingskarakter ’n liefdesteleurstelling. Vir Isabeau is dit ook nie anders nie. Isabeau ontmoet die sakeman Marchant Obermeyer wat uit ’n welvarende familie kom. ’n Familie wat as die teenoorgestelde van haar eie familie bestempel kan word. Hulle huweliksonthaal word behoorlik as ’n swart komedie, wat die verskille tussen die twee families beklemtoon, uitgebeeld. Die Obermeyer-familie stel Isabeau aan ’n lewe van materiële welvaart en gemak bekend en help haar familie om sommige van hulle finansiële, mediese en geestelike uitdagings te bowe te kom. Die Albrecht-gesin se lewens word op ’n boeiende wyse voor die geestesoog van die leser ontrafel totdat almal uiteindelik as volledig, ronde karakters afgeteken staan. Haar skoonfamilie hanteer haar familie met grasie en vermy telkens verleenthede in die openbare oog: “Die Obermeyers se genade met haar familie is ’n yslike leerskool vir Isabeau oor hoe ’n mens dinge op ’n emosioneel volwasse manier kan hanteer” (115). Isabeau besef egter dat Marchant vir haar ’n kompromie was en nie die liefde van haar lewe nie. Iemand wat sy aangegryp het as reddingsboei omdat sy uit haar lewensomstandighede wou ontsnap. Sy ontwikkel die insig dat sy nie vir die res van haar lewe hierdie rol kan vertolk sonder om besope te wees nie. Sy besef dat Marchant nie haar lewensbestemming is nie en skei uiteindelik van hom nadat sy ontdek het dat hy in ’n buite-egtelike verhouding met haar vriendin betrokke is.

In ’n toespeling op CM van den Heever se gedig “Waar ruwe rotse” (waarin ’n jong seun in ’n klipskeur beland en uiteindelik verlos word van sy lyding wanneer sy pa hom doodskiet) en Etienne van Heerden se Toorberg (1986) (waarin die karakter Druppeltjie du Pisanie deur sy oupa geskiet word omdat hulle hom nie uit ’n boorgat kon red nie), neem die roman die leser terug in tyd na ’n voorval in 1923 toe die jong Gottlieb Petchach Louw in die omgewing van Die Poort in ’n boorgat beland het. In teenstelling met die karakters in “Waar ruwe rotse” en Toorberg word die seun uit die boorgat gered en ’n gedenksteen ter nagedagtenis van die gebeure opgerig. ’n Nasaat van Gottlieb Louw besoek Tabernakel jare later om die spore van sy familie na te speur. Isabeau vind in hom ’n geesgenoot en ’n veilige hawe, “’n boom wat mens geword het” (192).

2.7 “geslagte se swaarkry, wreedheid, verwonding en verwerping”

Isabeau kom tot die besef dat sy nooit die siklus “deur generasies heen gebreek gaan kry terwyl sy uit die bottel drink asof dit haar fopspeen is nie. Die oplossing sou emosionele én geestelike volwasse besluite verg” (163). Die verantwoordelikheid rus swaar op Isabeau, maar sy weet dat sy anders sal moet kies as wat die vorige geslagte gedoen het. Soos wat dele van die familielegkaart in plek begin val, ontwikkel sy empatie met Braam Albrecht. Daar is selfs sprake van ’n versoening en vergifnis tussen Braam en Isabeau. Die familie begin geleidelik beheer neem oor hulle eie lot en ontwikkel ander maniere om finansieel te oorleef as waarop hulle voorheen staatgemaak het. Geleidelik begin “’n klein paadjie na heling in haar wese gestalte aanneem” (165). Die familiegeheime word mettertyd ontbloot en Isabeau leer dat selfs dít noodsaaklik is op die pad na genesing.

3 Slot

Die skrywer dra die roman op aan “elke gaanhaler wat ten spyte van die verblindende storms verbete Die Poort bly soek om by Hom die ondeurgrondelike geheimenisse te leer”. Op die agterblad van die roman word hierdie woorde beaam deur te vermeld dat daar altyd mense sal wees “wie se lewens van die begin af anders verloop. Sulke mense se liefde lê nie op die gewone plekke nie, maar juis daar waar min ooit die moed sal hê om hul toekoms te gaan haal.” Twalie is een van hierdie mense en haar lewensverhaal toon sterk ooreenkomste met die tradisionele Bildungsroman. Aanvanklik wil dit voorkom asof Twa, in konvensionele terme, nie ’n suksesvolle vormingsproses deurloop nie, maar eerder kenmerke van regressie toon. Uiteindelik word dit duidelik dat Twa juis haar verset en onwilligheid om aan samelewingseise gehoor te gee versaak terwyl sy ook nie naïef en onkrities teenoor haar eie ontwikkeling as karakter staan nie. Twalie word uitgebeeld as karakter wat haar kinderjare teen die landelike agtergrond van die plaas Tabernakel deurbring. As protagonis in die roman is sy uitgelewer aan Braam Albrecht as antagonistiese vaderfiguur. Op Tabernakel beleef sy generasiekonflik en vervreemding van die res van haar familie. Sy verlaat die plaas en durf die groter samelewing aan waar sy op haarself aangewese is in haar soeke na ’n lewensroeping. Haar huwelik met Marchant Obermeyer beland op die rotse en sy begin skaaf aan haar lewensfilosofie. Deur die loop van die roman ondergaan Twa ’n suksesvolle vormingsproses. Ofskoon dit vir dele van die roman lyk asof Twa kenmerke van die sogenaamde tradisionele (onderdanige, inskiklike, gehoorsame) Bildungsfiguur vertoon, word dit ondermyn deur haar onversetlike geaardheid en innerlike groei tot volwassenheid. Twa stroop haarself van die lewe wat agter haar lê deur afskeid te neem van ’n wêreld van geheime en geheimhouding. In die proses bewys sy haarself as ’n “gaanhaler”, iemand wat oor die moed beskik om haar eie toekoms te gaan haal. Alhoewel die roman binne ’n resepmatige raamwerk geskryf is, is die einde nie absoluut voorspelbaar nie. Twa die tydloper is ’n boeiende roman oor die groei van die jong hoofkarakter tot volwasse vrou wat lesers sal meevoer en inspireer om hulleself te verwesenlik.

4 Geraadpleegde bronne

Buckley, J.H. 1974. Season of Youth: The Bildungsroman from Dickens to Golding. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

Hirsch, M. 1979. The Novel of Formation as Genre: Between Great Expectations and Lost Illusions. Genre, 12(3):293–311.

Lees ook:

FMR-resensie: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top