Mutton hour is ’n uur van bandelose vermaak. Dis soms ’n bietjie stout, dis ’n bietjie lawaaierig by tye, baie dikwels snaaks, en heel gereeld is daar ’n kort oomblik van refleksie voor Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt weer na iets nuut beweeg.
Die basis van Mutton hour is kamisjibai, ’n vorm van straatteater wat gewild geword het in Japan tydens die Groot Depressie.
Prente wat in ’n raam pas en gereeld gewissel word, is gebruik om die stories wat deur mense vertel word, te illustreer.
Die raam is ’n bietjie soos ’n televisiestel – dit fokus die kyker se aandag – maar die prente beweeg nie. Die vertellers, húlle is die bewegende dele op die verhoog.
Elke statiese prent word egter net vir ’n kort ruk in die raam gehou, dan verskyn ’n nuwe. So word die gehoor se aandag behou en elke storie vinnig en doeltreffend vertel.
In Mutton hour word ’n aantal van hierdie stories vertel. Die spelers spin ook elke nou en dan die “wheel of misfortune” wat rigting gee aan die spel.
G’n twee opvoerings van Mutton hour is dus dieselfde nie. Daar is ’n duidelike teks. Die spelers ken natuurlik hul woorde en skiet soms soos masjiengewere op mekaar, maar al is daardie stukke ingeoefen, pas hulle die teks aan om by die gehoor te pas, ook by die wiel se lukrake aanduidings.
Die teks is geskryf deur Jemma Kahn, De Klerk Oelofse, Gideon Lombard en Cintaine Schutte.
Lena-Lisa Bester en Rouve Hattingh het vir die kostuums gesorg.
Toe die deure open, was Gideon Lombaard, die regisseur, daar om ons te verwelkom. Hy was deurgaans in die saal. Het soms die saal se deure opgemaak omdat dit beurtkrag en warm was, en het ook met die gehoor gesels.
Mutton hour is dus selfbewuste teater – die gehoor is selfs aangemoedig om kiekies (maar nie video’s nie) te neem.
Daar is geen werklike stel nie, maar wel talle rekwisiete wat aangewend word om die pret te skep. Lombard was ook verantwoordelik vir die musiekontwerp tydens die vertoning.
Kamisjibai is draagbaar en aanpasbaar. Dit is geskep om armes te vermaak.
Schutte en Van der Walt gebruik dié tegniek om ’n deeglike stukkie lawwe vermaak te skep – met heerlike diepgang.
Hulle is ook bereid om by huiskonserte en verjaarsdae en korporatiewe funksies op te tree.
Koop gerus kaartjies as hulle in ’n teater naby jou is. Of bespreek hulle vir jou volgende partytjie.
Mutton hour is ’n uur van vet pret – selfs geskik vir vegans.
Lees ook:
Ver in die wêreld Kittie vra vrae by die feeste, ’n resensie
Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke
Persverklaring: KKNK 2023 inspireer met uitmuntende artistieke inhoud