
Jana Hattingh, hoof- uitvoerende beampte van die Suidoosterfees (foto: Gys Loubser)
Jana Hattingh praat met Naomi Meyer oor die Blou Fiësta-toekenning wat die Suidoosterfees pas by die Fiëstas ontvang het.
Jana, die Suidoosterfees het vanjaar die Blou Fiësta-toekenning ontvang. Dis die Fiësta vir verdienstelike werk wat nie in enige van die kategorieë val nie. Baie geluk hiermee! Vertel asseblief waarvoor julle dit ontvang het?
Vir die 21ste Suidoosterfees in 2024 het ons ’n projek saamgestel waarmee ons werk vir kunstenaars en teaterwerkers in ’n verskeidenheid genres kon skep en wat bekostigbaar vir gehore is. Dié 21 produksies van 21 minute teen ’n kaartjieprys van R21 het genres soos teater, komedie, dans, musiek en kabaret ingesluit.
Van die produksies was uit die staanspoor gewild en is sedertdien na ander feeste genooi en het toekennings ontvang. Chronicles van die Lavis met Veronique Jephtas as die supergewilde internetpersoonlikheid Mavis vannie Lavis het byvoorbeeld ’n draai by die Toyota Stellenbosch Woordfees gemaak, en word binnekort ook by die KKNK opgevoer.
By vanjaar se fees, van 30 April tot 4 Mei by Artscape, is Mavis weer teenwoordig, dié keer in ’n vollengte komedie met die titel Mavis mettie marbles. Dit word deur Basil Appollis geregisseer.
Corneil Muller en Lynelle Kenned is ook pas met ’n Fiësta bekroon nadat hulle Ontban, wat ook verlede jaar ’n toekenning by die Woordfees ontvang het, in ons 21-reeks gedebuteer het as ‘n klassiekemusiek-kortproduksie.
........
Met die gesogte Blou Fiësta gee kykNET waardevolle erkenning aan vernuwing, en dit moedig wenners aan om nog meer kreatief te dink en wonderlike sinergieë te verken wat die bedryf baat.
.......
Dis ’n wonderlike konsep. Kaartjies is juis so duur. En tog kan akteurs nie gratis werk nie; hulle moet juis deur die kunste oorleef, sodat mense kan oorleef deur hul kuns te beleef! Hoe het julle dit reggekry om die kaartjies net R21 te laat kos?
Ons was baie gelukkig en dankbaar toe ons borge in die konsep ingekoop het en met hul ondersteuning die kaartjieprys van R21 moontlik gemaak het. Die borge en verskillende individue en organisasies wat skenkings aan spesifieke 21-produksies gemaak het wat die projek moontlik help maak hetwas die ATKV, Stad Kaapstad, NATi, kykNET, Son, die NAC en sy Presidential Employment Stimulus Programme (PESP), Suidooster, Compagniesdrift, Edmund Beukes, KSUT, Crispin en Lisa Sonn en Simone Myburgh. Hulle het almal begrip vir die noodsaaklikheid om gehoorontwikkeling te bevorder en toegang tot die teater so bekostigbaar moontlik te maak. Dié benadering is ook een van die kernopdragte waarmee die Suidoosterfees in die lewe geroep is.
Wat beteken ’n toekenning soos die Blou Fiësta vir die Suidoosterfees?
Ongelooflik baie, veral vir die kunstenaars en borge wat deel was van die projek. Met die gesogte Blou Fiësta gee kykNET waardevolle erkenning aan vernuwing, en dit moedig wenners aan om nog meer kreatief te dink en wonderlike sinergieë te verken wat die bedryf baat.
Suidoosterfees is trots daarop om dié spesiale toekenning al ’n hele paar keer in ontvangs te kon neem. Die projekte wat daardeur erkenning gekry het, wissel van ons inryteateraanbieding tydens grendeltyd toe dit ons teaterwerkers in staat kon stel om inkomste te verdien terwyl teaterdeure oral in die land gesluit was en feeste gekanselleer is, tot die pragtige Stemme-projek wat ons drie jaar lank saam met LitNet kon aanbied.
Hoe vernuwe, herontwerp en bedink mens elke jaar nuut, keer op keer, en asof dit die eerste keer is, as mens ’n fees aanbied?
Dit is inderdaad ’n uitdaging, maar ook een van die lekkerste lekkers. ’n Fees is in sy kernwese ’n ruimte waar mense buite boksies moet dink en nuwe konsepte kan toets. Ons is dit aan ons feesgangers verskuldig om met opwindende nuwighede vorendag te kom en aan te hou om hul horisonne te verbreed.
........
Ons stimuleer en skep werksgeleenthede en ons ontwikkel nuwe talent. En só maak ons kuns wat neerslag vind in elke aspek van mense se bestaan.
........
Waarom is kuns en alles by die Suidoosterfees vir jou belangrik?
Ons bou aan ’n gemeenskap van kunsteliefhebbers, kunstenaars, feesgangers, borge en al die ander mense agter die skerms, sodat hulle saam hulle passie kan uitleef. En byna nóg belangriker: Ons stimuleer en skep werksgeleenthede en ons ontwikkel nuwe talent. En só maak ons kuns wat neerslag vind in elke aspek van mense se bestaan.
Lees ook:
LitNet en hoofvennoot Suidoosterfees se Stemme-projek wen Blou Fiësta!
Stemme: Teaterprojek gee stemme toe alles stil geword het – én daarna

