
Annie+Helen (Foto: Jaco Marais)
Hennie van Greunen van Wordsmith’s Theatre Factory is die teksskrywer en regisseur van Annie+Helen, ’n nuwe drama wat by die KKNK debuteer. Daarna skuif die stuk ook na die Suidoosterfees.
Met Annie+Helen keer Wordsmith’s Theatre Factory terug na die feeskringloop. Wordsmith’s Theatre Factory, een van die land se oudste onafhanklike Afrikaanse teatermaatskappye, was laas in 2018 by die KKNK met sy produksie van Chase Rhys se Kinnes.
In die rolverdeling is Cintaine Schutte as Annie, Judi Hattingh as Helen, Bianca Flanders as Kate Keller, Stian Bam as Arthur Keller en Eldon van der Merwe as James Keller. Die stuk is vervaardig deur Pedro Kruger van Wordsmith’s Theatre Factory en Curro Create. Dis gegrond op William Gibson se The miracle worker, Helen Keller se The story of my life en Kim Nielsen se Beyond the miracle worker.
In 1887 ontmoet Annie Sullivan en Helen Keller mekaar – ’n ontmoeting wat hul lewens onherroeplik verander. Die 28-jarige Annie voel soos ’n gebroke legkaart, verkeerd aanmekaargesit, terwyl die 12-jarige Helen vasgevang is in ’n donker limbo – sonder die vermoë om te sien, te hoor of te praat. Wat volg, is ’n intense en roerende oorlog tussen twee gebroke mense. Dit is ’n stryd wat ontvou in veldslae rondom die eetkamertafel; kopskermutselings in gebaretaal; ’n oorlog om beide Annie en Helen se oorlewing.
In ’n wêreld waar trauma al hoe meer afgewater en alledaags voorkom, bring hierdie storie van twee formidabele vroue – en die mense wat hulle omring – ons tot stilstand. Dit dwing ons om na te dink oor die lesse wat trauma ons leer, en die ongelooflike veerkragtigheid wat uit daardie lesse spruit. Sentraal tot Annie se stryd is die idee van taal – ’n onmisbare element vir Helen se geestelike groei. Annie verstaan dat taal vir die verstand net so noodsaaklik is soos lig vir die oog. Sonder taal sal die deure tot Helen se wêreld vir altyd gesluit bly. Hierdie produksie se briljante en ervare geselskap ondersteun die jong, fenomenale 13-jarige Judi Hattingh in die rol van Helen, soos sy haar eerste treë op die professionele verhoog neem.
Wie was Helen Keller?
Helen Adams Keller (27 Junie 1880 – 1 Junie 1968) was ’n Amerikaanse skrywer, gestremde regte-advokaat, politieke aktivis en dosent. Sy het op 19 maande haar sig en gehoor verloor ná ’n siekte. Sy het tot die ouderdom van sewe jaar gebaretaal gebruik, tot sy haar eerste onderwyser en lewenslange metgesel Anne Sullivan ontmoet het. Anne het haar leer lees en skryf en Helen kon die eerste doofstom mens in Amerika word wat ’n BA Kunste verwerf het.
Helen skryf 14 boeke, honderde toesprake en verslae oor ’n wye reeks onderwerpe. Sy veg vir gestremdes, stemreg vir vroue, arbeidsregte en wêreldvrede. Haar outobiografie The story of my life (1903) handel oor haar opvoeding en lewe saam met Anne. William Gibson het dit later as toneelstuk verwerk en dis op sy beurt aangepas as film met dieselfde naam, The miracle worker.
Sy skryf oor haar lewe in verskeie van haar boeke, waaronder ook Optimism (1903), The world I live in (1908), Light in my darkness and my religion (1927), Helen Keller’s journal (1938) en The open door (1957).
Sy was in 1920 die medestigter van die American Civil Liberties Union saam met die Amerikaanse menseregteaktivis Roger Nash Baldwin en ’n paar ander. Haar volgehoue poging om blindes en dowes se behandeling te verbeter het gelei daartoe dat gestremdes uit asiele gehaal is.
Elke jaar word haar geboortedag op 27 Junie in Amerika gevier. Verskeie van haar gesegdes word steeds gebruik, maar min mense weet dit kan aan haar toegeskryf word, waaronder van my gunstelinge:
- “The only thing worse than being blind is having sight but no vision.”
- “Keep your face to the sunshine and you cannot see the shadows.”
- “Although the world is full of suffering, it is also full of the overcoming of it.”
- “The best and most beautiful things in the world cannot be seen or even touched. They must be felt with the heart.”
- “We can do anything we want to if we stick to it long enough.”
Annie+Helen en Wordsmith’s Theatre Factory
Wordsmith’s Theatre Factory se skrywer/vertaler/regisseur Hennie van Greunen en akteur/vervaardiger Pedro Kruger sien uit daarna om voort te bou op legendariese produksies soos Lyf, Op die vrou af, Dinsdae by Morrie, Rondomskrik en Shirley Valentine.
