
Daar was elke dag iets anders om jou aan te verwonder by die Suidoosterfees.
Die 20ste Suidoosterfees is die afgelope naweek by die Kunstekaap in Kaapstad gehou en soos die fees se missie beloof, is ’n “onlosmaaklike verbintenis tot inklusiwiteit, soos beaam deur die slagspreuk: ’n Fees vir almal!” voorwaar weer hier uitgeleef.

In die foyer regdeur die teaterkompleks is kunswerke en foto’s onder verskeie temas uitgestal. Hierdie werke van onder meer kunstenaars Joubert Stander en Kobus la Grange het in die voorportaal van die operahuis onder die tema “Merkwaardig” gepryk.
Jonk en oud uit alle buurte en tale het die fees ondersteun. Sommige het by die kunsuitstallings en gratis vertonings gekuier, ander het een toneelstuk of dansprogram op die ander gekyk, ander het die Jakes Gerwel-gesprekke meegemaak met onderwerpe so wyd soos kan kom: Skrywers het vertel hoe ver hul lewenspad moes gaan draai om hul droomboek te kon skryf, hoe jy jong mense aan die skryf kry, ’n huldeblyk aan Taliep Petersen deur nabye vriende en waar skrywers soos Bettina Wyngaard hul aptyt vir vreemde vroue in hul boeke kry.

Akteurs Deon Lotz en Crystal-Donna Roberts glimlag vir die kamera. Deon was in Geen teks te sien en Crystal-Donna deel van die gesprekreeks oor haar debuut-jeugroman, Speurder Sammi.
Die bekroonde aktrise, Crystal-Donna Roberts, vertel in een van dié gesprekke, getiteld “’n Kind soos ek” waar sy met Deidré Jantjies en Suzette Myburgh gesels, dat sy ’n karakter wou skep “wat soos ek lyk” vir haar debuut-jeugroman, Speurder Sammi. Deidré Jantjies vang in Stories in die wind die verhale vas van die mense van die Richtersveld, Namakwaland en die Kalahari. Beide vroue het aan die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers deelgeneem.

My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes)
My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes), met akteurs Wian Taljaard en Wynand Kotze en Wessel Pretorius in die regisseur- en skryfstoel, is deur een van my vriende beskryf as haar hoogtepunt by beide die KKNK én die Suidoosterfees. Die twee akteurs speel verskillende karakters in verskillende sketse en die waarhede wat hulle kwytraak, so eg Wessel as kan kom. Die stel met sy 12 pienk stoele, bokse met allerhande rekwisiete en tasse eenkant, is tegelykertyd speels en ernstig. Daar is twee gay mans wat – benewens ’n groep lesbiërs van die Springbok-krieketspan – alleen op aarde oorgebly het ná die wegraping; ’n kêrel en sy geliefde se ma wat sy as moet gaan strooi; ’n jong man wat verlief raak op ’n marmerstandbeeld en hom huis toe neem.
Die gehoor het geskaterlag met uitlatings tussen die twee karakters soos: “Ons twee kan Crocs toemaak”; “Ek het myself só laat gaan, ek het aangetrek vir gemak eerder as looks”; “Jy het so baie om voor dankbaar te wees, jy kan toeskoene bekostig”; “Tiaan dink sy penis is ’n koorspen en elke ander man onder 30 het griep”; “Om ’n gay Afrikaner te wees, is nie anders as ’n blinde Uber-bestuurder nie. Niemand vertrou jou nie” en “Ek wou nie hê my seun moes so ooglopend gay wees nie, ek het sy gewrigte naweke met paplepels gespalk”.

Woordmusiek
Woordmusiek, met teks, regie en musiek deur Coenie de Villiers, het twee Kanna-nominasies ontvang – vir beste aanbieding (musiek) en vir beste ensemble. In die program word die vertoning as volg beskryf: “Gehore beleef selde vyf wáre legendes op een verhoog. Woordmusiek smee die aangrypende narratiewe lirieke en musiek van Coenie de Villiers met die verteltalent van Jana Cilliers, Antoinette Kellermann en Vinette Ebrahim. De Villiers is agter die klawers en kitaar-maestro Mauritz Lotz sluit op die verhoog by die span aan.”

Woordmusiek
Die volgepakte saal met balkonne en al getuig daarvan dat dié beskrywing in die kol is. Die skemerverhoog met sy swart vleuelklavier, drie Ghost-stoele, drie kitare en drie reuse-lapbaniere met die drie vroue se gesigte op sluit vir 60 minute die wêreld daarbuite uit. Coenie se woorde wat hy die afgelope 48 jaar neergepen het, word om die beurt deur die vroue voorgelees en met sy en Mauritz se musikale begeleiding verder ingekleur. Mauritz het meer as 4000 musiekopnames agter sy naam en hy weet hoe om met kitaarsnare te praat.

