Maalkolk en Breekpunt deur Marie Lotz: ’n resensie

  • 1

Maalkolk deur Marie Lotz (Human & Rousseau, 2023) en Breekpunt deur Marie Lotz (Penguin Random House, 2024)

Titel: Maalkolk
Skrywer: Marie Lotz
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184007

Titel: Breekpunt
Skrywer: Marie Lotz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380794

Die mensdom vind aanklank by stories. Daarom skep ons fiktiewe narratiewe, en verewig dit deur die geskrewe woord of deur mondelinge oorvertellings. Deur die eeue was die verskynsel onderworpe aan verskeie studies. Die struktuur, inhoud en temas daarvan is indringend ondersoek en vergelyk, en een van die bekendste samevattings hiervan is te vinde in Joseph Campbell se The hero’s journey (Harper Collins, 1990).

’n Verkorte en vereenvoudigde weergawe hiervan is die stelling dat alle avontuurverhale ’n sentrale patroon volg: Die held moet sy bekende ruimte verlaat wanneer avontuur hom roep. Hy leer waardevolle lesse, dikwels met behulp van ’n mentor, moet minstens een toets deurstaan, en dan sy nuutgevonde kennis aanwend om die grand finale te oorleef voordat hy triomfantelik na sy gekose gemeenskap terugkeer.

Speurfiksie volg ’n soortgelyke struktuur. Die held is dikwels die hoofondersoeker, en hy word in beide sy persoonlike en sy professionele hoedanigheid aan die leser bekendgestel. Avontuur meld hom aan in die gedaante van ’n saak of raaisel, gewoonlik ’n moord of twee, wat opgelos moet word. Tydens die ontrafelingsproses verwaarloos die held sy persoonlike lewe, maak gebruik van kundiges om hom by te staan, ontwikkel teorieë en bekom inligting, moet struikelblokke, dikwels gemasker as vals leidrade, oorkom, voordat hy die moordenaar in ’n spanningsvolle klimaks moet ontmasker en oorwin.

Kaptein Alek Strauss het in 2021 sy verskyning in die wêreld van die Afrikaanse krimikorps gemaak (Roofdier, Human & Rousseau). Marie Lotz, sy skepper, het daarmee ’n gefolterde siel as held geskep, maar, anders as Michael Connelly se Harry Bosch en Jo Nesbo se Harry Hole, is dit nie alkohol wat sy versteekte achilleshiel is nie, maar wel seks, nes die geval is met Rudie van Rensburg se Carl Bester.

........
Dis gemene saak dat ’n gebrek aan kundigheid tans die SAPD se ondersoek van kriminele sake kniehalter. Die realiteit is dat die uitslae van bloedalkoholtoetse, dwelmontledings, DNS- en vingerafdrukvergelykings, ballistiese toetse, toksikologie, en dies meer maande, en selfs jare kan neem. Dit konfronteer ’n skrywer met ’n dilemma: Sou die werklikheid in die teks nagevolg word, sal daar geen sprake van ’n volgehoue spanningslyn kon wees nie.
........

Strauss is ’n lid van die fiktiewe Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid (FSO) en beklee die rang van kaptein. Die skep van ’n fiktiewe ondersoekeenheid is ’n suksesvolle aanwending van artistieke vryheid ter wille van die verbetering van die roman. Dis gemene saak dat ’n gebrek aan kundigheid tans die SAPD se ondersoek van kriminele sake kniehalter. Die realiteit is dat die uitslae van bloedalkoholtoetse, dwelmontledings, DNS- en vingerafdrukvergelykings, ballistiese toetse, toksikologie, en dies meer maande, en selfs jare kan neem. Dit konfronteer ’n skrywer met ’n dilemma: Sou die werklikheid in die teks nagevolg word, sal daar geen sprake van ’n volgehoue spanningslyn kon wees nie.

Daar is verskeie moontlikhede om hierdie slaggat van burokratiese rompslomp te systap, en die skep van ’n fiktiewe eenheid wat oor sy eie kundiges beskik, is een daarvan.

In 2022 maak Strauss sy terugkeer in Polsslag en in 2023 in Maalkolk. Laasgenoemde roman bevestig Lotz se gewildheid as skrywer en haar vermoë om kinematografiese tonele te skryf, en word beloon met ’n plek op die kortlys vir die kykNET-Rapport Herman Bingle-prys. Hierdie roman draai nie doekies om wat grieselrige moorde betref nie: ’n Bejaarde man word in sy motorhuis met ’n jaggeweer tereggestel; ’n jong vrou se verminkte liggaam word opgehang aan ’n boomtak in die Magaliesberg gevind; en ’n tienermeisie sterf wanneer ’n pyl uit ’n kragtige kruisboog haar keel op ’n strand naby Port Edward deurboor.

