Titel: Breekpunt
Skrywer: Marie Lotz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380794
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Weet jy werklik wat jou breekpunt is? Dít is stof tot nadenke in Marie Lotz se nuwe misdaadroman, Breekpunt.
Kaptein Alek Strauss en sy span het in hierdie roman met kinderverdwynings te doen. Lotz was dapper en slim om kinderverdwynings die middelpunt van die span se ondersoek te maak, veral in die hedendaagse Suid-Afrika. Dink maar aan die verdwyning van Joslin Smith. Die hele land was op hol.
Onderskeie karakters kom voor hulle breekpunte te staan. Alek wat so hittete voor sy lus swig; Ilse wat haar skoonma se inmengery net tot op ’n punt kan vat; en Valerie, een van die vermiste meisies se ma’s, wat haar greep op die werklikheid verloor en nie meer tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Lotz maak dit interessant met ’n spanlid wat empatie teenoor ’n pa toon wat die gereg in sy eie hande neem nadat sy seun dood is.
Ek as leser het omtrent elke karakter duidelik gesien en gehoor. Almal behalwe Alek Strauss. By tye sukkel sy en Ilse se dialoog. “[H]oe ons ook al probeer om lewensveranderende oomblikke uit ons geheue te verban, daar sal altyd iets wees wat grepies daarvan terugroep.” Hier hoor ek die skrywer in plaas van die karakter. Hierdie tipe dialoog laat ook vir ou Alek jare ouer voorkom.
Dan is daar natuurlik Wilson Titus. Sy stem is so eie en gee sy karakter kleur. As hy praat, weet jy dis hy! Hy “convince, assume en sien definitely ’n possibility”.
........
Al kan Breekpunt op sy eie as ’n roman staan en al is al die bestanddele van ’n geslaagde misdaadroman teenwoordig, is daar hier en daar haakplekke.
........
Al kan Breekpunt op sy eie as ’n roman staan en al is al die bestanddele van ’n geslaagde misdaadroman teenwoordig, is daar hier en daar haakplekke.
Menige lesers wat besig was met die roman, het op sosiale media geskryf dit is ’n “naelbyter” en “laat jou die bladsye die een na die ander omblaai”. Vir my was die spanningslyn en konflik te min.
Die afloop laat die leser voel of hy iets gemis het. Dit kom voor asof daar eers later in die skryfproses besluit is wie die skuldige(s) moet wees. Ek het die spreekwoordelike broodkrummels gemis.
My brein het ook ’n verklaring vir die motief van die skuldige(s) gesoek. Daar is te vinnig oor gevee.
Wat Lotz egter suksesvol gedoen het, was navorsing. Die tronk, KwaZulu-Natalse omgewing en die antropologiese prosesse was lewensgetrou. Sy het die verhaal so naby moontlik aan die einde begin, wat dié leser se aandag geprikkel het.
As jy hou van ’n verhaal met klomp intriges wat bymekaarkom, sal jy Breekpunt geniet. Ek het wel die deeglike navorsing en die suiwer Afrikaans geniet. Dit sluit natuurlik Titus se very much convincing Engelse woorde ook in.
Lees ook:
Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend