Herrie die olifant, ’n engel uit die buitenste ruim, en ’n blinkgoue eier: Loeloeraai 100 jaar later en CJ Langenhoven 150 jaar later

  • 0

...
Ekokritici moedig mense aan om ook op hierdie kritiese wyse na die natuur te kyk. Dit daag die mens in die Antroposeen uit; die mens wie se aksies negatiewe gevolge het. Dit draai die antroposentriese idee van die wêreld om en maak dit ekosentries.
...

Op 1 April 2023 is ’n weergawe van hierdie artikel tydens die Langenhoven-gedenklesing by die KKNK voorgedra. Die geskrewe teks is daarna met die vergunning van die Langenhoven Gedenkfonds en die skrywer aan LitNet gebied vir publikasie.[1]

***

“Waaroor maak jy jou tog oor sulke dinge moeg, Ouman? Is daar nie na jou sin genoeg mense hier op aarde nie?”

“Genoeg nie, Vroutjie? Hier is te veel. Oorvloediglik en oorbodiglik oorgenoeg.”[2]

Wanneer ons vandag na ’n teks soos Langenhoven se Loeloeraai kyk, is daar ’n hele paar dinge wat opval, waarvan die mees opmerklike is dat dit wetenskapsfiksie is wat in 1923 in Afrikaans geskryf is. Op die oog af lyk dit asof daar heelwat dinge in Loeloeraai is wat interessant en selfs profeties was in daardie jare, maar die vraag is: Wat is die relevansie vandag? Is Loeloeraai 100 jaar later steeds relevant?

My eenvoudige antwoord is ja om die volgende redes:

  1. Ekokritiek: In Loeloeraai vind ons ernstige vrae oor die mens en die omgewing, en ons verantwoordelikheid vir en skuld oor die stand van sake.
  2. Die droom van ’n ander planeet, hoe ons daar gaan kom en wat ons daar gaan doen.
  3. Wetenskapsontkenning, kennis en verantwoordelikheid: In die karakter van Stoffel vind ons iemand wat baie bekend lyk, naamlik iemand wat wetenskap ontken. Gaan kyk na Facebook. Gaan kyk op die nuus. Gaan kyk in die koerante. Gaan kyk na ons politici. Hoeveel Stoffels het ons nie vandag nie, en wat is die moontlike skadelike nagevolge waartoe dit kan lei? Hoe hanteer ons mense wat wetenskap ontken?
a. Ekokritiek[3]

“En al die lewe gedoem tot vernietiging! Is dit dan maar onvermydelik? Is daar geen uitweg nie? Loop elke paadjie dan maar dood? Is daar geen redding nie?”

Breedweg is ekokritiek die studie van die verhouding tussen die mens en die natuur, of die fisiese omgewing, in die konteks van die literatuur; hoe die verhouding tussen die mens en die fisiese omgewing in literêre werke en ander kulturele produkte (selfs films, televisiereekse, ens) uitgebeeld word. Dit volg dus ’n aardegesentreerde benadering tot literêre studies waar die aarde die sentrum is. Vrae wat byvoorbeeld gevra word, is die volgende: (a) Hoe word die natuur in hierdie verhaal/poësie uitgebeeld? (b) Is die waardes wat uitgebeeld word konsekwent met ekologiese waardes? (c) Tree karakters vriendelik teenoor die omgewing op? (d) Hoe verander die mens se idee van die “wildernis” in literêre werke? (e) Is die verhaal krities teenoor die mens se optrede teenoor die natuur? En so meer.

Die ekokritiek het dus as subjek die verbintenis tussen die natuur en menslike kultuur, spesifiek taal en literatuur. In die ekokritiek sluit die “wêreld” dus die hele ekosfeer in en word dit nie beperk tot net die mens se eie wêreld wat voorheen afsonderlik beskou was nie. Die bewussyn wat meestal sentraal staan in hierdie studies en wat ondersoek word, is die idee dat die natuur se beperkinge amper bereik is, of reeds bereik is, en dit gaan oor die nagevolge van die mens se aksies wat tot die uitputting gelei het.

Ekokritici moedig mense aan om ook op hierdie kritiese wyse na die natuur te kyk. Dit daag die mens in die Antroposeen uit; die mens wie se aksies negatiewe gevolge het. Dit draai die antroposentriese idee van die wêreld om en maak dit ekosentries.

Loeloeraai sê:

“Beskou tog, my vriende, die lewende bevolking van die aarde in sy geheel – mens en dier en plant. Is dit nie ’n aaklige skriktoneel nie? Dis één aanhoudende wrede roekelose worstelstryd.”

