Stefaans Coetzee in gesprek met Marie Lotz

  • 0

Jou eerste boek, Roofdier, was ʼn oombliklike blitsverkoper en die twee wat daarop volg, Polsslag en Maalkolk, nog beter. Waar kry jy jou idees vandaan?

Dankie, Stefaans. Ek moet sê, ek is aangenaam verras oor hoe goed lesers Roofdier ontvang het. Afrikaanse lesers lees misdaadfiksie lankal met dieselfde oop gemoed as die Engelse leser. Toe ek die trilogie begin skryf het, het ek al drie storielyne in my kop gehad; ek moes net besluit watter een ek as debuutroman sou aanbied. Roofdier was maar ʼn risiko. Dis ʼn boek wat grootliks deur die brute krag voortgedryf word en daar is heelwat grusaamheid in. Dit was myns insiens nie ʼn kontemporêre misdaadfiksie soos Polsslag nie.

My inspirasie kom nooit net van een plek af nie. Dis maar altyd ʼn kombinasie van indrukke wat in my onderbewussyn gaan lê het. ʼn Film wat ek êrens in my lewe gekyk het, ʼn boek, ʼn berig. Maar ek dink 80% kom van ware dokumentêre misdaadprogramme en -berigte af.

Hoeveel ure spandeer jy aan navorsing? En doen jy dit voor of ná die skryfproses?

Baie ure. Voor ek met die proloog/hoofstuk een begin, doen ek algemene navorsing oor die hoofscenario. Dan ook terwyl ek skryf. Interaksies tussen karakters en handelinge vereis altyd verdere navorsing.

Was dit moeilik om in die kop van 1) ʼn speurder en 2) ʼn man te kom ?

Nie soseer in die kop van ʼn speurder nie. Ek dink my agtergrond het dit dalk makliker gemaak. Ek het gereeld speurders gesien toe ek ʼn kind was, onbewustelik geobserveer en vandag eers besef ek waaroor baie dinge gegaan het as my pa oor sake gepraat het. Wat betref in die kop van ʼn man kom: Sedert ek in my vroeë twintigs was, lees ek misdaadfiksie. Manlike hoofkarakters het vir jare lank oorheers. Dit het die afgelope jare verander, met meer vroulike hoofkarakters as speurders. Ek glo al die boeke met manlike hoofkarakters wat ek gelees het, het die skryf van my eie karakter makliker gemaak. Wat wel vir my moeilik was, was om in die kop van ’n komplekse hoofkarakter soos Alek Strauss te kom. Die seksverslawing spruit direk voort uit sy agtergrond. Om dit te verstaan, moes ek navorsing doen en met werklike persone gesprek voer wat aan dié tipe verslawing ly. Dit het my laat besef dis nie noodwendig blote spulsheid nie. Dié verslawing is dikwels ʼn uitvloeisel van iets psigologies dieper wat pla in dié mense se lewe. Die verslawing is werklik; dit bestaan. En dit vernietig gesinne.

Alek het gegroei van ’n kondoom in sy sak na ʼn baba. Hoe voel jy oor die karakter se groei? Is daar nog plek vir groei?

Ek het die karakter doelbewus in Roofdier so geskryf met die doel om hom oor die volgende twee boeke te laat groei. Nie net as persoon nie, maar ook in sy beroep. Ek glo daar is beslis nog ruimte vir groei. Dis tog realisties. Ons almal groei – verbeter onsself as mense – tot die dag dat ons ons kop neerlê. Dit beteken egter nie Strauss gaan nie in die toekoms weer struikel nie. Want dis nie hoe verslawing, óf die lewe, werk nie. Daar sal beslis terugslae ook wees.

Jou boeke is vir my filmrealisties. Selfs Jonathan Amid eindig sy resensie met die versoek: “Komaan, Netflix, komaan, kykNET, dis tyd vir ’n Alek Strauss-televisiereeks.” Skryf jy jou boeke met ʼn draaiboek in gedagte?

Glad nie. Ek dink dit sal my kreatiwiteit inkort as ek moet sit en nadink of ʼn toneel gaan werk as dit verfilm word. ʼn Mens moet dit oorlaat aan die draaiboekskrywer en filmmaker. As skrywer het ek my skeppendheid ingespan op die manier wat ek dit die beste kan doen. Die filmmaker en draaiboekskrywer gaan dieselfde doen. Dis hulle gebied van kundigheid. Ek besef ook daar moet meestal aanpassings gemaak word om ʼn film te laat werk.

Som asseblief vir lesers Maalkolk in drie sinne op.

ʼn Moordenaar met ʼn vendetta. Drie uiteenlopende moorde wat skynbaar met mekaar verband hou. Die vraag is: Hoekom teiken die moordenaar die FSO se ondersoekspan?

Al jou titels is agt letters. Kies jy dit doelbewus?

Met Roofdier sou die titel Visier gewees het. Omdat die boek so deur brute krag gedrewe is, het ek in ʼn stadium van die skryfproses besluit ek wil iets sterkers gebruik en toe met Roofdier vorendag gekom. Dit was so ʼn eenvoudige titel, maar vir hierdie boek was dit perfek. Toe ek Polsslag begin skryf het, het die titel na vore gekom uit een van die karakters se dialoog. Eers daarna het ek besef dis óók agt letters. Met Maalkolk het ek toe doelbewus nog ʼn agtlettertitel gesoek. Dié titel het eweneens voortgespruit uit een van die karakters – Nadiya Patel – se gedagtes.

Met al drie jou boeke op die topverkoperslys wil al ons lesers weet: Wat is volgende vir Marie Lotz?

Ek het ʼn kontrak met Penguin Random House geteken om vir hulle vier boeke in die FSO-reeks te lewer. Vanaf 2024 tot 2027 sal daar dus een per jaar verskyn. Alek Strauss, én ʼn paar ander karakters, se storie is nog lank nie klaar vertel nie.

As ek dit kan vermag, sal ek ook graag met ʼn sielkundige riller wil begin. Ek hoop om in 2024 daarby uit te kom.

  • Beeldmateriaal deur NB en J0a70 (Pixabay)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top