Karatara, ’n resensie

  • 0

Foto deur die KKNK

 ...
Die danswerk, dikwels in die donker, en die briljante gebruik van ’n feitlik leë verhoog met bitter min rekwisiete en dikwels nog minder lig, is baie slim.
...

Feeste se grootste probleem is dat daar te veel goed aangaan in ’n kort tyd.

Ek wou Karatara al by die US Woordfees gaan sien in Oktober 2022, maar daar het telkens goed voorgeval en ek is uiteindelik huis toe sonder om dit te sien.

Vir die KKNK het ek dus baie lank vooruit ’n kaartjie gekoop. Warempelwaar het daar toe weer iets gebeur wat my baie amper die stuk laat misloop het. Gelukkig was ek, ten spyte van benoude oomblikke, in die saal toe die ligte afgaan en die drie karakters hul flitsligte aanskakel om ’n nag van vlamme en hel voor te stel.

Ek is baie dankbaar dat ek dit kon sien.

Karatara gaan ook by die komende Suidoosterfees wees. Ek beveel dit aan.

Die agtergrond

Karatara is ’n gehuggie naby Knysna en Sedgefield. Die naam kom van die naasliggende rivier.

Die dorpie het sy ontstaan te danke het aan ’n kortstondige goudkoors, die kap van inheemse bosse en die latere aanplant van uitheemse plantasies. Die huisies is klein en die mense nie ryk nie, soveel anders as die nabygeleë Knysna en Sedgefield, waar geld baie hard praat.

In 2017 het 16 000 hektaar plantasies en selfs inheemse bos afgebrand, terwyl huise in Knysna bedreig is. Sewe mense is dood.

In 2018 breek daar weer ’n brand uit – dié keer naby Karatara. Agt mense is dood en 65 000 hektaar het afgebrand. Elsabé Windvogel (42), Ethan Windvogel (2), Eljade Windvogel (12), Andrea Bewee (21), Nalaya Oelf (5), Niah Oelf (3), Aliyah Oelf (13 maande) en Nalani Oelf (11 maande) is oorlede toe die vlamme hulle oorval het. Andrea Bewee was verwagtend. Haar ongebore kind is ook dood.

Die teks is nie bloot ’n gedenkdiens aan die gestorwenes nie. Aan die een kant beeld dit verskrikking van daardie aand uit, maar daar word ook kommentaar gelewer oor geld en die gebrek daaraan.

Die mense van Karatara is arm.

Die mense van Knysna en Sedgefield heel dikwels nie.

Teks, klank en choreografie

Karatara is nie tradisionele teater met ’n begin, middel en einde nie. Dit is intellektueel; die stories, die klank, die stilistiese bewegings, die chaos in die donker, als maak daarvan ’n ervaring.

Aanvanklik het ek minder getob oor dié stuk as oor van die ander, maar hoe meer ek bewustelik teruggedink het, hoe meer het die verskillende vlakke van die stuk van vore gekom.

Karatara is tydens die kort KKNK van 2022 met ’n Kanna bekroon.

Diegene wat belangstel in dans se vermoë om ’n gehoor weg te voer, sal Karatara waardeer. Ek het.

Die stuk begin met ’n donker verhoog waar mense rondhardloop en slegs flitsligte nou en dan iets verlig. Saam met die musiek en die klankbane van veelvuldige nuusstories skep dit ’n angswekkende, kloustrofobiese gevoel. Ons beleef ’n fraksie van wat daardie agt mense daardie aand moes gevoel het toe die vlamme op hulle afstorm.

Shaun Oelf (let op die van) en Wilken Calitz het die stuk geskryf.

Gideon Lombard het vir Karatara ’n klankbaan geskep wat in daardie donker tye op die verhoog wanneer ’n mens min kan sien, maar baie ervaar, die angs van die brand vasvang.

Die drie dansers is Shaun Oelf, Dean John Smith en Grant van Ster. Hulle is ook verantwoordelik vir die choreografie.

Gideon Lombard het die regie behartig en ook die stel en die beligting ontwerp.

Ek het vooraf gewonder of die stuk nie verouderd en te tydgebonde sou voel nie. Dit het nie.

Hoewel die gebeure duidelik geanker is in die brande van 2018, is die temas en die vertoning universeel. Ek is seker daarvan iemand kan vandag nog ’n stuk skryf oor die aardbewing by Ceres in 1969 en dit steeds relevant maak tot vandag se samelewing.

Karatara verwys wel dikwels en direk na die gebeure van 2018, maar die gevoel van verwarring en ontheemding sal feitlik enige ramp dek.

Die danswerk, dikwels in die donker, en die briljante gebruik van ’n feitlik leë verhoog met bitter min rekwisiete en dikwels nog minder lig, is baie slim.

Ek is bly ek kon Karatara uiteindelik sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top