Elke sosiale kwessie in die KKNK se teaterligte uitgewys

  • 0

Die KKNK is 1–9 April op Oudtshoorn gehou. Clifford en Maryke Roberts was 6–9 April daar: Clifford agter die kamera en Maryke met haar notaboek. Hier is hul oorsig van dié vier dae.

***

Ek dink terug aan Africa Melane se woorde by die onlangse Fleur du Cap-toekennings waar hy gesê het die teaterbedryf en dié se invloed op die samelewing is enorm. “Julle reflekteer ons terug na onsself. En julle nooi ons om oor aangeleenthede, kwessies en kwellinge te besin wat ons moet aanspreek. Maar julle nooi ons ook om te vier en herinner ons dat daar probleme is, maar wat hierdie ongelooflike land se essensies laat voortbestaan, is sy mense en julle reflekteer hul stories op die verhoog.”

Want bykans elke sosiale kwessie het onder die teaterligte in skel kontras met die reuk van pannekoeke en spookasem buite by die feesterrein gestaan.

Koos en Kittie in Ver in die wêreld Kittie

In David Kramer se nuutste musiekblyspel, Vêr innie wêreld Kittie, word die verhaal vertel van Koos Heuningbek se liedjies wat hy saans om die vuur sing en wat dan deur Joseph – op wie se pa se plaas hy werk en woon – neergepen word.

Koos sing onder meer: “Ek en my suikerbos was vas, soos ’n boom en sy bas.” Wanneer Joseph hom vra waar die lirieke vandaan kom, sê hy baie daarvan kom van sy pa en dié se pa, maar baie is ook sy eie maaksels.

Koos en Joseph in Ver in die wêreld Kittie

Hy verduidelik vir Joseph dat die liedjieskryf by hom so natuurlik kom soos spoorsny: Eers soek hy die wysie soos jy ’n bok se spoor in die veld soek. Dan volg die woorde. “Die woorde is soos wolke, hulle dans met die wind. Woorde groei soos blare op my ...”

Dis die Kaapse Simfonie-orkes-toer na Engeland in 1926 wat deure vir Joseph oopmaak. Hy verander sy Joodse naam, Joseph Pesach, na Josef Marais. Uit sy radioprogram vir die BBC spruit die uitnodiging om vir die NBC in Amerika te gaan werk en dis hier waar sy roem waarlik vlamvat. Hy vertaal ou Afrikaanse volksliedjies en ook die liedjies van Koos Heuningbek en vertel aan die gehoor: “Die liedjies wat ek in Engels sing, is nie wat Afrikaners wil hoor nie.”

Marais & Miranda

Hy trou met Rosa De Miranda en saam behaal hulle groot roem – selfs tot in Hollywood.

Die dialoog is eg Karoo-Afrikaans; dit val sag op die oor en die uitdrukkings is in die kol, net soos ons van David Kramer gewoond geword het.

“Sjoe, jy is uitgevat soos ’n nat kat, jou ramkat!”

Koos kry koers Kaap toe om sy roem daar te gaan soek en toe hy onverwags vir Kittie kom groet en  deftig uitgevat op pad na Johannesburg toe is, verklaar sy: “Sjoe, jy is uitgevat soos ’n nat kat, jou ramkat!”

Kittie beskuldig vir Josef

Kittie beskuldig later vir Josef daarvan dat die stories nie sy stories is om te publiseer en die eer voor te neem nie.

Ons kyk dit op dieselfde dag wat die Guardian die storie publiseer van ’n nuwe filmdokumentêr, “WHAAM! BLAM! Roy Lichtenstein and the art of appropriation” oor die werke van Roy Lichtenstein wat na bewering ander grafiese kunstenaars se werke gebruik het en met geringe veranderinge en ander kleure as sy eie verkoop het.

