’n Hele aantal omgewingsgerigte literêre artikels het onlangs in LitNet Akademies verskyn, onder andere: Wat oor is, is die Self: verblyf in ’n boomholte in Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. Dit wil dus voorkom of daar ’n groeiende belangstelling in Afrikaanse geledere is in die studie van die mens se verhouding met plek en hoe dit identiteitsvorming beïnvloed. Navorsers op die gebied van omgewingsgerigte literêre studies is uitgenooi om deel te neem aan ’n webseminaar oor die stand van ekokritiek in die Suid-Afrikaanse akademie. Is die tendens aan die groei? Wat is die belang hiervan? Wat onderskei Suid-Afrikaanse ekokritiek, teen die agtergrond van die land se komplekse geskiedenis, van dié van internasionale prentjie? Andries Visagie gee sy mening. |
As ’n mens daaraan dink dat een van die oudste en bekendste gedigte in Afrikaans, Eugène N Marais se “Winternag”, ’n natuurvers is, is dit seker nie verbasend dat die ekokritiek uiteindelik in die Afrikaanse literatuurwetenskap ook begin vaart kry nie. In 1990 het Johann Lodewyk Marais se bloemlesing van gedigte oor die omgewing, Groen, en later ook Ons klein en silwerige planeet (met Marais en Ad Zuiderent as samestellers, 1997) baie gedoen om Afrikaanse lesers van die belang van omgewingsbewuste poësie te laat kennis neem.
In hierdie kort artikel wil ek enkele voorstelle maak vir moontlike rigtings waarin die Suid-Afrikaanse ekokritiek verder kan ontwikkel.
In die ontwikkelde wêreld is daar toenemend die besef dat die ekokritiek nie verder kan groei sonder om die postkoloniale kontekste van die armer Suide te verreken nie. Die essensialistiese en isolasionistiese tendense wat soms by die ekokritiek insluip, kan deur insigte vanuit die postkoloniale kritiek teengewerk word, sodat die persepsie uit die weg geruim kan word dat literatuur oor die omgewing wesenlik oor blomme, voëls en klippe gaan, teenoor die postkoloniale literatuur, wat net mense as fokuspunt het (Slovic aangehaal deur Roos en Hunt 2010:7-8). In Suid-Afrika is die postkoloniale ekokritiek die sambreel wat die meeste ekologiese kwessies sal omvou. Dit kom neer op die besef dat die koloniale periode nie net ’n enorme invloed op die omgewing gehad het nie, maar ook dat inheemse denkwyses oor die omgewing ingrypend verander het toe Suid-Afrika vanaf die 17de eeu ’n ontmoetingsplek vir bevolkings uit Afrika, Europa en Asië geword het en nog steeds ’n ruimte is waar globale ontwikkelinge en plaaslike prioriteite met mekaar in ’n voortdurende onderhandelingsproses gewikkel is. Veel meer as in Europese lande word daar in Suid-Afrika byvoorbeeld gesprekke gevoer oor uitheemse teenoor inheemse plantegroei, ’n debat wat uiteraard verknoop is met die voortdurende debat oor wie presies as ware Afrikane beskou kan word en of sekere bevolkingsgroepe nie steeds as “uitheemse” setlaars beskou moet word nie.
In Suid-Afrika is dit waarskynlik dat die postkoloniale ekokritiek met hibridiese opvattings en verskynsels in die literatuur sal moet werk. Breyten Breytenbach (1999:42-3) se voorstel dat verbastering bepalend is vir enige konsepsie van die Afrikaner as Afrikaan, Leon de Kock (2001:287) se metafoor van die soom met sy kruissteke en interpenetrasies wat wegstuur van aansprake op enkelvoudige identiteite in Suid-Afrika, asook Sarah Nuttall (2009:1) se konsep van vervlegting (“entanglement”) as ’n verworwe intimiteit in Suid-Afrika, ondanks alle pogings om dit te weerstaan of te ignoreer, wys almal in die rigting van hibriditeit en kreolisering en dek die tafel vir ’n postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika wat kontaksones en ineenskakelings in die omgewing as ’n produktiewe ruimte vir ondersoek neem.
Die aspek van die ekokritiek wat my tans die meeste interesseer, is die rol van diere in die Afrikaanse literatuur, en ook hier is die kwessie van ineenskakeling een van die brandpunte. Die molekulêre bioloog Bonnie Bassler se uitspraak dat hoewel die meeste mense aan hulself as mense dink, sy hulle eerder beskou as wesens wat 99% uit bakterieë bestaan, sluit aan by die ontluikende diskoers oor pasmaatspesies (vgl Donna Haraway se boek When Species Meet, waarin sy oor “companion species” skryf). Vervlegtings tussen mens en dier is egter nie net ’n biologiese feit nie – binne die postkoloniale ekokritiek is daar die uitdaging om die plek van niemenslike diere in die voorheen gekoloniseerde wêreld te bestudeer en om na te gaan hoe die diere betrokke is by die komplekse proses van skering en inslag in die verwewing (en soms die lostorring) van self en ander.
