Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko

  • 0

The Nicotine Gospel
Sven Axelrad
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415211403

Canary
Onke Mazibuko
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776381036


  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Ek was vir drie weke oorsee en het ongelukkig nie Pieter P Fourie se jongste roman, Die dood van Rachel April, ontvang voordat ons weg is nie. Ek gaan nog daaroor skryf. In die vreemde het twee Engelse Suid-Afrikaanse romans my gefassineer – een oor die soeke na betekenis via ’n kankerstokkie en een oor ’n fluitjieblaser wat op sy baadjie kry.

Sven Axelrad is in Nieu-Seeland gebore van ’n Franssprekende Britse pa en ’n Suid-Afrikaanse ma. Hy woon in Durban, is oortrek met tatoes en speel kitaar. Sy eerste twee romans, Buried treasure en God’s pocket, speel in ’n fantasiewêreld af – die stad Vivo, met ’n begraafplaas en ’n disleksiese opsigter met ’n vreesaanjaende hond.

Sy derde roman, The Nicotine Gospel, speel in Durban in die 1980’s af. Nathan, die verteller, en sy broer Danny se ma word op Nuwejaarsdag deur weerlig doodgeslaan, voor hulle oë. Hulle pa is ’n eksentrieke, intense skrywer en kettingroker van, ironies genoeg, Lucky Strike. Na sy vrou se dood onttrek hy toenemend van die wêreld, sit tot laatnag op die stoep, gehul in ’n wolk rook en ’n swerm motte, soos chaotiese gedagtes. Hy begin die Nikotien-evangelie versin en predik dit vir sy seuns, ses en vier jaar oud:

After Mom died our lives changed completely. Dad came up with the Gospel and those lessons were the only time he paid us any attention. For this reason, we concentrated on his lessons as best a pair of boys with an aggregate age of ten can concentrate, squinting as much against his cigarette smoke as his instruction. That’s how it went. Dad would buy a pack of Strikes and we three would sit outside sweating in the Durban heat, watching who bought what, who smoked what, and how they did it. And when we’d seen all this, we’d be called upon by name to answer his questions. Instead of reciting Bible verses for sweets, we were reciting Dad’s verse, for the feel of a single hand that spanned the width of our small backs. The shockwave of approval his hand transmitted was the first drug Danny ever tried and the last one I did. That’s how it was done, pack by pack, stick by stick. That’s how our family bible was written but not on paper. The Nicotine Gospel was written on my brother and on me in fire and ash, with the holy smoke hovering over Dad’s polystyrene coffee cup as witness.

Hulle pa, Eben Muesli, kan iemand dophou en met akkuraatheid bepaal watter soort sigaret hy rook. Hy meet alles in sigarette: afstand, tyd, sy seuns se groei. Danny het ’n natuurlik aanleg vir die eiesoortige evangelie, maar Nathan begin skeptiese vrae vra en kies uiteindelik koers. Volgens Danny het hy hulle versaak. Danny raak verslaaf aan roekelose, doodsveragtende speletjies, veral op die herdenking van sy ma se dood. Met sy pa se dood versoen die twee broers en onderneem ’n wanordelike sloertoer na die verassing in Vishoek, waar hulle pa ten slotte gewoon het.

Hierdie soort eksentrieke, hartverskeurende verslag van kinderjare herinner aan John Irving. Daar is heelwat koddigheid en hart. Axelrad is die koning van die hiperbool – met oordrywing en fantasie skilder hy ’n groter-as-lewensgroot, fantasmagoriese prentjie van ’n klein gesin wat stoei teen wanhoop, eensaamheid en verval. Wat, soos almal, op soek is na sin en samehang.

Dis ’n chaotiese, wonderlike boek wat ontroer en bybly, ook vir die verslag van Durban tydens die ou bedeling, ’n soort subtropiese paradys vir wit kinders wat in tweedehandse rook grootword en self op agt begin rook. Wat ’n uitsonderlike skrywer is Axelrad nie – soos Bibi Slippers gesê het, eindeloos aanhaalbaar.