Uit Droomkraan Kronieke

Die eienaarskap van kreatiwiteit is ’n emosiebelaaide tema en word ook – hoewel baie meer indirek – aangeraak in die Droomkraan Kronieke – ’n produksie van Karoo Kaarte. Die stuk spruit uit meer as 140 onderhoude met Oudtshoorn-inwoners die afgelope twee jaar.

Tiffany Saterdaght verwelkom die gehoor en sê sy hoop hulle “raak so verlief op die stories soos ons die afgelope twee jaar geraak het”.

Uit Droomkraan Kronieke

Dis fisiese teater waar lere, tafels en skoene wat akteurs aan hul hande dra, alles ingespan word om die stories te vertel. Daar is twee truprojektors wat figure van ’n wolf en sirkustonele teen lang beskilderde bruinpapierpanele uit die dak gooi. Daar is grepies van die wonder van Kersfees, die wonder van ’n eerste paar skoene wat te knap was en met nat geelmielies gerek moes word, maar steeds te klein was. “Ek het meer met my skoene in my hand geloop,” verklaar die man wat toe meer as twee derdes van sy lewe in die tronk deurgebring het.

Uit Droomkraan Kronieke

Kersfees en Paasfees maak een man baie hartseer en hy verklaar: “Dit het my altyd baie alleen gelaat. Jy kyk ’n play, maar jy sit in die audience. Jy is deel daarvan, maar jy is nooit regtig deel van die storie nie.”

Aan wie behoort die storie nou eintlik dat klein kindertjies mak bobbejane is wie se sterte afgekap is en toe menseklere aangetrek is? Want dis die storie van die mense van Oudtshoorn, maar dis ook die storie waarmee ek in die Kalahari grootgeword het. Wie se bygeloof is dit dat jy nie jou besem of mop uitleen, op Sondae mag naaldwerk doen, of onder ’n leer deur loop nie? Dis ook almal se storie, hoewel daar tog iemand is wat heel eerste daarmee vorendag gekom het.

Mag en gulsigheid is ’n sterk tema in Die fel omstrede kroon van Edward II en Gaveston, waar Edward III uiteindelik sy ma, die koningin, uit die koninkryk verban en hopeloos te jonk die kroon op sy eie kop sit. (Foto: Hans van der Veen)

Mag en gulsigheid is sterk temas in Die fel omstrede kroon van Edward II en Gaveston, waar Edward II aan sy sterwende pa verklaar dat hy die mens is wat sy pa van hom gemaak het. Sy pa, die heersende koning, wil nie die kroon aan hom oorhandig nie, omdat hy glo sy seun sal nie die volk kan lei nie en nie ’n waardige heerser wees nie. Edward II het ’n ridder en kneg as geliefde geneem. Klein Edward III staan eenkant en slaan die hele vervloeking en hatige nyd gade.

Die fel omstrede kroon van Edward II en Gaveston (Foto: Hans van der Veen)

Edward II verklaar ook aan sy vrou, die koningin, dat hy haar pyn vir dit wat hy aan haar doen deur meer lief vir Gaveston te wees, respekteer, “maar verhelp, dit kan ek nie”. Hy beveel sy vrou en sy lover om ’n kompromie te bereik, want as hulle lief is vir hom, sal hulle klaarkom.

Die eenvoudige stel bestaan uit skuiwende panele wat kamers en deure voorstel. Die kostuums is uitspattig en oordadig en amper so absurd as die gesprekke omdat die waansin van Edward II oral inkruip. Hy wil hê sy jong seun moet weet hoe lief hy hom het, maar terselfdertyd ook hoe lief hy vir Gaveston het en weet hoe seer dit sy vrou – Edward III se ma – maak, maar vra nie om verskoning vir die pyn en vernedering wat dit meebring nie.

Hy beland later in isolasie in ’n sel waar hy kamstig as sielsieke behandel word, nadat hy sy geliefde se verbanning onderteken het en dit sy dood veroorsaak het. Maar hy besef dat hy “uiteindelik geword het wat ek nog altyd was: niks”.

