
Veronique Jephtas en Cantona James in Franklin deur Nathan Trantraal (in die filmweergawe)
...
Melt sê die entoesiasme waarmee skrywers – van Hertzogpryswenners tot nuwe stemme wat deel was van ontwikkelingsprojekte, soos LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool en die NATi Jong Sterre-projek – was absoluut wonderlik en aansteeklik.
...
Een van die produksies by vanjaar se Suidoosterfees wat my oog vang, is Stemme. Ons kry net kans om twee stukke in die ATKV Hulpbronsentrum, Pil en Andersom, uit die 10 stukke te sien. My belangstelling is egter geprikkel en dis by Rafiek Mammon wat ek gaan aanklop het. Stemme word op LitNet vrygestel, soos in die vorige jare.
Dis ’n projek van LitNet, in vennootskap met Suidoosterfees, NATi en die ATKV wat ondersteun word deur Het Jan Marais Nasionale Fonds en die LW Hiemstra Trust. Dis vanjaar vir die derde keer aangepak en die oogmerk van die projek is tweeledig. Brian Figaji, die direksievoorsitter van die Suidoosterfees, het in 2021 verduidelik:
Hierdie sinergieprojek met LitNet en ons vennote in die teater- en feestebedryf, bied kunstenaars die geleentheid om skeppend te werk tydens die COVID-19-pandemie. Terselfdertyd gee dit aan opkomende kunstenaars wat reeds by ons en NATi se Jong Sterre-projek gebaat het, die waardevolle geleentheid om ’n verhoog met legendes in die bedryf te deel.
Hoewel die grendeltyd verby is, is daar steeds ruimte vir kort toneelstukkies van min of meer vyf minute elk. Vanjaar het 20 akteurs, 10 regisseurs en 10 skrywers spesiaal vir die 20ste Suidoosterfees geskitter in kort, kragtige dialoë vir sielsverkwikking – en soms ontnugtering – tussen ander, langer feesproduksies.
Melt Myburgh was tot onlangs as vryskutwerker by LitNet betrokke, onder andere met hul Nuwe Skryfwerk-inisiatief wat deur die LW Hiemstra Trust ondersteun word. Hy sê:
Met dié projek kan mens lekker kreatiewe dinge aanpak. Die oogmerk van die projek is om nuwe Afrikaanse tekste deur skrywers te genereer. Ons wou spesifiek dramatekste skep, omdat daar in die verlede hoofsaaklik op poësie en kortverhale gefokus is. Toe Covid ons in 2020 tref, en teaters en feeste agter slot en grendel beland, het die idee van monoloë na ’n logiese opsie gelyk. LitNet het skrywers genader om Afrikaanse tekste te genereer, en die Suidoosterfees het aan boord gekom om dit op te voer en te verfilm sodat dit aanlyn op LitNet beskikbaar gestel kon word.
Die doel van die projek, naamlik om werk te skep vir skrywers en teatermakers, en die ontwikkelingskomponent waarby alle betrokkenes baat, is nog presies dieselfde. Covid het intussen op die agtergrond geskuif, dus kan mense nou weer saam op die verhoog verskyn. Dit is hoekom die Stemme-reeks vanjaar as dialoë aangebied is, en aangeskuif het van die monoloog-formaat.
Melt sê die entoesiasme waarmee skrywers – van Hertzogpryswenners tot nuwe stemme wat deel was van ontwikkelingsprojekte, soos LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool en die NATi Jong Sterre-projek – was absoluut wonderlik en aansteeklik.
Die mededeelsaamheid waarmee skrywers tekste geskep het, met die wete dat die opvoerings en video-opnames in die hande van ander, dikwels eksperimentele teatermakers gelaat word, verdien respek. En natuurlik het die ervaring en benadering van medewerkers vanuit verskillende generasies gesorg vir kreatiewe kruisbestuiwing. Én dit het inkomste gebring in ’n tyd toe baie teaterwerkers in die Covid-cul-de-sac beland het. Toe die US Woordfees boonop verlede jaar ’n keur van die monoloë op Woordfees TV uitgesaai het, het die skrywers, regisseurs en akteurs verdere inkomste uit die projek verdien.
