Persverklaring: Musiek is ons erfenis by Suidoosterfees

  • 0

Musiekliefhebbers kan gereed maak vir konserte en uitvoerings uit die boonste rakke tydens die Suidoosterfees, vanjaar aangebied van 30 April tot 4 Mei by Kunstekaap in Kaapstad.

Verskeie skouspelagtige konserte en aangrypende intieme produksies gaan Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis op unieke maniere verken.

Staatmakerkonserte wat die afgelope jare ’n groot gevolg by die fees opgebou het, vaar reeds uitstekend by die loket. Kaartjies verkoop vinnig vir Suidoosterfees Boogie, Universiteitskoor Stellenbosch, Suidooster Stormsterk en Nataniël se Duif.

Die gewilde Suidooster Stormsterk, wat altyd vir uitverkoopte vertonings sorg, word vanjaar deur kykNET na die fees gebring met die ondersteuning van Tafelberg Meubels en Biggi Popcorn. Dié konsert skop kykNET se Suidooster se tiende verjaarsdagvieringe in 2025 af.

Suidoosterfees se Boogie-span gaan oudergewoonte die voete laat jeuk en Nataniël se Duif. (met die punt aan die einde!) spog met stories, asembenemende kostuums, skreeusnaakse kwinkslae en betowerende musiek.

Met die Moederstad as ’n baken van inspirasie vir alle Suid-Afrikaners, skop die fees op gepaste wyse af met Konsert van hoop. Vanjaar begelei die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes gevestigde sterre én die knapste jong klassieke musici wat deur die Nasionale Jeugmusiekstigting onder die vlerk geneem word.

Vrouestemme: Voices of Power fokus op vrouestemme in ons musiek en letterkunde. Corlea Botha, Edith Plaatjies, Tashé, Phoebe Mgxaji, Mia Dippenaar, Antoinette Kellermann, Lee-Ann van Rooi, Veronique Jephtas, die Figure of 8-dansers en ’n Curro-massakoor tree in dié kragtige produksie op.

Een van die fees se vlagskip-produksies bring ’n aangrypende musikale viering van die ikoniese Sarah Baartman se nalatenskap. Creating Sarah | Die skep van Saartjie huldig Baartman met woord en musiek. Diana Ferrus is op die verhoog om te praat oor haar beroemde vers se aandeel in die terugbring van Baartman se oorskot na Suid-Afrika. Onder leiding van Coenie de Villiers tree musikante soos Ramon Alexander, Dizu Plaatjies, Nomapostile Nyiki en Lungiswa Plaatjies met die gedig in gesprek deur sonderlinge interpretasies.

Stephanie Baartman & Janine Neethling tree op in Hoort, ’n semi-outobiografiese kabaret waarin stories oor Baartman se lewe as dogter van twee pastore met pragtige musiek verweef word.

David Kramer is verantwoordelik vir die musiek van Katrien, die King en die Kween, oor ’n egpaar, gespeel deur Elzabé Zietsman en André Schwartz, wie se saai lewe op die kop gekeer word wanneer ’n flambojante pianis (Tony Bentel) langsaan intrek.

Hoe mooi val die lig plaas die kollig op die vernietigende liefdesverhouding tussen die Franse skrywer George Sand, wat onder ’n manlike skuilnaam geskryf het, en die briljante, gefolterde Poolse pianis Frédéric Chopin.

Koos Kombuis en Jana Cilliers verskyn in die woord-en-musiekproduksie Omwentelinge, ’n papierspel, waarin dié twee veterane besin oor die wyse waarop woorde en musiek hul binnewêrelde vorm. En in Once Upon a Tune besing die formidabele Zanne Stapelberg die bittersoet van menswees en die liefde.

Kunstetreffers spog met gewilde plaaslike kunstenaars wat aan Artscape se uitreikprogram na plattelandse dorpe deelgeneem het. Niël Rademan sorg vir Karnaval van die diere – Pieter en die Wolf, en in die Koorgala ding amateurkore mee om die kroon van die fees en die ATKV se jaarlikse koorkompetisie.

In Kort voor lank, Suidoosterfees se programafdeling met produksies van 30 minute lank, is kragtige miniproduksies ingesluit. Die Charl du Plessis Trio bring Swinging Classics na die verhoog, en Ilse Klink en Anna Davel gooi hul talent saam in Davel & Klink in harmonie.

In Halfuur huis toe is Dean Balie en Frieda van den Heever saam op die verhoog, en in Part One: Pocket Rocket maak feesgangers kennis met die legendariese jazz-baanbreker, Hilton Schilder. En Opera UCT bring hul mooiste studentestemme in Viva Italia! An Operatic Songbook byeen onder begeleiding van die sangafrigter Lisa Engelbrecht.

Die volledige feesprogram is beskikbaar op suidoosterfees.com en kaartjies by Webtickets. Musiekproduksies word deur verskeie instansies ondersteun, onder andere die Johann Brink Trust, Tafelberg Meubels, Biggi Popcorn, Het Jan Marais Nationale Fonds, die Atterbury-trust, Stad Kaapstad, die Nasionale Jeugmusiekstigting, Curro en Artscape.

Die hoofborge van die fees is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Die Suidoosterfees se 2025-program is hier beskikbaar. Die fees vind van 30 April tot 4 Mei 2025 in Kaapstad plaas.

Kry Suidoosterfees se volledige program by suidoosterfees.com; kaartjies by webtickets.co.za.

Lees ook:

Persverklaring: Kuns is alles by Suidoosterfees 2025

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top