
Titel: Vier susters
Skrywer: Gerda Taljaard
ISBN: 9781485904700
Uitgewer: Penguin
Gerda Taljaard se Vier susters was die Afrikaanse boek waaraan die meeste pryse in 2022 toegeken is. Gerda praat met Naomi Meyer oor haar boek, oor kortverhale, oor die manlike blik en oor die slyp van sinne. Sy praat ook oor haar eie akademiese navorsing, haar LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel oor PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis.
Gerda, Vier susters het in 2022 ongeveer elke letterkundeprys vir ’n Afrikaanse boek gewen wat daar was. Ek het die vier susters nou ook uiteindelik leer ken. Wat ’n interessante gegewe en samestelling van karakters. Het hulle net een nag by jou opgedaag, so almal gelyk? Vertel my hoe is hulle gebore, die eerste prikkels vir die verhaal.
.............
Dis al vir baie lank dat die storie van die vier susters by my spook, want dis ’n storie wat my ouma al jare gelede vertel het, ’n verhaal gebaseer op haar eie lewe op ’n plaas in die Noordwesprovinsie, genaamd Wysfontein. Sy was een van 14 kinders, maar sewe van hulle is tydens die Anglo-Boereoorlog dood, en vier ná die oorlog. Party van hulle op die vreemdste maniere – een is deur die weerlig doodgeslaan, ’n ander het longontsteking opgedoen, nadat sy amper verdrink het in ’n rivier wat afgekom het. Uiteindelik het net drie bloedsusters oorleef, asook hulle swart suster, Anna, wat “Kietie” in my boek geword het.
................
Dis al vir baie lank dat die storie van die vier susters by my spook, want dis ’n storie wat my ouma al jare gelede vertel het, ’n verhaal gebaseer op haar eie lewe op ’n plaas in die Noordwesprovinsie, genaamd Wysfontein. Sy was een van 14 kinders, maar sewe van hulle is tydens die Anglo-Boereoorlog dood, en vier ná die oorlog. Party van hulle op die vreemdste maniere – een is deur die weerlig doodgeslaan, ’n ander het longontsteking opgedoen, nadat sy amper verdrink het in ’n rivier wat afgekom het. Uiteindelik het net drie bloedsusters oorleef, asook hulle swart suster, Anna, wat “Kietie” in my boek geword het. Hierdie suster het by hulle in die huis grootgeword, het ’n stukkie grond by my oumagrootjie geërf en het later ’n groot kudde beeste gehad. Sy is egter deur die groter gemeenskap verwerp – deur wit én swart. Deur Kietie se storie te vertel, sluit Vier susters seker op ’n manier aan by Marlene van Niekerk se Agaat en Elsa Joubert se Poppie Nongena.
Die proloog maak dit duidelik: hierdie storie is nie een oor broers nie, die riviere en die omgewings se name is wanbenamings. Dit handel oor susters, oor vroue. En van die eerste opvallende narratiewe in die boek, is: die oorlog is ons almal se skuld (dus: ook die vroue).
Die hoofkarakters in Afrikaanse historiese fiksie is byna altyd mans, selfs al is dit deur vroue geskryf, soos byvoorbeeld in Sonja Loots se Sirkusboere en Ingrid Winterbach se Niggie. Ek wou juis ’n histories-gebaseerde roman skryf waar vroue die hoofpersonasies is, want vroue se rol in die geskiedenis is nog altyd onderbeklemtoon, of word bloot ontken. Daarvan getuig die stuk onbekende geskiedenis oor vroue se betrokkenheid by die Ossewabrandwag se Stormjaer-afdeling, wat so deeglik in Albert Blake se Wit terroriste opgeteken is, waarna ek dan ook in my erkennings verwys. Hierdie vroulike Terreurgroeplede het dinamiet aangery, sabotasie gepleeg en Smuts-ondersteuners verlei om inligting uit hulle te kry. Daar is nogal interessante raakpunte tussen hierdie vroue en die vroue wat hulle dekades later vir die struggle sou beywer. Vroue is nie net altyd passiewe slagoffers tydens oorlogsituasies nie, maar is dikwels ook meedoeners.
