Klein konings: ’n onderhoud met Theo Kemp

  • 0

Titel: Klein konings
Skrywer: Theo Kemp
Uitgewer: Protea Boekhuis (Augustus 2025)
ISBN: 9781485316008

Theo Kemp praat met Naomi Meyer oor Theo se jongste roman, Klein konings, wat pas by Protea Boekhuis verskyn het.

Theo, baie geluk met Klein konings! Ek weet jy het jare lank hiervoor navorsing gedoen en daaraan geskryf. Waar het die gedagte aan hierdie roman begin?

Baie dankie Naomi! Ek is nie mooi seker nie; dit voel vir my daar is ’n paar beginne vir ’n boek, en sommige prikkels begin al in jou kop broei terwyl jy met iets anders besig is. Ek wou oor manlikheid skryf, en verganklikheid, en hoe die intens persoonlike geskiedenis inspeel op die wêreld waarin jy jou bevind, en andersom. Na Strafjaart was ek bang dat niks my weer so emosioneel sou kon intrek nie. En toe gebeur die grendeltyd en ons sit so sielsalig ingeperk. Iewers in daai tyd van magsmal ministers wat namens ons besluit, laat hoor Nathi Mthethwa ook van hom. Dit is hoog tyd dat daar plan gemaak moet word met die Boere-standbeelde, seg hy terwyl die ander ministers skarrel om ons te verbied om toe skoene te dra en onderklere te koop. Daar begin die idee posvat: Wat gebeur as jy jou die minister se versugtinge verbeel?

Nou: Waaroor gaan die storie? In jou eie woorde, sonder om te veel te verklap.

Twee mans gaan op reis – Joubert en Pixley. ’n Afrikaner en ’n Zoeloe; ons eie Laurel en Hardy. Dis nie ’n lekker reis nie, want hulle word deur die Minister gedwing om ’n inventaris van al die standbeelde op te stel en met ’n plan vorendag te kom oor wat daarmee gedoen moet word. Dis vir beide ongelooflik moeilik om vir ’n onbepaalde tyd weg te wees van die huis. Joubert, wat as boekhouer in die Departement werk, los sy dodelik siek pa, Piet Pompies, ’n eertydse waterwyser, by sy vrou, Alet. Sy is ’n medium wat uit hul solderkamer praktiseer. Pixley is opgewonde om sy mandaat uit te voer, naamlik om transformasie te bewerkstellig. Hy is pas aangestel, en wil veral sy pa, ’n sielkundige en posdraer van die bevrydingsbeweging, trots maak. Hy ontmoet sy droomvrou, Malaika, wat eerder Memory genoem wil word. Sy is ’n weeskind van Rwanda wat deur ’n Nederlandse aktivis, Kees, grootgemaak word. Hy wil Memory syne maak, en haar ontembaarheid maak hom terselfdertyd bang en smoorverlief. Hy wil met haar trou, maar weet sy ouers sal nooit instem nie.

........
Met hierdie bagasie klim die twee manne, skugter vir mekaar, in die staatskar en gaan jag monumente. Hulle probeer sin vind uit hul verledes, en wil te alle tye hul geheime verbloem.
........

Met hierdie bagasie klim die twee manne, skugter vir mekaar, in die staatskar en gaan jag monumente. Hulle probeer sin vind uit hul verledes, en wil te alle tye hul geheime verbloem.

Vertel my hoe jou karakters jou pad gekruis het. Wie jou die meeste grys hare besorg het. Vir wie jy die meeste omgee.