Toe die té jong seun homself die kroon toe-eien en sy ma uit die koninkryk verban, verklaar hy: “Dit spyt my as u seun wat ek is, maar as koning wil ek dit só hê. Ek sal meer gevreesd as geliefd wees. En heeltemal alleen.”

Hy het presies geword waarvan sy oupa sy pa beskuldig het en die vreesaanjaende gevolge was sekerlik veel erger as wat sy oupa ook kon dink.

Uit Die Moeder

Die verstote ma en leënessindroom van ’n moeder wie se lewe om haar kinders gewentel het en uitmekaarval nadat hulle die huis verlaat het, is die oorheersende tema van die bekroonde Die moeder met Sandra Prinsloo, Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange. Maar in die hande van Christiaan Olwagen as regisseur kry hierdie Florian Zeller-toneelstuk ’n hele nuwe lewe.

 

Uit Die Moeder

Die kombuis waarin die toneelstuk afspeel, is ten volle funksioneel. Anna maak roosterbrood, roereier en koffie, en was skottelgoed. Soms volg ’n kameraman die akteurs net buite die lyne van die stel en gooi dan reusebeelde teen ’n doek agter teen die verhoog. Dit gee die gehoor die geleentheid om die emosies op die akteurs se gesigte in volle glorie te ervaar.

Uit Die Moeder

Die storie is ’n interessante herhaling van dieselfde scenario tussen man en vrou, tussen ma en seun Nicholas en tussen die drie lede van die gesin en die jong meisie, Elodi, die klippie in Anna se skoen. Sy wil haar seun terug in die huis, by haar, hê – sonder sy meisie. Elke scenario speel egter anders uit en met ander nuanses en dialoog. Op die ou einde is die gehoor nie seker of Anna waarlik versteurd is nie, haar man regtig ’n verhouding het en haar seun haar werklik probeer vermy nie.

Anna beskuldig haar man daarvan dat hy ’n vrot pa was en sê dat hul dogter haar van geboorte af “effe gewalg het”. Sy verklaar: “Soms dink ek ek moes nie kinders gehad het nie, veral nie met ’n man soos jy nie.” Dis Nicholas wat haar vreugde bring en nou is sy besig om hom ook te verloor. “Vir jou het ek lankal verloor. Julle los my mos nou almal een vir een. Gebruik my op en gooi my weg.”

Uit Die Moeder

Daar is roerende tonele waar sy heeltemal beheer oor haar emosies verloor en selfs vir Nicholas van haar pille met alkohol voer en verklaar sy neem hierdie medikasie, waarop hy vra: “Om te slaap?” en sy antwoord: “Nee, om te lewe.”

Lourens en Esté Raaf

Voor die vertoning van RAAF met die folkpopduo Lourens en Esté Raaf begin, drink ons lekker De Krans P&T, ’n portstylwyn en tonikum, ’n drankie wat deur die wynplaas geborg is. Mens voel sommer meer tuis tussen al die ander konsertgangers omdat julle ’n drankie saam geniet het en ‘n bietjie gesels het. RAAF was voorheen die Bottomless Coffee Band en het onder meer al by die Fringe-fees van die Edinburgh-kunstefees opgetree.

Esté sê tydens die vertoning voor hulle die liedjie “Alles en niks” sing, jy moet die “niks”-oomblikke van die lewe hê om die “alles”-oomblikke te waardeer. Want die lewe is nie altyd net alles oomblikke nie. En ons is alles en niks tegelykertyd.

Lourens speel op die elektriese ukelele, Wolfie, en Esté sê dis “sy eerste KKNK en hy het nog ‘n bietjie verhoogvrees”. Die gehoor eet uit hul hande.

Al wat mense eintlik van ander wil hê, is jou tyd, liefde en woorde.

Mag jy eendag met alles in jou sê: “Ek het” in plaas van “Ek wou nog.”

Hy sê jy hoef nie altyd in die lewe te weet waarheen jy gaan nie. “Die teerpad is lekker, maar die grondpad het die view en die avonture.”

