Ontvoer: ’n onderhoud met Constant van der Merwe

  • 1

Foto van Constant van der Merwe: verskaf; boekomslag: Ontvoer deur Constant van der Merwe (Queillerie)

Titel: Ontvoer
Skrywer: Constant van der Merwe
Uitgewer: 
Queillerie, 2025
ISBN: 
9780795802881
Epub ISBN: 
9780795802898

Wanneer die voormalige polisiebeampte, George Ekermans, sien hoe ’n jong vrou in ’n bakkie gedwing word, jaag hy die ontvoerder agterna, maar beide verdwyn. 

Ekermans sit net met ’n goue hangertjie wat die vrou as ’n leidraad laat val het. 

Wanneer George in sy soeke na die meisie te naby aan die waarheid kom, word sy eie lewe en dié van die twee vroue vir wie hy omgee, Elena en Carla, bedreig. Sal hy die meisie uit die kloue van ’n bose netwerk kan red voordat dit te laat is?

As Ontvoer se voorblad jou nie gaan inspireer om die boek op te tel nie, sal die beskrywing van die protagonis se dilemma dit verseker doen. Die voorblad is aangrypend en net so onheilspellend soos die woorde uit Constant van der Merwe se pen.

Ontvoer is Constant se vierde boek onder sy eie naam, maar hy spog met nege ander boeke wat hy onder ’n skuilnaam gepubliseer het. Van der Merwe gesels oor skryf, Frankryk en hierdie tweede boek in die George Ekermans-reeks.

Die Van der Merwe-egpaar woon in die Franse wyn- en sjampanjestreek, die plattelandse dorpie, Fayl-Billot. (Foto: verskaf)

Die harde werklikheid

Van der Merwe vertel dat Ontvoer twee jaar geneem het om te skryf. Die idee van die storie het ontwikkel uit ’n visie van ’n meisie wat weghardloop van ’n vulstasie af. Die speurelement was iets so reg in George Ekermans se kraal. Ons het George Ekermans in Die geheim van Mussolini se kaart leer ken.

Die relevansie van die boek kan nie ontduik word nie, die elemente van mensehandel, kriminele aktiwiteite, korrupsie en tragedie is werklikheid. “Dit gaan oor dinge wat gebeur. Dit is tragies, want niemand gaan hierdie kinders soek nie,” sê die skrywer.

Karakters en die storielyn

Die karakterisering is subtiel, dog beslis en laat jou tot aan die einde wonder oor watter pad hulle gaan loop. Die skrywer laat die leser die antagoniste se eie storie ook beter verstaan.

“Die leser moet die antagonis verstaan, waarom hulle die dinge doen wat hulle doen en dalk nie eens besef dat dit wat hulle doen, verkeerd is nie,” sê Van der Merwe wanneer ons gesels oor die karakters: die goeies, ons oud-polisieman met al sy emosionele bagasie, én die slegte ouens.

Van der Merwe sê: “Iets dryf hulle, jy besluit tog nie net een dag om sleg te wees nie.”

Die storielyn is heerlik spannend met ’n goeie dosis geheimhouding wat jou laat naels byt, ’n liefdesdriehoek en ’n cliffhanger teen die einde. 

Die lekkerte van skryf

Van der Merwe sê: “Ek is afgetree en dit voel asof ek nou my droomlewe leef; ek kan skryf, reis en gholf speel.” Hy vertel van ’n periode waar hy nie geskryf het nie en net vertaalwerk gedoen het. “Ek sal dit nooit weer doen nie; dit is net lekkerder om dit self te skryf.”

“Die atmosfeer van ’n plek spreek tot my,” sê hy wanneer ons gesels oor inspirasie. “Van daar af werk ek.” Hy vertel dat foto’s en beelde ook bydra tot sy kreatiewe inspirasie. “Ek het ’n manier om goed, plekke, die ligging en atmosfeer te onthou.”

As ’n skrywer met 13 gepubliseerde boeke het hy beslis al naam gemaak, alhoewel hy homself eerder as ’n verteller beskou. “Ek vertel stories. Mense en dit wat hulle laat tick, wat in iemand se kop aangaan, interesseer my.”

Dit is vir hom lekker om as skrywer iets nuuts te skep.

Wat van gholf; wat is sy voorgee? Hy vertel laggend dat tyd en ouderdom nou teen hom tel en sy voorgee nie meer 11 is soos vroeër jare nie. Nou is dit eerder nader aan 19.

........
“Skryf is dissipline,” sê Van der Merwe, “jy moet maar tyd opsy sit, fokus, aanhou en dit net doen. Jy gaan nie weet of dit goed genoeg is as jy dit nie klaarmaak nie.” Vir hom is die lekkerte van skryf in die kreatiewe proses.
........