Hy sê feesgehore kon ook iets uniek ervaar: kort, kragtige teaterstukke met gevestigde en opkomende akteurs, wat tydens verposings tussen langer feesaanbiedinge geniet kan word.
Stel jou voor jy is by ’n kunstefees, en jy kan vinnig-vinnig en gratis inloer by ’n aanbieding waar akteurs soos Armand Aucamp en Hannah Borthwick op die verhoog is en gestalte gee aan ’n teks van ’n skrywer soos Deon Opperman. Dis mos lekker verby!
Die akteurs wat deelgeneem het, sluit in: Jill Levenberg, Lindzay Naidoo, Enrico Hartzenberg, Morné Steyn, Robert Hindley, Miché van Wyk, Bianca Flanders, Marunzo Thomas, Armand Aucamp, Hannah Borthwick, Susanne Beyers, Desiré Gardner, Charlene le Roux, Curtley Pitt, Cantona James, Veronique Jephtas, June van Merch, Jurgen McEwan, Elzabé Zietsman en Dean Balie.

Elzabé Zietsman en Dean Balie in Vir twee stemme deur Pieter-Dirk Uys (in die filmweergawe)
Die tien teksskrywers was Pieter-Dirk Uys, Deon Opperman, Rachelle Greeff, Chase Rhys, Nathan Trantraal, Marita van der Vyver, Brian Fredericks, Zubayr Charles, Valda Jansen en Bettina Wyngaard.
Die tien regisseurs was Sandra Temmingh, Basil Appollis, Nicole Holm, Quanita Adams, Wessel Pretorius, Kanya Viljoen, Andre Samuels, Melissa Myburgh, Oscar Petersen en Francois Toerien.
Die tien toneelstukke is Vir twee stemme, Die herdenking, Refleksie, Haram, Jirre, waar’s my kind?, Onsigbaar, Onthuts, Franklin, Pil en Andersom. Temas soos MIV/VIGS, selfdood, verwerping en homoseksualiteit word gedek.
Zubayr Charles, wat LitNet se Kommadagga-slypskool voltooi het, het Haram geskryf. Quanita Adams was die regisseur en Bianca Flanders en Marunzo Thomas in die rolverdeling. Zubayr sê:
Om by Suid Afrika se cut-throat teaterbedryf in te breek, is ’n groot gejaag. Baie hoofstroom-teater gee nie nuweling-skrywers of -regisseurs ’n kans nie, want ons moet ondervinding hê en ’n naam vir onsself hê, maar almal moet mos êrens begin.
Ek is baie dankbaar teenoor Melt Myburgh en LitNet vir hul volgehoue ondersteuning. Dit is nie altyd maklik om ’n loopbaan in skryfwerk te volg nie, so om ’n klein kans te kry om my werk by Stemme te vertoon, het die wêreld vir my beteken.
Hy vertel dat die grootste les wat hy by die Kommadagga-slypskool geleer het, was dat “as ek ’n storie het om te vertel, moet ek in die storie en myself glo, want an’er mense sal sekerlik nie in my glo as ek nie in myself glo nie. Ek is ewig dankbaar teenoor my mentor, Rachelle Greeff, wat my voortdurend aangemoedig het om my eie deure oop te maak.”
Haram vertel die verhaal van ’n fiktiewe karakter met die naam van Muhammad Gilbert. Hy is 17 jaar oud en verward oor sy seksualiteit. Muhammad kom uit ’n hoë godsdienstige en Islamic familie, en om gay of biseksueel te wees word gesien as “haram” (verbode), maar die dialoog neem ’n interessante draai. Ek was baie geëerd om hierdie storie te vertel.”
Hy sê dit was emosioneel om te sien hoe Haram voor ander mense opgevoer word.
Onthou, ek het ook die dialoog vir die eerste keer gekyk soos almal anders, so dit was ’n nuwe ervaring vir my. In my gedagtes het ek geweet dat sekere aspekte van die dialoog snaaks sou wees, so om die gehoor op verskillende stadiums te hoor lag, het my hart lekker warm lat voel.
Die idee van Haram het al jare gelede begin. Die toneel het ek eintlik uit my roman uitgehaal. In Islam word ons verskillend waarskuwings gegee oor wat “haram” (verbode) is, maar niemand bespreek ooit wat gebeur as ons foute maak of daardie “haram” dinge doen nie. Ek wou altyd daardie tema verken, veral vanuit ’n tienerperspektief. Die volgende stap sou wees om my roman Haram gepubliseer te kry.