Ons kan ekokrities na Loeloeraai kyk: Dit is nie net die beskrywing van die natuur op ’n afstand nie; daar word ook vrae gevra oor ons verhouding met die natuur. Daar word gepraat van slawerny:

Daarvandaan het die mensheid al voortgaande stelselmatig slawe van buite geneem om hulle eie slawerny te verlig. Daarvandaan moes die bome groei en arbei met lig en warmte en lug en aarde nie alleen om saad af te skiet vir nageslagte van hulle eie soort nie, maar om brandhout te verskaf aan die oproerlinge. Ook had hulle vantevore geslaaf om met blad en vrug die honger van ander slawe te versadig; maar hier was nou die vernuf wat met bewuste opset deur ’n reeks van middels tot ’n berekende doel kon geraak. ’n Ras van slawe was deur aanhoudende verédeling ontwikkel wat die gewig van hulle juk leer ken het, en die oorsaak waarom hy so swaar is, en die geheim om hom te verskuiwe of selfs van hom ’n nuttige stuk gereedskap te maak.

Langenhoven maak dit duidelik: Ons het die natuur en alles rondom ons verminder tot “’n nuttige stuk gereedskap”.

b. Die idee van ’n ander planeet en ’n moontlike ander lewe

Tussen die blommehange pilare deur, oor die waters van die binnemaanse see, het die sfeer ons gevoer. Hier deur ’n noue gang, daar weer in ’n onafsienbare grot met sy verwelf derduisende voet oor ons kop, van toneel tot toneel, van skoonheid tot skoonheid.

Dalk was Langenhoven ’n tipe Elon Musk. Net op papier. In fiksie. (En nou verwys ek na die goeie eienskappe wat Elon Musk het – kom ons vergeet vir een oomblik van sy lawwe idees en uitlatings en aksies en die Twitterpocalypse). Langenhoven het gedroom oor ’n lewe op ’n ander planeet. Hy het gewonder hoe dit sal wees. Hy het gewonder hoe ander spesies ons sal sien en wat hulle van ons sal dink. Hy het gewonder hoe ons van vêr af lyk; hoe ons van buite af lyk. Hy het gewonder of ons goeie verteenwoordigers van die menslike spesie is. Hy het gewonder of ’n lewe op ’n ander planeet utopies is. Hy het gewonder of ander spesies ook só gefokus is op hulle eiebelang, en Loeloeraai (ons engel vanaf Venus) vertel vir ons hulle is nie.

c. Wetenskapsontkenning

Daar is ’n poging om tegnologie te ontwikkel waarmee ons diere se gedagtes kan hoor en verstaan, en met die doel dat hulle boonop met ons sal kan praat.[4] Wil ons diere se gedagtes kan hoor? Wil ons hê hulle moet kan praat? Wat sal dit beteken? Sal ons vir ons troeteldiere meer regte moet gee? Dalk sal hulle vir ons kan sê dit is slawerny om elke dag geforseer te word om te moet gaan stap. Hulle kos is walglik en dit is mishandeling om dit vir hulle te voer. Ensovoorts. Kennis beteken basies dat ons die verantwoordelikheid het om op te tree volgens die kennis wat ons het. Verantwoordelikheid beteken ’n verandering in gedrag, of aanpassings, of ander optredes, of ’n plig om om te gee en te luister en te versorg en na behoeftes te luister.

Dink byvoorbeeld aan ’n konstruksiewerker wat verantwoordelik is daarvoor om die knoppie te druk om ’n gebou op te blaas sodat dit gesloop kan word en ’n nuwe gebou gebou kan word. Iemand sê vir hom dat daar nog iemand in daardie gebou is en dat hy nie die knoppie moet druk nie. Hy besluit wel om die knoppie te druk en maak iemand dood. Ons almal gaan sê: Hierdie man was skuldig. Omdat daar ’n moontlike morele verantwoordelikheid betrokke was en daar goeie rede was om verdere ondersoek in te stel en seker te maak hy gaan niemand seermaak nie, het hy verkeerd opgetree. Sê nou net hy het nie geweet dat daar iemand in die gebou is nie en daar was geen rede vir hom om dit te dink nie. In daardie geval sal die man steeds verantwoordelik wees vir die feit dat hy die knoppie gedruk het, maar dalk sal ons nie so kwaad wees nie. Dalk sal ons voel dit is tragies, maar dat niemand blameer kan word nie.

Nou ja. Op hierdie manier is daar verantwoordelikheid vir die dinge wat ons weet – vir ons kennis. Ons moet ons optrede aanpas volgens die kennis wat ons het.

Kerneels sê:

“My kindjie, die jongste ontwikkelinge van die wetenskap moet ons laat besef dat ons geen perke kan stel aan wat moontlik is vir ons mensevernuf op hierdie wêreld nie. Hoe sal ons vir ander wêrelde waar ons niks van weet nie ’n streep trek?”

En dan:

“Laat ons nadink oor die betekenis van wetenskaplike kennis en die vermoë wat hy verskaf om die natuurkragte in te span. Hy beteken baasskap […] En daardie baasskap beteken soveel te meer omdat dit ’n heerskappy is wat uit slawerny behaal is. Die aanwending van natuurkennis is suksesvolle rebellie.