Jong, dis ’n moeilike vraag, want op ’n stadium in die skryfproses het almal my grys hare besorg! Ek was so benepe om die standbeelde se besoeke so noukeurig as moontlik te beskryf dat ek skoon nagelaat het om my karakters behoorlik te ontwikkel. Daar was van die begin af Joubert en Pixley, maar selfs hulle was nie naastenby volrond nie. Ek vermoed dit het te make gehad daarmee dat hierdie boek anders geskryf wou word, en ek het dit nie met ’n eerste skryf besef nie. Klein konings is baie meer fiktief as my vorige twee romans, en om karakters te skep wat nie op enige werklike mens geskoei is nie, was vir my aanvanklik angsaanjaend. Toe ek eers die vrese besweer het, en myself toelaat om die karakters te kon verbeel, het die herskryf aansienlik makliker gegaan. Al die karakters is so uitgelewer dat ek vir elkeen op ’n ander manier omgee. Kyk na Bongani – Pixley se skoolvriend wat nou skatryk is, maar nie sy armoedige verlede wil erken of herbesoek nie. Of Kees, wat niks anders het as ’n dogter wat hom wil ontken nie. Freddie, die arme misplaaste rentboy, wat op valse voorwendsels na Suid-Afrika gebring word. Ek wou mense skep wat die leser nie durf veroordeel nie, want hulle doen met rede wat hulle doen. Net soos ons sterwendes.

Jou twee hoofkarakters, Pixley en Joubert, ontvang opdrag om standbeelde en monumente van die land te besoek en te evalueer. Mens reis saam met hulle en sommige van die standbeelde het mens al self gesien. Soos die een van De la Rey in Lichtenburg, Brand in Bloemfontein. Jy reis self baie. Die storie is fiktief, maar het jou reise deur die land ook neerslag gevind in die verhaal?

Die reise deur die land saam met my vriend Zanoxolo Mkhize vind beslis neerslag in die boek. Die dorpies wat aangedoen word, en die landskappe wat daarmee saamgaan, dra by tot die soort tekstuur en verskillende buie in die boek. Die weer wat opsteek in Winburg het noodwendig my karakters anders laat dink en praat daar onder die Voortrekkermonument as op die winderige en koue terrein doer by die Slagveld van Bloedrivier. Maar, en dit was ’n groot maar, ek moes leer om nie die standbeelde die fokus te maak nie, maar eerder die twee mans wat hulle besoek.

Jou karakters het regtig nogal werklik báie geheime wat hulle wegsteek. En skuld is ’n deurlopende tema – skuld, veral by die wit man. Was dit doelbewus? Het dit ontwikkel soos wat jy jou karakter en sy geheime leer ken het? Hoe ’n belangrike komponent is dit in die verhaal!

........
Ek het geweet dat as ek oor standbeelde skryf, dit eweneens ’n studie oor skuld sal moet wees. Vandag se helde is die skurke van môre.
........

Ek het geweet dat as ek oor standbeelde skryf, dit eweneens ’n studie oor skuld sal moet wees. Vandag se helde is die skurke van môre. Die geskiedenis is die geduldige boekhouer wat ons almal verantwoordbaar hou. Wie is skuldig aan wat, en uit wie se perspektief? Hoe ontkom jy van jou skuld? Ook op persoonlike vlak: Hoe maak jy reg wat jy verbrou het? Hoe versoen ons na verraad? Hoe vertrou ons ooit weer mekaar na al die eeue se vergrype?

Dis wonderlik om uit die bloute te sien wie ken jou een karakter se geheim. Hier naby aan die einde. Het jy die verhaal organies geskryf, of het jy sulke openbarings beplan? Het jy die storie in die algemeen beplan, of hoe het die skryfproses gewerk?

Jy kan so behep wees met jou eie skuldgevoelens dat jy dikwels ander se sogenaamde sondes miskyk. Maar nee, ek het daai kinkel nie beplan nie. Op een van die reise het ek en Zanoxolo wel een aand gekuier met heerlike mense in Lichtenburg, en een van die vroue was ’n sangoma. Ek het geweet sy moet iewers haar verskyning in die boek maak, maar nie gedink sy sal so bekkig wees nie. Sekere dinge het ek geweet moet so stelselmatig opbou in die boek, en daarom moes ek die werklike besoeke effens aanpas volgens wat ek weet met die karakters moet gebeur. Maar dit het ook nie altyd so gewerk nie, want op ’n stadium toe ek nog besig was met ’n woedende toneel in die kar tussen Joubert en Pixley, kondig laasgenoemde aan dat hy gatvol is. Hy wil nou graag by sy ouers gaan kuier en daar moet halt geroep word met die trip. Dan dink ek: Gaan ek dit nou so doen, of hou by my planne? Elke keer was dit beter om eerder die karakters hul sin te gee.

