FMR-resensie: Claremont Daisy deur Willie Hoods

  • 0

Antoinette Coetzee is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.

Uitsaaidatum: 22 Mei 2024


Titel: Claremont Daisy
Skrywer: Willie Hoods
Uitgewer: Naledi
SKU: 9781991256225

Op die flapteks van hierdie roman skryf Willie Hoods, die outeur, onder andere: “Die storie moet mense weereens herinner aan die vernedering wat mense van kleur in die Apartheidsera moes deurmaak. Veral die Ontugwet het baie mense diep geraak.” Die titel verwys na die een hoofkarakter, Daisy, maar ook na ’n sokkerspan van Claremont, ’n woonbuurt in Pretoria waar mense van kleur eers gewoon het. 

Hierdie dubbele verwysing, plus die treffende voorblad van ’n parkbankie met die kennisgewing “Whites only/Slegs blankes”, dui reeds daarop dat ons hier met twee stories te make het. Aan die een kant kry die leser ’n blik op die lewe in die destydse Claremont- en Lady Selborne-omgewing. Dit is kleurvol en uniek en Hoods verskaf ook ’n bylaag met gebruikswoorde wat vir sommige lesers dalk onbekend mag wees. Vir my was “snowball”, “mailers” en “amalaita” nuwighede. 

Die twee hoofkarakters wat deur die Ontugwet geraak word, is Daisy Watson en Hugo Coelyn. Interessant is die gebruik van hulle name, want terwyl die naam Daisy ’n skakel het met die sokkerspan, beteken hierdie ou Engelse naam letterlik “day’s eye; the sweetest elements of daylight, unfurling itself to the sun’s rays”. Dit verteenwoordig vroulikheid, reinheid en onskuld. Almal woorde wat die karakter perfek opsom. Die manlike hoofkarakter is Hugo. Die betekenis van hierdie naam verteenwoordig intellek, sielvolheid, diep denke en ’n goeie hart. Weer eens ’n perfekte opsomming van die karakter.

Reeds van die begin toon die roman trekke van ’n tipiese tragedie. Die agtergrond van hierdie onstuimige tyd in Suid-Afrika van net ná die Tweede Wêreldoorlog tot en met die vroeë tagtigerjare dui immers op ’n atmosfeer waar trauma gedy. Hierdie somberheid word egter op ’n treffende manier realisties gehou deur die beskrywings van die alledaagse lewe van die inwoners van Claremont en Lady Selborne. Dit is veral hiér waar die roman sterk staan, want ten spyte van die wêreldgebeure, moet die inwoners met hul daaglikse lewens voortgaan. Op bladsy 119 word die voorbereidings vir Kersfees só beskryf:

Die Krismisspyskaart word vooraf beplan en druk bespreek deur familie en vriende. Die werklike spyskaart bly egter ’n groot geheim, omdat families geneig is om teen mekaar te kompeteer. ’n Gebakte kalkoen, garnale en ’n eksotiese visvoorgereg kan aan enige Kersete die nodige status gee. Basies sal ’n gewone Kersete bestaan uit gebakte vleis en ertappels met ’n verskeidenheid groente, ’n kerriedis, slaaie en vir nagereg die Kerspoeding bedien met warm vla.

Dit is opmerklik dat die kerk en gemeenskap ’n nou band vorm en dat mense omgee vir mekaar. Daar is natuurlik, soos in enige samelewing, mense wat die wet verbreek. Die oorheersende gevoel is egter een van omgee en ’n lewe wat nie deur materiële besittings nie, maar deur ’n innerlike diepte bepaal word.

Maar terug by die elemente van die tragedie. Teenoor Daisy, die dogter van die Coelyns se huishulp, ontmoet die leser vir Hugo. Hy is die stereotipe van ’n kind uit ’n baie gegoede, wit familie wat alles het wat geld kan koop. Boonop is hy aantreklik, slim en goed-gemanierd. Die enigste ding wat hy buite die norm doen, is om by Wits te gaan studeer en ernstig by NUSAS se bedrywighede betrokke te raak. Die leser besef dat dinge gaan verander wanneer jy op bladsy 63 lees:

Toe Daisy die res van die aandete inbring, vergaap Hugo hom aan die aantreklike jong dame. Sy is netjies aangetrek en het ’n voorskoot aan. Hy het nie besef dat sy sedert hy haar laas gesien het in so ’n mooi vrou ontwikkel het nie. Sy oë volg haar bewegings om die tafel.

Daisy en Hugo vind mekaar ewe onweerstaanbaar en verkeer op dieselfde intellektuele vlak. ’n Verhouding ontwikkel redelik vinnig ten spyte van Hugo se naïewe opmerking: “Die liefde is kleur- en statusblind en geen landswet sal ’n gesonde en opregte liefdesverhouding kan keer nie. Die struggle het my geleer om te oorleef in baie moeiliker omstandighede.”

Gedryf deur Hugo se optimisme floreer hierdie verhouding. Albei studeer verder en Hugo is baie betrokke by anti-apartheid-studentebewegings. Die leser is egter deurentyd bewus van die konflik in die samelewing wat soos ’n dreigende wolk oor die paartjie hang. ’n Paartjie wat, ten spyte van hul betrokkenheid by die politiek van die dag, só verlief is dat hul uit voeling is met die werklikheid van die lewe. Wanneer Daisy dan ongeveer in die middel van die verhaal een oggend wakker word en verklaar: “Ja antie, ek weet nie wat fout is met my nie. Dit gebeur nou al vir die afgelope twee weke dat ek elke oggend naar voel en opgooi”, besef die leser dat omstandighede drasties gaan verander en dat die Ontugwet nou ’n werklikheid is waaruit niemand kan ontsnap nie.

Hierna volg die onafwendbare afloop soos wat dit in ’n klassieke tragedie gebeur. Alhoewel daar heelwat kinkels en draaie is (weer eens, soos in ’n tragedie), bly die leser bewus van die geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika en dat die konteks nie iets is wat in Hollywood uitgedink is nie.

Die slot van die verhaal bring jou terug na die vraag wat op die agterblad gevra word, naamlik: “Besluit maar self of die wêreld na 1994 ten goede verander het.” Na die lees van hierdie menslike verhaal, sal die leser onomwonde kan sê “ja” ten opsigte van die temas van paswette, die ontugwet en die gebruik van openbare geriewe. Oor die ander kwessies hang daar seker steeds ’n vraagteken.

Hoods het onder andere ’n doktorsgraad in Filosofie aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal. Ek dink hy sal dalk ook saamstem met Lord Acton, die 19de-eeuse historikus wat gesê het: “Power tends to corrupt. Absolute power corrupts absolutely.” In ’n jaar waar daar wêreldwyd ongeveer 64 nasionale verkiesings gehou word, sal dit miskien die moeite loon om ’n slag weer onder die teleskoop te kyk hoe besluite van politieke leiers die lewens van individue raak. ’n Roman soos Claremont Daisy help daarmee, want miskien is ons al so afgestomp deur die beelde wat die media vir ons voorhou dat ’n storie wat ons lees, ’n indruk gaan maak.

Claremont Daisy word uitgegee deur Naledi.

Lees ook:

FMR-resensie: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck

FMR-resensie: Donkertyd. My naam is Tina deur Mariël le Roux

Isabella deur Mariël le Roux: ’n FMR-resensie

Middernag deur Sidney Gilroy: ’n FMR-resensie

FMR-resensie: Die mooiste meisie van Genua deur Ilja Leonard Pfeijffer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top