Langenhoven wys hier die verbintenis tussen kennis en morele verantwoordelikheid uit: As ons kennis het oor hoe die natuur uitgebuit kan word en ons gaan voort daarmee, is ons verantwoordelik vir die nagevolge daarvan. Ons is verantwoordelik vir die skade wat daarvanaf kom. Hy sê verder ook dat ons wetenskap ons slaaf gemaak het.

Die idee van waarheid en kennis is baie nou verbind aan die idee van wetenskapsontkenning. Stoffel ontken wetenskap; hy voer aan dat die aarde plat is. Wanneer hulle in die buitenste ruim is, erken hy uiteindelik dat hy “nou glo”. Die karakter is absoluut krities in die verhaal, en hierdeur verbind dit met ons hedendaagse wêreld, met inentings en Covid-19, met klimaatsverandering, en met inentings se kamstige verbintenis met outisme, ens.

Langenhoven het hier ’n versiendheid openbaar. Deur dat hy die karakter wat die wetenskap ontken prominent plaas, vra hy: Is dit beter om te weet, of om nie te weet nie? En wat doen ons met die kennis wanneer ons dit het?

Nou dink ek aan Adam en Eva in die Tuin van Eden: die vrug en die kennis van goed en kwaad. As ons die appel van kennis hap, het ons ook meer verantwoordelikheid as voorheen. Hoe meer kennis ons het, hoe meer verantwoordelikheid het ons.

En nou wil ek draai na die gevare van tegnologie: tegnologie en wetenskap in die verkeerde hande, tesame met die kennis van hoe om dit te gebruik. Langenhoven se gepraat oor die gevare van kennis kan ook toegepas word op ons kennis van tegnologie. Wie het uiteindelik die kennis? Wie het die mag om daardie kennis te gebruik? Gaan hulle dit vir goed of kwaad gebruik? Ongelukkig, soos wat ons weet, is dit dikwels die mense met minder-as-goeie motiewe wat met die mag sit. Ek glo dat mense oor die algemeen wel goed is. Maar dit gaan oor die 0,1% wat die mag het.

Ten slotte, in Loeloeraai/Langenhoven se woorde waar hulle gesels oor hulle omgewing op die maan:

“Het jy opgemerk, Kerneels, dat geen lewende ding ons hier ontvlug nie? Die voëls en die insekte kom op ons skouers en op ons knieë sit. Kyk hoe geniet daardie dingetjie wat ek maar ’n papegaai sal noem, Engela se liefkosing. Ons het nog nie ’n lewende ding hier aangetref wat van vrees weet nie. En op die aarde? Julle sal dit honderd maal beter opgemerk het as ek. Wanneer jy ’n dier op sy gelukkigste sien – die bokkie wat ’n nuwe weelderige weiplek aangetref het, die duifie wat vir sy maat so soet en liefies koekroekoe: almal van hulle is altyd aan’t rondkyk of daar nie ’n vyand nader nie. Die aarde word geregeer onder ’n wrede skrikbewind. En die grootste roofdier van almal is die hoogste van almal – die mens.”

“Loeloeraai,” sê Vroutjie, “jy laat ons baie klein voel.”

Ons praat nog die hele tyd oor kennis en verantwoordelikheid. Kom ons keer dit om. Veronderstel diere kan ook werklik “kennis” hê in die sin wat ’n mens kennis het.

Wat weet hulle?

Hoe sou Herrie oor Loeloeraai berig?

***

Die roman is steeds te koop, koop dit nou by Graffiti:

Loeloeraai
CJ Langenhoven
Protea Boekhuis (2007)
9781869191405

Eindnotas

[1] Die Langenhoven-gedenklesing is moontlik gemaak deur ’n skenking van die LW Hiemstra-trust.

[2] Aanhalings uit ’n aanlyn bron: http://www.mieliestronk.com/loeloeraai.html.

[3] Sien die belangrikste navorsers in hierdie veld: Timothy Morton, Cheryll Glotfelty, Stacy Alaimo, Lawrence Buell, Greg Garrard, Serenella Iovino en Hans Jonas. In Afrikaans is daar Susan Meyer, Andries Visagie en Susan Smith. Dan is daar jonger akademici, Dewald Koen en Alwyn Roux (om net twee te noem), witwarm van die werk aan ekokritiek.

[4] Sien byvoorbeeld: https://www.theatlantic.com/technology/archive/2013/06/animal-behaviorist-well-soon-have-devices-that-let-us-talk-with-our-pets/276532/; https://www.scientificamerican.com/article/brain-scans-reveal-dogs-thoughts/; https://www.nytimes.com/2020/04/08/technology/ai-pets-apps.html; https://www.nbcnews.com/mach/science/dogs-can-t-speak-human-here-s-tech-could-change-ncna836811.

Lees ook LitNet Akademies se artikels:

Op weg na ’n eiesoortige Afrikaanse ekokritiek: ’n Ontleding van die gedigreeks "werf" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog

Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)

Huisies aan die Rand: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van sewe gedigte met Johannesburg as agtergrond

Lees ook:

Loeloeraai 100 jaar later

Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika

Ekokritiek: In gesprek met Susan Smith

Is ekokritiek die moeite werd?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top