Die duo se vierde album, Prediker – hul eerste Afrikaanse een – word binnekort vrygestel.

Uit Mirakel

Reza de Wet se Mirakel speel in 1938 in ’n verlate kerk met gebreekte loodglasvensters af. Dit het Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis in die rolverdeling. Die toneelgeselskap van Danté du Préz (op aandrang van die naamdraer om dit meer eksoties as “Dante du Preez” te laat voorkom) is mismoedig, koud en honger. Hy ag toneelspel as die hoogste eer en sê om te speel is om honger te bly. En dat dit belangrik is om die siel ook te voed.

Uit Mirakel

“Vanaand is die begin van beter dinge,” belowe hy. “Ons is dienaars van ’n verhewe kuns.”

Uit Mirakel

Maar sy geselskap glo hom lankal nie meer nie en een van die geselskap verklaar: “Ons is nie sirkusdiere nie, ons is artieste!” Hulle kla en kerm en die ouer vrou wat glo sy is die ster van die geselskap, verklaar: “Hierdie is nie ’n lewe nie. Voor die Depressie was dit anders. 40 jaar lank is dit al my lewe en op elke dorp waar ons kom, soek ek ’n hoekhuis met ’n rooi dak, want my ma is daarbinne. My pa is nog nie tuis nie, hy het in die distrik ’n baba gaan vang, maar hy sal huis toe kom.”

Die versugting na ’n warm bed, goeie kos en ’n normale lewe sit in elkeen van hulle se hart.

Uit Mirakel

Wanneer ’n ryk vrou kos aandra en met voorwaardes kom wat die toneelgroep se lot kan verbeter, moet die jong akteur met wie sy eintlik nog heeltyd getroud was, ’n keuse maak.

Hy maak die grootste onselfsugtigste opoffering toe hy die “hoogste eer van toneelspel” bo sy eie verdriet én lewe kies. Sodat die kunste kan voortleef. Sodat toekomstige gehore die wonder van die teater en sy stories kan ervaar.

Jessie, die dogter wat in Stikland gedraai het en as paaldanser gewerk het, keer huis toe in Mirre en aalwyn. (Foto: Hans van der Veen)

In Mirre en aalwyn, ’n plekspesifieke teaterstuk wat voor ’n plaashuis met “1940” op sy gewel afspeel, is daar aan molestering, malheid en afbreking geen tekort nie. Ons sit almal bespuit van die muskietweerder, want Nicola Hanekom, die regisseur, het ons by die hek kom waarsku die muskiete is erg.

Terwyl die tydelike pawiljoen vol loop, kyk ek na die omgewing. Die swembad is halfpad toegegooi; daar is ’n paal met ’n dik ketting wat in die huis in verdwyn; en ’n groot houtkruis op die voorstoep voorspel onheil en huigelary – ’n teken van die leuens wat hier gevange gehou word.

Die aandmis dryf laag oor die vallei tussen die bome deur en die Karoo gun ons een van haar mooiste sonsondergange. ’n Jong vrou met lang hare kom van ver tussen die lappies grond aangehardloop – met net haar onderklere aan, selfoon in haar een hand vasgeklem. Sy val op die gras neer en praat met ’n brandende bos in die voortuin. Dis duidelik dat sy haar pa in daardie bos sien. Sy erken aan die bos dat sy bang en alleen is.

Toe ’n ouer vrou in ’n japon en pantoffels uitkom, skuil die jonger vrou agter ’n draadtuinstel. Dis Jessie, die dogter wat vir jare weg was. Haar ma verwyt haar dat sy nooit huis toe gekom het nie. Die storie wentel om verkragting, seksuele misbruik, aborsie, Stikland en ’n ouma met ’n boggel wat met ’n ketting om haar enkel loop sodat sy nie kan wegloop nie.