Die leser is van meet af aan bekend met sekere kenmerke van die ontwykende moordenaar: Hy dra ’n pet, is vaardig met ’n kruisboog, en het ’n sigbare litteken in sy gesig. Sy identiteit, asook sy motivering en beplanning, bly egter in duisternis gehul, analoog aan Nesbo se Killing moon (Harvell Sicker, 2023). Strauss verdiep en ontwikkel van die voormalige seksverslaafde chauvinis tot ’n volwaardige, veelvlakkige karakter wat empatie by die leser ontlok. Hy word soveel meer as ’n knap ondersoeker met ’n rokjagterreputasie – hy is nou ook pa, seun, broer, vriend en mens. Vilakazi, Patel en Mabuza se karakters word eweneens baie persoonlik geskets: Hulle is nie bloot randkarakters in ’n sepie nie; hulle is outentiek, oortuigend en geloofwaardig.

In 2024 maak Strauss sy vierde literêre buiging in Breekpunt. Getrou aan die titel daarvan torring hierdie roman aan die kohesiekrag wat die emosionele en geestelike stabiliteit van verskeie karakters beheer, deur hulle kapasiteit vir trauma tot die uiterste – tot breekpunt – te beproef. Strauss en sy FSO-kollegas word gekonfronteer met minstens drie afsonderlike uitdagings. Op die oog af is daar geen verband nie, maar fyn kyk ontbloot die gemene deler: die verlies van ’n kind – die een ding wat enige ouer verby breekpunt kan dryf.

Ses jaar gelede het twee jong meisies verdwyn. Die persoon wat skuld beken het, is agter tralies. Maar nou het daar weer twee meisies verdwyn, en sterk ooreenkomste met die eerste saak is teenwoordig. Terselfdertyd maai iemand kindermoordenaars voor die voet af en laat slegs ’n skoenspoor, as simbool van minagting, op die lyke se rugkante. En ’n bedroefde ma beraam haar eie wraakplanne.

.......
Die roman ondersoek die psige van ’n kindermoordenaar, die motiverings en gevolge van vigilantisme, en die dreigende tweespalt tussen die reg en regverdigheid. Strauss se medekarakters, veral Vilakazi, se interne wroegings en uiteindelike keuses herinner aan James Truslow Adams se gevleuelde waarskuwingswoorde: “There is so much good in the worst of us, and so much bad in the best of us, that it ill behooves any of us to find fault with the rest of us.”
.......

Die roman word, en tereg, as ’n spanningsriller bemark, maar die subtiele satire en sosiale kommentaar aangaande die tipiese voorstedelike leefwyse moet nie misgekyk word nie. Bladsye 118–23 verskaf heelwat binnepret, en ek moet bely, as daardie vrou nie self in die swembad geval nie, het ek haar ingestamp.

Die formaat skep ’n denkbeeldige sirkel: Die openingsbladsye beskryf ’n uiters plofbare situasie, maar draai dan terug na twaalf dae vroeër, en voltooi op bladsy 282 die sirkel deur weer by die eerste hoofstuk aan te sluit. Dieselfde tegniek is ook in Polsslag met welslae aangewend.

Die roman ondersoek die psige van ’n kindermoordenaar, die motiverings en gevolge van vigilantisme, en die dreigende tweespalt tussen die reg en regverdigheid. Strauss se medekarakters, veral Vilakazi, se interne wroegings en uiteindelike keuses herinner aan James Truslow Adams se gevleuelde waarskuwingswoorde: “There is so much good in the worst of us, and so much bad in the best of us, that it ill behooves any of us to find fault with the rest of us.”

Lotz het reeds met haar debuut gekies om regstegniese aspekte as deel van die teks in te sluit. Dis ’n toenemende verskynsel by Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat waarskynlik ’n indruk van oortuigende kennis en geloofwaardigheid by die leser skep, mits dit korrek toegepas word. En juis hierin lê die slagyster dreigend en grynslag, want die risiko van foute neem toe in verhouding tot die volume van ingeslote vakkundige besonderhede.

Daar moet natuurlik onderskeid getref word tussen die fiktiewe verwerking van die werklikheid ter wille van die roman, waarvan Chanette Paul se Murasie (Lapa, 2022) ’n goeie voorbeeld is ten opsigte van geografiese en geskiedkundige feite, die verkorting van ’n andersins uitgerekte en langdradige regsproses wat tegnies dus onvolledig is, maar, weer eens ter wille van die roman, heeltemal aanvaarbaar is, met PJO Jonker se Die onsigbare (Tafelberg, 2024) en Lucia Prinsloo se Solank as die aarde (Lapa, 2024) as voorbeelde ten opsigte van die strafprosesreg, en werklike feitefoute. Laasgenoemde is die olifant in die vertrek wat aangespreek moet word.

