Strafjaart deur Theo Kemp: ’n resensie

  • 0

Strafjaart
Theo Kemp

Penguin Random House
ISBN: 978-4859-0388-8

Theo Kemp se tweede roman, Strafjaart, verken ’n wêreld waarmee min van ons gekonfronteer word. Die roman se naïewe, veertigjarige naamlose protagonis-verteller word ’n voyeur in die gemarginaliseerde bestaan van tronkgevangenisse wanneer sy tante vir bedrog gearresteer word en sy ’n jaar in Pollsmoor deurbring. Sy besoeke aan sy pa se laatlamsuster, Lizette (50 en gay), lei tot selfverkenning en ’n begeerte om dieper in die mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse tronkstelsel te delf. Die verkenning van gemarginaliseerdes staan sentraal in die roman, met die uitbeelding van die kil Suid-Afrikaanse samelewing wat min empatie het teenoor diegene wat rehabilitasie werklik benodig. In hierdie opsig slaag Kemp daarin om, Dante-agtig, die leser deur die “onderbuurte van die samelewing” (88) te lei. En die leser moet hom vergewis van die feit dat Strafjaart fiksie is, nie niefiksie (of faksie) nie.

Struktureel bestaan die roman uit 19 hoofstukke. Elke hoofstuktitel verwys na ’n skeepswrak wat aan die Suid-Afrikaanse kus lê. Die hoofstuktitels word op twee vlakke funksioneel ingespan. Eerstens doen die protagonis-verteller ’n skripsie oor verdwene skeepswrakke aan die Suid-Afrikaanse kus. Na sy pa se verdwyning het hy ryk by sy ouma geërf, wat dié kwalifikasie ’n bygedagte maak. Hierdie gegewe dra by tot sy groeiende skuldgevoel en vrae oor sy plig teenoor homself en ander vanweë sy toenemende betrokkenheid in die lewens van mense wat deur die tronk beïnvloed is. Tweedens word die inligting oor die skeepswrakke naas gegewens in sy eie lewe gestel. Sy eie potensiaal as ’n vader (sy vrou is swanger met hulle eerste kind), sy huwelik, sy tante Lizette en ander karakters word simbolies met skeepswrakke vergelyk. Hoewel hy aanvanklik swartgallig voorkom, bring die verkenning van die samelewing se dieptes insig. Hierdie metafoor is met tye té op die voorgrond, wat die simboliek van die protagonis se selfverkenning effens clichéagtig laat voorkom. Hy besin byvoorbeeld daaroor dat hy “in mense belangstel soos in skepe wat verdwyn het en nooit ’n tweede kans gekry het nie” (164), en tydens ’n besoek aan ’n psigiater erken hy dat hy skepe as metafoor kan inspan (203).Tog is die beeld effektief in sy doel, maar dit is sy verhoudings met ander, meestal gemarginaliseerde karakters wat die leser boei.

Die karakterverhoudinge en die naamlose protagonis (moontlik ter wille van die universele soeke na die self?) se ywer om ’n waarheid oor homself (én die mensdom) te bekom, stu die verhaal voort. Die roman is ryk aan karakters wat teenoor mekaar staan ten opsigte van klas, ras en ideologie. Tydens sy besoeke aan Lizette in Pollsmoor knoop hy vriendskappe aan met ander wat meer direk deur die tronksisteem geraak is. Onder hulle is Edith, wat een seun in die tronk het en ’n ander wat uiteindelik ’n groter impak op sy eie lewe sou hê. So ook raak hy vriende met mense wat met rehabilitasieprogramme in die sisteem werk en woon hy ook self een so ‘n program by. Die Imbadu-program fokus op jong manlike gevangenes, waartydens kwessies soos manlikheid verken word. Waar is ons mans? Wat maak jou ’n man? Hier leer hy dat elkeen ’n plig teenoor die gemeenskap het en dat die gemeenskap vir sy eie mense moet sorg, maar nie weet hoe nie. Hoe dan gemaak? Deur “getuie” te staan vir mekaar se stories (155), want almal het ’n storie. So herinner die programleier hom: “Jy kan nie elkeen s’n vertel nie, maar jy kan wéét, jy kan maar wéét daar is ’n storie oor ’n pa. Óf jy is ’n pa wat jou kinders agterlaat, óf jy is agtergelaat deur jou pa” (220).

In Pollsmoor, kom hy agter, het die gevangenis ’n blywende effek op die tronkinwoners, hul families en die sisteem se werkgewers. Na ure kom besoekers, werkgewers en oudgevangenes by mekaar by die nabygeleë kroeg, ironies genoem Walk the line – ‘n aanduiding daarvan dat die tronkruimte afgeskud moet word, maar min daarin slaag. ’n Groeiende belangstelling in die tronksisteem en hoe dit die geaffekteerdes skend, laat hom dieper delf, maar sonder dat hy werklik weet waarom: “Ek kan myself nie weerhou om in die museum van verrotting en verwerking te kom loer nie. Die voyeur van die tronk” (164); “Dalk moes ek hierheen kom om gekonfronteer te word met die oeroue vraag wat ons dink ons weet: Wie is slagoffer, wie is sondebok? (184); “Ek krap rond op die bodem soos ’n wafferse duiker, op soek na dit wat ek nie kan raakvat nie” (250).

Assosiasies van gevangene wees word herhaaldelik aangewend om op die menigte verskille én ooreenkomste tussen binne en buite (vry en gevangene) te wys: Lizette is ’n gevangene, hy is vry; sy vrou voel vasgevang in haar eie lyf, hy voel vasgevang is sy familiegeskiedenis en angs (wat soos ’n “vloed” deur sy gesin loop” (80)); hy is ryk, ander is arm; ’n tronksisteem wat ’n plek van straf is, nie van herstel nie, teenoor ’n samelewing wat oudgevangenies verder verdryf. Sy verkenning van die grense lei daartoe dat dit “al moeiliker raak om te oordeel wat binne of buite is” (154).

Verwysings na ander tekste (onder meer van Frankl, Mandela, Hemingway, Tolstoi, Dostojewski) word as newetekste ingespan om eksistensiële en etiese kwessies in die tradisie van die literêre verkenning van die menslike stryd te plaas. Sy boesemvriendin, Esmarie, noem dat trauma ’n mens vatbaar maak vir boeke, “vir woorde, vir enige tekens van hoop” (26). Die roman bied ’n outentieke besinning van universele temas op plaaslike bodem en nestel homself daarmee snoesig in dié groter gesprek.

Die roman lees soos ’n klassieke soektogverhaal in drie bedrywe: die held word deur die onbekende gekonfronteer; die held durf die onbekende aan; die held verkry nuwe insig. Die grootste kritiek hier is dat die simboliese verkenning van hierdie onbekende met tye die plotontwikkeling oorheers.

Dit is maklik om te sien waarom Strafjaart, nes Kemp se debuutroman, Skool, weens die nadenke wat dit op verskeie vlakke veroorsaak, bespreek word.

Strafjaart is ’n ambisieuse hand om die keel en ’n geslaagde oefening in etiek, asook definitief die lees werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top