My boodskap met die stuk? Om jou seksualiteit en jou geloof te verstaan is aaklig, veral as jy ’n tiener is. Ek wou graag die boodskap oordra vir die jeug dat dit is eintlik oukei is om verward oor jou seksualiteit te wees. ’n Mens hoef’ie al die antwoorde te het’ie. Alles sal natuurlik sin maak wanneer ’n mens ouer is. Dit is nie so sleg om hulp te vind nie.
Hy sê hoekom stories soos hierdie belangrik is in 2023, is dat ’n mens sou dink dat in 2023 die meerderheid van mense nie meer homofobies is nie, maar “daagliks sien ek hoe mense haat versprei. Dit is belangrik om seksualiteit te bespreek, maar almal moet onthou om respek te het. Ons hoef’ie om saam met mekaar te stem’ie, maar ons moet ons tieners nie ongemaklik lat voel nie.”
Hoewel hy nie by die regie en akteurs betrokke was nie, het hy homself herinner om nie met enige verwagting in die teater in te stap nie.
Natuurlik het ek as die skrywer ’n prentjie gehad van hoe die toneel gelyk het en dit was interessant om Quanita se interpretasie van my woorde te sien. As regisseur het sy doeke as simboliese betekenis gebruik – iets waaraan ek nooit sou gedink het’ie. Welgedaan aan Quanita en akteurs van Bianca en Marunzo wat my storie lewendig gemaak’et.

Jurgen McEwan en June van Merch in Andersom deur Marita van der Vyver by die Suidoosterfees (Foto: Clifford Roberts)
Marita van der Vyver het Andersom, met June van Merch en Jurgen McEwan in die rolverdeling, geskryf. Sy kon verlede jaar die Suidoosterfees bywoon, maar hierdie stuk was haar eerste deelname aan Stemme.
Die SOF is vir my die mees verteenwoordigende Afrikaanse kunstefees, wat kunstenaars én gehore betref. Nie die gewone wit-en-grys gehore (wit vel en grys hare) wat soveel ander feeste steeds kenmerk nie.
Sy voeg ook by dat sy geen van die vorige feeste se monoloë of vanjaar se dialoë in lewende lywe gesien het nie.
Ek het wel vir die organiseerder, Melt Myburgh wat by LitNet gewerk het, gevra om vir my ’n paar van die vorige monoloë se tekste te stuur, net sodat ek kon sien wat van my verwag word, voordat ek my stukkie geskryf het.
Marita sê oor die opdrag (’n baie kort dialoog, maksimum 500 woorde) dit was amper onmoontlik moeilik om iets so kort en bondig te skryf sonder om die trefkrag te verloor. “Dis juis die graad van moeilikheid wat dit so uitdagend maak om so iets aan te durf.”
Sy het besluit sy wil ’n ma en haar volwasse seun laat gesels.
Ek kan nie die gesprek opsom sonder om die kinkel in die storie weg te gee nie – en die kinkel is alles. Toe ek eers besluit het dis ’n ma en haar seun, het ek begin dink aan wedersydse verwyte wat in so ’n kort dialoog na vore kan kom – en toe gebeur die storie vanself. Francois Toerien as regisseur het gesorg vir die ritme en die stiltes op die regte plekke, wat natuurlik baie belangrik is.
Oor Stemme se plek post-Covid meen sy:
Die monoloë was perfek vir Covid, toe ons almal op ons eie met die inperkings moes cope. Nou moet ons as’t ware weer leer om saam met ander te werk en met mekaar te gesels, en dis waar die dialoë help.
Sy sê enige storie – soos hierdie wat in Stemme weergegee word – wat vra dat ons ons verbeelding inspan, is belangrik. “Of dit nou in 2023 of in 1923 is.”
Ek kan nie namens ander deelnemers aan Stemme praat nie, maar vir Andersom was daar net fantastiese samewerking, geen ego's wat gebots het nie. Ons almal respekteer mekaar se werk. Ek kry die indruk dat die ander deelnemers ook só voel.

Morné Steyn en Enrico Hartzenberg in Pil deur Chase Rhys by die Suidoosterfees (Foto: Clifford Roberts)
Chase Rhys was die skrywer van Pil en hulle beskryf dit as ’n “lovestory in Kaaps”.
