Strafjaart: ’n onderhoud met Theo Kemp

  • 0

Strafjaart
Theo Kemp
Penguin Random House Struik
ISBN: 9781485903888

Theo Kemp praat met Naomi Meyer oor sy boek Strafjaart, waarvan die eerste bekendstelling by die US Woordfees plaasvind.

Theo, wat was die sneller of prikkel om Strafjaart te skryf? Wat was die dag toe jy besef het hierdie moet ’n storie word, of ’n boek?

Dit klink so verskriklik pretensieus, maar dit is werklik asof die storie my kom haal het. Ek het voor Strafjaart soveel skryfprojekte begin, maar dan telkens my belangstelling verloor. Ek wou nie oor tronk skryf nie, ek wou my familielid ondersteun. Maar ek het na die eerste besoek geweet dat ek emosioneel ingekatrol voel; dat ek op ’n onverklaarbare en onkeerbare manier betrokke is. Dit is die enigste kans wat ek dink ek ooit sal hê om te kan skryf – as my denke oorgeneem word. Dan hoop ’n mens dat die storie jou nie los nie, en as jy nie moeg raak daarvoor nie, begin jy besef na ’n paar maande dat daar wel moontlik ’n storie van kan kom. Dit is nie een dag se besef nie, dit is maande se skryf voor jy weet daar is nie omdraai nie.

Hoe verskil die hoofkarakter in Strafjaart van die navorser in Skool?

Die navorser, hoe afgemat sy onderwerp hom ook al gemaak het, was baie vryer as die hoofkarakter in Strafjaart. Hy het die keuse gemaak om navorsing te doen oor die verval van ons skoolstelsel, waar die hoofkarakter in Strafjaart nooit wou gaan rondkrap het in Pollsmoor nie. Hy het niks daar verloor nie, so het hy gemeen. Die strafjaart word die plek waar hy deur konfrontasies sy bestaan kan verstaan, tot dieper insig kom van sy eie ingehoktheid. Die man is veertig, sy vrou is swanger, hy gaan deur ’n eksistensiële krisis en hy moet besef dat hy nie so vrydenkend is as wat hy gehoop het hy is nie. Die navorser in Skool behou op ’n manier sy afstand, terwyl die hoofkarakter in Strafjaart derms en al deel is van dit wat hy juis nie meer oor wou weet nie.

‘n Wit navorser wat skryf oor die lewe van gevangenskap en vrouegevangenes. Wie se storie(s) het jy vertel? Hoe het jy die benader, of was daar nie ‘n doelbewuste tegniek nie?

Nee, daar was nie ’n doelbewuste tegniek nie. Ek het die stories neergeskryf soos wat ek dit waargeneem het, maar anders as met Skool het ek myself van die begin af die vryheid gegun om te verbeel. Jy ontmoet baie mense in Pollsmoor; jy sukkel om dit werklik alles in te neem. Sommiges bly jou by, maar verdwyn dan weer. Van hulle se stories verbeel jy dan verder. Wat sou gebeur as die hoofkarakter in hulle huise sou gaan sit? Ek het deur die hele proses geworstel met die vraag oor wie se storie ek eintlik vertel. Juis omdat ek so na aan myself gekom het, dat ek oor my familie skryf waaroor ek gewaarsku is, het ek soos ’n dief gevoel. Ek het egter ook deur die hele proses besef dat die klem nie moet val op kulturele toe-eiening nie, maar op waarneming. Ons is vrot getuies van mekaar se lewens. As ons beter getuies word, as die een kan sien wat die invloed is van sy of haar storie op die ander, sal ons beter begrip hê van mekaar in hierdie land.

Iewers in die verhaal, die tronkbewaarder wat vertel as mens dag in, dag uit in die tronk werk, is mens later eintlik maar self in gevangenskap. Hoe het jy dit ervaar, as besoeker, wat al daar rondgestamp is, wat gekonfronteer is en die omgewing telkens geabsorbeer het as jy daar op besoek was?