Marguerite Poland se memoir Taken Captive by Birds (2012) is ’n mooi voorbeeld uit die eietydse Suid-Afrikaanse literatuur van die rol wat diere, en spesifiek voëls, in die uitwisseling en onderhandeling van kulturele betekenisse speel. In die memoir is die voëls dikwels die skakel wat ineenskakelings tussen wit en swart fasiliteer; ander kere is dit juis die voëls wat kultuurverskille beliggaam. Poland skryf onder meer oor die uil wat te siene was in die bosagtige grensgebied van hul tuin in Grahamstad met sy Engelse blombeddings. Westerse bygeloof oor uile as aankondigers van die dood vervloei met die bygelowe van die plaaslike swart gemeenskap wanneer dit blyk dat die swart mense die huis van die jong Marguerite Poland vermy omdat hulle die uil en die voëls, wat aan die huis die naam Kwezintaka(Plek van voëls) besorg het, met onheil verbind sedert drie werkers een aand langs hul antrasietvuur in ’n buitegebou versmoor het. By klein Marguerite sou die reuk van antrasiet en die verskynings van die uil onvermydelik doodsgedagtes bly oproep. Kwezintaka is herdoop tot Penderley, en hierdie uitheemse Skotse naam was vir die Xhosasprekende gemeenskap interessant genoeg ’n gerusstelling dat die onheil van die uil en die voëls die wyk geneem het. In die ontmoetings tussen swart en wit word die voëls sodoende betrek by boeiende onderhandelings oor, en vertalings van, plek en betekenis binne die postkoloniale ruimte. Hierby is die voëls nie bloot passiewe ontvangers van betekenisvorming nie, want deur die soms verrassende optrede van die hoenders, meeue, byevreters en duiwe word die menslike karakters gereeld gedwing om hul eie denkbeelde te hersien en om nuwe ervarings in woorde vas te vang.
’n Boek soos Taken Captive by Birds laat ’n mens opnuut nadink oor Etienne van Heerden se Kikoejoefiguur (Van Heerden, 1996), sy floubokke in Die stoetmeester (1993) en selfs die kameelperde in sy meer onlangse roman Asbesmiddag (2007). Is diere in Van Heerden se werk nie intiem verstrengel met die postkoloniale sublieme wat gereeld in sy werk ’n verskyning maak nie (Visagie 2001)? En is dit nie tyd dat ons die vark Hamboud en die hoenderhen Zelda, André P Brink se omstrede dierekarakters in Philida (2012), met insigte vanuit die ekofeminisme en die postkoloniale ekokritiek takseer nie?
Hopelik sal die postkoloniale ekokritiek nie ’n nuwe dogma word wat diere en die omgewing net as ’n derde element met ’n nuttige bemiddelende rol in die wisselwerking tussen menslike self en menslike ander inspan nie. En hopelik sal literêre tekste ook nooit tot hul politieke inhoude gereduseer word nie, sodat die estetiese seggingskrag van die literatuur steeds die basis van die vraagstelling bly. Dit is egter waarskynlik dat die postkoloniale ekokritiek mettertyd ons opvattings oor die estetika sal hersien en uitbrei, want die gedagte dat die estetiese domein in stralende afsondering van enige sosiopolitieke oorwegings funksioneer, is immers lankal reeds uitgedien.
Met boeke soos Graham Huggan en Helen Tiffin se Postcolonial Ecocriticism (2010), Bonnie Roos en Alex Hunt se Postcolonial Green (2010), asook Elizabeth DeLoughrey en George B Handley se Postcolonial Ecologies (2011) het die postkoloniale ekokritiek met mening ’n toetrede tot die Engelstalige literatuurteorie gemaak en daar word reeds druk besin oor die deurslaggewende rol van JM Coetzee in die postkoloniale ekokritiek. Na verwagting sal nog Afrikaanse kritici hulle by Susan Meyer en Susan Smith aansluit om ook vanuit Suid-Afrika saam te dink oor nuwe prioriteite vir die ekokritiek in die Suide.
Bronne
Breytenbach, Breyten. 1999. Andersheid en andersmaak, oftewel die Afrikaner as Afrikaan. Berig gerig aan Frederik van Zyl Slabbert. Fragmente 4:26-44.
Brink, André P. 2012. Philida. ’n Slaweroman. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Kock, Leon. 2001. South Africa in the Global Imaginary: Introduction. Poetics Today 22(2):263-98.
DeLoughrey, Elizabeth en George B Handley (reds). 2011. Postcolonial Ecologies. Literatures of the Enivironment. New York: Oxford University Press.
Haraway, Donna J. 2008. When Species Meet (Posthumanities-reeks, Volume 3). Minneapolis en Londen: University of Minnesota Press.
Huggan, Graham en Helen Tiffin. 2010. Postcolonial Ecocriticism. Literature, Animals, Environment. Londen & New York: Routledge.
Marais, Johann Lodewyk en Ad Zuiderent (samestellers). 1997. Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Pretoria: JL van Schaik Akademies.
Marais, Johann Lodewyk (samesteller). 1990. Groen. Pretoria: HAUM Literêr.
Nuttall, Sarah. 2009. Entanglement. Literary and cultural reflections on post-apartheid. Johannesburg: Wits University Press.
Poland, Marguerite. 2012. Taken Captive by Birds (geïllustreer deur Craig Ivor van Vuuren). Johannesburg: Penguin Books.
Roos, Bonnie en Alex Hunt (reds). 2010. Introduction: Narratives of Survival, Sustainability, and Justice. In Roos en Hunt (reds). 2010. Postcolonial Green: Environmental Politics and World Narratives. Charlottesville en Londen: University of Virginia Press.
Van Heerden, Etienne. 1993. Die stoetmeester. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1996. Kikoejoe. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2007. Asbesmiddag. Kaapstad: Tafelberg.
Visagie, Andries. 2001. Peilings van die postkoloniale sublieme: Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden. Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, 8:179-180.
Keer terug na die indeksblad om nog bydraes oor ekokritiek te lees.