Die haat en verwyt en sielkundige skade loop diep, veral toe die jongste sussie, Doedoe, in ’n rolstoel ook bykom en haar eie reis vermeng met die hartverskeurende verhaal van haar ouma. Dié verklaar ’n lintwurm eet al haar gedagtes en dit voel asof iemand haar sinne met ’n snoeiskêr bygekom het – ’n seisoen te vroeg.

Die susters onthou hoe hulle in die swembad gespeel het en hoe die Kreepy Krauly se klank hulle gemaan het om te “bid, bid, bid”, en die ma sê ouma en haar jonger suster kan nie ’n woord glo van hul suster Jessie nie, want “sy is van lieg aanmekaar gesit”.

Jessie het in die stad paaldans gedoen, ’n influencer geword. “Ek verander likes in manna en vis,” verklaar sy telkemale. Haar ma verwyt haar dat sy net sosiale media op die brein het, kort boodskappe stuur met snaakse gesiggies en blomme wat na niks ruik nie. “Hoekom nie net die foon optel en met my praat nie?”

Sy kla oor rekenaars en kletsbots en sosiale media en dat niks meer eg en menslik is nie.

Maar dis duidelik dat toe Jessie vir haar ma vertel het van haar pa se seksuele vergrype met sy eie dogter, haar ma dit nie wou hoor nie. Ook nie van haar jonger suster se vasgekeerdheid en misbruik nie. Mens kan haar nie kwalik neem dat sy ook in Stikland moes gaan draai en die volgelinge op sosiale media se aandag hoër ag as haar ma nie.

Jessie verloën haar geliefde jonger sussie, Doedoe, vir aansien by haar sosialemedia-aanhangers in Mirre en aalwyn. (Foto: Hans van der Veen)

Sy verloën egter ook haar geliefde jonger sussie vir daardie aanhangers en erken: “Ek is van lieg aanmekaar gesit.” Die stuk is ’n aanklag teen kunsmatige intelligensie, maar ook teen die mens se vermoë om hom blind te hou vir die werklikheid en hoe min hierdie twee eintlik van mekaar verskil: Albei is van enige menslikheid gestroop.

Mike Bartlett se Bul, wat deur Nico Scheepers vertaal en verwerk is.

Gepraat van menslikheid gestroop: Mike Bartlett se Bul, wat deur Nico Scheepers vertaal en verwerk is, met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa, wys die aaklige kant van kantoorpolitiek en hoe mense optree as iemand afgedank moet word.

Drie werknemers wag op hul baas om te hoor wie in die pad gesteek gaan word. Die gewag word ’n magspel met baie boeliewerk en bakleiery wat lei tot ’n wrede geveg. Dit spreek die paranoia van werkloosheid en die mens se dierlike instink om oorlewing aan. Die jong bruin vrou verklaar aan die wit man dat hy gedink het “dat goeie mense soos jy sou seëvier. Dat hierdie land op geregtigheid en meriete bedryf word. Ek is nie só met ander mense nie. Ek wil jou net so gou as moontlik teen die grond kry om die res van die stam te beskerm. Dis instink, dis oral en dis hoe dit moet wees.”

Jessie, die man en die maan met Carlo Daniels

Jessie, die man en die maan met Carlo Daniels is ’n eenmanvertoning waarin Carlo die pa speel en deur middel van twee lampe – ’n klein tafellampie en ’n groter staanlamp – die karakter van sy vrou en kind illustreer.

Die maan se silwer strale word voorgestel deur ’n lang lap wat soos ’n reusemelkwaterval deur ’n oop venster oor die verhoog uitspeel. Dis ’n liefdesverhaal wat skeefloop. Van verwydering en ’n kind wat toe nie die reuseafgrond tussen man en vrou vul nie, maar net dieper uitkalwe. Die kind, Jessie, wat op ’n volmaanaand gebore is, se lewe voorspel net onheil volgens sy oupa. “’n Kind wat met volmaan gebore word, sal sy hele lewe teenoor homself, teenoor sy ander kant, staan.”