Ek was deurentyd bewus van die lyflikheid van die hele strafproses. Mense, so ook die bewaarders, word fisiek toegesluit. Dit is hulle liggame wat gestraf word, wat afgetakel word in ‘n ruimte wat ontwerp is met onmenslikheid om elke hoek en draai. Jy is daarom dan meer ingestel op hoe mense lyk, ruik, en dat almal wat daar toesluit en toegesluit is, die liggame van die staat geword het. Die konsep van wat gevangenis is, van wat ons doen om mense uit die samelewing te verwyder, kry lyf wanneer mens Pollsmoor besoek. Jy draai jou kop net effens anders, en dan sien jy die primitiwiteit daarvan in. Dis ‘n grillerige werklikheid. Ons het na al die eeue steeds geen idee wat ons moet doen met hulle wat ons gekoesterde samelewing bedreig en skaad nie.

Hoe het dit jou met jou eie familie en jou komvandaan gekonfronteer as jy vir 'n familielid in die tronk gaan kuier? Wat was jou ontdekkings, of jou vrae?

Die grootste vraag waarmee ek geworstel het, was uiteraard hoeveel en wat ek oor my familie mag ontbloot. Ek het die toestemming van my familielid gevra, maar steeds was dit vir my ‘n baie moeilike ding om oor haar te skryf. Ek het Lizette natuurlik heeltemal anders geskryf en weggekom van die werklike persoon. Jy word gekonfronteer met die vraagstuk rondom belangrikheid. Vir die eerste keer besef jy dat dit in Pollsmoor nie saak maar waar jy vandaan kom nie. Jy is kort van asem besig om te probeer verstaan hoekom jy dink jy en jou familie is beter as die ander gestrafdes. Dink jy omdat jy wit is, of van ‘n kleindorpse boerebestaan kom, behoort jy nie gestraf te word nie? Of ten minste net apart gestraf moet word? Ek was telkens diep geraak deur die stories van soveel besoekers wie se familie al vir geslagte lank gestraf raak. Vir hulle, of so het ek soms gevoel, was dit amper soos om mense in die hospitaal te besoek. Baie besoekers daar is bevrees oor die praktiese dinge – soos dat die gevangene nie meer ‘n inkomste kan inbring nie, of kan help kinders grootmaak nie – eerder as wat hulle aanhoudend hul koppe wou wegsteek van skaamte.

Jy was navorser en ook voyeur in een van die land se gevaarlikste tronke. Die leser is gedeeltelik voyeur van jou lewe – of is sy? Hoe kies mens, soos op Facebook met betrekking tot die foto's wat mens deel, watter aspekte van die navorsingsproses of die gesinslewe om uit te stal?

Ek was eerder voyeur as navorser. Ek wou vir die leser ‘n kamera op my skouer plaas om saam te stap deur die benoude gange van Pollsmoor sonder dat ek ritse statistiek of harde navorsingsfeite wou deel. Ek het op daardie aspekte van die gesinslewe gefokus wat ‘n agterdoek skets waarteen tronk verstaan kan word. Die hoofkarakter sukkel met angs en depressie – hy is toegemaak in sy eie bedompigheid. Sy vrou is swanger en voel vasgekeer. Sy oupa het die tronk vrygespring, maar was tot die dood toe die gevangene van sy eie skuldgevoelens. Sy pa kon nie sy plek in die lewe vind nie. Die hoofkarakter het genoeg geld en tyd om navorsing te kan doen oor iets byna onbenulligs, maar steeds is hy uitgelewer aan die straf wat deur geslagte aan hom oorgedra word.

Dit was moeilik om ontblotend te skryf oor die gesinslewe, maar ook bevrydend. Ek het darem ook wegbeweeg van die self en ‘n hoofkarakter weg van myself probeer skep. Ek wens byvoorbeeld ek was so ryk soos hy om net te kon navorsing doen!

'n Mens hoor soms van die gerieflike lewensomstandighede van misdadigers waarvoor belastingbetalers betaal. Mens hoor soms dat sommige mense 'n misdaad sal pleeg om liewers weer tronk toe te gaan omdat hulle lewensomstandighede buite die tronk so haglik is. Hoe voel jy hieroor na jou eie besoeke aan Pollsmoor en na beskrywings van jou tannie oor haar ervarings?

