
...
Was monumente en standbeelde in die verlede die Wikipedia van vandag – rekordhouers van mense en prestasies?
...
Ek is vroegoggend in Stellenbosch vir Theo Kemp se boekbekendstelling van Klein Konings. Ek is egter op ’n mission. Ek wil in die begraafplaas inkom, maar die poorte na die hemel is toegesluit. Ek slaag wel daarin om verby die sekerheidswagte te sluip wat die Moederkerk op Stellenbosch se hekke bewaar.
Ek soek na Johannes Henoch Neethling se standbeeld. Ek wil vir Theo later daar laat poseer – amper soos ’n duif op die ou dominee se kop.
Die ironie van my soektog ontgaan my nie. In Theo se boek moet twee staatsamptenare in opdrag van “Die Minister” gaan soek na die land se standbeelde en ’n opname daarvan maak. Is ek, sonder dat ek weet, ’n karakter in sy boek?

Nog vrae kwel. Was monumente en standbeelde in die verlede die Wikipedia van vandag – rekordhouers van mense en prestasies? En wie het besluit hulle is belangrik genoeg om vir die nageslag bewaar te word?
Toe ek later ’n ou foto van die kerk se bouspan vind, staan daar langs die argitek en bouer se name – die voorman se naam het vergete geraak. Tipies. Die sogenaamde onbelangrikes is selde vasgelê in duur grafstene, monumente en beelde; hul grafte en foto’s naamloos.
Dan is daar ook dié kwessie – hoekom lyk alle standbeelde so bedonnerd?
Ná my recce van standbeelde, vind ek vir Theo waar hy half soekend drentel deur die duisende stoele wat in die Oude Leeskamer se galery uitgepak is (tagtig mense is verwag; ek is meegedeel ek sal moontlik moet staan en ek het reeds begin mik vir staanplek langs die kostafel).
Theo stop in sy spore toe hy my sien.
Blydskap? Skok?
“Erla, ek is bly jy is hier! Jy kan my sommer help kalm hou!” Hy is nie ernstig nie. Hy het al vir my gesê hy haat toesprake, maar is gemaklik om oor sy eie boek te praat en is dan nie “so donners selfbewus” nie.

Ook, toe ek wil weet of hy nie dink boekbekendstellings word net aan die lewe gehou deur skrywers se ego en gratis wyn nie, lag hy dit af. “Kom nou, Erla, van wanneer af is jy so skepties oor ’n goeie paartie? Ek hou daarvan om die lewe te vier, en ek dink ons mag maar trots wees op goed wat ons bereik. Om ’n boek te skryf – soos jy baie goed weet – is so ’n moeilike en eensame proses. So, hoekom dan nou nie die glasie lig en mekaar stip in die oë kyk nie?”
Vir die wis en die onwis gaan soek ek egter tog vir iets sterks sodat ek dan mense wel stip in die oë kan kyk. In die Oude Leeskamer se binnewerf vind ek ’n tafel gepak met ysemmers en glasbekers vol ystee waarin vrugte vrolik dryf. Orals staan mense rond met glasies tee, maar almal vermy die silwer bakke vol yskoue bottels wyn.
Hoe laat mag mens begin drink in Stellenbosch? Ek staan nog so en tob oor hierdie uiters kwellende vraag toe ’n oude dame in ’n wolk van Franse parfuum na die tafel aangesweef kom. Die hare mooi gedoen, elegant aangetrek, haar vel gevoed deur ’n vogroom wat goudblinkertjie skitter in die son. Sy wals sonder huiwering na die tafel en versoek ’n glasie rosé. Die bottel is skaars terug in die ysbak en die kelnerin se rug gedraai of ek gryp die bottel en gooi vir my ook in.
As sy kan, kan ek ook. In elk geval; in die land van Oude Dames is tyd vloeiend. Elke oomblik is drinktyd.
Stuk vir stuk daag verskeie rolspelers in die boekbedryf op. Daar is Theo se uitgewer by Protea, Nicol Stassen. “Theo het darem nie jou artikel nodig nie, hoor. Sy boek is klaar gewild genoeg,” spog hy. Ek is seker. Ek hoor net goeie goed.
Ek gaan sit langs Laetita Pople, kunsredakteur by Netwerk24, ’n wonderlike siel wat vreemd genoeg haar verskyning maak in my boek Swyg waar sy juis ’n Stellenbosse skrywer se boektentoonstelling bywoon. Digter en Woordfees-wondervrou Bibi Slippers kom ingewals met pienk tekkies – ’n pragtige woorde-fee wat my altyd betower.

Fourie Botha, voormalige fiksie-uitgewer van Penguin/Random House, is senuagtig. Hy moet die gesprek lei, het sinustablette geneem en voel – volgens hom – anderswêrelds. Tog voer hy later ’n briljante gesprek – sonder om op die papier vrae in sy hand te kyk.