“Die FSO word bestuur ingevolge die Wet op Nasionale Vervolgingsgesag, no 32 van 1998” (Polsslag, bladsy 13). Die fiktiewe eenheid is derhalwe ’n statutêre liggaam ingevolge ’n werklike wet, en is dienooreenkomstig onderworpe aan die Strafproseswet, 51 van 1977, en dis juis hier waar fiksie en foutiewe feite vir mekaar begin tande wys in Breekpunt. Op bladsy 47 doen twee lede aansoek om ’n artikel 205-subpoena teen ’n verdagte om deursoeking van sy eiendom (52–3) te magtig. Die vermelde subpoena is ’n werklike stuk gereedskap ingevolge die Strafproseswet – maar word in die teks foutiewelik aangewend, aangesien die artikel nie vir visentering voorsiening maak nie, slegs vir ondervraging, en/of die voorlegging van dokumentasie. ’n Visenteringslasbrief (J51) word benodig vir die deursoeking van eiendom, en die wetlike aspekte daarvan word gereguleer deur artikel 21 van die Strafproseswet, nie artikel 205 nie.

Op bladsy 47 word dié stelling gemaak: “Dis die fokop van ’n verdagte ondervra sonder ’n subpoena.” Die tipe subpoena word weliswaar nie vermeld nie, maar die enigste relevante artikel in die Strafproseswet wat wel voorsiening maak vir die ondervraging van ’n persoon buite die strafverhoor, is dieselfde artikel 205. Dis egter nie korrek dat dit ondervragingsmagte aan ’n ondersoeker verleen nie – die persoon word gedagvaar om vir ondervraging voor ’n landdros of regter te verskyn, nie by ’n polisiekantoor soos wat op bladsye 163 en 177–80 plaasvind nie. Die ondervraging mag ook slegs deur die direkteur van openbare vervolgings of ’n staatsaanklaer wat skriftelik daartoe gemagtig is, geskied, nie deur lede van die ondersoekspan nie, en is van toepassing op getuies, nie verdagtes wat ’n swygreg mag uitoefen nie.

........
Die eerste vraag wat hieruit voortspruit, is natuurlik in watter mate, indien enigsins, die tegniese gebreke afbreuk doen aan die vermaaklikheidswaarde en outentisiteit van die roman. As op algemene gewildheid op sosiale media staatgemaak word, blyk die antwoord eenvoudig te wees: Dit maak weinig verskil, indien enige.
.........

Die titel van die hoof van die vervolgingsgesag is, ingevolge die vermelde wet 32 van 1998, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, nie “die direkteur van nasionale vervolging” (75) nie. Toegegee, die roman is fiksie, met die doel om te vermaak, eerder as om onderrig te verskaf. Maar as tegniese besonderhede aangaande werklike wetgewing by die teks ingesluit word, moet dit korrek gedoen word.

Die eerste vraag wat hieruit voortspruit, is natuurlik in watter mate, indien enigsins, die tegniese gebreke afbreuk doen aan die vermaaklikheidswaarde en outentisiteit van die roman. As op algemene gewildheid op sosiale media staatgemaak word, blyk die antwoord eenvoudig te wees: Dit maak weinig verskil, indien enige. Vir die meerderheid lesers sal dit waarskynlik óf ongesiens verbygaan, óf nie as ’n noemenswaardige probleem geag word nie. Maar dit beteken nie dat dit nie in ’n kritiese resensie vermelding verdien nie.

Die tweede vraag hang egter nou hiermee saam: Hoeveel regstegniese besonderhede is noodsaaklik in ’n prosedurele roman? Is die risiko van foute, veral indien die manuskrip nie deur ’n kenner op die gebied nagegaan word voor publikasie nie, die insluiting daarvan werd?

Lotz is geensins die enigste skrywer in die genre wat hierdie soort besonderhede insluit nie. In Bloedsomer (Human & Rousseau, 2024) verwys Sidney Gilroy byvoorbeeld na die polisiedossier as die 3M-lêer en na die bewysstukregister as die SAP13, wat albei die korrekte benamings is, maar is dit, gemeet aan die paragraaf hier bo, nodig, en verbeter dit inderdaad die teks, oftewel, is dit positief bydraend tot die reis van die held?

Die laaste woord behoort aan die leser. Laat die oordeel deur die verkoopsyfers gevel word.

Lees ook:

Maalkolk: 'n onderhoud met Marie Lotz

Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk

Stefaans Coetzee in gesprek met Marie Lotz

Polsslag: ’n onderhoud met Marie Lotz

Die verkeerde vrou: ’n onderhoud met Irma Venter

Buit: ’n onderhoud met Dibi Breytenbach

 

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Vir my maak daardie gebreke beslis geen afbreuk aan 'n goeie storie nie. Dit help as jy iemand is wat niks van die dinge weet nie. Soos ek. Ma hoorie, hats off vir die resensie van jou. Ek sukkel om die krimi's te lees. Die gier moet my elke keer eers weer pak. En dit het my lanklaas gepak...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top