Ver in die wêreld Kittie vra vrae by die feeste, ’n resensie

  • 0

Foto: Kobus Marx | KKNK

...
Koos se familie het nie lawaai gemaak nie. Dawid Kramer stel nou ’n vraag namens Koos.
...

Ver in die wêreld Kittie het sale volgemaak by die KKNK en is op pad na die Suidoosterfees. Bespreek vroeg, anders gaan julle dalk nie sitplek kry nie.

Die verhaal gaan deels oor ’n duo wat Afrikaanse liedjies in die VSA bekend gemaak het. As ’n mens “Marais & Miranda” intik op Apple-musiek, of Spotify, dan kom jy op ’n ekstensiewe diskografie af.

Doen dit gerus self.

Verskeie bekende Afrikaanse liedjies word deur hulle gesing, dikwels in Engels.

Evan Cater, die persoon wat hulle biografie vir Apple[1] opgestel het, beskryf die duo so:

The husband and wife team Marais and Miranda popularized traditional South African folk music in the United States during the ’40s, ’50s, and ’60s. The duo charmed radio and concert hall audiences with somewhat Americanized versions (most of the numbers were English adaptations, though they did sometimes sing in Afrikaans) of the original folk tunes, blending a scholarly interest in folk history and musicology with a charismatic performance style.

Maar hoe op aarde het dit gebeur? Cater gee die volgende leidraad:

Josef Marais (pronounced “Mah-RAY”) was raised on a sheep ranch in South Africa and took interest early in the local folk culture. But as a young man, he seemed headed for a career as a classical violinist. Marais played with the Cape Town Symphony Orchestra and studied violin and composition in London, Paris, Prague, and Budapest. But it was his skill as a guitarist, coupled with his extensive knowledge of Afrikaans folk songs, that eventually made him famous. In 1939, Marais moved to New York and began hosting a weekly radio show called “African Trek”.

David Kramer se verhoogstuk Ver in die wêreld Kittie vertel ’n ander storie.

Ons hoor die verhaal van die jong Joseph Pessach wat in die Boland grootword, ’n musikale oor had en ure lank na ’n ongeletterde plaaswerker, Koos Heuningbek, se liedjies en stories kon luister.

Ná hy viool studeer aan die Universiteit Kaapstad, wyk Pessach uit na Europa. Hy begin later die Afrikaanse liedjies wat hy by Koos gehoor het, opneem vir His Master’s Voice. Later volg daar Engelse verwerkings van hierdie liedjies vir die BBC.

In Kramer se verhaal staan Koos Heuningbek sentraal.

Kramer se stuk plaas ook die kollig op Kittie, ’n plaaswerker se kind, wat saam met Pessach grootword en daarom ’n Bolandse perspektief op sy groeiende faam kan bied.

Kittie is ook die verteller van Ver in die wêreld Kittie.

Josef se sukses saam met Miranda

Pessach sou later sy verhoognaam verander na Josef Marais en na New York verhuis, waar hy Rosa Lily Odette Baruch de la Pardo[2] ontmoet. De la Pardo, ook ’n Jood, het met haar twee kinders uit Amsterdam van die Nazi’s gevlug.

Kramer se stuk gee haar die naam Rosa de Miranda, wat waarskynlik korrek is. Haar eerste man se van was De Miranda en haar twee kinders had ook daardie van.

De Miranda en Pessach het gewerk aan programme van NBC vir uitsendings na Suid-Afrika en Nederland, maar uiteindelik sou hulle liefde vir musiek maak dat hulle saam sou begin optree.

Hulle trou.

Sy neem die verhoognaam Miranda aan, en saam word Marais & Miranda ’n trefferduo – skynbaar op grond van die liedjies wat Koos Heuningbek geskep het.

Die sangpaar was so gewild, en bekend, dat selfs Doris Day en Frankie Lane “Sugar bush”, die vertaling van “Suikerbossie”, opgeneem het en in ’n treffer verander het.

Volgens The New York Times[3] was Marais & Miranda tot in 1974 nog aktief op die verhoog.

Marais sou later ook boeke publiseer, waaronder Koos, the Hottentot: Tales of the veld en Songs from the veld, fourteen songs from South Africa.

Koos en Kittie vergete?

Ver in die wêreld Kittie is heerlike vermaak. Dis ’n fantastiese stuk wat deur jonk en oud geniet kan word. Die saal was stampvol toe ons daar was, en talle van die teatergangers was skoolkinders wat hulle gate uit geniet het.

Die musiek is uit die boonste rakke.

Kramer maak nooit die fout om te begin preek oor kulturele appropriasie nie. Die stuk sê egter baie duidelik dat die legendariese “Koos” se bydrae nooit na waarde verdiskonteer is nie. En Kittie, die meisie wat skynbaar warm gevry is deur Pessach en toe agtergelaat is, vertel ’n hartseer storie.

Ná jy Ver in die wêreld Kittie gesien het, kan jy nie anders as om vies te wees vir Pessach nie. Tog, indien hy nie as Josef Marais die moeite gedoen het om die liedjies op te neem nie, sou hulle die blootstelling gekry het wat hulle wel gekry het?

