Suidoosterfees 2025: ’n onderhoud met Theo Kemp oor die Jakes Gerwel-gesprekke

  • 0

Foto van Theo Kemp: https://jgf.org.za/; foto van die Suidoosterfees: https://suidoosterfees.com/

Theo Kemp, die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, praat met Naomi Meyer oor die diskoersgesprekke wat die Jakes Gerwel Stigting by vanjaar se Suidoosterfees aanbied.

Theo, ek wil graag met jou praat oor die gesprekke wat die Jakes Gerwel Stigting vanjaar by die Suidoosterfees aanbied. Ek sien dis ’n stampvol program. Miskien kan jy vir my ’n vinnige oorsig gee van wat mense kan verwag as hulle tydens die Suidoosterfees Kunstekaap toe kom. Wie sal hulle almal daar kan kom beluister?

As jy nog nie by die Suidoosterfees was nie, is dit nou eerlikwaar jou kans om vanjaar te kom draai! En ek sê dit nie sonder meer om bemarking te doen vir die fees nie, maar omdat dit een van daai ervaringe bied waar jy werklik ’n soort blik kry op die kunste. Dis anders as ander feeste, want alles gebeur op een plek, in een teaterkompleks. So jy parkeer en jy stap in by hierdie wonderlike teater en jy word omring deur alle vorme van die kunste. Daar is ’n meerstemmigheid by die fees, ’n viering van baie meer as net die kunste. Jy voel die Kaap aan jou lyf, jy is oorrompel deur soveel talent, soveel gemoedelikheid, uitbundigheid. Jy wil nie eers die woord “diversiteit” of “transformerend” gebruik nie, want dit gebeur sommer net so voor jou; jy is deel daarvan.

............
Dis anders as ander feeste, want alles gebeur op een plek, in een teaterkompleks. So jy parkeer en jy stap in by hierdie wonderlike teater en jy word omring deur alle vorme van die kunste. Daar is ’n meerstemmigheid by die fees, ’n viering van baie meer as net die kunste. Jy voel die Kaap aan jou lyf, jy is oorrompel deur soveel talent, soveel gemoedelikheid, uitbundigheid. Jy wil nie eers die woord “diversiteit” of “transformerend” gebruik nie, want dit gebeur sommer net so voor jou; jy is deel daarvan.
...............

Dis nie aanstellerig of gedwonge nie. Ek voel na ’n week by die Suidoosterfees weer so trots op die Moederstad soos oor die Moederland. En dis ook nie ’n fees wat hoef te spog oor hoe groot hy is nie. Dis nie nodig nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor daai onmiddellikheid. ’n Lekker fix wat dadelik help. Die Suidooster is nie verniet die Kaapse dokter nie. Soos met die res van die program is dit wat jy ook by die Jakes Gerwel-gesprekke kom beleef. Jy word ingetrek, jy word ’n familielid, jy neem deel, die verhoog versmelt sommer later tussen die praters en die luisteraars. Almal se stemme tel hier, ongeag waar die wind jou vandaan gewaai het.

https://jgf.org.za/

 Dit sal moeilik wees om iemand uit te sonder; ek besef dit: Daar is aktuele gesprekke oor Suid-Afrika se betrekkinge met die VSA, daar is gesprekke oor nuwe boeke, daar is gesprekke oor skrywers wat in die Oos-Kaap hul boeke gaan skryf het, daar is gesprekke wat mense sal inspireer om bo uit te kom, gesprekke oor kos en taal en digkuns, oor gaywees, oor die feit dat joernaliste nie mag stilbly nie, gesprekke oor misdaad ... Wat laat ek uit? Dalk kan jy so vyf hoogtepunte uitsonder, as mense wil kom luister.

