FMR-resensie: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck

  • 0

Antoinette Coetzee is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.

Uitsaaidatum: 27 April 2024


Titel: Twa die tydloper
Skrywer: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776380442

Soms lees ’n mens ’n roman wat soos ’n stel Russiese houtpoppies ineenpas. Elkeen vertel sy eie storie. Maar in hierdie geval kom ons poppe uit die harde wêreld van Namakwaland en die Richtersveld. En hul praat Afrikaans. In streektaal so eie aan hierdie deel van Afrika dat die skrywer dit met voetnotas vir die leser toeganklik maak.

Alles pas inmekaar, maar van meet af aan is dit die verhaal van Twa, die tydloper. Die Namavrou Let beskryf vir Twa só: 

’n Gaanhaler [...] iemand wat van kleins af ongemaklik in hierdie wêreld is. Hulle lewenspad is dikwels ’n gelinks en geregssoekery, tot dit na hulle toe deurslat dat die antwoorde wat hul soek is waar hul begint het – by die Vader. In Sy annertyd. Daai plek waar dit altyd nou is.

Lesers wat bekend is met die werk van Anoeschka von Meck, sal weet dat sy dikwels sterk vrouefigure as hoofkarakter het. Sy is ook ’n meester van die bildungsroman of coming of age-genre waarvan Vaselinetjie en Annerkant die longdrop uitstekende voorbeelde is.

Hierdie verhaal begin waar Twa sewe is. En reeds in die eerste hoofstuk, met die onheilspellende titel “Die draak” en beskrywing van ’n verwoestende stofstorm, is dit duidelik dat dinge al van vroeg af vir haar skeefloop in haar eksentrieke gesin op die plaas waar hul ’n sukkelbestaan voer. Soveel so dat sy op 16-jarige ouderdom letterlik die pad vat en gaan sorg vir haar eie opvoeding. (Goed gepantser teen die aanslae van muskiete in die nag met ’n ou stuk netgordyn om die kop.) Dit is veral hierdie gedeelte van haar lewe tot en met haar matriekjaar wat met deernis en bewys van goeie psigiese navorsing oor die jong mens beskryf word. Want maklik is dit nie. Weldoener Magda Farmer, vriendin Frances en die skoolhoof Frankel Strauss wat haar op die reis begelei, word met oortuiging en ook ’n goeie skoot humor geskets. Soveel so dat die leser na die verloop van twee jaar ’n geloofwaardige, alhoewel ietwat naïewe matriekleerling beleef. Twa gebruik glad nou haar doopnaam Isabeau. (Dié deftigheid is glo destyds deur die predikantsvrou vir die baba gekies!)

Tóg, ten spyte van haar sterk karakter en die feit dat sy beskryf word “of haar ruggraat van staal gemaak is”, bly die letsels van vroeër. Die lewe is immers nie ’n sprokie nie. Halfpad deur die roman (op bladsy 113) is daar reeds ’n leidraad dat dinge weer begin skeefloop. Marchant, haar eerste (en welgestelde) liefde met wie sy intussen getroud is, “laat sy blik op die wynglas onder die swaaibank talm. Langs dit lê ’n oop boksie Compral.” Die aanloop tot die huwelik word nie in detail bespreek nie, maar die indruk word geskep dat sy haar in iets begeef het sonder veel lewenservaring. Wat wél in detail beskryf word, is die huweliksonthaal wat ’n swart komedie van verskillende leefstyle uitbeeld. Juis dít onderstreep die ander wêreld waaruit Twa kom.

Marchant, besef Twa na ’n paar jaar en te midde van ’n familie wat om haar ineentuimel, was ’n reddingsboei toe sy uit haar omstandighede wou ontsnap. Sterk vrou wat sy is, sorg sy dat nie net sy nie, maar ook haar geliefdes mediese hulp vir geestelike gebreke kry om van hul krukke ontslae te raak. Nie ’n maklike proses nie, en die leser word geboei met die uitrafel van elke lid van die Albrecht-gesin se verlede. Almal volledig, ronde karakters.

Die Namavrou Let wat reeds in die eerste hoofstuk vir Twa in die stofstorm red, se wysheid loop soos ’n goue draad deur Twa se lewe. Sy beweer: “Bloed is bloed en gees is gees... Ek is volle mens wat my identiteit by die Vader kry.” Dus is dit ook gepas dat Twa op haar laagste by Let heling kry (bladsy 161):

Isabeau praat en praat. Letgoed luister en luister. Soos Isabeau elke hoek en draai met die Namamoeder deel, voel sy haarself ligter raak. Asof daar maskers van haar gesig afkom en knope uit haar ingewande gehaal word. Voor Letgoed kan sy kaalhart staan, oopgekloof.

Alhoewel die karakters sentraal staan, skep Von Meck ’n magies-realistiese agtergrond wat oor drie dekades strek en die Covid-pandemie, ’n volhoubare groen lewenswyse, eko-vriendelike behuising en selfs DNA-toetsing vir die sogenaamde warrior-geen insluit. Kyk gerus op ’n kaart waar die R355 loop. Dis ’n uitgerekte landskap met min dorpies. En dis hiérheen waar Anoeschka von Meck haar leser neem op ’n wonderlike, tydlose reis om met nuwe oë na die wêreld en die brose mens te kyk.

Ek beveel hierdie roman sterk aan vir lesers wat van iets buitengewoons hou. Dit is ’n besondere werk wat, ten spyte van die Suid-Afrikaanse agtergrond, met universele temas worstel. Dit verdien om gelees te word.

Twa die tydloper word uitgegee deur Penguin.

Lees ook:

FMR-resensie: Claremont Daisy deur Willie Hoods

FMR-resensie: Donkertyd. My naam is Tina deur Mariël le Roux

Isabella deur Mariël le Roux: ’n FMR-resensie

Middernag deur Sidney Gilroy: ’n FMR-resensie

FMR-resensie: Die mooiste meisie van Genua deur Ilja Leonard Pfeijffer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top