Mauritz Lotz in Woordmusiek
Daar is versugtinge na kombuistafels waarom gesinne grootword, bid en huil. Van die houttafel wat nog droom van die wind in sy takke. Dis die stilste wat ek nog ’n gehoor sien sit het. Daar is baie kopknippe tot instemming met dit wat hulle hoor. Maar niemand fluister, vroetel of steur nie.
Daar is ’n gebed vir die dooies, ’n ode aan almal wat Covid moes verduur: “As die virus in my lyf my laat boet vir sy verblyf, as ek vir oulaas my oë sluit, bly jy die skipper van my skuit?”
Daar is wiegeliedjies en vrae soos of ’n mens die reuk van reën onthou as jou geheue begin wyk. Die lied van die exiles tref diep in vele harte; soveel mense het geliefdes oor die waters.
Die tjellis van Sarajevo laat vele oë klam en vertel van die tjellis wat vir elkeen wat op ’n plein voor sy woonstel doodgeskiet is, tjello speel en “wapens en grofgeskut het die stryd teen musiek verloor”.

She Had a Name 365, ’n aaneenlopende kunsinstallasie deur Carin Bester
Neffens die ingangsportaal was She Had a Name 365, ’n aaneenlopende kunsinstallasie deur Carin Bester, ’n ongemaklikheid wat jou net nie wou laat los nie. Die werk, wat onder meer video’s, drie wit vrouebroekies en ’n lang gespande tikpapierlint met name op insluit, is die produk van 365 dae se protes. Carin beskryf dit as ’n manier om erkenning te gee aan elke vrou wat haar lewe verloor het as gevolg van moord in Suid-Afrika. Dis ’n huldeblyk aan hul lewens en dien as herinnering dat hoë misdaadsyfers meer is as net blote getalle. Elke syfer verteenwoordig ’n persoon, iemand wat ’n lewe gehad het, geliefdes en drome. Sy het ’n naam gehad.
Die woorde “She had a name” wat onophoudelik geuiter word, volg jou lank nadat jy by die trappe af uit in die sonskyn van die dag ingestap het.

Die dansstuk, Karatara
Die bekroonde dansstuk, Karatara, wat gegrond is op die verwoestende brand wat in 2018 dié dorpie naby Knysna verskroei en nege lewens geëis het, was een van my feeshoogtepunte. Die gebruik van flitslig, vuurhoutjiebokse en ’n pikswart stel en kostuums was baie treffend om die verswelgende vuur voor te stel. (Sien my gesprek met Gideon Lombard.)

Geon Nel in Hoerkind
In Hoerkind, die drama gegrond op die outobiografie van Herman Lategan, wat deur Geon Nel vertolk word en teks deur Francois Toerien behartig is, is Margit Meyer-Rödenbeck in die regisseurstoel.
Die boek, Hoerkind: Die memoires van ’n randeier, het verlede jaar opspraak gemaak. Herman praat kaalvuis oor sy lewe: Hoe hy die slagoffer van ’n pedofiel was, hoe hy hom aan drank en dwelms oorgelaat het, hoe hy ’n moeilikheidmaker van formaat was en sy humeur hom dikwels vooruitgegaan het. Dit vertel van die spierwit kat wat sy ma vir hom as tjokkertjie gekoop het, maar wat dood is. “In die wit kat se plek het die swart hond gekom wat my die hele tyd agtervolg.”
Hy vertel van sy ma wat baie op die bed se rant gesit en huil het, sy pa wat hulle verlaat het nog voor Herman regtig geweet het van sy bestaan en hoe dié homself as’t ware doodgedrink het. Daar is mooi herinneringe ook te midde van die armoede en swaarkry: Swart koffie, witbrood en musiek, wat hom en sy ma soos ’n kokon omvou het.
Die stel is ’n pienk tafel en drie kettings uit die dak waardeur breë, maroen linte hang. Geon gebruik dit in verskillende plekke in die toneelstuk, soms is dit ’n das, soms lyk dit asof dit sy binnegoed is wat uitgeryg word, ander kere is dit ’n netjiese hopie – asof dinge genormaliseer het.
Hy vertel van sy dae in die kinderhuis, die toevlugsoord wat tannie Prins vir hom was en hoe sy hom weer kon laat praat, nadat sy woorde opgeraak het, maar hoe leeg hy die hele tyd daar gevoel het. “Jy voel deurskynend. Ek is enigste kind, weeskind, toe stiefkind.” Hy bly by sy ma, dan by ander mense, vind toevlug by die verkeerde mense.
Herman se storie is hartverskeurend en vir die meeste van sy bykans 60 jaar op aarde ’n stryd om aanvaarding as gay man, as gemolesteerde kind en as randeier.
Die toneelstuk bring sy storie skrikwekkend tot in jou skoot.

