Mirakel deur Reza de Wet weer opgevoer, ’n resensie

  • 0

Akteurfoto’s: KKNK | Agtergrond: Gerd Altman, Pixabay

...
Daar is iets bittersoet daaraan om kuns bo rykdom te kies. Nie almal doen dit nie, en in alle eerlikheid steek De Wet se teks die draak met diegene wat hulself as verhewe beskou bo diegene wat vermaak kies bo klassieke teater.
...

Mirakel is ’n klassieke stuk wat nou weer, danksy NATi, ’n nuwe lewe kry op ons land se verhoë. Dit gaan ook by die Suidoosterfees te sien wees.

Bespreek vroeg!

...
Toe Mirakel geskryf is, het Reza de Wet reeds genoem dat dit ’n luukse was om op te voer. Ses spelers om te betaal, skaapboud, aartappelslaai en melktert wat geëet moet word op die verhoog ...
...

Mirakel speel af tydens die Groot Depressie.

’n Teatergeselskap van vyf, onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré, voer ’n sukkelbestaan. Hulle kuns is skynbaar besig om in onguns te verval by jonger gehore. Die bietjie geld wat die gewone mense nog het, word liewer op “banale vermaak” soos die sirkus spandeer.

Teen die tyd dat ons hulle ontmoet, is die spelers platsak en het hulle dae laas geëet.

Tog gaan hulle aan.

Op dié bepaalde dorpie waar ons hulle ontmoet, woon die vrou van een van die akteurs. Hy het weggeloop van haar en is deurmekaar met ’n nuwe meisie, nou swanger.

Die vrou, baie ryk, daag op en gee vir almal kos. Sy is ook bereid om hulle op verskillende maniere uit te help, maar daar is ’n groot voorwaarde ...

Kuns, kuns, kuns

Toe Mirakel geskryf is, het Reza de Wet reeds genoem dat dit ’n luukse was om op te voer. Ses spelers om te betaal, skaapboud, aartappelslaai en melktert wat geëet moet word op die verhoog ...

Dit is daarom wonderlik om ’n duur stuk wat kuns besing, weer te kon laat opvoer.

Daar is iets bittersoet daaraan om kuns bo rykdom te kies. Nie almal doen dit nie, en in alle eerlikheid steek De Wet se teks die draak met diegene wat hulself as verhewe beskou bo diegene wat vermaak kies bo klassieke teater.

En tog, juis nou dat Suid-Afrika se ekonomie in ’n totale gemors is, ons land se werkloosheidsyfer skrikwekkender is as ooit tevore, juis nou is dit lofwaardig dat NATi geld beskikbaar gestel het om hierdie stuk weer op te voer met die room van ons teater.

Die feit dat Marthinus Basson die regie behartig, is eweneens lofwaardig.

Basson het ’n klassieke stuk geneem en gekies om dit realisties en klassiek aan te bied – kuns vir die saak van kuns.

Dawid Minnaar skitter as die opgepofte Danté en Basson laat hom toe om groots en aandoenerig te speel as ’n relikwie van ’n era wat verby is.

Bettie Kemp speel die rol van sy afgematte vroulike ster. Brümilda van Rensburg sou die rol gespeel het, maar is beseer en Kemp het haar met enorme sukses vervang. Kemp se klein gestalte en haar stemmetjie, wat opsetlik by tye baie hoog was, het aan haar karakter ’n broosheid verleen.

Rolanda Marais domineer die verhoog met haar teenwoordigheid wanneer sy as Anna, die ryk vrou, inswiep en die hele katoetie in rep en roer plaas.

Teenoor haar is Carla Smith uitstekend as die honger, afgematte Lettie wat hoog swanger is. Sy smelt stadigaan weg voor ons oë.

Edwin van der Walt oortuig ook as die hardegat jong man wat nie sommer sy ryk vrou se skynbare gulhartigheid wil sluk nie. Selfs ek, as geharde teaterganger, het later begin hartseer voel vir die arme karakter wat homself sonder kos aan die werk hou terwyl al die ander smul. Onder Basson se leiding word die karakters so werklik dat die skyn oorneem.

Eben Genis, wat die kruiperige musiekonnie speel, wek deernis. As jy melktert-eet tot kuns kan verhef, dan mag jy maar toneelspeel.

Nicolaas de Jongh was verantwoordelik vir die beligting.

Gaan kyk dit

My kaartjie is lank voor die fees gekoop, en toe was daar al talle plekke bespreek. Ek was uiters dankbaar dat die saal stampvol was teen die tyd dat die ligte afgeskakel is.

Ons ekonomie is tans moertoe, maar as jy ’n paar rand kan afknyp, sou ek hierdie stuk vir teaterliefhebbers aanbeveel.

Júis ómdat.

Lees ook:

Persverklaring: KKNK 2023 inspireer met uitmuntende artistieke inhoud

Ver in die wêreld Kittie vra vrae by die feeste, ’n resensie

Karatara, ’n resensie

Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke

My kroon se krank by die KKNK, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top