Annie Olivier, uitgewershoof van NB Uitgewers (of seker nou Jonathan Ball) vertel later dat sy en Theo dertig jaar gelede saam klas gedraf het by die Wilcocks-gebou.
En so van die Wilcocks gepraat – soos die standbeelde, is die name van geboue ook gedurig ’n steen des aanstoots vir Ministers en kie.
Theo filosofeer:
“Kyk, ek het in die pasgebore demokrasie van 1995 vir die eerste keer in die BJ Vorster-gebou as eerstejaartjie ingestap. Nou kan jy jouself voorstel wat ’n klomp simpel studente met daai naam kon maak ... Maar vir ander was dit nie grappies nie. Dit was wel ’n naam wat seergemaak het en wat daarom verander moes word. Naamsverandering is ’n moeilike kwessie en dit is nie ’n swart of wit (pun intended) antwoord nie. Ek dink mense moet meer met mekaar praat oor wat dit is wat regtig pla. Wat is dit wat regtig seer maak? Ons almal weet die seer en woede is op veel dieper vlakke. As ons nie dit gaan aanspreek nie, kan elke generasie name verander net soos ons wil, sonder om ooit regtig te versoen. Vandag se koning bly dan maar net more se kroek, en draai ons bordjies vir mekaar om.”
Watter name sal hy vir die universiteit se geboue en koshuise gee, sou hy kon?
“Kloofnoors, Lanternbos, Kosmosplakkie, Skaalvlerk en Heuningbos. Ek kom pas uit die mooie Baviaanskloof, so ek is seker nog net bosbefok, maar ons land is so ongelooflik. Moet ons nie eerder onsself herinner aan die natuur se skoonheid as ons name wil gee nie?”
In die Oude Leeskamer kry die gesprek goed koers. Hy en Fourie praat oor standbeelde en kollektiewe skuld en ook oor sy karakters: die Afrikanerman Joubert en Pixley, wat Zoeloe-adel is en dink wit mense ruik soos chloor. Hy moes in albei se koppe inklim.
Dié boek was egter nie ’n maklike kalant nie. Gewapen met ’n blink idee, bravade en die gerusstelling van ’n M in kreatiewe skryfwerk het hy vinnig ’n eerste draft gereed gehad. Ditsem. Nou was hy ’n volwaardige skrywer wat die een boek ná die ander sou kon uitryg. Etienne van Heerden, staan eenkant toe.
Die leesverslag was egter verdoemend. Uiteindelik drop die pennie toe – hy was so ingestel op die standbeelde; hy het van die karakters vergeet.
“Toe ek dit eers besef, kon ek uiteindelik die karakters sien soos hulle ry deur die land. Pixley en Joubert het, soos ons almal, hul eie demone waarteen hulle baklei. Net soos met die standbeelde, is daar geheime en draaie in jou verlede, wat jy in die diepste temaparke van jou siel wil begrawe. Maar jy kan nie. Ons kan nie. Ons is verbind tot ons verlede, of ons dit wil weet of nie. En ons het net mekaar om ons vrese te besweer, en ons het net mekaar om getuies vir mekaar te wees.”
Die gesprek gaan draai later by fiksie en feite wat mekaar na-aap deurdat een van die Paul Kruger-standbeeld se boerekrygers se voet net ’n paar dae vantevore gevandaliseer en afgekap is.
Die voet het voete gekry.
“Dalk moet ek my volgende boek skryf oor hoe hulle vir die kryger se voet gaan soek,” merk Theo op.
Terwyl almal laggend opstaan en na die oorvol tafels kos stap, hou ek hulle dop – die luidrugtige, kleurvolle jong skrywers van Paulethuis, die intelligentsia, die kreatiewes, die pragmatiese pikantes wat parkering in die skaduwee gevind het, die groepie mooi vroue in hul pastelle, die een wat ’n bordjie aan stukke laat val en wegkyk toe ’n jong kelner dit optel, ou vriende wat Theo glimlaggend gelukwens, want hulle weet hoe lank die pad was tot hier; die twee mense wat hul servette vol kos laai en met ’n bottel wyn in die handsak wegstap …
Oorkant die stoep waar ons almal staan, hou Andrew Murray ons dop waar hy oor die Teologiese Gebou se tuin waak. Steeds met ons, al is hy in standbeeldvorm en dalk onwelkom in sekere kringe.
Dis toe ek terugdraai, weg van die stoep, dat ek haar sien: ’n ou tannie van laat in haar tagtigs. ’n Hawelose dalk? Sy is brandmaer. Oor haar halfmaanskouers hang die vormlose rok skeef. Haar een been is kaal. Maar aan die ander een dra sy ’n swart lyfkous. Terwyl ek wonder hoe op dese aarde dit werk, volg ek haar deur die gange van die Oude Leeskamer.
“Hallo, can I put a little plate together for you?” vra ek haar.
Haar aksent is suiwer Brits; die vokale rond soos warm skons in die mond. “No thank you dear, I am just looking around.”
Later sien ek haar wel, in die voorportaal, besig om fyntjies te knibbel aan iets, ’n grande dame op ’n teepartytjie.
Verlore, verlaat. Vergete. Een van vele sonder enige monument, al het hulle dalk een verdien.


Kommentaar
Lieflik, Erla!