AB kyk terug oor die sterfte van sy vrou, sy aandeel daaraan, en erken dat hulle só vasgevang in mekaar was. En dat hulle onder ’n maan geleef het wat so helfte vol, of so helfte leeg was, afhangend van hoe jy daarna kyk.

Daar was ligter oomblikke in stukke soos Namaste Bae – blessings and kombucha met Rob van Vuuren wat verskeie lede uit die gehoor geroep het om deel te vorm van die vertoning.

Die gehoor het geskaterlag met malse deurmekaar oomblikke in Afval, ’n klug met jong akteurs wat hulle baie goed van hul taak gekwyt het.

As mens nog vir jouself en vir “Die Republiek van Kaapstad” en sy eiesoortige sêgoed kan lag, is die wêreld seker nog nie heeltemal verlore nie. Maurice Paige en Theodore Jantjies speel verskeie karakters in Platform 9: Homecoming en betrek sommer ’n paar mense om te help rolle vul.

Komedie van ’n ander aard: koffie-sêgoed by die Absa Burgersentrum om almal wakker en aan die gang te hou.

Daar was ligter oomblikke in stukke soos Afval, ’n klug met jong akteurs, Laerskool Noord, Namaste Bae – blessings and kombucha, Mutton hour, Hans steek die Rubicon oor, Live and let laugh (skop, skiet en Van der Walt) en Platform 9: Homecoming.

Die feeskunstenaar, Liza Grobler, se uitstalling, Inkommers, laatkommers en laatlammers. Sy is ook een van 2023 se vyf vereerdes vir hul bydraes tot die kunste.

In die Prince Vintcent-gebou was daar verskeie kunsuitstallings. Tydens die rondleiding van Is ons nog ’n ding? deur Johan Stegmann verduidelik hy: Drie kunstenaars – hy, Izak Buys en Octovia Roodt, wou aanvanklik saam uitstal. “Ons kuns lyk baie soortgelyk; dit het ’n illustratiewe en narratiewe benadering en dit handel meestal oor die identiteit van die Afrikaner – Afrikaner soos ons dit verstaan. Dat dit maar ’n konstruksie is tot ’n mate.

’n Baie treffende werk van Adelheid Frackiewicz getiteld Soap Memorial (triptych) is plekspesifieke grond van Nazi-konsentrasiekampe in Pole, dierbene, as, seep, hare, naelknipsels, borsmelk, as, kougom en hars.

“Maar om ’n kunsuitstalling te maak met net wit Afrikaners daarin, is ’n gevaarlike en intimiderende idee en daar was baie kunstenaars wat die aanbod om daarvan deel te wees van die hand gewys het.

As deel van die groepsuitstalling Is ons nog ’n ding? is twee werke van Conrad Botes vertoon.

“Hoe meer mense krapperig was oor die idee, hoe meer wou ek graag hierdie uitstalling doen en het gevoel dis ’n belangrike onderwerp om aan te spreek. Dit was toe uiteindelik die kunstenaar Lawrence Lemaoana – ook kurator en akademikus – wat ’n tipe van ’n buiteperspektief aan die uitstalling kom verleen het. Dit keer dat die hele proses nie te veel van ’n wall of mirrors raak nie – soos ’n braaivleisvuur wat die gesprek in die verkeerde rigting stuur.

In die Prince Vintcent-gebou was daar verskeie kunsuitstallings. Die rondleiding van Is ons nog ’n ding? is deur Johan Stegmann, een van die kunstenaars wat hieraan deelgeneem het, waargeneem.

“Dit het ons almal eintlik meer vry laat voel en ons gehelp om hierdie veilige spasie te maak en om ‘n bietjie in jou identiteit, geskiedenis en die problematiese elemente daarvan rond te krap. Uiteindelik was daar heelwat meer kunstenaars betrokke.”