Maryke Roberts het met Hennie van Greunen gesels.
Wordsmith’s Theatre Factory was agt jaar laas by kunstefeeste. Waarmee was julle besig intussen en wat aan die terugkeer na feeste maak julle opgewonde?
Ons maatskappy is in 2018 gekontrakteer deur die Curro-groep-skole om ’n kreatiewe platform te ontwerp, te bou en te volhou vir hulle leerders landswyd, asook in Namibië en Botswana. Die sleutelprojekte maak plek vir jong mense wat hul kreatiwiteit op enige manier wil uitleef, van die tradisionele sing, dans en toneelspeel, tot kodering en die bou van aanlyn wêrelde, televisie-aanbieding, fotografie, kortfilms, animasie en ons nuutste projek wat fokus op toneelspel vir kamera. Van ons leerders is al gesien in verskeie televisieproduksies, onder andere Nêrens, Noord-Kaap, Reënboogrant en Trompoppie. Curro Create bedien tans tussen 15 000 en 20 000 leerders per jaar en is die enigste skoolgroep wat fokus op die uitbou van kreatiwiteit as deel van hulle aanbod.
Werk jy met ’n ander hoed op jou kop as jy iets vir feeste skryf, of hoe gaan jy te werk?
Die beperkinge wat ’n fees op die keuse van werk sit, is meestal logisties en prakties van aard: Jy moet onthou dat jy nie volle teater- tegniese moontlikhede het nie, jou geselskap kan nie te groot wees nie, so ook nie jou stel nie. Intrektyd is ook beperk, so alle beplanning werk om dit. En die storie wat jy vertel, is die storie wat jy wil vertel, want daardie storie is tans in jou kop, so die feit dat jy vir ’n fees skryf, is vir my irrelevant in terme van die keuse van storie.
Vertel my asseblief hoekom die fassinasie met Helen Keller?
My keuse van die storie van Helen Keller is nie werklik ’n fassinasie met HK nie, maar eerder ’n gelukkige toeloop van toevallighede: In die mid-1990’s toer ek, Pedro, Margit Meyer-Rödenbeck en Trix Pienaar deur die Suid-Kaap met ’n toneelstuk. Ek het pas begin skryf (“Jy gee mos Engels, so jy kan obviously skryf” … + wyn is hoe dít gewoonlik begin) en dis vir my net ’n baie groot opwinding dat Trix my woorde op die verhoog gebruik, en dat gehore daarmee resoneer.
Een aand langs ’n swembad in Riversdal sit ons aan Trix se voete en luister na daardie ongelooflike stories van flieks en Frankryk en verbande teater, toe Trix noem dat die rol wat sy die helderste onthou, is dié van Annie Sullivan, in die Afrikaanse vertaling van The miracle worker. Ek lees die teks en hou van die stryd tussen Annie en Helen, maar die res laat my koud.
30 jaar later word Judi Hattingh, graad 4-leerder aan Curro Durbanville Laerskool, ge-AMP. Die Advanced Mentorship Programme gee vir die kreatiewe outliers die kans om twee of drie maande saam met ’n professionele kunstenaar te werk, en die sprong in die leerders se vaardighede is altyd, maar altyd, ongelooflik. Ek besluit om Judi te mentor; ek werk al aan en af met haar van graad 4 af en daar is ’n baie sterk akteurslig binne-in haar. Die ding met Judi is, sy is baie slim, baie verbaal, praat non-stop, neem notas soos ’n professionele speler, so wat doen mens om haar vaardighede verder te slyp? En toe onthou ek vir Helen, en hierdie karakter neem al Judi se go-to talente weg: Sy is doof, blind, en daarom stom, so Judi gaan moet fokus op haar innerlike belewing van die karakter. Ná ’n paar weke se werk, lees ek weer die teks en besluit ’n verwerking, wat ook meer fokus op Annie se trauma, kan werk.
Wat aan haar lewe het jou genoeg beïndruk om ’n toneelstuk oor haar te skryf?
Weer is Helen se lewe nie die sleutel nie, liewers wat dit kan beteken vir moderne gehore: As deel van die werk wat ons sien met die jong mense, is die plaag van mental health issues, veral anxiety, iets wat in alle grade net toeneem. Ek sukkel met die idee dat ouers kinders nie sal toelaat om alleen winkel toe te stap nie, maar dan gee hulle vir hulle pre-teens ’n slimfoon, basies die wêreld, in hulle handpalm. Die devices en die anxiety loop hand aan hand. Baie van hierdie kinders sukkel dus om enige veerkragtigheid (resilience) te ontwikkel. Ek hoop dat - soos toneel doen - hierdie storie sal gaan lê in die koppe van die jong mense en ouers wat dit sien, en die idee van veerkragtigheid meer teenwoordig en moontlik sal maak in hulle eie lewens.
Wat aan die twee vroue wat vir jou uitgestaan het, wou jy graag in die toneelstuk oordra?