Die Van der Merwe-egpaar het ’n “oulike plekkie in ’n Franse wyn- en sjampanjestreek, die plattelandse dorpie, Fayl-Billot” gekoop en wanneer hulle nie daar of in Suid-Afrika is nie, lê hulle besoek af aan hulle drie kinders wat in die buiteland woon. “Daar is min om te doen in die dorpie; dit gee tyd vir skryf.” Sy skryfplekkie in Frankryk is op die stoep met ’n koppie koffie. “Ek skuif binnetoe wanneer dit te warm raak.” Hy vertel dat die Franse lief is vir eet en jy tafels vol mense, familie en vriende sal sien saam eet.

Constant van der Merwe se skryfplekkie in Frankryk is op die stoep met ’n koppie koffie. (Foto: verskaf)

“Skryf is dissipline,” sê Van der Merwe, “jy moet maar tyd opsy sit, fokus, aanhou en dit net doen. Jy gaan nie weet of dit goed genoeg is as jy dit nie klaarmaak nie.” Vir hom is die lekkerte van skryf in die kreatiewe proses. Hy verduidelik dat sy manier van skryf die karakters hul eie loop laat neem en hulle verras hom dikwels. “Twists kom mettertyd by en dinge verloop nie altyd so soos beplan nie.”

Van der Merwe se eie skryfloopbaan het begin met ’n kortverhaal wat destyds in die Sarie-tydskrif verskyn het. Sy raad aan beginnerskrywers is dat dit ’n goeie idee is om eers ’n kortverhaal of twee te skryf voordat jy ’n boek aanpak. “Maar doen dit net!”

Om ’n mentor te wees vir nuwe skrywers is iets wat hy graag sou wou doen en sê nuwe skrywers het leiding, selfvertroue en ondervinding nodig. Dit is ook belangrik om eerlike terugvoer op jou werk te kry. “Jy het kommentaar en nie-afbrekende kritiek nodig.”

Vir hom is sy broer se terugvoer van groot waarde tot sy skryfproses.

“As jy ’n kreatiewe urge het, moet jy net tyd opsy sit en dit doen en as jy vashaak, sit daar en wag tot dit oorgaan. Probeer net en onthou die ergste wat kan gebeur, is om ’n nee te kry.” 

Die storie moet jou gryp

Hy beskou homself as ’n ontvanklike leser, maar hy het nie tyd vir fraiings nie. Hy sal maklik ’n boek neersit as dit hom nie na 20 bladsye geboei het nie

 “Die storie moet my gryp; dit moet ’n verloop hê, iets om oor te wonder. Ek moet wil weet wat gaan gebeur,” verduidelik hy. “Fancy skryf help nie as jy nie die leser se aandag vang nie. Lang beskrywings irriteer ’n mens as die storie nie vorder nie.”

Van der Merwe skroom nie om ander skrywers te prys vir hulle werk nie, maar verklap ook dat daar wel ’n paar skrywers is wie se werk hy nie lees nie. “Ek het onlangs ’n boek van Chanette Paul gelees; sy kán skryf.”

As student het hy Wilbur Smith gelees, maar is ’n groot Deon Meyer-aanhanger. “Sy plots is goed.” Hy is ook beïndruk met die misdaadskrywer, Michael Connelly, se werk.

Daar is talle kreatiewe mense in Constant van der Merwe se familie. Sy dogter, Almini van der Merwe, woon in Switserland en het pas haar eerste Engelse roman gepubliseer. Sy seun, Bernard, dig in Engels en sy broer, Quintus van der Merwe, is ’n oud-diplomaat en skrywer. Prévot van der Merwe, sy oorlede broer, was ’n professor in Opvoedkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n Afrikaanse digter en skrywer van jeugverhale.

Ten slotte

Constant van der Merwe is ’n beskeie skrywer, ’n positiewe mens en hy gesels maklik oor ’n stomende koppie koffie. Hy droom daarvan om Ontvoer as ’n film op TV te sien sodat “dié wat nie lees nie, ook die storie kan sien”.

Vir hom is sy verhouding met sy redakteur en uitgewers van kardinale belang. “Hulle is dikwels die verskil wat ’n storie laat werk,” skerts hy.

Wanneer hy nie skryf nie, geniet hy tyd saam met sy vrou en sê graag “die lewe is ’n lied”.

Op die vraag of daar ’n opvolg gaan wees vir Ontvoer, glimlag hy skalks en sê: “Jy weet nooit.”

Lees ook:

Ontvoer deur Constant van der Merwe: ’n resensie

 

  • 1

Kommentaar

  • Marinda Kotzé

    Kon nie die boek neersit nie, behalwe as ek moes slaap in die nag. Het Constant in Exclusive Books in Somerset-Wes raakgeloop. Was baie beïndruk met hierdie bedagsame man.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top