Pollsmoor is allesbehalwe gerieflike lewensomstandighede, maar vir baie misdadigers is dit sekerlik beter omstandighede as daarbuite. Ek het ouers ontmoet wat dankbaar is dat hulle kinders in die tronk is, juis omdat hulle dan ten minste nie deur die bendes doodgeskiet kan word nie. Die grootste probleem is nie dat die meerderheid misdadigers in die tronk beland nie; eerder dat hulle herhaaldelik na Pollsmoor gestuur word. Dan is daar mos iets inherent verkeerd met die strafstelsel en met die idee van rehabilitasie. Dit is nie dat mense wil teruggaan tronk toe omdat dit binne beter is as buite nie; eerder dat daar nie ‘n ander heenkome is nie. Ek het jong seuns ontmoet wat deel word van die bendes omdat dit toegang tot dwelms en geld bied. As daardie jongmense – met die lewe nog voor hulle – uit Pollsmoor stap, is hulle reeds gebrandmerk deur die samelewing. Niemand wil hulle in diens neem nie, en die bendes wil hulle nie uitlos nie. Wat is sulke persone se verweer teen die stroom wat hulle bly intrek en dan telkens uitspoeg in een van die gevaarlikste tronke, met die meeste bendes?

Ons land se tronke is oorvol. Tog is dit steeds die mees strawwe straf wat 'n mens opgelê kan word. Kan 'n suksesverhaal uit 'n tronk kom? Hoop, goed, iemand wat gerehabiliteer word (as dit die regte woord is)?

Daar is stories van hoop wat uit die tronk kom, alhoewel dit werklik moeilik is. Ek dink aan die storie van Wilson, oor wie ek skryf, wat banke beroof het en vir jare in Pollsmoor toegesluit is. Daardie man het ook weer uitgespoel in Pollsmoor, maar hierdie keer aan die anderkant daarvan. Hy is nou besig om elke dag van sy lewe jongmense te probeer help om uit die maalkolk van misdaad te kom.

Daar was nie antwoorde op die skoolstelsel ná Skool nie. Daar was waarnemings. Daar was 'n oopvlek van dinge wat jy kon sien, wat jy moes neerskryf. En met Strafjaart? Wat is eenders, wat is anders? (Ek dink onafwendbaar aan die soort stellings na 'n somervakansie: "Terug hok toe.")

Met Skool wou ek spesifiek waarneem om te kon uitvind wat fout is met ons skoolstelsel, waarom ons ons kinders so liederlik faal. Dit terwyl onderwys die eerste plek is waar ons moes begin het om die agterstande uit te wis. Met Strafjaart wou ek nie soseer iets oopvlek nie, maar het onvermydelik begin om waar te neem om sekere vrae te probeer verstaan. Waarom bou ons tronke as dit nie werklik mense rehabiliteer nie? Ons soek eerder vergelding as om te rehabiliteer. Hoe hoop ‘n mens dat die oortreder moet hoop kry om te rehabiliteer, terwyl dié wat hulle toesluit, lankal hoop verloor het? Verdien mense tweede en derde kanse? Hoekom wens ons die oortreders word tot hulle sinne toe gestraf – ons wil hê hulle moet seergemaak word soos hulle seermaak – maar ons wil dit nie sien gebeur nie? Ons wil vergeet van die boses tussen ons. Dit is opvallend hoe Pollsmoor “weggesteek” word in Tokai. Die vrae was ingewikkelder met Strafjaart, want die onderwerp is minder omlyn.

Wat het jy gedink sou jy sien as jy na die lewe in die tronk begin kyk?

Ek moet erken dat ek aanvanklik so verknies was oor my familielid se welstand dat ek nie werklik gedink het aan wat om te verwag nie. Dit was dalk beter so, anders was ek moontlik nog banger om haar te gaan besoek.

Wat hét jy gesien?

Gesigte van trauma, van ontbering. Ek het ook die gesigte van mense gesien, in plaas van gewoon geharde misdadigers. ‘n Mens hoop dat jy net die uitwerpsels van die lewe sien, om jouself te kan oortuig dat die gevangenes die haglikheid verdien. Dit raak aan diep wande van jou siel as jy vroue in tronkklere sien met babas, jongmense, kinders wat saam kom besoek. Jy sien mense wat met karige kospakkies hulle familie kom besoek. Ek het nie gedink aan die medebesoekers voordat ek begin besoek aflê het nie. Dit is mense wat van buite inkom na dié wat binne is en daar gebeur iets in daardie ontmoetings­oomblikke in die strafjaart. As lughawens die plekke is waar mense afskeid neem, plekke is van vertrek, is tronke die saamkomplek van die aandadiges. Die besoeker is onlosmaaklik deel van die gestrafde – daar is ‘n rede waarom jy kom besoek, en daardie rede bind jou aan die skuldige, van wie jy nie kan afstand doen nie.