Twee vroue, beide getraumatiseerd, wat mekaar heel maak. Annie verduidelik op ’n stadium dat taal vir die brein is soos lig vir die oë, en ek hoop dat die ervaring van Annie+Helen mense se binnestes sal ligter maak.
Wat was die grootste uitdaging aan hierdie stuk?
Ek het die oorspronklike teks so verwerk dat dit ’n fraksie van die karakters het, en ek wou die randfigure, veral die onmiddellike gesin, meer agency gee. In die toneelstuk, byvoorbeeld, is Helen se ma Kate ’n oneffektiewe karakter wat meestal gil (“my kind is blind en doof”) en swoon. Ek het grootgeword met ’n gestremde suster en het dus baie in daardie gemeenskap beweeg en ma’s, veral ma’s, is natuurlik ontsteld wanneer hulle kind gediagnoseer word, maar sonder uitsondering rol hulle dan hulle moue op en doen wat gedoen moet word. Helen se pa is ’n plat karakter – plaas, militaristies – en haar halfbroer James is ’n gesie op die agtergrond. In die teks sien ons die effek wat ’n differently abled kind het op almal in die gesin, en is die familiekarakters meer volrond en meer mens. Ek wou ook meer fokus op Annie se pre-storie tot sy en Helen bymekaarkom.
Hoe naby aan die ware verhaal het jy gebly met jou teks?
Soos die lewe gewoonlik werk, was Helen se stryd om ’n deurbraak vinniger en minder dramaties as in die toneelstuk. Daar is min lewens, selfs Helen s’n, wat in hulle ware vorm ’n toneelstuk kan vul. Helen se storie is dus verwerk na die klassieke hero’s journey.
Hoekom die besluit om dit in Afrikaans te doen; sou Engels dit nie ’n langer raklewe gegee het nie?
Ons gaan die hele feeskringloop doen – SOF, Aardklop, Woordfees, en dan hopelik in die Kaap ’n speelvak doen. Ook is Kate deurgaans ’n Engelse karakter, so ons speel tussen die twee tale.
Hoekom nou hierdie stuk, in 2025?
Ek het dit beantwoord hierbo in die vorige vraag, maar trauma kom byna altyd met ’n morsig toegedraaide geskenk in sy grubby hands en daardie geskenk raak baie keer ons definiërende rigtingwyser, redder en Achilles’ heel.
As jy oplees oor haar lewe, is daar baie kritiek teenoor haar. Hoe voel jy daaroor?
Aan die TikTok-gedrewe idees dat sy haar blind- en doofheid gefake het, gee ek nie aandag nie. Die res, soos haar inkoop in Eugenics, dat ’n mens superior mense kan breed, is tydgebonde, en het sy later van afstand gedoen. Wat nie ontken kan word nie, is haar latere werk as vegter vir vroue- en disability regte.
Al hou ek nie van Helen Keller nie, sal ek steeds die toneelstuk geniet?
Jip!
Vertel my van die stel.
Die stel, ontwerp deur Rocco Pool en gebou deur Gaerin Hauptfleisch, is ’n verteenwoordigende versameling van spasies. Die wit stel, die periodekostuums in skakerings van grys, swart en wit, fokus die storie totaal op die karakters en op wat op die verhoog gebeur. Die ontwerp eggo ook die meer moderne taalgebruik en sensibility van ons weergawe – die fokus is op Annie en Helen se stryd om net een woord te leer, net een.
Hoekom die keuse van Cintaine Schutte as Annie?
Cintaine was een van meer as 20 akteurs wat ek saam met Judi oudisie het. Omdat hierdie rol so groot is vir Judi, het sy ’n speler nodig wat haar nie net in toneelspel kan mentor nie, maar wat haar ook veilig kan laat voel binne die verhouding tussen Annie en Helen, sodat sy vrylik kan verken en speel. En natuurlik is Cintaine een van die beste akteurs van haar generasie.
Waarheen gaan die stuk ná die Suidoosterfees?
Aardklop, Woordfees, en hopelik ’n speelvak in Kaapstad.
Waar kan ek dit sien?
Annie+Helen dra ’n 0/10-ouderdomsbeperking en is 100 minute sonder pouse.
Dis by die KKNK op Oudtshoorn op 1 April om 10:30, 3 April om 09:30, 4 April om 14:30 en 5 en 6 April om 09:00 in die SANW-ouditorium (Parkweg). Kaartjies kos R190 (vooraf), R175 (Vriende van die KKNK) of R205 (by die deur). Meer inligting by https://kknk2025.kknk.co.za/toneel/anniehelen/.
Op 3 Mei om 11:00 en 4 Mei om 14:30 is die stuk by die Suidoosterfees in die kykNET-teater by die Kunstekaapsentrum in Kaapstad. Kaartjies kos R150. Lees meer by https://suidoosterfees.com/2025-nati-teaterfees-theatre-festival/.

