
Boekomslag: https://www.penguinrandomhouse.co.za/book/die-grafdigter/9781776380930
Die grafdigter
Gerda Taljaard
Penguin Random House
ISBN: 9781776380930
........
Die grafdigter is ’n roman wat wemel van stories: spookstories, droewige stories, kleintydstories, grootmensstories, sprokies, oorlogstories. Terwyl een oorkoepelende verhaallyn die saambindende spanningslyn verskaf, word al hierdie ander stories daarin ingebed.
........
Die grafdigter is ’n roman wat wemel van stories: spookstories, droewige stories, kleintydstories, grootmensstories, sprokies, oorlogstories. Terwyl een oorkoepelende verhaallyn die saambindende spanningslyn verskaf, word al hierdie ander stories daarin ingebed.
Die sentrale verhaallyn word in die eerste persoon aangebied. Dit is die vertelling van Mila Kozlowa, ’n psigoterapeut in die hedendaagse Moskou. Sy het nog in die kommunistiese era grootgeword en skoolgegaan, en vertel enersyds wat sy nou beleef, in die tyd van Poetin en die oorlog in Oekraïne. Maar sy het ook talle terugflitse wat soms as vertellings in die derdepersoon aangebied word. Haar ouers het verdwyn toe sy nog klein was en sy is grootgemaak deur haar ouma, Baboesja, ’n voormalige ballerina. Die geheim van haar ouers se verdwyning verskaf die sentrale spanningslyn. Vroeg reeds word gesuggereer dat Mila se weergawe van hulle verdwyning verdag is, dat daar iets sinisters daaragter skuil, en dat sy onwillig en/of nie in staat is nie om daardie traumatiese verlede te konfronteer.
Ook in al die ander stories wat met hierdie sentrale verhaallyn vervleg word, is daar telkens ’n traumatiese verlede wat steeds in die hede spook. Mila is immers ’n psigoterapeut en haar pasiënte vertel hulle droewige verhale aan haar. Haar gevolgtrekking nadat sy na hulle stories geluister het, is dikwels dat hulle nog nie hulle traumatiese verledes gekonfronteer het nie.
Een van haar pasiënte, negentien jaar tevore, was ’n Suid-Afrikaanse argeoloog, Martin Joubert. Hy was by opgrawings in Rusland betrokke en het by haar opgedaag omdat hy in die koue, donker Russiese winter in depressie verval het. Maar daar is meer as die donker en koue en afstand van Suid-Afrika wat hom depressief maak. Hy het eweneens ’n verlede wat by hom spook: die trauma van die grensoorlog wat hy as dienspligtige beleef het. Hulle lewens bly vervleg al keer hy na Suid-Afrika terug.
Benewens die vertellings van haar pasiënte is daar ook die talle stories wat haar ouma haar vertel. Deur haar ouma maak sy met sprokies kennis wat die ouma voorlees of versin. Die ouma vertel ook stories uit haar eie lewe – byvoorbeeld hoe ’n ongewenste swangerskap haar balletloopbaan in die wiele gery het; vertellings oor ander mense in die plattelandse dorp waar sy vandaan kom, oor mense in hulle woonstelblok en oor haar oorlede man wat op sy beurt ’n traumastorie oor die Tweede Wêreldoorlog het.
........
Een van die belangrikste bronne van boeiende stories is Mila se lewenslange vriendin, Zhanna, die grafdigter van die titel. Zhanna voer ’n swerwersbestaan. Sy is ’n hoogs belese en berese boemelaar. Sy dra swaar aan simboliese betekenis in die roman, met haar skeel oog wat ’n ander, tweede werklikheid kan raaksien. As grafdigter het sy een oog op die lewe en een op die doderyk. Haar betowerende stories is meestal vertellings van haar reise as kind saam met haar tante wat “dwaalgeeste” uit mense se huise uitdryf en vir mense hulle toekoms voorspel.
........
Een van die belangrikste bronne van boeiende stories is Mila se lewenslange vriendin, Zhanna, die grafdigter van die titel. Zhanna voer ’n swerwersbestaan. Sy is ’n hoogs belese en berese boemelaar. Sy dra swaar aan simboliese betekenis in die roman, met haar skeel oog wat ’n ander, tweede werklikheid kan raaksien. As grafdigter het sy een oog op die lewe en een op die doderyk. Haar betowerende stories is meestal vertellings van haar reise as kind saam met haar tante wat “dwaalgeeste” uit mense se huise uitdryf en vir mense hulle toekoms voorspel. As dogtertjie help Zhanna die tante tydens séances deur onder die tafel te klop of “stemme” te verskaf. Ook in die talle stories wat Zhanna vertel, is daar telkens trauma uit die verlede wat by karakters spook. Op hierdie manier word die moderne psigologie en traumaberading met ’n bonatuurlike wêreld van geeste en sprokies verbind.