Van oorlog gepraat. Dis eintlik in baie opsigte ’n mansonderwerp (later meer oor hierdie veralgemening – ’n mansonderwerp!), of hoe? En hier word ’n mooi uiteensetting gegee oor hoe logika en emosie tog wel met mekaar versoen kan word, want: “Nou sit ek hier in Broedersdraai se opstal vir jou en skryf met ’n gevoel van verlies wat ek skaars in woorde kan uitdruk, wat nog te sê van ’n logiese verklaring daarvoor gee. Want emosie en logika is onversoenbaar, en die verstand laat hom nie inhok deur die wetenskap nie.” Was dit jou tema van die begin af: oorlog?
My doel met Vier susters was om die langdurige effek van oorlog op die mens uit te beeld, kollektiewe trauma wat van geslag tot geslag oorgedra word, hetsy dit die Anglo-Boereoorlog of die Tweede Wêreldoorlog is. In Vier Susters gaan dit egter oor meer as net werklike oorloë, dit gaan ook oor die oorlog tussen susters en tussen die geslagte.
Jy is ’n meester van kortverhale. Het al baie dikwels, jare na mekaar, die Woordfees-bundel se kortverhaalbundel-verhaalkompetisie gewen. Hoe was dit vir jou anders om hierdie roman te skryf – makliker, moeiliker, lekkerder?
..........
Vir my is romanhoofstukke niks anders as kortverhale nie: albei eindig op ’n hoogtepunt, albei skep verwagting wat vervul, of juis nié vervul word nie.
............
Vir my is romanhoofstukke niks anders as kortverhale nie: albei eindig op ’n hoogtepunt, albei skep verwagting wat vervul, of juis nié vervul word nie. Om ’n roman te skryf, is egter moeiliker as ’n kortverhaal, want ’n mens moet al die drade vir veel langer bymekaar hou. Kortverhale is vir my lekkerder om te skryf as ’n roman, maar minder bevredigend, want kortverhale word nie so wyd gelees as romans nie.
Jou kortverhale is dikwels ontsettend donker, met kinkels vol donker humor en geweld. In hierdie roman herken ek elemente daarvan. Maar dis ’n ander verhaal, dis vloeiend en epies. Daar is ’n duik in ’n poel, die water se vel wat gebreek word. ’n Stadige beeld, ’n sin wat sy tyd neem om te vorm. Ek vra jou oor die skryfproses. Hoe het jy hierdie verhaal beplan?
Ek is ’n swak beplanner. Ek het ’n basiese idee in my kop oor hoe die roman gaan verloop, maar ek trek nie ’n raamwerk op nie, gevolglik slaan die gebeure (én die karakters) hulle eie rigting in. Vier susters se einde het selfs vir mý verras. Ek maak notas, sommer so deurmekaar op afvalpapier, dan ryg ek die idees aan mekaar tot ’n samehang. Ek begin altyd met ’n sin of paragraaf waarvan ek baie hou en dan bou ek die verhaal daaruit op.
Hier skryf jy oor ’n Hart is so groot soos ’n vuis, ’n onlangs-verskene boek – maar jy ontleed dit in LitNet Akademies: “Die doel van hierdie artikel is dus om ’n Hart is so groot soos ’n vuis te interpreteer aan die hand van die psigoanalise, veral betreffende die skrywer se ondermyning van dit wat Klages (2006:118) ‘phallogocentric Western discourse’ noem.” Ek onthou met ’n prysoorhandigingsfunksie dat jy gesê het jy het oorweeg om akademies verder te studeer en toe eerder die roman geskryf. Duidelik het jy ’n aanvoeling vir beide die akademie en die letterkunde. Wat verkies jy? Waarom?
Ek geniet navorsing, maak nie saak of dit vir ’n akademiese artikel, of vir ’n roman is nie. Die skryf van artikels en romans is ewe veeleisend, ewe bevredigend. Dikwels gee ’n artikel aanleiding tot ’n roman, en andersom. Beide Freud en Lacan se psigoanalise kom handig te pas tydens karakterbeelding in ’n roman, boonop is skryf ’n proses wat uit die onbewuste put. Skryf laat vele onderdrukte begeertes en trauma na die oppervlak kom en dit is fassinerend om op psigoanalitiese wyse “tussen die reëls” van ’n roman of gedig te lees, om iets raak te sien wat die skrywer dalk nie te kenne wou gee nie, wat hy/sy onbewustelik of bewustelik onderdruk.