Jou vorige boeke (Skool en Strafjaart) ondersoek die skoolstelsel en ook die korrektiewe-dienste-stelsel, hoewel dit faksie is – die genres van fiksie en feite wat by mekaar aansny. Hier is monumente en museums onder die loep. Stel jy nog altyd belang in die geskiedenis? En wie die geskiedenis se kurators is? Jou karakters wroeg elk met sy eie verlede. En wie dit geskryf het.

Ek stel meer belang in die soort nasionale diskoers en hoe ons mekaar so misbeleef en misverstaan, ondanks die feit dat ons so verknog aan dieselfde land is. In my werkshoedanigheid was ek onlangs nou betrokke gewees by die naamsverandering van Somerset-Oos na KwaNojoli. Dit was vir ons stigting, wat die Paulet Huis uit hierdie mooie Oos-Kaapse dorpie bedryf, belangrik om die optekening van Nojoli en haar mense te fasiliteer. In een van die onderhoude merk ’n oudinwoner op dat dit tog voor die hand liggend is dat die naam moes verander, want net soos wat jy nie foto’s teen jou mure hou van voormalige bemindes wat jou skaad nie, so verwyder jy ook dorpsname wat ander namens jou gekies het. En dan besef ek opnuut: Ek sal nooit ooit na ’n standbeeld van een van my “mense” kan kyk en dieselfde voel as ’n ander landsburger wat aan die ander kant van die draad gestaan het nie.

Jy waag baie deur oor standbeelde en monumente te skryf. Dis ’n emosionele onderwerp. Wie bou standbeelde vir wie? Kan die mense geld aan iets anders spandeer? En tog: As dit gebou is, hoekom afbreek en nie almal se stories vertel nie, met die kompleksiteite en al? En is party standbeelde nie pragtig nie – het jy al die standbeelde van Rodin gesien, of die lewe in die standbeelde by die Vrouemonument, of die standbeelde in standbeeldtuine in Denemarke byvoorbeeld? Praat met my oor standbeelde.

Op die plaas waar ek grootgeword het, was daar langs die melkstal ’n kindergraf met hierdie gegraveerde woorde in die marmerblad: “Die son het vir jou ondergegaan terwyl dit nog dag was.” Dit het my van kindsbeen af geboei, dink ek, oor ons behoefte om boodskappe op die aardkors te los: Ek was ook hier. Ek het saak gemaak. Standbeelde kan ontsaglik roerend wees, maar dit kan ook so ontsaglik kwetsend wees. Jy kan monumente en standbeelde oprig slegs as jy besef dat die geskiedenis nooit verby is nie, dat dit altyd ontwikkel en verander, soos die verloop van riviere. Hoe gaan ons kinders se kinders dink en voel oor die klein konings wat ons vandag in die markpleine vereer? En is jy bereid om saam te leef met die lae en lae afdopsels van die verlede wat sal bly deurslaan? Ek dink dat eers as elke liewe kind in hierdie land kan lees, as elkeen warm en met ’n vol maag gaan slaap, en as daar genoegsame onderskraging is aan kunstenaars en entrepreneurs, kan ons weer praat oor beeldjie-beeldjie speel.

Wat van die Oos-Kaap en die omgewing daarso? Ek weet jy besoek Paulet Huis gereeld. Ek weet ook die mense wat jou soms stories in die oor gefluister het, was dalk ook al daar. Praat met my oor daardie skryfresidensiehuis en die invloed wat dit op jou skryfproses en -verhaal gehad het. Ek dink hierdie vraag sluit aan by die vraag oor jou vorige boeke. Of jy, as betrokke meelewende skrywer, ook deel is van die storie en die ondersoek; of jou werklike lewe neerslag vind in die verhaal.

