kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Theo Kemp

  • 0

Theo Kemp beantwoord ’n paar van Naomi Meyer se vrae oor Strafjaart, waarvoor hy pas met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon is.

Theo, baie geluk met die Jan Rabie-Rapport-prys vir Strafjaart. Danie Marais verwys ook pertinent in sy commendatio daarna dat hierdie prys ook hulde bring aan Skool, jou eerste boek. En die rol en belang van faksie in die letterkunde. Skool het deel gevorm van jou akademiese navorsingsprojek. Hoe het Strafjaart oor jou pad gekom?

Baie dankie vir jou gelukwensing! Ek het soveel bewondering vir Jan Rabie as een van ons groot skrywers, en dit is vir my ’n ontsaglike eer om met ’n prys bekroon te word wat na hierdie reus in ons letterkunde vernoem is. Met Skool het ek berekend gewerk: Ek was vir ’n kort rukkie in die onderwys en ek wou met verbetenheid die skoolstelsel, en hoedat ons kinders in die steek gelaat word, ontbloot. Strafjaart het regtig na my toe gekom. Ek was besig om in modderpoele rond te plas op soek na onderwerpe om oor te skryf. Ek was tot in Nkandla besig om te kyk wat in die skaduwee aangaan van Nommer Een se gewraakte woning, tot ek besef het dat die onderwerp te ver is van my verwysingsraamwerk. In dieselfde tyd verneem ek van my familielid in Pollsmoor, en daar begin iets in my wakker word. Ek wou nooit die tronk as sulks ondersoek nie; ek wou eenvoudig ’n geliefde besoek, maar dit was so ’n ontsaglike ervaring, dat ek gewoon nie anders kon as om daaroor te skryf nie.

Skryf jy om ’n storie te vertel, om sin te maak, om narratief te besin, of om iets te ontbloot? Die skool en die tronk is inderwaarheid twee plofbare ruimtes in die samelewing. Sou jy nie só graag ’n verskil wou maak en die hele stelsel (in albei gevalle) wou verander nie? Hoe kry mens dit reg om aan te gaan met waarmee mens besig is, en net waar te neem en dit weer te gee? En ook: Wat het jy in die strafjaart ontdek? Iets van die tronk, of iets van jou? 

Ek skryf ongetwyfeld om sin te maak van die komplekse land waarin ons leef. Dit is my poging om iets te dokumenteer van die tyd waarin ons leef; ’n soort dagboek van wat op ’n gegewe tyd in my gemoed broei. Ek het met beide boeke ’n dringende behoefte daaraan gehad om te wys wat gebeur. Ek dink ’n skrywer, altans ek, behoort ’n soort fluitjieblaser te wees. Dit is vir my belangrik om die leser na plekke te neem waar daar nie gereeld rondgekrap word nie. Ek wil die inligting met die leser deel omdat ek dit nie vir myself kan hou nie. Natuurlik sou ek baie graag ’n verskil wou maak, maar die sistemiese verwaarlosing van beide die skool en die tronk is so gevorderd dat dit baie meer as my stem gaan verg. Ek hoop ek kan ’n verskil maak op ’n kleiner vlak – al is dit net dat lesers anders begin kyk en dink. Dit is bitter moeilik om al hierdie haglikhede, die vergrype, die onregte raak te sien, sorgvuldig neer te skryf, en dan weg te stap. Ek onthou destyds met Skool se skryf hoe ek geworstel het oor my etiese verpligting. Hoe vra jy vir iemand se storie wat nie kos op sy tafel het nie? Hoe skryf jy oor iemand in die gevangenis wat ontroosbaar verwerp is? Telkens ry ek terug na my veilige omgewing met ’n sak vol stories.

Ek het so baie dinge in die strafjaart ontdek dat dit bykans onmoontlik is om een of twee dinge uit te lig. Ek dink wat my die meeste bybly, is die vlak waarop die tronk ontwerp is om mense te verontmenslik; dat die tronk nie mense genees nie, juis omdat dit die reeds gestroopte individu ontneem van sy laaste greintjie menswaardigheid. Dit is een van die redes hoekom mense oor en oor weer terugspoel in die tronk. Ek het hier ontdek hoe sag my eie bevoorregting my maak. Ek sal nie kan oorleef in ’n plek soos Pollsmoor nie – vir daardie soort ontbering is my vel te dun. Jare terug het ek ’n tesis geskryf oor die digter as voyeur, en dit het ek nogmaals van myself besef. Ek is op my beste aan die skryf as ek met gespitste sintuie, so onopgemerk as moontlik, afloer.

Hoe vertel mens ’n hoogs persoonlike storie sonder dat dit net oor die eie verhaal handel? Maar ook, sodat dit interessant genoeg is dat dit bekroon word omdat dit so interessant lees – nie net as ’n blootlegging van feite nie, maar ook omdat dit iets van die ek verklap? Vertel van jou skryfproses?

Marlene van Niekerk het my destyds toe ek in haar kreatieweskryfklas was, geleer hoe ’n karakter ’n soort aftreksel van jouself kan word. Ek skryf alles eers neer presies hoe ek dit sien, met my eie emosies as deel van die aantekeninge. Dit is eers met die talle herskrywings wat daarna volg dat ek doelbewus begin wegskryf van die “ek” en begin om myself te laat lok deur die afdraaipaadjies en die belofte raaksien van karakters wat hande opsteek. Die beeld wat ek in my kop het, is dat ek ’n tafelblad skuur met feite en dan laag vir laag vernis met fiksie sodat daar op die ou end ’n deursigtige laag tussen die twee is.

Lees ook:

Strafjaart: ’n onderhoud met Theo Kemp

Strafjaart deur Theo Kemp: ’n resensie

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: wenners aangekondig

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top