........
Dis ’n chaotiese, wonderlike boek wat ontroer en bybly, ook vir die verslag van Durban tydens die ou bedeling, ’n soort subtropiese paradys vir wit kinders wat in tweedehandse rook grootword en self op agt begin rook. Wat ’n uitsonderlike skrywer is Axelrad nie – soos Bibi Slippers gesê het, eindeloos aanhaalbaar.
........

Ek het Onke Mazibuko se debuutroman, The second verse, verslind en hom daarna by ’n boekefees ontmoet. Hy is ’n sielkundige en woon in Johannesburg. Ek het moeiliker vat gekry aan sy tweede, Canary – miskien omdat die onderwerp swaar en gemoedsbekakkend is – korrupsie in staatsinstellings en die magteloosheid van fluitjieblasers, wat vervolg, gedemoveer en afgedank, verdag gemaak en dikwels in hulle eie oprit doodgeskiet word.

Maks Ntaka is so iemand – ’n goeie man wat nie langer kan stilbly nie. Hy het arm grootgeword, met die hulp van ’n beurs ’n privaatskool bygewoon en gaan studeer, tot by sy MBA. Hy werk vir Arms-Tech en was geoormerk vir ’n hoë pos. Hy het uitstekend presteer en was baie trots op die maatskappy. Toe word sy bevordering weggeraap deur ’n comrade sonder ondervinding, ’n brutale man met afstootlike liggaamsreuk en die wêreld se selfvertroue: Barnabas Rivombo. Barnabas verklaar, soos Zuma, dat hy nie hou van clever blacks nie. Hy noem Maks "Mlungu", en "Mr Fancy English". Hy lig hom in dat werkverrigting nie belangrik is nie, slegs lojaliteit. Hy waarsku hom teen klik – die korruptes en vretendes is alomteenwoordig, tot in die hoogste bestuur, tot in die regering. Maks besef die waarheid van hierdie woorde toe hy met die hoof- uitvoerende bestuurder gaan praat.

Soos voorspel, stort sy lewe ineen toe hy pers toe gaan. Sy bestaan word een van vrees, gekenmerk deur angsaanvalle. Hy word agtervolg en geïntimideer. Boonop rakel hulle ongure besonderhede uit sy eie lewe op en diskrediteer hom. Hy is ’n eerbare man, maar, soos ons almal, onvolmaak en nie moreel onkreukbaar nie. Hy word beskuldig van rassisme en geestesongesteldheid. Hy worstel ook met familieprobleme en ’n problematiese verhouding met ’n getroude wit vrou wie se man op sy spoor is. Hy gaan aan die drink. Dis ’n grinterige sprokie, ’n nagmerrie sonder uitsig – en moenie wag op ’n gelukkige einde nie.

........
Mazibuko is vreesloos en uitgesproke, en hy kan skryf. Dit laat ’n mens nadink oor die lot van ambisieuse, regverdige swart mense wat eweneens vasgevang word in die korrupsie en grypsug van voorheen onderdruktes wat geld aan vryheid gelykstel.
........

Mazibuko is vreesloos en uitgesproke, en hy kan skryf. Dit laat ’n mens nadink oor die lot van ambisieuse, regverdige swart mense wat eweneens vasgevang word in die korrupsie en grypsug van voorheen onderdruktes wat geld aan vryheid gelykstel. Gewone burgers wat ’n demokrasie wil bou, armoede wil ophef en ’n beter wêreld vir hulle kinders wil nalaat, word vertrap in die resies na die trog.

Watter uitmuntende skrywers het ons nie op eie bodem nie.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel

Boekevat met Deborah: Dink jouself gelukkig, Hollywood on the veld en Khaki fever

Boekevat met Deborah: Binnerym van bloed

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top