Die Oos-Kaap is my grootwordplek. Dit anker my en dit doen my geweldig goed om daai lug in te asem. Die mense daar besef hul nietigheid en ek voel vry in daai gevoel van ’n soort onbelangrikheid. By Paulet Huis het ek die voorreg om skrywers te ontmoet wat toetentaal anderster as ek dink en praat, en dis so verfrissend. Jong skrywers is so onverskrokke en is losgemaak van soveel kampies en boksies. Daarom sit ek met ’n gespitste skrywersgemoed en verstom my aan die talent onder een dak. Onvermydelik speel dit dan tog in op my skryfwerk. Ek wou onder meer met stereotipes speel en hulle summier afbreek. Niks is soos wat dit voorkom nie. En ek is dikwels ook hier by Paulet Huis so trots en verstom oor hoe gevorderd ons al is in gesprekke oor gender en ras en die veelvlakkigheid van identiteit.

Daar is nog ’n storie vervleg met die storie van Pixley en Joubert. Dis die dagboekinskrywings, op ’n afstand, in die derde persoon geskryf. Hoe het dit in die skryfproses gewerk?

Ek het in die navorsingsproses op soveel ryke stof afgekom, soos die naamlose agterryers en ander wat in ’n ander se oorlog en geskiedenis ingesleep is. Ek het geweet dit staan nie sentraal tot die verhaal nie, maar dat dit vertel moet word. Ek het gereken dit kan mooi inpas om hierdie soort inskrywings in te sluit, byna soos ’n kamera waarvan die lens ’n bietjie uit fokus is, maar tog iets anders vertel.

Dink jy Suid-Afrikaners dink op konkrete vlak terug aan hul verlede soos wat jou karakters doen – en behóórt hulle dit te doen? Is ons generasie dalk een van die laastes wat nog so bewus is van die tydperk waarin die standbeelde uit die apartheidsera opgerig is, of is dit ’n oppervlakkige beskouing?

Kyk, Pixley en Joubert is uitsonderlike gevalle, want hulle word gedwing om aan hulle land se geskiedenis te dink. Ek sou hoop dat die gevoelighede rondom standbeelde uit die apartheidsera sal vervaag soos wat die verwonding van die geslagte ook genees. Ons het soveel meer dinge waaraan ons eerder aandag moet gee.

........
Ek wens ons kan op ’n plek kom waar ons openhartig en dapper kan praat oor die geskiedenis wat ons op verskillende maniere te na gekom het. Ons kan nie die verlede ontken nie, en die geskiedenis kan ons nie verdraai om onsself te verontskuldig, te verdedig of te vergoeilik nie. Dit gaan ons niks baat om standbeelde tot op die voet af te kap van wat ons nie aan herinner wil word nie. Dit het gebeur, en die standbeeld is die bewys daarvan. Die vraag is eerder: Wat maak jy in daardie ruimte langsaan?
..........

Ek wens ons kan op ’n plek kom waar ons openhartig en dapper kan praat oor die geskiedenis wat ons op verskillende maniere te na gekom het. Ons kan nie die verlede ontken nie, en die geskiedenis kan ons nie verdraai om onsself te verontskuldig, te verdedig of te vergoeilik nie. Dit gaan ons niks baat om standbeelde tot op die voet af te kap van wat ons nie aan herinner wil word nie. Dit het gebeur, en die standbeeld is die bewys daarvan. Die vraag is eerder: Wat maak jy in daardie ruimte langsaan?

Foto van Theo Kemp: Jeremeo Le Cordeur

Die kerke in die verhaal: Daar is baie. Hulle is op ’n manier ook museums, in ’n sekere sin. En ewe vervleg met die geskiedenis van Joubert. Wil jy iets daaroor sê?

Vir Joubert is kerke belangrik, want dit verbind hom aan die fisiese ruimte van sy kinderjare wat hom getraumatiseer het. Maar kerke hou hom ook op sy plek – dit bind hom as ’n randfiguur. Sy pa se renons in die kerkvaders en Joubert wat sukkel om sy sogenaamde donker drange te beteuel, maak van hom ’n koggelram, ’n amperse Afrikaner.

Hoe skryf mens twee verskillende karakters wat uit heeltemal verskillende geskiedenisse stap en dan saamkom – hoe doen mens dit? En hoekom?