Roger Ballen se werk, The theatre of apparitions, was deel van die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Venesiese Biënnale 2022 en is ook by die KKNK uitgestal – ’n eerste vir Suid-Afrika en die KKNK.

Hy het gesê die kunstenaars se werke is goeie voorbeelde van spesifieke eienaardighede van kunstenaars se persoonlike verhoudings met hul voorvaders en Afrikanerdom.

Die gesprekreeks in die Feeskafee

Die gesprekreeks in die Feeskafee het gehandel oor alles van Eskom en beurtkrag tot hoe sinies die jeug oor politiek is, tot dienslewering en Suid-Afrika se afhanklikheid van toelaes, en of die Springbokke hul titel as wêreldkampioen in Frankryk sal kan verdedig.

Die stalletjies tussen die CP Nel Museum en Queens Hotel het vir lekker snuffel gesorg.

Tussen vertonings deur is daar lewendige musiekuitvoerings by verskeie verhoë en die stalletjies het vir ’n goeie skeut handelsterapie gesorg.

Teen wil en dank is ’n keur uit Antoinette Kellerman se luisterryke loopbaan.

In Teen wil en dank – ’n keur uit Antoinette Kellerman se luisterryke loopbaan van meer as 48 jaar waarin sy in meer as 200 produksies te sien was, voer sy kort grepies uit verskeie toneelstukke waarin sy gespeel het, op. Daar is versugtinge en vrae uit Asem, Ek, Anna van Wyk en As die broek pas, soos “Hoekom was vrouwees nie genoeg nie?”; “Moenie dink nie, dit doen jou man vir jou”; “Geduld, wag, swyg – dis wat die liefde is”; en ook dat vroue moes korsette dra en “leer om sonder asem klaar te kom”. Ook uit Koningin Lear, waarin daar verklaar word dat mens jou voorkoms kan verander, maar nie jou herkoms nie.

Dis net sy, ’n stoel en ’n Persiese mat op die verhoog. Sy gebruik die stoel op verskeie maniere om saam met haar lyf elke nuwe karakter uit te beeld.

Sy sluit haar vertoning af met die woorde:

My towerspreuke se krag is nou verbreek.
Ek is net weer Antoinette, oud en my kragte week
Net julle hou my nog gevange hier
en kan my verlos, terug huis toe stuur.
Moet my nie – nou dat ek die verraaier vergeef het
En weer hertog is – op hierdie barre eiland
voort laat leef. Maar verbreek die bande
met jul goedgunstige hande.
Blaas met asem sag
Tot die seile bol en ek vry kan seil
My projek tot heil
Waarvan die einddoel was om julle te plesier.
Nou het ek geen
geeste hier om te beheer, kuns om te betower;
en my voorland is wanhoop
tensy gebed my verlos,
wat so sterk spreek dat dit selfs
genade aanval, en alle foute kwytskeld.
Soos u vergewe wil word vir u wandade
Vergewe my en spreek my, U skuldenaar, nou vry.

Dis die gepaste woorde vir die einde van ’n fees en die laaste produksie om te gaan kyk, wanneer dié versugting op elke kunstenaar se lippe was.

Tot ons weer in die veilige ruimte van die teater ontmoet.

  • Foto’s: Clifford Roberts, tensy as Hans van der Veen s’n gemerk
Lees ook:

My kroon se krank by die KKNK, ’n resensie

Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke

Karatara, ’n resensie

Ver in die wêreld Kittie vra vrae by die feeste, ’n resensie

Mirakel deur Reza de Wet weer opgevoer, ’n resensie

Mutton hour by die KKNK, ’n resensie

Persverklaring: KKNK 2023 inspireer met uitmuntende artistieke inhoud

Loeloeraai as steampunk? Oor die uitbeelding van die wetenskappe 100 jaar gelede

Herrie die olifant, ’n engel uit die buitenste ruim, en ’n blinkgoue eier: Loeloeraai 100 jaar later en CJ Langenhoven 150 jaar later

Loeloeraai 100 jaar later

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top