Ek sien uit na elke liewe gesprek, en na die mense daar wat, soos ek hier skryf, ’n familie is. Elke jaar is die ou gesigte daar, met ’n paar nuwes. En so groei ons saam aan ’n gemeenskap van mense wat nie net omgee oor boeke en skrywers nie, maar oor die land, die aardbol, oor ons menswees. Maar dit is seker ’n cop-out, so my keuse is die gesprek oor persvryheid, want ek is eindeloos beïndruk deur joernaliste wat meedoënloos aanhou om hul werk te doen. Sonder dapper nuusmakers en -delers vergaan die wêreld in ’n soort donkerte waar boelies wegkom met moord. Gepraat van moord: Ek sien uit na die gesprek oor reeksmoordenaars. Ware misdaad is ’n fassinerende genre. Ek het Nicole Engelbrecht se Sizzlers binne ’n dag gelees – so ek het so ’n bietjie van ’n crush op haar. Dan Paulet Huis-stories – want ek is net so ontsaglik trots op die skrywers wat daar geboorte gee aan hulle stories. Ek sal heel voor, heel aand wees by Hardop – dit is net so lekker om die ou konsep van Hardop af te stof en om vir digters die kans te gee om hulle ding te doen. Digters word so dikwels oor die hoof gesien, en eintlik is hulle die koninklikes van die woordenaars. En dan Antjie Krog. Ai, ek kan nie wag om haar nuwe boek te lees nie, en dit nogals oor haar verhouding met haar skrywersma. Die boek gaan dan ook nog warm soos ’n plaasbrood daar aankom.

https://suidoosterfees.com/

Jy het baie ondervinding as dit kom by die reël van feeste en feesprogramme. Deel tog ’n paar van jou geheime. Begin mens by onlangse boeke, onlangse gebeure, iemand wat in die nuus is, wie beskikbaar is ...? Hoe kies mens wie moet op die program wees?

Die belangrikste is dat jy jou gehoor moet ken, en dan moet jy hulle gee waarvan hulle hou, maar ook so bietjie vir bietjie probeer uitdaag. Dis nie altyd so maklik nie, en ’n mens maak maar ook foute. En so leer jy. Elke fees se lesers en boekwurms lyk anders, en die laaste ding wat jy moet doen is om ’n program saam te stel net vir jouself! Ek klop aan by die uitgewers om te hoor wat op pad is, en so begin ’n prentjie vorm. Elke jaar se oes lyk anders, en dit is so interessant vir my om telkens te sien wat kollektief in ons onderbewussyn aangaan, ook neerslag vind in boeke, en waaroor skrywers op daai bepaalde tydstip skryf.

..........
Elke jaar se oes lyk anders, en dit is so interessant vir my om telkens te sien wat kollektief in ons onderbewussyn aangaan, ook neerslag vind in boeke, en waaroor skrywers op daai bepaalde tydstip skryf.
.............

Wat is vir jou belangrik as dit kom by die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die fees? Hoekom bied julle dit aan, jaar na jaar? Gaan dit oor gemeenskapsbou, diversiteit, ’n plek om mense in te lig, ’n omgewing waar mense kan saamgesels, ’n omgewing waar boeke verkoop kan word en raakgesien kan word wat andersins nie ’n platform sou kry nie, ’n manier om sosiale en politieke kwessies te bespreek, waar niemand in die gehoor hoef stil te bly nie ...? Wat is die belang van die Jakes Gerwel-gesprekke?

Alles wat jy hier noem is wat ons wil aftik! Dit gaan daaroor om gesprek te fasiliteer; en om dit behoorlik te kan doen, moet mense jou vertrou. Dit is waarom dit vir my so belangrik is dat die Stigting heeltemal neutraal moet staan, heeltemal omarmend moet wees teenoor alle mense met alle soort ideologieë. Want sodra jy diskoers wil fasiliteer, maar mense vermoed jy het ’n soort agenda of ’n ideologiese raamwerk waarbinne jy kamtig die seepkis wil staanmaak, verloor jy geloofwaardigheid. En soms raak dit my op ’n persoonlike vlak as iemand van die verhoog af iets negatiefs kwytraak oor ’n groepering of so waarmee ek my identifiseer. Maar dis juis waaroor dit gaan – ons moet na mekaar kan luister, ons moet vir mekaar grasie gee. Ek wens ons kon in elke liewe dorp in die land sulke gesprekke aanbied, want dis so belangrik. Dis waar ons telkens vashaak.