Zhanna se verhale word nie ingeperk deur die realisme van wetenskap, sielkunde en “realiteit” nie, maar sluit aan by die gevoel van sprokieswêrelde; dit bring ’n soort betowering in die harde werklikheid van haar armoede, van die kommunistiese bewind, die misdaad en die oorlog. Een van die mooiste voorbeelde van Zhanna se vertellings is oor ’n dwaalgees wat deur mure en pilare loop “agteruit, asof sy terugstap in tyd” (115).
Baie van die terugflitse na Mila se kleintyd, toe sy en haar ouma in ’n afgeleë hut oorwinter het, lees soos sprokies, in die derde persoon, soos wat Mila daardie tyd in herinnering roep. Sy gee die vorm van ’n sprokie aan haar herinnerings, want sodoende word die swaarkry en droefheid mooier gemaak, onskuldig gemaak.
Die sprokies en spookstories aan die een kant, en aan die ander kant die eietydse vertellings oor die Oekraïne-oorlog en ’n Suid-Afrikaanse realiteit van misdaad en korrupsie (waaroor Joubert in e-posse aan Mila skryf), staan in spanning. Maar dié spanning het ’n doel: Die vertel van stories en sprokies word dikwels beskryf as maniere om die ondraaglike draaglik te maak, om psigologiese spannings op te los of om die verlede te temper.
Die roman in sy geheel het ook ’n sprokiestruktuur in die sin waarin Vladimir Propp sprokies beskryf het as verhale waarin ’n karakter ’n taak opgelê word wat dan met behulp van helpers en nieteenstaande teenstanders uitgevoer moet word. Mila se taak is om die verlede te konfronteer. Sy het helpers (Zhanna, Dimitri) en teenstanders. Die sprokiestruktuur lei tot ’n gevoel van betowering – soos wat die roman deur Kerneels Breytenbach op die buiteblad beskryf word.
Die verkrummeling van die Sowjetunie het vir sommige Russe (soos Baboesja) tot ’n ervaring van verlies gelei – waarop Poetin se droom van politieke uitbreiding teer – terwyl ander (soos Mila) teleurgesteld is omdat die belofte van demokrasie en kapitalisme nie gerealiseer het nie. Die roman lê verbande hiertussen en die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika. Sowel Mila as Joubert ervaar iets van ’n verlies – die wêrelde waarin hulle grootgeword het, bestaan nie meer nie (al weet albei dit is beter dat daardie wêrelde verval het), en hulle is ontuis en teleurgesteld in die nuwe bedelings waarin hulle hulle bevind.
In die sentrale verhaallyn word spanning geskep deur die troop van die gesteelde brief (sedert Edgar Allan Poe se “The purloined letter” van 1845 dikwels ’n manier om spanning te skep in speurverhale). Spanning word knap deur Taljaard hanteer – met brokkies inligting wat geleidelik in vooruitwysings en terugverwysings gegee word. Die gee van brokkies inligting in terugflitse is egter nie bloot ’n spanningseffek nie – dit ontbloot ook iets van die wyse waarop ’n mens jou eie lewe, jou geskiedenis, jou trauma uit die verlede konfronteer.
........
Die grafdigter is Gerda Taljaard se sesde roman. Sy is ’n geoefende skrywer. Dit is nie alleen uit die weldeurdagte plot en volgehoue spanning dat haar skryfvermoë blyk nie. Sy vind ook soms treffende beelde: “Hy is ’n baie lang, skraal man, sodat sy stappie die kind aan haar ouma se skêr laat dink wat girts-girts deur lap sny.”
........
Die grafdigter is Gerda Taljaard se sesde roman. Sy is ’n geoefende skrywer. Dit is nie alleen uit die weldeurdagte plot en volgehoue spanning dat haar skryfvermoë blyk nie. Sy vind ook soms treffende beelde: “Hy is ’n baie lang, skraal man, sodat sy stappie die kind aan haar ouma se skêr laat dink wat girts-girts deur lap sny.”
Ten spyte van hierdie duidelike strukturele samehang en tematiese relevansie laat die roman my egter uiteindelik onbevredig.
Die onbevrediging spruit uit ’n diskrepans tussen die storiewêreld en die insigte wat daaruit voortvloei. ’n Roman skep ’n wêreld met eie wette en moontlikhede; oortuiging ontstaan wanneer betekenis uit daardie wêreld se interne dinamika groei. In Die grafdigter lyk dit egter dikwels asof die idees die gebeure voorafgaan. Dialoog en besinning voel minder soos iets wat noodwendig uit die botsing van karakters en situasies voortspruit, en meer soos reeds geformuleerde waarhede wat bevestiging soek. Die roman illustreer eerder as wat dit ontdek.
........