Op die sangduo se amptelike webblad[4] (wat uit die aard van die saak na Marais se dood in 1978 geskep is), maak Josef Marais duidelik melding van Koos se invloed op hom:[5]

Little did I realize as a child, how much the stories and songs of a certain Hottentot man called Koos would influence my future career. As a little boy on a great expanse of prairie land called the Veld, I absorbed the fantastic tales Koos told of the great Raincow in the clouds, whose hooves caused thunder; of the Praying Mantis, an insect who could turn himself into anything he wished, for he was a god in disguise; of the Serpent of the Rivers, who caused, or dispelled drought. All these characters I accepted as children of this and other countries accept fairy godmothers, or gremlins.

In daardie gesprek sê Marais ook:[6] “So to Koos I owe as much for what happened to me as I do the teachers of my school days and, later, the professors of my Music Academy days.”

Was dit egter genoeg? Het Koos enige geld gemaak uit Marais se sukses?

Dit is ’n moeilike vraag met ’n onduidelike antwoord.

Soveel “volksliedjies” se komvandaan word betwis.

“Sugar bush”, die Doris Day-treffer, se komvandaan is byvoorbeeld steeds onduidelik. Ons weet Josef Marais het dit in die VSA gewild gemaak, maar waar kom dit vandaan? En waar pas Koos in?

Volgens Ver in die wêreld Kittie sou Koos Heuningbek uiteindelik saam met David de Lange[7] opnames begin maak.

De Lange het ook “Suikerbossie” opgeneem. Die kanse is dus baie goed dat einste Koos die liedjie aan De Lange bekendgestel het, soos hy dit aan Pessach geleer het.

Hoeveel sou Koos hieruit verdien het? Dit word nie gesê nie; wel word daar ’n suggestie gemaak dat Koos gemaklik geleef het, maar nie juis ryk geword het nie, terwyl hy saam met De Lange getoer het.

De Lange se opname is beskikbaar op Bandcamp,[8] en daar word ene Fred Michel gelys as die komponis, al sou dit meer waarskynlik wees dat De Lange die liedjie by Koos geleer het. Michel se kinders dring sterk daarop aan dat hul pa die skepper van “Suikerbossie” is. Daar is selfs ’n Facebook-blad[9] wat geskep is om te probeer bewys dat dit Michel se lied is.

Koos se familie het nie lawaai gemaak nie. Dawid Kramer stel nou ’n vraag namens Koos.

Die spelers is puik en die storie is lekker

Kramer se stuk is ’n heerlike storie en die spel is puik.

Ek is ’n groot aanhanger van Dean Bailey wat Koos Heuningbek, en ’n hele aantal ander karakters, uitbeeld. Hy is gewoon uitstekend. Selfs op ’n blikkitaar klink hy goed.

Rushney Ferguson het die rol van Kittie, wat ook die verteller is, goed gespeel.

André Terblanche en Jenny Stead het behoorlik gekook as Marais & Miranda.

Nick Turner op kitaar en Yvan Potts het die sangers begelei, terwyl Bailey, Terblanche en Stead ook hul eie kitare geslaan het.

David Kramer het die musiek, die lirieke en die storielyn geskryf. Hy was ook die regisseur.

Ben du Plessis was verantwoordelik vir die  klank en beligting, terwyl Widaad Albertus se naam genoem moet word vir die uitstekende kostuums.

Gaan kyk dit as julle kan.

Ver in die wêreld Kittie is heerlike vermaak.

Eindnotas:

[1] Evan Cater het die biografiese notas vir “Marais & Miranda” vir Apple-musiek geskryf. (Inligting op 7 April 2023 gekopieer.)

[2] Rosa de Miranda is ook hoe sy ook genoem word op die duo se amptelike webblad. (Inligting op 7 April 2023 verkry.) https://web.archive.org/web/20110714033123/http://www.maraisandmiranda.com/bio.htm.

[3] https://www.nytimes.com/1978/05/03/archives/josef-marais-72-singer-and-writer-with-his-wife-miranda-he-won.html.

[4] http://www.maraisandmiranda.org.

[5]  https://web.archive.org/web/20110714033322/http://www.maraisandmiranda.com/jbio.htm. (Inligting op 7 April 2023 gekopieer.)

[6] Ibid.

[7] De Lange is in 1946 oorlede. Dit was ’n moeilike tyd vir ’n bruin man in die laat 1930’s en vroeë 40’s in Suid-Afrika. De Lange was egter bekend vir sy uitspattige lewe en ook dat hy hom skynbaar min gesteur het aan die establishment se norme. Sou daar vir Koos plek wees om te blom in hierdie effens boheemse opset? Kramer swyg daaroor, en ander bronne wat ek probeer raadpleeg het, ook.

[8] https://daviddelange.bandcamp.com/track/suikerbossie.

[9] https://www.facebook.com/suikerbossieFredMichel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top