
Binnerym van bloed
Antjie Krog
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776391837
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
...........
Vandag skryf ek net oor een boek – Antjie Krog se Binnerym van bloed – want by so ’n allemintige baken moet ’n mens stilstaan en tot verhaal probeer kom.
..............
Vandag skryf ek net oor een boek – Antjie Krog se Binnerym van bloed – want by so ’n allemintige baken moet ’n mens stilstaan en tot verhaal probeer kom.
’n Onlangse Rapport-kop was: “Seun eis antwoorde: wie sit vreemde tande in Ouma Tossie (104) se mond?” Dit laat my dink aan Binnerym van bloed – die onwaardigheid van bejaard word; as dit nie so hartseer was nie, was dit snaaks.
Die koerier het Antjie Krog se jongste gister net voor middagete by my hek afgelewer. Teen slapenstyd het ek klaar gelees, woord vir woord. Dit is absoluut hipnoties, hierdie outobiografiese roman. Moenie ’n storielyn verwag nie, behalwe die verloop en afloop van ’n merkwaardige lewe. Antjie is ook daar, maar die kollig val op haar ma, Dot; dikwels in Dot se dawerende woorde. Antjie kom in die negatiewe ruimtes na vore. Dis ’n duet en ’n mens is nie altyd heeltemal seker wie die sanger is nie. Niks word duidelik uitgespel nie. Soos die hofdigteres wat sy is, laat Krog simbole en stemme vir hulself praat.
Die boek is vol kak, hoor. Dot kla dat haar kinders net een woord ken, en dis daardie een. Alles is kak. “Ons is ’n skatologiese gesin,” het Dot gesê. Ontlasting speel ’n groot rol in hierdie dokument. “Pasiënt wil nie op die kemout sit nie,” skryf die verpleër in haar verslag. En: “Opelyf: klein en hard.” Dis die teenstrydigheid van menswees: Jy wil onsterflike woorde voortbring, maar jy is ’n produseerder van riool. Daar is natuurlik onder die son min bejaardes wat die onelegante werklikheid van oudwees so klinkend kon verwoord soos Dot Serfontein. Wie op aarde praat van “die hektare van vergetelheid wat so gestae brokkel in my brein”? En: “[...] terwyl ek onder ’n doodsbaldakyn desperaat spring om nog die paar aalmoese wat die lewe na my gooi te vang.”
Ons taal het verarm; dit besef ’n mens by die lees van hierdie bloedrym. Mense praat nie meer so nie en dis ’n reuseverlies. By die skelwoorde en vuige uitdrukkings weef Dot ook frappante beelde en haal wonderskone digkuns aan.
Antjie onthou een wintersaand:
Dis snerpend koud buite. My ma kom met ’n arm vol hout van buite af in. Sy stoot die agterdeur met haar rug toe en pak die hout langs die kaggel. Die winterwind ruk aan die dakplate en vensters. Sy gaan staan by die venster en sê geheimsinnig: “Wie roer aan my deur / so vertroulik en sag? / Kom binne maar, vreemdling – dis awend, dis nag.”
Dis die soort ma wat nie een nie, maar twee digterkinders op die wêreld loslaat.
Dot se kort opsommings van die lewe met haar man en kinders op die plaas is eenvoudig lieflik:
In ons sewevertrekhuisie, sonder badkamer, met koolstoof en ’n sakplafon, ons water aangery met ’n kruiwa van die handpomp in die vlei, ons worshond, Pompie, drie Jersey-koeie, twintig merinoskape, ’n tikmasjien en bietjie kontant, was ons sielsgelukkig. Ons vermaak ’n opwengrammofoon, ons planne vir vooruitgang het tot aan die oneinde gestrek. Njarra, ons mak graatjiemeerkat, Nok, die skattebol van ’n kraai, dik, halfslyt ooie wat skelm werf toe kom en die wasgoed van die draad afvreet en Drosbek die kalkoen het alles met ons gedeel. En jou mooi pa my hartsvennoot in die soet semel van ons wêreld.
Ná haar man se dood wil Dot weer in die rivier gaan swem. Aan die einde van die dag sê sy: “Ek wil nie stort nie. Ek wil die hele nag na riviermodder ruik, en na my jeug saam met julle pa.”