Wanne ek dink aan stories oo HIV, dink ek aan stories wat innie ‘80's en ‘90's afspeel - al issie wêk onlangs gemaak. Mees vannie stories gan oorie begin vannie Aids crisis. Is stories van bedridden mense met beanies op ingesinkte gesigte. Is manne in kombêse met beanies op hills kop. Allie HIV-stories gan oo suffering. Ek dink is high time dat ôs stories het van mense wattie van HIV doodie, maa mense wat met HIV leef, wan dit is tog die reality van vedag se tyd.
Hulle sê die idee van hulle storie – en die boodskap daarmee – het gekom omdat hulle dink die gesprek rondom MIV is deesdae stil.
Dit maak my bekommerd wan ôs is nog steeds die land mettie hoegste infection nommes innie wêreld. Ek dink ôse stories moet daardie werklikheid reflect.
Daa's soeveel advancement gemaak innie treatment van HIV. Daa's even ’n ARV injection wat mens net elke ses maande moet vat. Pille soes PrEP is ’n miracle, it is ’n pil wat ’n HIV negative mens kan vat om seker te maak hulle kry nie die virus nie, al slaap hulle sonne protection met ieman wat wel positief is.
Klompie mense wietie ees wat PrEP issie en dat it free vi ôs is. Mense wietie waa ommit te kry nie. Mense het soe lank en hard baklei vi treatment; baie van dai activists lewe nie meerie, maa ek gloe hulle sal dink is fokken beautiful dat, thanks to hulle harde wêk, kan ôs dekades later ieman sien wat ARV's begin met ’n smile, met ’n song en dans, met ’n joke, asof ittie ’n big deal issie. What ’n privilege, hoe stunning!
Dit was hulle eerste deelname aan Stemme en hulle glo: “Ienage kuns wat ’n audience gratis kan kyk, is ’n geleentheid om iets belangrik te sê. Ek hoep Pil sal mense motivate om na hulself te kyk, om mee navorsing te doen oorie meds wat beskikbaa is – nie net vi positive mense nie maa oek vi HIV negative volk.”

Morné Steyn en Enrico Hartzenberg in Pil deur Chase Rhys (in die filmweergawe)
Hulle sê dit was heerlik om weer iets vir die verhoog te kon skryf. “Ek het mos my skryfloopbaan as ’n dramaturg begin, met Kinnes – die teaterstuk. Teater is my first love.”

Lindzay Naidoo en Jill Levenberg in Refleksie deur Valda Jansen (in die filmweergawe)
Sandra Temmingh was die regisseur van Refleksie met Jill Levenberg en Lindzay Naidoo. Dit handel oor ’n ma en dogter met ’n ma wat só selfbehep is dat sy geen empatie het vir haar dogter se probleme nie, ten spyte daarvan dat die dogter se kanker weer terug is. Dis ’n dogter wat sedert geboorte emosioneel verwaarloos is en nooit moederliefde geken het nie. “Wat my aan die storie aangegryp het, is hul toksiese verhouding en wat veroorsaak dat hulle voortdurend by mekaar verbypraat.”
Sandra sê hierdie storie “is beslis nie nuut as tema nie en was nog altyd oor die eeue daar – hoekom is mense in terapie of in psigoanalise?”.
Sy sê die regie-uitdaging is om binne so ’n bitter kort speeltyd (vyf minute) jou gehoor die essensie van die teks te laat snap en gevoelens en vrae by hulle op te wek en los te maak.
Die waarde van Stemme lê daarin dat jong skrywers só hulle visie kan toets om te sien of hulle ’n geesteswêreld binne so ’n kort tydjie kan skep. Ek dink dis baie moeilik om binne so ’n kort werkie te oordeel of ’n skrywer werklik ’n eie stem het, en sou dit miskien voorkom, kan so ’n skrywer dit volhou in ’n volledige teks?
Ek is van mening dat Stemme post-Covid sy doel gedien het.