Tussen vertonings is daar lekker buite die teaterkompleks gekuier. Hier is akteurs Erika Marais, Carlo Daniels en Paul du Toit.
Stemme, ’n projek van LitNet, is vanjaar vir die derde jaar aangehou en uit die pandemie gebore. Vanjaar het 20 akteurs, 10 regisseurs en 10 skrywers kort, kragtige dialoë geskryf en dit gratis opgevoer. Die twee aanbiedinge wat ons meegemaak het, was Pil en Andersom.

’n Toneel uit Pil (Foto: Suidoosterfees)
Pil, met Enrico Hartzenberg en Morné Steyn as akteurs en Basil Appollis as regisseur met teks deur Chase Rhys, vertel van ’n gay paartjie waarin die tweede man (Enrico) besluit om ook antiretrovirale pille te begin drink.
Die eerste man sê vir die tweede dat hy nie die pilslukkery ligtelik moet opneem nie. Hy moet weet dit gaan sy lewe vir altyd verander. Hy moet die oomblik koester, ’n kers aansteek. Insig kom vir die tweede man, wat dan hartseer verklaar dat hy dankbaar is vir die pil, dat hy die pil sluk “vir my love, dat jy my gemotivate het om myself te laat toets. Ek sluk die pil vir my ma, dat sy nooit hoef te sien hoe haar seun van HIV/Vigs kwyn nie. Ek vat dit vir my uncle wat in 1991 enigiets sou doen om ARV’s beskikbaar te kon hê.”
Hy het volstaan met ’n roerende dankbaarheid en gewilligheid om die pil te sluk vir homself. “Vir my inner child wat jare suspect het, maar te bang was om te vind. Ek sluk die pil om vir ons te protect.”

’n Toneel uit Andersom (Foto: Suidoosterfees)
In Andersom, met akteurs June van Merch en Jurgen McEwan met Marita van der Vyver se teks en Francois Toerien in die regisseurstoel, is die verhaal van ma en seun. Die gehoor leer eers die storie waar die seun op 18 aan selfdood oorlede is en op sy 30ste verjaardag vir sy ma “kom kuier” soos die vorige 12 jaar. Eers dink jy sy is in die tronk, want sy sê dié besoeke is nie kontak-besoeke nie. Hy vertel van sy “lewe” as sukkelende kunstenaar en hulle herhaal hul belofte aan mekaar dat hulle nie gaan huil, mekaar gaan laat lag en nie gaan verwyt nie. Maar die seun erken dat hy nie meer wil saamspeel nie; die aardigheid is oor. Sy ma smeek hom egter “om nie dit ook nog van [haar] weg te neem nie”. Sy is vol berou en sê dat dinge andersom moes wees: Geen ouer moet sy kind oorleef nie.
Die rolle ruil: Hy sit in haar stoel, sy staan aan sy kant van die wit lyn op die verhoog. Dan is sy dood en hy lewe en wens dat sy sy meisie en hul nuwe hondjie kan ontmoet.

The Woman Who Fed the Dogs
Naas Hoerkind was die ontstellendste vertoning van die fees sekerlik The Woman Who Fed the Dogs met Lee-Ann van Rooi en regie deur Julie van den Berghe. Die teks is deur Julie van den Berghe, Marie-Louise Stheins en Kristien Hemmerechts, na die roman van Kristien Hemmerechts, en vertaal deur Paul Vincent. Dié produksie is deur die regering van Vlaandere en NATi ondersteun.
Dit vertel die skokkende storie van Michelle Martin, eggenote en medepligtige van die kinderverkragter en -moordenaar Marc Dutroux wat in die tagtigerjare skuldig bevind is aan verkragting en moord op vyf jong meisies. Twee meisies is weens hongersnood dood.
Michelle is deur die media bestempel as die “mees gehate vrou in België”. Met haar vrylating ná 16 jaar in die tronk is dié skrikwekkende misdade weer hoofnuus. Hierdie drama verken haar lewe en wat haar gelei het tot die rol van apatiese omstander, wat op die ou einde meer besorgd was oor haar man se honde se versorging as die lot van die meisies in die kelder. Sy het hulle nie kos gegee of bevry nie.
Sy was self ’n slagoffer van emosionele en fisieke geweld en is sedert haar sesde jaar as moordenaar deur haar eie ma uitgekryt, omdat haar ma Michelle blameer het vir ’n motorongeluk waarin haar pa gesterf het.

