Klein konings deur Theo Kemp "’n leeservaring uit die boonste rak"

  • 0

Klein konings
Theo Kemp
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316008 

Nie alle romans se uitgangspunt klink sexy nie. Daarom het ek lankal ophou agterplatte lees. Die teks self moet my aan die nekhare beetkry, en hoe vroeër hoe beter. Hierdie roman begin redelik vervreemdend: “‘Ons moet transformasie saam met nasiebou bespoedig,’ sê die minister van sport, kuns en kultuur.” Die premis of gegewe is redelik onprikkelend: Twee jongerige Suid-Afrikaners, een swart en een wit, word deur ’n minister opdrag gegee om die land se monumente en standbeelde te dokumenteer. Bakens wat uitgedien is en waarvan die nuwe bedeling, wat ook al 35 jaar oud is, moontlik ontslae moet raak.

........
Maar wag tot die karakters jou verbeelding aangryp.
........

Maar wag tot die karakters jou verbeelding aangryp. Pixley is uit die Zoeloe-adelstand, soos baie Suid-Afrikaners. Joubert reken hy is van sy oergrootmoeder se kant verwant aan generaal Joubert. Dis dus ’n Bloedrivier-situasie. Wedersydse wantroue. Maar iets breekbaar en wonderbaarlik gebeur: Die leser word daaraan herinner dat ’n mens jouself en jou ganse verlede saamneem op reis. Hoedat dit alles wat jy sien, kleur. Die twee ongemaklike reisgenote se demone het ook in die tas geklim en hulle spoke sit op die agtersitplek van die staatskar. En hoe eenders is ons almal, onder al die kultuur- en agtergrondsverskille.

Pixley het onlangs tot oor sy ore verlief geraak op Malaika, oftewel Memory, ’n meisie uit Nederland, van Rwandese afkoms. Sy huisves heelwat woede en sy is, soos hulle sê, ’n handvol. Sy pa was in die struggle en Pixley het sy posisie te danke aan sy pa se konneksie met Comrade, die minister. Joubert is eintlik ’n boekhouer en onseker waarom hy by hierdie projek betrek is. Hulle opdrag is redelik vaag: Hulle moet gaan soek na “[b]lote inligting oor waar die beelde staan, oor hoe Jan Rap en sy maat daaroor voel, of om te bepaal hoe hulle verwyder sal word”.

Bronsbeelde is immers min of meer onvernietigbaar, behalwe wanneer die arm afgesaag en gesmelt word vir dwelmgeld. Ek sal weet: ’n Skare Broeder-staatsmanne wat my pa in brons verewig het, staan op die heuwels van Orania.

Ons leer die hoofkarakters ken uit hulle binnestem en herinneringe. Pixley moet sy pa en sy hoogs suksesvolle jeugvriend, Bongani, beïndruk en Malaika se hand in die huwelik wen. Bongani is ’n blinkryk tenderpreneur, glad nie bo verdenking nie.

........
Ons leer die hoofkarakters ken uit hulle binnestem en herinneringe. 
........

Joubert se pa is ook een van sy wonde, soos die brandletsels aan sy arms. Sy pa was ’n bywoner. Op die plaas was Joubert en Danny, seun van die hoofopstal se huishulp, Rina, onafskeidbaar. Hulle het huis-huis gespeel in die skuur. Die een of ander tragedie het gebeur en sedertdien is Danny en Rina soek. Joubert sit met ’n helse lot skuld.

Die leser lees agter daardie raaisel aan, en agter die gekompliseerde dinamika tussen die karakters en die skisofrenie van ons mank republiek. Joubert is getroud met Alet, ’n medium wat van die huis af werk. Hy was ’n top atleet; hy lyk soos ’n rugbyspeler en hunker heimlik na mans, soos die rentboy Freddy van Zanzibar wat hy optel en oor wie hy hom, tot sy nadeel, begin ontferm.