Hannah Borthwick en Armand Aucamp in Die herdenking deur Deon Opperman (in die filmweergawe)
Armand Aucamp het teenoor Hannah Borthwick in Die herdenking gespeel. Wessel Pretorius was die regisseur en dit is deur Deon Opperman geskryf. Armand verduidelik dis ’n blik op verhoudings, wat gesê en nie gesê word nie. Oor geheime en ontrouheid, ’n magspel tussen man en vrou.
Ek wou graag by Stemme betrokke wees. Ek wou saam met Wessel en Hannah werk en met ’n Deon Opperman-teks speel – al die bestanddele het baie goed saamgewerk om die stuk lewe en geur te gee. Magspel is so oud soos die mens self en sal vir ewig wees. Dit is goed om te besef dat sommige aspekte van menswees nooit sal verander nie. ’n Mens kan bloot bewus wees van hierdie onveranderlike.
Armand sê die vryheid wat Wessel as regisseur gebied het, was vir hom die lekkerste aspek aan die toneelstuk. “Wessel laat jou toe om sowaar te ‘speel’. Maar hy is soos ’n ‘safety net’ en sal jou vang en in die regte rigting lei as iets nie werk nie.”
Armand sê hy dink die aanvanklike Stemme het sy doel gedien – maar tog was/is die projek só ’n sukses dat dit lewe ook ná Covid gekry het. Natuurlik kon ons nou voor gehore speel in plaas van via skerms soos in die grendelperiode.
’n Projek soos hierdie gee vir jong skrywers die geleentheid om hul stem(me) te laat hoor. Vir my maak dit nie saak hoe groot of klein ’n produksie is nie – as ’n mens met die regte mense kan werk en dit raak gehore aan, dan is dit altyd die moeite werd om aan te pak.
Jana Hattingh, hoofbestuurder van die Suidoosterfees, sê sinergie tussen die Suidoosterfees en ander instansies, in dié geval LitNet, is baie belangrik.
As dit gaan oor die bevordering van ideale wat ons deel, werk ons graag saam om iets moois en waardevol tot stand te bring, en om geleenthede vir skrywers, akteurs en teatermakers te skep. Of dit “noodsaaklik” is, is natuurlik ’n ope vraag. Wat ons aflei uit die entoesiasme waarmee borge en die feespubliek die projek ondersteun, is dat dit belangrik is en gewaardeer word.
Sy sê voorts:
Die Suidoosterfees is bekend as ’n instelling wat ontwikkeling bevorder. Die kombinasie van veteraanskrywers en -kunstenaars met opkomende jong teatermakers in die produksies lei daartoe dat verskillende generasies mekaar kan voed en verryk met hul insigte, vaardighede en ervaring. Alles tot mekaar se voordeel. Al ons ontwikkelingsprojekte is op hierdie belangrike beginsel geskoei.
Sy sê hulle kry uitstekende terugvoer van feesgangers, omdat hulle blootgestel word aan so ’n diverse klomp skrywers, temas en akteurs van gehalte.
Hattingh sê hoewel die projek in Covid geloods is toe kunstenaars nie kon werk nie, het die formaat verander om by die tye aan te pas. “Kunstenaars het altyd werksgeleenthede nodig, dus bly die oogmerke basies dieselfde.”
Sy sluit af met die woorde dat ingevolge LitNet se ooreenkoms met die skrywers, die tekste die skrywers se intellektuele eiendom bly.
Skrywers kan dus hul tekste gebruik soos hulle goed dink. Dana Snyman se pragtige Die vertreksaal het byvoorbeeld ook as ’n koerantrubriek verskyn, en jy mag dalk ’n TV-skrywer se monoloog iewers in die toekoms op ’n skerm herken. Mike van Graan se Country duty is ook al wyd opgevoer as deel van ’n ander produksie.
Dan sê sy: “Wie weet, dalk word ’n Stemme-teks nog ’n vollengte-verhoogdrama!”
Vir meer agtergrond oor my ervaring van die twee produksies Pil en Andersom, lees gerus my Suidoosterfees-oorsig.
***
Die tien dialoë is in 2023 by die 20ste Suidoosterfees opgevoer. Die stukke is daarna deur die Suidoosterfees verfilm. Die tien films en die tekste word vanaf 3 Augustus 2023 elke tweede week op LitNet vrygestel.
Lees ook:
Suidoosterfees 2023, ’n oorsig: "Fees vir almal" gedenk 20 jaar met meesterlike aanbiedinge