Antjie se briewe uit Amerika en Europa is eweneens vol heimwee en eensaamheid en soos haar ma vind sy onverwelkbare woorde vir elke vervlietende gewaarwording. Soms is hulle saam, wanneer sy gaan kuier in die tehuis waar haar ma woon. Die plaas is verkoop en die land aan die verval, maar toe sy op die N1 noordwaarts sy, “gooi my oë hulleself soos geobsedeerde minnaars oor die landskap van my jeug. Die horison is die ene winterlug, gras en verblindende vlasblond vlaktes, hulle sag-gesade graspluime gebleik deur ryp. ’n Mens se liggaam kan slegs een landskap waaragtig liefhê, word gesê.”
Antjie is ’n dirigent, ’n rolprentregisseur wat tonele weeg en afwissel, in volmaakte balans. Wat die oomblik ontgin sonder om te lank te draal. Wat my opval, is die afwesigheid van jouska, daardie ding wat ek haat: lang, analiserende binnegesprekke waarin gebeure getakseer en tot op die been ontleed word. Die leser word gewýs. Dot Serfontein staan op.
...........
Antjie is ’n dirigent, ’n rolprentregisseur wat tonele weeg en afwissel, in volmaakte balans. Wat die oomblik ontgin sonder om te lank te draal. Wat my opval, is die afwesigheid van jouska, daardie ding wat ek haat: lang, analiserende binnegesprekke waarin gebeure getakseer en tot op die been ontleed word. Die leser word gewýs. Dot Serfontein staan op.
..............
Dis ’n benouende landskap van bekendheid, verknogtheid en wegbeur: die ma-dogter-verhouding. In daardie landskap word die leser toeskouer. Soos alle skrywers het Antjie iemand nodig as klankbord en dokument, geloofsbrief, geskiedenis. Iemand wie se moesie-oor haar telefoon is. Ma en dogter deel ’n biblioteek vol verwysings. En ’n goddelooslike humorsin. In ’n brief beskryf Dot ’n verlangse verwant wat kom kuier het. “Sy had ’n paar oorbelle aan wat haar lelle soos bejaarde labia laat swaai” en dra goue kettingsandale. “Haar voete lyk soos twee klawerborde wat lank in die reën gestaan het. Die een toon korrel links, die volgende bars heeltemal regs, die derde een kruip in sy eie poephol op, die naellose kleintoontjie het ’n blerts Cutex op die vel.”
’n Onvergeetlike toneel is waar Antjie en Dot na die twee CD’s van Verwoerd se begrafnis luister in Antjie se motor. Die gedrae, bombastiese, hoogdrawende stemme en uitdrukkingswyse gru Antjie, maar haar ma sit regopper. Kort voor lank is daar ’n skaretjie oumense om die kar. Soos motte na die kers, is hulle gelok deur die stemme uit hulle jeug. Dot se reaksie: “Ek gun hulle dit – ons generasie se nostalgie is in wrangheid gekweek.” Dit is natuurlik ’n strydpunt tussen ma en dogter: die politiek.
Dot is nostalgies oor ’n volk wat die juk van die onderdrukker kon afskud en iets van homself maak. Antjie soek na bewyse van Afrikaner-trauma ná die Boereoorlog, om te wys dat swart mense eweneens getraumatiseer is. Dot opponeer enige slagofferskap.
...........
Dot is nostalgies oor ’n volk wat die juk van die onderdrukker kon afskud en iets van homself maak. Antjie soek na bewyse van Afrikaner-trauma ná die Boereoorlog, om te wys dat swart mense eweneens getraumatiseer is. Dot opponeer enige slagofferskap.
..............
By die lees van ’n nagelate manuskrip van haar ma dink Antjie by haarself: “Fok, sy’s goed!”
Dot het geskryf:
Ek bêre al ons briewe. Jy kan eendag soos Audrey Blignault se dogter ons twee s’n bymekaarsit vir ’n geplunderde boek. Aanvanklik het ek soms gewonder of my skielike oplewing in die letterkunde aan jou te danke is, maar toe ek soveel Dot Serfonteinismes in jou werk begin raaksien en verskeie familiedrogbeelde, toe dink ek, nee maar reg, so maak ons mekaar.
Natuurlik is Krog ’n plunderaar sonder weerga – dit wat geplunder word, word soomloos geïntegreer in ’n meesterlike collage waaroor die fyn hand en houtoog van Antjie waak. Ek is ademloos.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel
Boekevat met Deborah: Dink jouself gelukkig, Hollywood on the veld en Khaki fever