Joubert se ma het met sy geboorte doodgebloei, en daaroor dra hy ook skuld. Pixley se ma was as jong verpleegster per ongeluk verantwoordelik vir die dood van ’n wit baba, en dit rý haar. Sy voel vervloek en gaan soek hulp by ’n sangoma. Pixley en Joubert se kulture verskil hemelsbreed, maar die magiese en bonatuurlike figureer sterk in beide. Joubert se pa het met ’n mikstok ondergrondse water aangewys. Sy vrou praat met die dooies om troos te bring aan die lewendes.

Pixley wil graag skryf. Tussen hoofstukke is kort stories, in ’n ander font, wat miskien uit sy pen of miskien uit Joubert s’n kom. Niks is oorbodig nie, alles kleur in. Kemp is ’n gebore storieverteller wat met groot ontsag met ander se geskiedenisse omgaan. Dit weet ek eerstehands. Hy het met my kom gesels en siedaar: Ek herken myself in een van die klein stories. Die beeldhouer se dogter wat uit die boom val. Dis versinsel, maar geheel en al in die gees van my kinderjare. Kemp is, soos Alet, ’n medium.

Joubert moes sy terminaal siek pa gaan haal om by hulle in die buitekamer te woon. Hy is verswak en hulpeloos en nou Alet se verantwoordelikheid, met Joubert wat die land deurkruis agter standbeelde en monumente aan.

........
Die verskillende stemme en die binnelandskappe oortuig absoluut. Die twee jongmans se reaksies op die monumente, wat amper uitsluitlik deur apartheidsleiers opgerig is, is uiteenlopend, uit die aard van die saak. Hulle verwysingsraamwerk en retoriek verskil. Hulle is die produk van die gedwonge verdeeldheid wat ons land gebrandmerk en uitgehol het.
........

Die verskillende stemme en die binnelandskappe oortuig absoluut. Die twee jongmans se reaksies op die monumente, wat amper uitsluitlik deur apartheidsleiers opgerig is, is uiteenlopend, uit die aard van die saak. Hulle verwysingsraamwerk en retoriek verskil. Hulle is die produk van die gedwonge verdeeldheid wat ons land gebrandmerk en uitgehol het.

Joubert se gevolgtrekking:

Eerbare Minister, daar hoef niks gedoen te word aan die beelde nie. Hulle vergaan vanself, soos die res van die land se staatsbesit. Die geskiedenis is ’n bruistablet, een wat die water ál valer kleur soos dit oplos.

Pixley dink by homself:

Langs die uitbeelding van die wittes se trauma en lyding moet ’n beeld opgerig word van die verarmde swart man. Die besteeldes wat in hulle eie land as diewe behandel word. Die straatkakkers, die staatskasplunderaars – almal sou anders wees as hulle nooit uitgelewer is aan die vergrype nie.

Die roman kriewel onder ’n mens se kraag en laat jou wonder, soos Pixley:

Waar is die monumente vir die juigende swart mans wat die Rooinekke met assegaaie in die koppies van Isandlwana deruboor? Al die beelde ná die val van apartheid is so oorvriendelik. Mak. Meestal Madiba met sy ope arms en breë glimlag … Kyk hoe omhels ons helde die nasie, kyk hoe vergewe ons ons skuldenaars, selfs hulle wat met moord weggekom het.

Die titel kom uit een van Bongani se uitsprake: “Boere hou nie van teenstand nie. Hulle wil voel soos konings – kléin konings, maar nogtans konings.” Dieselfde kan seker gesê word van Zoeloes, of mans, gis die feminis.

Kemp druk sy vinger in vele wonde. Die roman is ’n studie oor skuld. Hy laat die hoofkarakters se geskiedenis oopval soos die land s’n. ’n Land waar een se erfenis die ander se letsel is. Niks is eenvoudig nie. Antwoorde is daar nie. Dis die karakters wat jou bybly. Dis ’n leeservaring uit die boonste rak. 

Lees ook:

Boekbekendstelling van Theo Kemp se Klein konings

Klein konings: ’n onderhoud met Theo Kemp

"Oor monnemente gepraat", ’n resensie van Klein konings deur Theo Kemp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top