US Woordfees 2019: Boeke en skrywers

  • 0

Die Woordfees het as literêre fees begin en die geskrewe en gesproke woord bly die polsende hart van die fees. In 2019 bied die Skrywersfees weer ’n verstommende verskeidenheid met hope inspirerende verhale agter al die merkwaardige ervarings en verbeeldingstogte wat in boeke uitmond. Ook op die program is ’n reeks slypskole met die sleutels tot nuwe kreatiwiteit.

Ware stories en fantastiese verhale

Dis ’n bielie van ’n boekprogram met gesprekke oor en rondom (en soms voorlesings) uit nuwe boeke deur, onder andere, Gabeba Baderoon, Amore Bekker, Albert Blake, Carol Campbell, Susan Coetzer, Beyers de Vos, Carina Diedericks-Hugo, Jeannette Ferreira, Corlia Fourie, Maya Fowler, Rita Gilfillan, Erns Grundling, Helena Gunter, Marlize Hobbs, Sophia Kapp, Theo Kemp, Sihle Khumalo, Annie Klopper, Koos Kombuis, Herman Lategan, Murray la Vita, Deon Maas, Zakes Mda, Deon Meyer, Erika Murray-Theron, Charl-Pierre Naudé, Chase Rhys, Alfred Schaffer, Melusi Tshabalala, Zirk van den Berg, Willie van der Merwe, Marita van der Vyver, Rudie van Rensburg, Jan van Tonder, Jeremy Veary, Irma Venter, Wilhelm Verwoerd, Ivan Vladislavić, Ingrid Winterbach, Bettina Wyngaard en Zapiro.

Chase Rhys. Foto: Retha Ferguson.

Hier is paar van die 2019 Skrywersfees se groot boekgebeurtenisse:

Die uitgesproke, 75-jarige Britse ‘grande dame’ van blitsverkopers (haar verkope is verby die sewe miljoen-kerf), Joanna Trollope, is die ontvanger van die Order of the British Empire. Sy gesels  met Martie Meiring

Die Yslandse misdaadskrywer Yrsa Sigurdardottir, vorige wenner van die Petrona-prys vir beste Skandinawiese misdaadverhaal, word deur Deon Meyer (sy nuwe Bennie Griesel is getiteld Prooi) uitgevra.

Die skrywer en aanbieder van die baie bekende Nederlandse TV-program De wereld draait door se boekeprogram, Adriaan van Dis, gesels met Antjie Krog.

You Make Me Possible is ’n bundel van die liefesbriewe tussen Carina Szczurek en André P. Brink.

You Make Me Possible is ’n bundel van die liefesbriewe tussen Carina Szczurek en die ontslape literêre reus André P. Brink, met wie Carina in die laaste dekade van sy lewe getroud was. Kerneels Breytenbach gesels met die vyfde en laaste Mev. Brink oor die briewe en haar lewe saam met André.

Die Kriegler-gesprek

Oudregter Johann Kriegler en sy gaste gesels oor die wisselwerking tussen persvryheid en menseregte, etiese verslaggewing en watter rol ondersoekende joernaliste kan speel in ’n korrupte samelewing. Die Angolese ondersoekende joernalis Rafael Marques de Morais se verslag en latere boek oor ‘bloeddiamante’ het wêreldwyd geresoneer. News 24-redakteur Adriaan Basson, wat al ’n paar boeke oor Zuma die lig laat sien het, moes ook al moeilike keuses maak oor wanneer om te publiseer.

Valse vriende

Die Zuma-fluitjieblaser Vytjie Mentor (No Holy Cows) en oudhoof van die KwaZoeloe-Natal Valke, maj- genl Johan Booysen (Blood On their Hands – General Johan Booysen Reveals his Truth), praat pront oor die etiket van om as ‘verraaier’ gebrandmerk te word, en hoe die wiel tóg draai. Pearlie Joubert lei die gesprek.

Johan Heyns – 25 jaar later

Vyf-en-twintig jaar nadat die kerkleier Prof Johan Heyns vermoor, vertel sy weduwee, Renée, van daardie aand, maar ook van Johan se dagboeke, wat saam met ’n pakkie tuisvideo’s haar filmmaker-kleinseun Adam geïnspireer het om ’n kort dokumentêre film oor sy oupa te maak. Piet Meiring, destyds verbonde aan die Waarheids- en Versoeningskommissie, gee insae in die man wat al as ‘die gewete van sy volk’ beskryf is. Karin Brynard lei die gesprek, wat voorafgegaan word deur die wys van Adam se film en ’n kort lokprent van die kykNET-profiel oor Heyns wat in 2019 deel vorm van ’n reeks oor Afrikanerleiers.

‘The Boss’ word 70

‘Ek het die toekoms van rock ’n’ roll gesien en sy naam is Bruce Springsteen,’ het die musiekskrywer Jon Landau in 1974 aangekondig. In 2019 word die toekoms van rock 70. Die musiekmissionarisse en Springsteen-entoesiaste Kerneels Breytenbach, Danie Marais en Desmond Painter vier die Boss met ’n terugblik op sy lewe, werk en topverkoper-outiobiografie. Die gesprek word met akoestiese weergawes van ikoniese Springsteen-liedjies deur Andries Bezuidenhout en Lise Swart vervleg.