Dit was uitdagend om tussen die koppe van Joubert en Pixley te spring, maar ek het van die begin af geweet dit is wat ek moet doen. Ons is so geneig om die enkele narratief te glo. So ek wou iets uitbeeld van hoe dit moontlik kan wees as twee Suid-Afrikaners met hul eie vrese en verlanges met dieselfde “waarheid” (lees standbeeld) gekonfronteer word. Wat is dit wat ons vir mekaar vertel en wat is dit wat ons eerder verswyg?

Wat was vir jou die moeilikste aspekte van die skryf van die boek?

Ek dink die moeilikste was om myself meer te vertrou met fiksie en dat om te versin nie beteken dat jy oneerlik skryf nie. Inteendeel, Klein konings is my rouste werk, die naaste aan my siel. Dit is moeilik om die boek te laat gaan en te wonder wat lesers daarvan gaan dink. Ek wou so eerlik en so dapper as moontlik skryf oor goed wat aan ons almal krap, maar nou is ek tog bang. Blootgestel.

Wat was die stadium toe jy gedink het “Nou is ek klaar”? En toe moes jy weer werk?

Dit was my grootste flater! Ek het fondse ontvang van die NAC (Nasionale Kunsteraad) en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) om die navorsingsreise te onderneem. Een van die vereistes van NATi was dat die manuskrip in ’n teaterstuk omskep moes word. Ek het gejaag om ’n eerste weergawe gereed te hê, en het teatermatig geskryf, of so probeer. Uiteindelik was die manuskrip heeltemal te satiries, en was die karakters papiermannetjies wat agter beelde aanjaag. Ek het erg gekneus gevoel deur ’n verskriklike leesverslag, maar in terugskoue is ek diep dankbaar. Dit het die manuskrip op ’n heel ander trajek geplaas. Ek moes die hele manuskrip stroop; ek dink daar was so 20 000 woorde oor wat ek kon gebruik. Die res is Recycle bin toe. Toe begin ek eintlik eers skryf!

Jou verhaal lees soos ’n storie die toekoms in en soos een die verlede in. Daar is baie ontdekkings langs die pad. Wat het jy gedurende die skryf daarvan van jouself ontdek?

Buiten dat ons regtig in ’n land leef met die uitsonderlikste mense en veranderende landskappe, kon ek ook myself daarin plaas. Ek en my mense is deel van hierdie land en die weefsels van verwording. Ons gaan saam hier aanhoudend iets word en nooit daarmee ophou nie. Dit help nie jy onttrek jouself omdat jy ellendig skuldig en aandadig voel nie. Jy bewys niemand ’n guns deur suutjiespoep te leef uit vrees vir veroordeling en verwerping nie. Jy is nou hier, jy is al lankal hier, en hier gaan ons dit saam maak werk. Hier gaan ons dit leefbaar vir mekaar maak. Ons het uiteindelik net mekaar.

Ons is sekerlik by die punt in die land verby waar ons vra mag ons verskillende kultuurgroepe vanuit ons eie perspektief skryf. Of is ons? Wat was vir jou uitdagend daaromtrent? Indien enigiets?

Tja, soos ek bo noem, my hart sit in my keel. Ons kan tog mekaar so gou verkeerd verstaan, verdagmaak en dan uitvee. Ek weet nie waar ons staan oor kulturele toe-eiening nie, maar wat ek weet, is dat dit ’n verarmende letterkunde sal meebring as ons slegs uit ons eie huid en hoek mag skryf.

........
Tja, soos ek bo noem, my hart sit in my keel. Ons kan tog mekaar so gou verkeerd verstaan, verdagmaak en dan uitvee. Ek weet nie waar ons staan oor kulturele toe-eiening nie, maar wat ek weet, is dat dit ’n verarmende letterkunde sal meebring as ons slegs uit ons eie huid en hoek mag skryf.
........

Waarom skryf jy?

Ek het nie die dissipline om dagboek te hou nie. Vir my dien skryf daardie doel: om by te hou met wat aangaan, beide rondom en binne-in myself.

Lees ook:

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Theo Kemp

Suidoosterfees 2025: ’n onderhoud met Theo Kemp oor die Jakes Gerwel-gesprekke

Fotogalery: Ses skrywers skryf tesame op Somerset-Oos

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top