LitNet se Stemme vanjaar vir die derde keer aangebied

  • 0

Agtergrond

Dié projek is in 2020 in die lewe geroep toe die Covid-19-pandemie op die mensdom toegeslaan het. Teaterdeure moes ingevolge rampveiligheidsmaatreëls sluit en kunstefeeste is landwyd gekanselleer.

In reaksie op die verwoestende effek wat Covid-19 op die plaaslike kunstebedryf en die inkomste van teaterwerkers gehad het, het LitNet prominente en opkomende skrywers genader om kort, kragtige monoloë te skryf wat deur enkele akteurs opgevoer kan word. Die Suidoosterfees het as vennoot tot die projek toegetree om die tekste op die planke te bring.

Opvoerings van die eerste Stemme-reeks sou in 2021 as 10 Afrikaanse monoloë in die Iziko Slawemuseum opgevoer word, maar is op die nippertjie afgestel toe strenger veiligheidsregulasies ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Uiteindelik is die monoloë verfilm, geredigeer en as video’s op LitNet vrygestel, gratis aan die publiek, opvoeders, dosente, studente en leerders.

Stemme

In 2022 is ’n tweede reeks aangebied, dié keer as Stemme | Voices | Amazwi, met 15 monoloë deur Suid-Afrikaanse skrywers in verskeie amptelike tale. Van dié monoloë is by Suidoosterfees 2022 opgevoer en al die bydraes is verfilm en op LitNet vrygestel.

Stemme | Voices | Amazwi

Die projek is in Januarie 2023 deur kykNET met ’n Blou Fiësta bekroon om erkenning te gee aan die innoverende aard waarmee dit ’n bydrae tot die teaterbedryf in ’n tyd van nood gelewer het.

Stemme word vanjaar vir die derde keer aangebied

Vanjaar word Stemme as ’n reeks van 10 dialoë in Afrikaans by die Suidoosterfees aangebied, met twee akteurs in elke produksie.

Bywoning is gratis.

Ja, gratis.

Verfilmde weergawes sal weer op LitNet vrygestel word. Om die eerste twee reekse te sien, besoek www.litnet.co.za en tik “Stemme” in die webwerf se soekbalkie.

Die Suidoosterfees glo in sinergie met ’n oop hand omdat samewerking tussen verskillende instansies tot voordeel van ons skrywers, kunstenaars en teatermakers is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top