Interessant dat jou akademiese artikel ook so verwys na die tradisioneel-manlike teks (ek verwys terug na my vraag 3). Wat is dit? Hoe wyk Vier susters af van die tradisioneel-manlike teks? Hoekom doen jy dit, of moet ’n mens eerder vir Lacan vra?
Vroueskrywers skryf vanuit hulle lyf, sodat die teksstruktuur dikwels afwyk van die sogenaamde “manlike” teks se male gaze – verhale wat uit ’n tradisioneel-manlike oogpunt chronologies vertel word. In Vier susters kry elke suster, asook die Italiaanse krygsgevangene, geleentheid om hulle storie op ’n unieke wyse te vertel. Soms sluit hierdie stories bymekaar aan, soms nie. Ander kere word dieselfde gebeurtenis uit verskillende perspektiewe vertel, met meer as een klimaks. Vier susters eindig op dieselfde wyse as waarop dit begin het – ’n sirkulêre struktuur wat anders is as die “manlike” struktuur van begin, middel en ’n (klimaksale) einde.
Hoe het jy jou navorsing gedoen: oor die oorlog, die taal, die omgewing? Stel jy belang in geskiedenis ook nog?
As skolier het ek niks van geskiedenis gehou nie, want in die geskiedenisklas is ons met ’n klereborsel oor die hand geraps as ons nie ’n datum kon onthou nie. Ek het egter altyd in familiegeskiedenis en genealogie belanggestel en dit het later ontwikkel tot ’n fassinasie met die wêreldgeskiedenis. Toe eers sou ek besef hoe interessant geskiedenis is, dat dit ook gaan oor mense en hulle persoonlike ervarings, nie net oor plekname en datums nie.
Dis snaaks, terwyl ek jou boek lees, dink ek hoe ons dinge as vanselfsprekend aanvaar. Hoe mans dinge erf van mans, en vroue ook van mans erf. Objekte, vanne, samelewingsverwagtinge. Is dit wat in jou agterkop was toe jy die storie geskryf het?
Beslis. Deesdae raak ek al hoe meer bewus van hoe vroue én mans deur die eeue heen deur die samelewing in hulle onderskeie rolle gedwing is, en hoe daar teen “aweregse” mense gediskrimineer is wat nie aan die gemeenskap se verwagtinge voldoen het nie. Ek voel genoop om vrouepersonasies te skep wat nie die uitgetrapte paadjies van moederskap en dienende eggenote gekies het nie, vroue soos my karakters Grieta Wolff en Ivy Dippenaar, wat “’n oorlog binne ’n oorlog” baklei om van die patriargale juk bevry te word.
En tog verweef jy dit ook as ’n ernstige, maar gemaklike lees-storie. Wat was eerste? Die verhaal, die idees wat jy wou oordra?
Vir my persoonlik is ’n “goeie” boek ’n boek wat oor beide ’n boeiende verhaallyn én oor literêre waarde beskik, daarom is ek versot op Anna M Louw, Petra Müller en Wilma Stockenström se werk. Die storie wat ek vertel en die “hoër” idees wat ek wil oordra, gebeur vir my gelyktydig, die een kom saam met die ander.
Die dood van ’n man. ’n Familiebyeenkoms, wat ook baie sê van die omgewing se mense. Het jy ooit Anne Enright se boek The Gathering gelees? Hoe baie sê dit van die Iere en hul begrafnisrituele?
Ek het nog nie The Gathering gelees nie, maar wel van Enright se ander werk waarin begrafnisrituele ook ter sprake kom. As kind was ek bevoorreg om ’n tradisionele plaasbegrafnis by te woon waartydens plaaswerkers prysliedere gesing het en bobotie en “begrafnisrys” voorgesit is. Swart Suid-Afrikaners is in die algemeen steeds baie gesteld op tradisionele begrafnisrites, terwyl wit Suid-Afrikaners se begrafnistradisies byna heeltemal verdwyn het. Vier susters is op ’n manier ’n elegie aan ’n tyd wat verby is, ’n soort lykdig aan my voorgeslagte.