Harry Kalmer

‘Papboek’ vir ’n verraaier

Die storie van ’n Hollander wat vir die Boere geveg het en as verraaier gefussileer is het skrywer Harry Kalmer en kunstenaar Hanlie Coetzee só geïnspireer dat hulle ’n ‘anderse’ boek daarvan wou maak. Die uiteinde is ’n unieke kunstenaar-‘slapboek’ – of dan ’n papboek, wat in beperkte genommerde oplaag by die gesprek beskikbaar sal wees. Ingrid Winterbach gesels met die twee oor ‘verborge’ geskiedenis en wat boekformaat en storie in gemeen het. ’n Kort video oor die maak van die boek word ook gewys.

Min Shaw: Sprokie van ’n liefling –’n Plakboek van herinneringe deur Shaun Mynardt

Min Shaw by Towerbosch

Met haar kuiltjies, bokkie-oë en soet stem het Min Shaw bioskoopgangers destyds in trane gehad ná die 1968-trefferfliek Jy is my liefling. Hierin het sy teenoor Franz Marx gespeel, wat gesing het – in die stem van ene Lance Liebenberg, wat later beroemd as Lance James sou word en saam met Min as een van die gewildste Afrikaanse sangpare ooit. Kom luister na dié twee immerjeugdiges, wat staaltjies uit Min se biografie, Min Shaw: Sprokie van ’n liefling –’n Plakboek van herinneringe deur Shaun Mynardt, met omroeper Nic de Jager deel en sommer ’n paar liedjies ook sing.

Pieter Odendaal. Foto: Retha Ferguson.

20/20 – Met ’n kelkie!

20 digters, 20 skilderye, 20 gedigte. En ’n skietkelkie voor die tyd. ’n Hele string digters reageer in ’n gedig op ’n gekose skildery. Hulle lees hulle splinternuwe verse langs projeksies van die kunswerke op die verhoog. Geen leë museum- of galerystilte hier nie. Luister eerder hoe kunswerke “klink” wanneer dit deur die verbeelding van digters gefiltreer word. Met Bibi Slippers, Loftus Marais, Ronelda S Kamfer, Pieter Odendaal, Ashwin Arendse, Chrystal Williams, Johann de Lange, en ander, onder leiding van Kabous Meiring.

Slypskole

Verskeie interessante kursusse word rondom die boekprogram aangebied. Wees egter bewus daarvan dat die deelnemersgetalle tot klein groepe beperk is.

Boekresensie-kursus

Het jy altyd ’n mening oor ’n boek, maar weet nie hoe om dit sinvol te deel nie? Kerneels Breytenbach, Jo Prins en Anastasia de Vries lei jou met praktiese wenke en voorbeelde.

Stuur e-pos na die Netwerk24-boekredakteur, Jo Prins, tot en met 14 Februarie 2019 by jprins@24.com met ’n koopbewys (digitaal of selfoonfoto) van jou kaartjie plus volledige straatadres en foonnommer sodat jy ’n splinternuwe roman uit die NB-stal kan kry om as voorbereiding te lees en te resenseer.

Hoe om te mediteer

Ja, jy het al gehoor van mindfulness en meditasie, jy weet dis gesond, maar hoe werk dit regtig? In dié slypskool gee Johannes de Villiers, skrywer van Kalmte in die malle gejaag, eenvoudige en plat-op-die-aarde advies oor hoe meditasie en om stil te word jou kan help om kalmte, helderheid en deernis in jou alledaagse lewe te skep.

Piet Grobler

Illustrasie-slypskool

Wou jy nog altyd ’n prenteboek maak, maar weet nie hoe om te begin nie? Een manier is om aan geloofwaardige karakters te werk. Die bekroonde plaaslike prenteboekillustreerder en professor in Illustrasie, Piet Grobler, lei ’n praktiese slypskool en word bygestaan deur vorige plaaslike pryswenners van die Picture This!-internasionale illustrasiekompetisie. Saam gaan julle kopkrap, teken,  verf en skep aan ’n karakter of drie.

John Hunt

Kreatiwiteit herontdek

Die kreatiewe hoof van die internasionale advertensie-agentskap TBWA\Worldwide en skrywer John Hunt se grafiese liefdestaak, The Art Of the Idea, het ’n dekade gelede ’n beroering veroorsaak met die manier waarop dit mense anders laat dink het oor kreatiwiteit. In dié boek, net soos in dié praktiese slypskool, wys hy hoe enige mens, in enige beroep kreatiewe oplossings vir probleme kan vind – iets wat hy dekades al vir sakelui wêreldwyd leer.

Joanna Trollope

Liefdesromankursus

Die Britse blitsverkoper van liefdes- en gewilde romans, Joanna Trollope, deel haar meer as vyf dekades se ervaring op die wêreldverhoog tydens ’n slypskool oor hoe om daardie idee in jou kop tot ’n lekkerlees-, moderne liefdesroman te verwerk. Sophia Kapp is die sameroeper, wat saam met skrywer Elsa Winckler, ’n uitgewer en boekbemarker jou sal help. Hierdie slypskool sluit tee en koffie, middagete en ’n glas vonkelwyn in.

Lees meer oor die skrywersfees of kry die volledige program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top