
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Die grafdigter
Gerda Taljaard
Penguin Random House
ISBN: 9781776380930
Ek het my bedenkinge gehad oor ’n Russiese verhaal wat in Afrikaans afspeel, maar waarna ek in David Szalay se Flesh (weliswaar verdienstelik) gesoek het, kon ek eerder in Gerda Taljaard se Die grafdigter vind: kuns, dames en here! Kreatiwiteit. Verrukkelijke oorspronklikheid. Dié is nie ’n krimi nie. Tja, miskien is moedertjie Rusland die volgende bestemming waarheen ’n knap Afrikaanse skrywer kan uitwyk om te ontsnap aan die Kaapse kroonpolonie; so sonder snawel en pote.
Tolstoi, Dostojewski, Tsjekof en Taljaard.
Liefste leser, dié boek herinner sterk aan die kunstmärchen van die broeders Grimm, van voorplat tot agterblad. Hier is soveel mooi woorde, sinne en paragrawe in die sneeu geskryf dat ’n leser pal moet ligloop vir vriesbrand – of ’n oor verloor. Jy voel die woorde dikwels aan jou lyf. Ongemaklik, soos ’n snerpende koue in die neusholtes. (Dalk danksy die muse met woema en ’n towerstaf iewers in ’n sprokiesagtige woud.) Een só ’n sin lui: “Die sakdoek is bevlek met maskara en smart.” Elders het iemand een helder somersdag oor ’n afgrond gespring. Nie oor swartgalligheid nie, maar sy nuuskierigheid oor die dood was te oorweldigend.
Inderdaad betowerend.
Mila (’n psigoterapeut en ons protagonis) en haar ouma, Baboesja, is die spilpunt van die verhaal en die interaksie tussen hulle is uit die boeke. Die dood figureer as ’n onderliggende tema, maar ’n fyn balans word deurentyd gehandhaaf tussen die onderskeie milieu en ander tegniese aspekte. Die storielyn is vernuftig verpak. Fyn handewerk. Die verhaal vloei soos die wu-wei (ook genoem: effortless action). Soos geborduurde naaldekokertjies op ’n spesiale rok. Die storie sluit in: kamerade en kameraadskap.
En kaplaks! ’n Klimaks.
Maar eers: Die kritiek in Willie Burger se resensie op LitNet word min of meer in sy laaste paragraaf soos volg saamgevat:
Die grafdigter is ’n vaardig gestruktureerde roman met relevante temas, maar die verhouding tussen die storiewêreld en die insigte wat die roman bied, is ongemaklik. Die sluiting bring ’n sekerheid wat die kompleksiteit van die lewe mak maak eerder as verdiep. Die roman bied aanduidings van betekenisvolle insigte, maar laat die leser nie deur die handelinge, onsekerhede en weerstand beweeg waaruit hierdie insigte sou kon ontstaan nie. Die resultaat is ’n teks wat bevestig eerder as ondersoek.
Twee voorbeelde word verskaf, waarvan die een lui: “Enkele voorbeelde: Zhanna merk op: ‘Maar wat is die waarheid? ’n Blote kwessie van perspektief’” (113). Die ander is ’n langerige aanhaling op bladsy 201 waar Mila insig met ’n pasiënt deel. Hieroor verklaar Burger: “Die probleem is nie dat hierdie stellings onwaar is nie, maar dat hulle nie deur die narratiewe ontwikkeling noodsaaklik gemaak word nie. Hulle dra die gewig van herhaling eerder as ontdekking.”
Wag-wag, ek keer terug:
- “[D]ie verhouding tussen die storiewêreld en die insigte wat die roman bied, is ongemaklik.”
- “Die sluiting bring ’n sekerheid wat die kompleksiteit van die lewe mak maak eerder as verdiep.”
- “Die roman bied aanduidings van betekenisvolle insigte, maar laat die leser nie deur die handelinge, onsekerhede en weerstand beweeg waaruit hierdie insigte sou kon ontstaan nie.”
- “Die resultaat is ’n teks wat bevestig eerder as ondersoek.”
Ek wonder toe aanvanklik: Verwys die resensent na “show, don’t tell”, of “moenie die leser te veel voer nie”, of probeer die skrywer te slim lyk, of het die leser nie kans gehad om self uit te werk 2+2=4 nie? Of is die probleem dalk: Die boek is nie wat “ék” (Burger) wou gehad het dit moet wees nie?
Goed, punt een is ’n subjektiewe belewenis wat ek nie objektief kan aanspreek nie. Punt twee wys daarop dat Burger graag sou wou sien dat die kompleksiteit van die lewe verder verdiep. Ek gooi my hande in die lug. Punt drie is minstens debatteerbaar, maar ek verskil luidkeels van Burger, omdat Mila en Baboesja hulle gereeld in situasies bevind wat my nekhare laat rys. Punt vier. Nee. Daar is genoeg om aan te herkou; dit is bloot subtiel in die teks verweef. Hier is dus geen probleem nie. Stellings word na behore deur die narratiewe ontwikkeling gedra. Hulle dra die gewig van beide ontdekking, sowel as filosofiese en psigoanalitiese gesprekvoering. Ek hou daarvan.
Op die grafsteen van die eens eienaardige Charles Bukowski staan: “Don’t try.” Dit is belangrik, gehoor. Party skrywers probeer te hard en dan probeer die uitgewers en beïnvloeders nóg harder en in die proses flous jy seker ’n rakker of wat, maar soos Bob Marley gesing het: “You can fool some people sometimes, but you can’t fool all the people all the time.”
Hierdie boek is goed. Ek gee vier sterre. Gut gemacht, Gerda Taljaard. Die fok weet. Ek veronderstel die maklikste manier om Die 100 beste Afrikaanse boeke gou reg te stel is om nommer 19 met Die grafdigter te vervang.