The Woman Who Fed the Dogs
In haar reuse-hoepelrok soos ’n ware Little Bo-Peep wat in hierdie geval nie haar skape verloor nie, maar eerder die kinders van haar kinderverkragter- en -moordenaar-man, sit die karakter in ’n hokagtige stellasie met ’n robothond wat sy kop hipnoties heen en weer kantel. Sy vertel van haar afsondering as kind, hoe haar ma te bang was sy verlaat haar ook en hoe sy hulle huis “omskep [...] in ’n hok waaruit [sy] nie kan ontsnap nie. As [sy] ontsnap, laat sy [haar] hond uit en sy weet hoe bang [sy] is dat die hond seerkry”.
Sy glo in fabels met drie wense en gelukkige eindes, maar haar lewe – voor en ná haar pad met haar man s’n gekruis het – is alles behalwe ’n feëverhaal.
Daar is soveel rou seer, soveel mishandeling, hoe sy deur haar eie man verkrag en verneder word, dat jou bors later brand. ’n Jonger weergawe van haar vul die visuele gapings in.
Jy is verskeurd deur die onreg wat haar aangedoen is en die walging vir dit wat sy kon vermy het.
Dis haar woorde: “‘Sal daar ooit ’n einde aan die verskrikking wees,’ is wat die mense op die televisie wonder. Nee, dit sal nooit stop nie. Nie vir my nie, nie met my nie, nie ná my nie.”
Sy eindig die vertoning met die woorde: “Ek het geglo solank as wat hy my nodig het, gaan hy nie my lewe beëindig nie. Soms is deeltyds beter as niks.
“Ek gaan nie om verskoning vra nie. Ek is nooit geleer hoe om te rebelleer nie. Ek is geleer om gehoorsaam te wees.”
Dis haar verontskuldiging van medepligtigheid.
Ek het nie die storie in die laat tagtigs en vroeë negentigs gevolg nie en ook nie ontgin toe sy vrygelaat is nie, so baie vrae is vir my onbeantwoord gelaat.
Maar ’n vriendin laat weet later die aand: “Die verwerking was baie goed, maar ek het geweet van die agterliggende storie en ek weet nie of alles duidelik was vir die ongeïnformeerde publiek nie. Maar miskien is dit ook nie nodig nie.
“Hoe dan ook – ’n fantastiese produksie. Lee-Ann het geskitter in hierdie rol. Die beste wat ek haar al gesien het. Dis die stuk wat ons die meeste laat nadink het en waaroor ons sedertdien steeds praat.
“Maar not for sissies.”

Tollie Parton (Foto: Suidoosterfees)
Vir vele feesvoostes was Tollie Parton (Wynand Kotze) se vreeslose uitsprake oor gaywees, spot met dié wat steeds dink gaywees is ’n onvergeefbare sonde en op die man (of vrou) af uitsprake oor alles en nog wat, die regte manier om die fees vroeg Maandagaand af te sluit. Die feesprogram het gewaarsku: “Onsmaaklik, maar eerlik; hartseer en dikwels afskuwelik snaaks. Hou vas jou pêrels, kêrels, Tollie is out to play.”

Interessante boeke en musiek is in die foyer te koop aangebied.
Tollie is nie verniet ’n TikTok-sensasie nie. Sy skroom nie om ’n ding op sy naam te noem nie en traak ook nie veel wat mense daarvan dink nie.

Ver in die wêreld Kittie
Die laaste vertoning van die fees was Ver in die wêreld Kittie. Lees meer oor my ervaring hiervan en ander vertonings hier. Dis vir vyf Kannas genomineer: Beste aanbieding (musiek), Dean Balie vir beste vertolking, beste literêre bydrae vir oorspronklike teks, David Kramer vir beste regisseur en beste ensemble.

Mirakel
Mirakel is ook vir vyf Kannas genomineer: Beste aanbieding (toneel), Dawid Minnaar vir beste vertolking, beste ontwerp en tegniese bydrae, Marthinus Basson vir beste regisseur en beste ensemble.

Deon Lotz, bekende verhoogakteur, wat nou ewe bekend is as Dawid Opperman in Binnelanders, poseer vir aanhangers.
- Foto’s: Clifford Roberts, tensy anders vermeld
- Die Kannas is op Vrydagaand 5 Mei by Leopard’s Leap buite Franschhoek aangekondig.
Lees ook:
Gideon Lombard, die teaterverkleurmannetjie, doen verskuiwende werk
Press release: She had a name 365 – an installation at the Suidoosterfees
In conversation with Lee-Ann van Rooi about The woman who fed the dogs