Dis 'n swangerskapverhaal,  heel persoonlik en deurlopend in die agtergrond. Dit is ook ‘n swanger verhaal. Wie was die kind wat uiteindelik gebore is? (Ek vra dit figuurlik, maar letterlik ook, want ouerskap is so: “Wat om te verwag wanneer jy verwag” vertel jou een ding, en as die kind gebore word, is die ervarings gans anders. Of hoe?)

Ouerskap bring nederigheid. Jy tree uit die sentrum van jou bestaan en probeer jou kind grootmaak, weerbaar maak, maar ook grootmaak met die hoop dat jou seun of dogter sy of haar eie weerloosheid en dié van ander sal herken en respekteer. Dit is ’n ontsaglike verantwoordelikheid waarin jy voortdurend twyfel of jy daarvoor opgewasse is. Saam met hierdie erkentenis kom die besef dat jou kind ewe feilbaar is. As ouer kyk jy nou anders na mense – ook na dié agter tralies. Dit is noodwendig iemand se dogter wat jy sien. Dit is iemand wat gekoester is, of juis nie. As ek destyds toe ek Skool geskryf het, al ’n ouer was, was dit ’n ander boek.

Ek wou in Strafjaart iets weergee van daardie opwinding, maar ook angs, om vir die eerste keer ’n ouer te word. Hoe bring jy ’n kind in hierdie gebroke wêreld in, wat nog te sê van hoe jy die kind ongeskaad gaan grootmaak? Ek wou ook speel met die idee dat ons in sonde gebore word; dat ons onderwerp is aan die strafjaart.

En daar is 'n betrokkenheid by perlemoenstropery ook nog – dis een van die redes hoekom die tannie daar is. Die skip, die see. Vertel my van die verbande met die lewe in die strafjaart?

Die land staan teenoor die see soos die binnekant van die tronk teenoor die buitelyn van die samelewing staan. Daar is ’n grens, maar ’n gedurige verskuiwing tussen die twee kante. Die bodem van die see is die strafjaart van die skepe, soos wat Pollsmoor die plek is waar jy oop en bloot op die rotse geloop het. Die vraag na wie die skuld moet dra vir soveel afgetakelde gemeenskappe wat vatbaar is vir misdaad, vir die aantas van generasie op generasie se selftrots, bring jou uit by die tyd toe Europeërs met hulle skepe onherroeplik die landskap kom verander het.

Tussendeur: jou werk by die Breytenbach Sentrum eers, kunstefeeste en dan ook die Jakes Gerwel-stigting. Waar het jy die tyd gekry om die boek te skryf?

Dit help nogals as ‘n mens besig is en jou skryftyd min, om gedissiplineerd te wees. Deur die dag beplan jy mooi sodat jy saans, nadat die kinders in die bed is, daardie toneel of hoofstuk kan afhandel. Dit werklik natuurlik nie altyd so uit nie, maar jy beur gewoon vorentoe. Iewers in die skryfproses, en tussen werke, het ek moed verloor. Ek was bereid om die manuskrip te laat vaar, maar het eers vir Penguin gevra of hulle dink dit sou tog ‘n boek kon word. Dit was toe ‘n rowwe manuskrip. Ek het daardie aanmoediging nodig gehad om klaar te maak waarmee ek begin het.

Ek wil jou vra waarna jy uitsien by die Woordfees; ek wil jou vra wat doen jy vir ontspanning; ek wil jou vra wat lees jy graag. Kies enige van die vrae om te beantwoord.

Ek is tans besig om die Noorweegse skrywer Karl Ove Knausgaard se My struggle-reeks te lees. Ek is geboei deur sy behendigheid in die genre van outobiografiese fiksie. Hy skilder op ’n wye doek die fyn besonderhede van die alledaagse lewe.

Ek wil jou ook vra of mens ooit die tronk kan verlaat as jy eers daar was.

Nee, ek dink nie so nie. Ek vermoed dat, ongeag jou reaksie op die straf, dit ‘n onherroeplike invloed op jou selfsiening het.

US Woordfees 2019: Boeke en skrywers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top