Jy weet so baie van elkeen van die susters en hulle passies, hulle talente, hulle agtergrond. Musiek, rivier, kerk, noem dit en jy verstaan iets hiervan. Het jy baie navorsing gedoen? Hoe baie hiervan is jou eie agtergrond?
Ek het intensiewe navorsing oor die 1940’s gedoen – oor die kleredrag, eetgewoontes, kommersiële produkte, politiek, geloof, rookgewoontes en selfs oor seksuele gedrag. Gelukkig het ek ook ’n ma, ouma en tantes gehad wat “outydse” Afrikaans gepraat het, wat woorde soos “altoos”, “aljimmers” en “vliegmasjien” gebruik het. Daar is ’n stukkie van my in elkeen van die vier susters, glo ek. Ek het ’n beheptheid met musiek, die natuur, ekokritiek en Jungiaanse droomsimboliek, onder andere die rivier as ’n simbool van die onbewuste.
Miskien skryf iemand kort voor lank ’n akademiese verhandeling oor jou boek. Die vrou wat sê ons het vroue soos jy nodig, iemand om teen die stroom te swem, en die een wat dit sê, is ’n Vrymesselaar. Word deel van ’n nuwe sisteem. Is dit wat jy van die samelewing dink, die alewige marmottewiel waarin vroue vasgevang is – ons is altyd net op pad na ’n volgende samelewingsvasgevang-wees?
Ongelukkig is daar deesdae weer ’n regressie na tradisionele opvattings oor geslagsrolle, ’n nuwe konserwatisme wat veral deur die kerk aangeblaas word, wat steeds van die vrou verwag om ’n dienende Marta te wees, ’n (maagdelike) seksobjek wat haar man moet behaag en wat kinders moet voortbring. Gelukkig sal daar altyd vroue wees wat weier om te konformeer tot die samelewing se verwagtinge van wat ’n vrou behoort te wees, werklike én fiktiewe vroue wat teen die meesleurende patriargale stroom swem.
Ek vorder verder en verder met die boek en dink aan jou mooi sinne, amper asof elke sin ’n kortverhaal is. Nie mooiskrywery nie, maar mooi geskryf. En net die nodigste woorde. Redigeer jy baie dikwels? Keer jy oor en oor terug na die vorige sinne?
............
Die redigeringsproses is deurlopend deel van my skryfproses, sodoende word sinne behoorlik geslyp. Met die skryf van elke paragraaf en iedere hoofstuk keer ek terug na die begin om te sien of dit alles inpas en sin maak. Dis ’n uitputtende proses en ek vermoed dit is die rede waarom my romans nooit vreeslik lank is nie, ek is bloot te obsessief-kompulsief om dik, uitgesponne boeke te skryf.
..............
Die redigeringsproses is deurlopend deel van my skryfproses, sodoende word sinne behoorlik geslyp. Met die skryf van elke paragraaf en iedere hoofstuk keer ek terug na die begin om te sien of dit alles inpas en sin maak. Dis ’n uitputtende proses en ek vermoed dit is die rede waarom my romans nooit vreeslik lank is nie, ek is bloot te obsessief-kompulsief om dik, uitgesponne boeke te skryf.
Die tema van ’n vrou van wie daar verwag word om te moet trou, en die kontras tussen logika en emosie. Dis herhalende temas. Maar elke karakter se lewensloop is verskillend, of hulle paaie nou met mans kruis, of nie. Wie was jou gunstelinge om te skryf?
Al die karakters is eintlik vir my ewe geliefd en was ewe lekker om te karakteriseer. Dalk kan ek Sophié se briewe uitsonder as ’n gunsteling. Met die briefvorm kan ’n skrywer wegkom met vertel in plaas van wys. Boonop kan ’n mens in ’n brief behoorlik gal afgaan teen die samelewing, veral in ’n brief wat nooit gepos word nie. Die issues wat vroue in die 1940’s gehad het, is steeds nie heeltemal opgelos nie. Vroue word steeds gesien as die “swakker” geslag wat gelei word deur hulle emosies en nie deur logika nie.
Ek vind die Kietie-karakter (Yingwe) so interessant. Haar verhaal vervleg ook moeiteloos met mens, gees, mite en werklikheid. Hoeveel navorsing het jy gedoen oor Afrika-stories toe jy haar verhaal geskryf het? Vertel my asseblief van jou ouma Griet se staaltjies.
