
Veronique Jephtas in My kroon se krank
“Vanjaar se KKNK het ons almal se verwagtinge oortref met inspirerende artistieke inhoud van hoogstaande gehalte en bywoning wat die 2019-fees verbygesteek het.” So sê Hugo Theart, artistieke direkteur en uitvoerende hoof van die KKNK, wat Sondag 9 April op Oudtshoorn tot ’n einde gekom het.
“Die KKNK het weer aan Oudtshoorn ’n broodnodige ekonomiese hupstoot gegee en dit was voorwaar ’n fees vir almal. KKNK is terug en die sukses van dié moederfees lei ’n belowende terugkeer vir volbloed kunstefeeste in Suid-Afrika in.”

Early B op die verhoog
“Vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, was die eerste volwaardige nasionale kunstefees wat na die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika aangebied is. Dit lei ’n nuwe era in, want die bedryf, die dorp en ons samelewing is nie dieselfde as voor die pandemie nie. Hierdie fees is die fondasie waarop ons bou en ons sien uit na die komende feeste, veral in die opbou tot die 30ste KKNK wat in 2026 aangebied word.”
Theart sê verder daar was uitsonderlike teaterproduksies op die program en dit is moeilik om van hulle uit te sonder. “Die Kanna-nominasies word binnekort bekendgemaak, wat die uitblinkers onder die debute, soos beslis deur die onafhanklike Kannapaneel uitlig. Van my gunsteling-aspekte by die fees, was die Jeugkunstefees, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, wat ’n groot sukses was. Om die jongmense se gesigte te sien en die genot wat die produksies en interaksie met akteurs en sangers hulle bied, gaan my altyd bybly.”
Karoo Kaarte, die KKNK se projek wat deur die ATKV moontlik gemaak word, is op Oudtshoorn gesetel met deelnemers van hier en was ook ’n hoogtepunt. “Dit is die tweede jaar wat dié projek aangebied word en het nie teleurgestel nie. Die omvang en impak van Karoo Kaarte kon ek nie in my wildste drome droom nie – dit is ’n projek waarop ons baie trots is en wat wys wat die waarde van die kunste in ’n samelewing is.”
“Om weer al die getroue feesgangers in die strate raak te loop en kunstenaars te sien gloei omdat hulle weer voor en vir gehore kan optree en doen waarvoor hulle lief is, was wonderlik. Ek is verlig dat ons vanjaar al hierdie elemente kon aanbied en baie trots op die hele KKNK-span. Ons kon ten spyte van uitdagings soos beurtkrag en ekonomiese druk ’n kunstefees aanbied wat seepglad verloop het,” sê Theart.

Droomkraan-Kronieke
Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK, sê die beplanning was intens en die afwagting op hoe feesgangers op die eerste vollengte nege dag kunstefees na die Covid-19-pandemie sou reageer, was baie groot.
“Soos ons jaar na jaar leer, as ons gefokus bly op topgehalte inhoud en verskeidenheid, bly ons feesgangers lojaal en lok ons meer en meer nuwe feesgangers na Oudtshoorn. Ons is dankbaar dat Oudtshoorn en ons borge ons so gewillig ondersteun en aanmoedig. Nogtans gebeur ’n kunstefees soos hierdie nie sonder die ongelooflike passie en insig van ons uitvoerende span en ons personeel, wat ’n jaar werk om die gehalte van so ’n fees te verseker nie. Dit is dus met groot trots dat ek en ’n dankbare en opgewonde direksie kan sê: ‘Welgedaan, ons is trots op die 2023-kunstefees.’ Die KKNK is terug met ’n oorverdowende bang,” sluit Sonn af.

Droom-installasie, geskep deur Liza Grobler, die KKNK se feeskunstenaar en die plaaslike ReWOLusie-deelnemers
Volgens John Tshabalala, hoof van die private bankdienste-segment by Absa, hoofborg van die KKNK, is hulle verheug om die uitstaande sukses van die 27ste KKNK te vier. “Die fees was ’n ware tentoonstelling van Suid-Afrika se talent, kultuur en kreatiwiteit. Die diverse program van vertonings, uitstallings en kulturele ervarings het gehore vermaak en geïnspireer, en ons is trots op ons bydrae tot hierdie onvergeetlike viering van ons erfenis,” sê Tshabalala.
“Ons verbintenis tot belegging in die kunste en kultuur bly onwrikbaar. Ons sien daarna uit om ons vennootskap met die KKNK voort te sit en ons ryke Suid-Afrikaanse erfenis te vier en tot ekonomiese ontwikkeling by te dra,” sluit hy af.
Beplanning vir volgende jaar se KKNK, wat van 23 tot 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied word, is reeds aan die gang. “Die KKNK is terug op Oudtshoorn in volle glorie! Ons het nou ’n bloudruk vir volgende jaar se fees en sien daarna uit om op vanjaar se suksesse voort te bou,” sluit hy af.
Deel gerus jou terugvoer of kreatiewe voorstelle met die span via e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337. Die KKNK word geborg deur Absa. Hou die webblad dop vir meer inligting by kknk.co.za.
- Alle foto’s deur Hans van der Veen | KKNK.
Lees ook:
Ver in die wêreld Kittie vra vrae by die feeste, ’n resensie
Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke
Kommentaar
Droomkraan-Kronieke was uitstaande teater. Totdat een van die aktrises, na aan die einde van die stuk, in haar weergawe van Soweto 76 vertel hoe die woede ook na Oudtshoorn oorgespoel het. “En” voeg sy by: ”duisende kinders is dood”.
Om van 'n alreeds tragiese historiese insident 'n doelbewuste en groteske oordrywing te maak, bloot vir effek, is totaal onaanvaarbaar en onnodig.
Op enige verhoog of medium.
Dit was uiters teleurstellend.