...........
En in ’n wêreld waar leiers op mekaar skree, raak dit al hoe belangriker om ruimtes te skep waar mense werklik tot mekaar kan deurdring. Jy hoef nie iemand anders te oortuig nie, solank ons net kan begin kop dat daar verskillende maniere is van dink. So die Jakes Gerwel-gesprekke is eintlik ’n soort oefening – oor en oor moet ons leer om te praat, om te vra sonder om reeds ’n antwoord te weet, om te verstaan sonder om te oordeel. En dis moeilik, want ons het vir soveel dekades nie met mekaar gepraat nie.
.............

En in ’n wêreld waar leiers op mekaar skree, raak dit al hoe belangriker om ruimtes te skep waar mense werklik tot mekaar kan deurdring. Jy hoef nie iemand anders te oortuig nie, solank ons net kan begin kop dat daar verskillende maniere is van dink. So die Jakes Gerwel-gesprekke is eintlik ’n soort oefening – oor en oor moet ons leer om te praat, om te vra sonder om reeds ’n antwoord te weet, om te verstaan sonder om te oordeel. En dis moeilik, want ons het vir soveel dekades nie met mekaar gepraat nie.

https://suidoosterfees.com/

Is daar enigiets anders wat jy self by die fees gaan bywoon en kyk? Of gaan jy nie juis tyd hê nie? Jy gaan seker ook bontstaan om alles by te hou wat deur die Jakes Gerwel Stigting aangebied word! Dalk kan jy dan net deel wat op jou wenslysie is wat jy sou wou bywoon as jy kon?

Ek wil elke jaar alles op die program gaan kyk, want ek is mal oor teater. Maar dan is ek telkemale so uitgeput na ’n dag se gesprekke. Ek geniet dit so baie, maar omdat ek ’n introvert is, maak sulke publieke dinge my ekstra moeg! Waarna ek wel bitter baie uitsien, is al die NATi Jong Sterre-produksies, want hulle het by die Stigting se Paulet Huis verlede jaar geskryf aan hul produksies, en dit is altyd so ’n avontuur om te sien hoe hul skryfwerk ontwikkel het – veral onder die bekwame hande van Mamma Lee, soos die groep Lee-Ann van Rooi gedoop het!

Praktiese sake: Waar vind al die gesprekke plaas, wanneer, en hoeveel kos dit? Koop mens kaartjies by Webtickets, of kan mens ook net opdaag en by die deur kaartjies koop?

Die gesprekke is heeltemal gratis en verniet en pasella. Jy kry op die koop toe nog ’n koffie ook gratis! Jy moet egter wel groot asseblief jou plek op Webtickets bespreek, want daar is beperkte plekke. Jy kan ’n kans waag om by die deur vir jou ’n sitplek te kom kies, maar dan is jy nie gewaarborg van ’n sitplek nie.

En bring jou geld tog saam om ’n boek of tien te koop. Anders as by ander kunsvorme word skrywers normaalweg nie betaal vir openbare deelnames nie. Hulle hoop maar jy koop ’n boek. Alles gebeur by die ATKV-Boeke-Oase – wat by die Innovation Lounge is reg langs die operahuis. Aan die een kant is die gesprekke, en net om die draai is die boeke te koop. Alles maklik en gerieflik, en jy kan hier maklik geselsies aanknoop met die skrywers na jy hulle boeke gekoop het.

Lees ook:

Persverklaring: Kuns is alles by Suidoosterfees 2025

Persverklaring: Musiek is ons erfenis by Suidoosterfees

Blou Fiësta-toekenning vir die Suidoosterfees se 21-projek: ’n onderhoud

Persverklaring: Semifinaliste vir Suidoosterfees se Talentsoektog aangewys

Persverklaring: Kort verhoogstukke beloof hoë-oktaan ervarings by Suidoosterfees

Annie+Helen: Hennie en Pedro bring nuwe drama op die planke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top