’n Roman skep ’n wêreld met eie wette en moontlikhede; oortuiging ontstaan wanneer betekenis uit daardie wêreld se interne dinamika groei. In Die grafdigter lyk dit egter dikwels asof die idees die gebeure voorafgaan. Dialoog en besinning voel minder soos iets wat noodwendig uit die botsing van karakters en situasies voortspruit, en meer soos reeds geformuleerde waarhede wat bevestiging soek. Die roman illustreer eerder as wat dit ontdek.
........
In dié opsig funksioneer die teks minder soos ’n “laboratorium” waarin menslike situasies ontvou en meer soos ’n verhoog waarop karakters bepaalde tematiese rolle vertolk. Die probleem is nie dat die insigte onwaar of onoortuigend is nie; dit is dat hulle nie noodgedwonge uit die narratiewe spanning spruit nie. Hulle kon net sowel elders ingevoeg gewees het. Daarom bly die ervaring van ontdekking – daardie gevoel dat ’n roman iets werklik nuuts oor die menslike bestaan laat ontluik – grotendeels uit.
Enkele voorbeelde: Zhanna merk op: “Maar wat is die waarheid? ‘n Blote kwessie van perspektief” (113). Of Mila verduidelik aan ’n pasiënt: “‘Verplasing is ‘n nuttige hanteringsmeganisme,’ verseker ek hom, ‘iets wat ons almal van tyd tot tyd bewustelik of onbewustelik implementeer om in ‘n gevaarlike situasie kop te hou. Dis egter noodsaaklik om uiteindelik te erken dat iets met jou gebeur het, om terug te kom in daardie oomblik van trauma, om weer die vrees en skok te ervaar, sodat die gapings in jou psige gevul kan word. Langdurige verplasing lei tot afstomping, tot ‘n ongevoeligheid teenoor die wêreld om jou, soms selfs tot psigoterapie’” (201). Die probleem is nie dat hierdie stellings onwaar is nie, maar dat hulle nie deur die narratiewe ontwikkeling noodsaaklik gemaak word nie. Hulle dra die gewig van herhaling eerder as ontdekking.
Hierdie onbevrediging word duideliker wanneer die roman binne ’n breër literêre konteks geplaas word. Die temas van trauma, skuld, aandadigheid, identiteit en van vertelling as poging om sin te maak en vrede te vind, kom wyd in die Suid-Afrikaanse letterkunde voor, maar ook veel wyer. Jenny Erpenbeck se voortreflike Kairos ondersoek byvoorbeeld die verweefdheid van persoonlike en kollektiewe geskiedenis – ook rondom die val van die kommunisme – op ’n wyse wat die eenvoudige oorgang van onthulling na genesing ondermyn. In Afrikaans is Etienne van Heerden in roman na roman met hierdie tematiek gemoeid, terwyl Eugene (Kirby van der Merwe) en Kompoun (Ronelda Kamfer) onlangse voorbeelde is van werke waarin trauma en familiegeskiedenis met veel groter kompleksiteit ontgin word.
........
Wat hierdie romans onderskei, is nie bloot die aanwesigheid van soortgelyke temas nie, maar die diepte van hulle filosofiese hantering. ’n Eenvoudige psigoanalitiese oplossing word nie voorgehou nie. Die ontdekking van ’n “waarheid” oor die verlede lei nie tot ’n geredelike herstel van identiteit of heelheid nie.
........
Wat hierdie romans onderskei, is nie bloot die aanwesigheid van soortgelyke temas nie, maar die diepte van hulle filosofiese hantering. ’n Eenvoudige psigoanalitiese oplossing word nie voorgehou nie. Die ontdekking van ’n “waarheid” oor die verlede lei nie tot ’n geredelike herstel van identiteit of heelheid nie. Inteendeel, die onthulling kompliseer die selfbegrip verder. Teen hierdie agtergrond lyk die ontknoping van die familiegeheim in Die grafdigter opvallend oppervlakkig. Die oordrag van individuele terapeutiese insig na ’n breër historiese of kollektiewe vlak bly grotendeels onbevraagteken. Ook die vergelykings tussen Suid-Afrika en Rusland kom selde verby algemene parallelle, en hoewel Joubert se beskouings nie as volledige representasie aangebied word nie, word daar nie ruimte gelaat vir ’n meer genuanseerde blik op Suid-Afrika as dié van ‘n bevreesde, nostalgiese wit middelklas nie.
Die grafdigter is ’n vaardig gestruktureerde roman met relevante temas, maar die verhouding tussen die storiewêreld en die insigte wat die roman bied, is ongemaklik. Die sluiting bring ‘n sekerheid wat die kompleksiteit van die lewe mak maak eerder as verdiep. Die roman bied aanduidings van betekenisvolle insigte, maar laat die leser nie deur die handelinge, onsekerhede en weerstand beweeg waaruit hierdie insigte sou kon ontstaan nie. Die resultaat is ’n teks wat bevestig eerder as ondersoek.
Lees ook:
kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard

