
Ontvoer deur Constant van der Merwe (Queillerie)
Titel: Ontvoer
Skrywer: Constant van der Merwe
Uitgewer: Queillerie, 2025
ISBN: 9780795802881
Epub ISBN: 9780795802898
Ek is mal oor krimi’s en kan amper nie glo ek het Constant se vorige boek, Die geheim van Mussolini se kaart, misgeloop nie. Die storie van die polisieman George Ekermans en Elena en sy goeie speurvernuf begin al daar.
In Ontvoer sien (nou eks)polisieman George hoe ’n meisie in ’n bakkie ingedwing word en hy sit die voertuig agterna. Die ontvoerder en die meisie ontglip hom egter en al leidraad is ’n eienaardige goue hangertjie wat die meisie laat val het. Daarin lê baie meer opgesluit as wat hy kon besef het.
George het ’n lelike hou oor die kop en ’n gebreekte agterruit. Die vrou by die garagekafee weet kamstig van niks en hy loop hom gou vas teen die klein dorpie se polisiemanne en maak ook sommer gou vyande met die polisiehoof. Niemand wil sy storie glo nie.
Wanneer George in sy soeke na die meisie te naby aan die waarheid kom, word sy eie lewe in gevaar gestel, maar ook dié van die vrou in sy lewe met wie die verhouding juis op ’n mespunt staan. Elena begin haar besluit om aan George se sy te wees, betwyfel en dinge is maar wankelrig. En dan is daar die jong Carla, wat net wil help, maar van wie Elana glad nie hou nie. Boonop vind Elana uit oor George se afdanking uit die polisie en dinge is nóg strammer tussen hulle.
Voor George besef waarin hy hom bevind, is hy ook ’n moordverdagte. En die mans met wie hy deurmekaar is, stuit nie om mense te laat verdwyn nie.
Sal hy agter die waarheid kan kom en die meisie uit die kloue van ’n bose netwerk kan red voordat dit te laat is?
Ek lees op NB-Uitgewers se webwerf dat Constant in Port Elizabeth gebore is en sielkunde en teologie aan UPE (nou NMU), Unisa en Stellenbosch-universiteit studeer het. Na sy studies werk hy as kapelaan in die vloot, as TV-regisseur in Johannesburg en as predikant in die Noord-Kaap en Wes-Kaap.
Hy verdeel tans sy tyd tussen Suid-Afrika en Frankryk. Ontvoer is sy vierde roman. Hy debuteer in 1989 met Sinagoge van die Satan en skryf ook vir Die modelsuster.
.......
Dit voel vir my asof al sy lewenservaring die inhoud van die boek net soveel meer diepte gee. Hy skryf met selfvertroue, gee sy karakters persoonlikheid, en die storielyn is fyn en slim. Dis amper asof jy na ’n lekker reeks op jou gunstelingstroomdienste kyk, so visueel is sy skryfstyl.
.......
Wat ’n lekkerte dat iemand met so ’n wye studie- en ervaringsveld hom toe na misdaadromans wend. Dit voel vir my asof al sy lewenservaring die inhoud van die boek net soveel meer diepte gee. Hy skryf met selfvertroue, gee sy karakters persoonlikheid, en die storielyn is fyn en slim. Dis amper asof jy na ’n lekker reeks op jou gunstelingstroomdienste kyk, so visueel is sy skryfstyl.
Dit voel asof die karakters al lankal aan die leser bekend is, omdat daar soveel meer aan hulle geskryf is as wat mens gewoond is met baie ander soortgelyke boeke.
Ek geniet ook die kleindorpie-agtergrond wat die skrywer in Ontvoer gebruik. Ek is mal oor die Suid-Kaap en het vir jare op klein dorpies as verslaggewer gewerk. Ek weet presies hoe klein en koud dit kan wees as jy iemand verkeerd opvryf – veral as dit ’n gesaghebbende inwoner van die dorp is.
Aan die ander kant is die lekkerte van klein dorpies dat mense graag gesels en vertrou, en dis hoe George vinniger vorder met sy ondersoek as lid van die publiek as wat hy dalk deur amptelike kanale sou kon gedoen het.
Die klein dorpie word ook gou heeltemal te klein vir die skuldiges en die weerloses en die polisieman se sterk snuffelvermoë. Daar is nie plek om weg te kruip soos in die groot stad nie.
Die kinkel in die verhaal van hoekom die meisie probeer wegkom het, is goed uiteengesit en baie geloofwaardig en mens kan jou maklik indink dat dit heel moontlik op baie klein dorpies gebeur. Mense is desperaat vir geld en mooi beloftes is dikwels al wat nodig is om alle sin oorboord te gooi.
Ek was regtig jammer toe ek die laaste bladsy omblaai. Dis die tipe storie waaraan ek beslis nog ’n 100 of 200 bladsye sou kon lees.
Die boek staan ook heeltemal op sy eie bene en daar word geen leesgenot ingeboet omdat ek nie Die geheim van Mussolini se kaart gelees het nie. Beslis aan te beveel. Ek kan nie wag vir die volgende verhaal uit hierdie skrywer se pen nie.