Die Sjangaanse woord vir “luiperd” is “yingwe”. Kietie vereenselwig haar nie net met die luiperdwyfie nie, sy herken iets van haarself in dié wyfiedier, die siel van ’n alleenloper, ’n vrye gees wat haar nie laat inhok nie. Teen die einde van die roman verbeel Kietie haar dat sy die luiperdwyfie sien wat na haar weerkaatsing in ’n waterpoel kyk en dan sê: “Ek is Yingwe.” Kietie transformeer dus op spirituele wyse tot ’n dier, ’n gegewe wat dikwels voorkom in Afrika-mites en -fabels.
My ouma Griet het die wonderlikste stories vertel, kompleet met handgebare, gesigsuitdrukkings en verskillende stemtone, stories waarin die grens tussen fantasie en werklikheid vervaag het. Sy het byvoorbeeld vertel dat die oomblik toe haar een suster dood is, daar ’n harde geklop op die eetkamertafel was en dat daar die volgende oggend modderwater op die tafelblad gelê het. Dit was die suster wat amper in ’n rivier verdrink het en toe ’n paar nagte later dood is aan longontsteking. Daar is nog baie ander soortgelyke verhale, en dít terwyl my ouma (volgens haar) nie bygelowig was nie. Sy was een van die min mense in hulle omgewing wat nie bang was om snags lyke op te pas nie, het sy graag vertel.
Waarom het jy oplaas Vier susters geskryf?
Party verhale móét eenvoudig vertel word, anders hou dit aan spook by ’n mens. Vier susters was beslis so ’n familiestorie wat eenvoudig moes uit, sodat die sondes van die vaders (én die moeders) besweer kon word.
Om te vra of hulle Smutsies of Hertzoggies maak … Die tydsgees word in alles van jou boek weerspieël. Hoe verbeel mens jouself in ’n ander historiese tydperk in, en bly in karakter, binne die tyd? Was daar vir jou ander uitdagings rondom die skryf van die boek?
Party mense het ’n obsessie met die Middeleeue of met die 1960’s se hippie-era, ek is weer behep met die 1930’s en 1940’s, daarom was dit taamlik maklik om myself daarheen te verplaas. Wat moeilik was, was om die tipiese raspejoratiewe van daardie tyd te gebruik om die Afrikanernasionalistiese era lewensgetrou uit te beeld. Dit was neerdrukkend om weer aan myself te erken dat ek deel van ’n ondermynende kultuur was wat my medemens verguis het met, onder andere, neerhalende, afbrekende taal.
Die oorlog, die sogenaamde manstema, is dan oplaas nie die oorlog wat in die wêreld woed nie. Dis die oorlog tussen sekere van die susters. Dink jy in jou verhaal is dit uiteindelik waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit? Of dat familie bo alles aan mekaar verbind is? Waar jy gebore is en wie jou sibbe is? Ek dink weer aan jou eie analise van ’n Hart is so groot soos ’n vuis en ek dink dalk moet ek nie so ’n enkelvoudige betekenis soek nie. Wat is jou gedagtes daaroor?
Ons is almal op ’n manier produkte van ons tyd, van ons omgewing en van ons gene. Ons kan nooit heeltemal van ons DNS en van ons opvoeding ontsnap nie, dit bly ’n mens maar altyd by, maak nie saak op watter kontinent jy jou bevind of tot watter ideologie jy jou bekeer nie. Op ’n stadium wou ek (soos my Sophié-karakter) my heeltemal losmaak van my familie, wou ek hulle vervang met vriende, maar uiteindelik het ek besef dat niemand my ooit so goed sal verstaan as juis my eie sibbe nie. Hulle oortuigings mag dalk indruis teen dit wat ek glo, maar hulle weet waar ek vandaan kom, wat my gemaak het wat ek is, waarom ek op ’n sekere wyse optree en reageer. En dit is juis dít wat ek in Vier susters wou weergee – sibbe se onvoorwaardelike aanvaarding van mekaar, ten spyte van verskille en geskille.
Waarmee is jou nou besig?
Ek werk aan ’n paar gedigte, aan kortverhale en ’n kinderstorie. Die nuwe roman moet maar vir eers wag.
Lees ook:
Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Gerda Taljaard
kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard

