Ekokritiek: In gesprek met Susan Smith

  • 0

Jou jongste LitNet Akademies-artikel, "Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk", handel oor die idee van plek in die ekogedig. Omgewingsgerigte literêre kritiek, of ekokritiek, beklee steeds 'n liminale posisie in die Suid-Afrikaanse akademie en kwessies van ras, klas en gender geniet voorkeur. Hierdie ekohuiwering (ek steel nou William Slaymaker se term eco-hesitation) het moontlik iets te make met Suid-Afrika se unieke geskiedenis van onderdrukking, gekenmerk deur geskille oor grondbesit en die gewelddadige ontworteling van inheemse groepe. Die praktyk van omgewingsbestuur het boonop 'n noue verwantskap met Britse koloniale onderdrukking en uitbreiding. Einste Slaymaker beweer: "For some black African critics, ecolit and ecocrit are another attempt to ‘white out’ black Africa by coloring it green" (132).

Jy is lid van 'n klein groepie “groen” Suid-Afrikaanse akademici wat hulle op omgewingskritiek toespits. Wat is die stand van die ekokritiek in Suid-Afrika? Hoekom is dit so belangrik dat die kwessie van plekdieselfde aandag as klas, ras en gender in die klaskamer (en natuurlik in navorsing) geniet?

I
As bron van woorde het letterkunde die potensiaal om ’n kritiese bewussyn te kweek en te kan optree as ’n etiese en epistemologiese vrymaking. Net soos postkolonialisme en feminisme is ekokritiek ook ’n vorm van kulturele kritiek wat stem gee aan ’n stilgemaakte Ander. Anthony Vital sê byvoorbeeld in sy artikel “Towards an African Ecocriticism: Postcolonialism, Ecology and Life and Times of Michael K” (2008:1) dat ’n Afrikagerigte ekokritiek noodsaaklik is, “one which engages in debating what a society’s assigning of significance to nature (in varieties of cultural products) reveals about both its present and past”.

Ekologiese studies ondersoek onder andere die nadraai en impak wat ’n gewelddadige koloniale bestel gehad het op mense en die plek waar hierdie mense gewoon het. Om vir natuur te “lees” beteken om ook te lees met ’n bewussyn van die koloniale geskiedenis en hoe ekokritiek en postkoloniale kritiek meewerk daartoe om Afrikagerigte vrae te vra wat Afrikagerigte, plekspesifieke antwoorde tot gevolg kan hê. Deur ekokrities op plek te fokus beteken dat die blik gewerp word op beide die historiese invloed van plek en hoe daar tans na plek gekyk word.

Daar behoort ondersoek ingestel te word na die wyse waarop moderniteit in die Afrika-konteks die mens se verhouding met die natuur beïnvloed, en as gevolg daarvan, die impak van gemeenskappe op natuurlike omgewings. Die soeke na ’n meer haalbare, volhoubare en gesonder wyse vir gemeenskappe om hul plek te bewoon en selfbegrip te bevorder, staan sentraal.

Herwaardering van plek en ingeplaaste skryf- en leesaksies bring dus die ondersoek terug na die plaaslike, die streek- en die nasionale omgewing. Dit veronderstel geen abstrakte ruimtelike ondersoeke nie, maar wil juis bemoeienis maak met die geheel en die wisselwerking tussen verskillende dissiplines en kritieke. Plek is in essensie onlosmaaklik verbind met klas en ras en gender. Dit behoort te lei tot historiese selfbegrip - hoe daar in die verlede met plek omgegaan is, hoe gewelddadige strukture van mag en onderdrukking en verskuiwing plek beïnvloed het en hoe daar in die hede met plek omgegaan behoort te word. Die geskiedenis van plek is ook die geskiedenis van sy mense. Die geskiedenis van ’n plek praat dikwels waar die mense van ’n plek stilgemaak was. Om vir plek te lees, is ook om vir stilte te lees. Anders as Slaymaker sien ek ekokritiek dus nie as ondermyning van die rol wat postkoloniale kritiek behoort te speel nie, maar as mederolspeler in die ondersoek na en verwoording van die menslike-niemenslike verbintenis. In dié verband sê John O’Donohue: “The silence of landscape conceals vast presence. Place is not simply location. A Place is a profound individuality.”

II
Die marginale posisie van ekokritiek is moeilik om te verklaar. Wêreldwyd word die erns van die mens se situasie op hierdie planeet op die hart gedruk, maar politici, maghebbers en ekonome se agendas vertel ’n ander storie. Die briljante ontwikkelinge op die gebied van die tegnologiese, mediese, natuur-, ingenieurs-, regs- en ekonomiese wetenskappe in die afgelope eeu is moontlik gemaak deur die lewegewende kern of siel van ons samelewing. Wanneer die vermoë om te voorsien in gevaar gestel word of tot niet gaan, bevind die samelewing sigself in ’n eksistensiële krisis.

Cormac Cullinan, die internasionaal-erkende Suid-Afrikaanse aardregkenner, wys op die selfmisleiding en selfbedrog wat tans in die sentrum van denke staan. Hy sê dat hoewel ons meer as ooit tevore van die aarde en die heelal weet, ons al minder met die aarde in sy oorspronklike integriteit kommunikeer (Cullinan 2011:18, 19). Ons uitgebreide wetenskaplike kennis en tegnologiese kundigheid het ons nie verhoed om reënwoude te vernietig en die lug, water en grond van die planeet te besoedel nie, terwyl ons in arrogante selftevredenheid glo dat ons al die probleme wat ons aksies meebring, kan hanteer.

Ekokritiek speel tans nog ’n uiters geringe rol in die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, literêre landskap. Ek glo en hoop dat ekokritiek en ekopoësie as literêre bril nie net ’n wyer perspektief op die ingewikkelde verhouding tussen die mens en die niemenslike wêreld sal meebring nie, maar ook tot vernuwing in die literatuurteorie en -kritiek lei. Dat dit tot ingeplaaste skryf en ingeplaaste lees sal lei.

III
Volgens Lawrence Buell is daar vier belangrike uitdagings wat ekokritiek tans internasionaal in die gesig staar om as kritiese teorie sy regmatige plek in te neem: (i) die uitdaging van die organisasie van die uiteenlopende verskeidenheid ekokritiese ondersoekterreine en denkrigtings; (ii) die uitdaging van akademiese geldigheid waardeur ekokritiek dieselfde status as diskoerse oor ras, geslag, klas en globalisasie sal beklee; (iii) die uitdaging om spesifieke modelle van kritiese bevraagtekening te definieer wat saamhang met ’n kritiese metodologie; en laastens (iv) die uitdaging om belange te vestig ánderkant die akademie. Om die aandag op ’n nuwe ondersoekterrein te vestig, is volgens Buell (2005:131) net so belangrik soos ’n radikale verskuiwing in metodologie. Hy sê: “Field-defining paradigms are after all made to be broken.” Die bydrae lê eerder in die oopmaak van ’n tot nog toe on- of onderontginde onderwerp as in die spesifieke model om dit te ondersoek.

In jou artikel stel jy die term plektyd as teoretiese nuutskepping voor en dui aan dat "plektyd nie ’n ruimtelike abstraksie soos ruimtetyd is nie, maar in die werklikheid gesitueer is en berus op die belewing van plek binne reële tyd". Die idee van ingeplaastheid as manier om individuele verhoudings met plek te definieer is vir my baie waardevol. Dit is my gevoel dat Suid-Afrikaanse navorsers wat hulle op ekokritiek toespits, nie bloot onder die wye sambreel van "postkoloniale ekokritiek" kan staan nie, maar ook saam moet werk aan die formulering van 'n unieke teoretiese ekokritiese raamwerk eie aan die Suid-Afrikaanse toestand - iets wat jy in jou artikel aanpak. Wat is jou siening hieroor?

Heelwat navorsing is in die verlede al onderneem oor ruimte, waardeur dikwels plek geïmpliseer is. As navorsingsterrein is plek dus nie totaal onontgin in die Afrikaanse literatuur nie. Dink maar aan die ryk tradisie van plaasromans en die lang geskiedenis van grondverbondenheid, eienaarskap en, meer onlangs, grondonteiening wat in literêre tekste aan bod kom. ’n Fyner gedefinieerde onderskeid tussen plek en ruimte, soos deur internasionale kritici getref (en waarvan ek in my genoemde artikel probeer rekenskap gee het), het egter noodsaaklik geword. Wat my veral van hierdie onderskeidinge opval, is die klem wat gelê word op die konkrete aard wat ten grondslag van plek in teenstelling met ruimte lê – ’n ondersoek wat ’n vars blik op bestaande tekste kan werp. Ondersoeke na plektyd sal noodwendig die Suid-Afrikaanse landskap (letterlik) in berekening moet bring. Ek hoop dat my artikel sal bydra tot die unieke teoretiese ekokritiese raamwerk waarvan jy praat.

Een van jou artikel se doelstellings is om ekopoësie - as 'n terrein wat tot dusver baie min aandag in Afrikaanse literêre kritiek ontvang het - oop te stel vir ondersoek. Eintlik het Afrikaans 'n baie ryk tradisie van ekopoësie. Jy noem onder andere Opperman, Antjie Krog, Martjie Bosman en NP Van Wyk Louw. Klink vir my of dit hoog tyd is dat ons terugkeer na die Afrikaanse "kanon", dié keer met die oog op die uitbeelding van die verhouding tussen mens en plek. Is daar 'n spesifieke Afrikaanse digter/skrywer wie se werk jy dink ryp is vir herondersoek in hierdie opsig?

Ons het inderdaad ’n uitgebreide tradisie in Afrikaans van skryf oor plek. Grond, land en mag is van die begin af onlosmaaklik verweef in die psige van die Suid-Afrikaner. Soos jy tereg opmerk, is daar heelwat gekanoniseerde skrywers en digters wie se werk ’n ryk bron bied vir herondersoek vanuit ’n ekokritiese perspektief. Dit is veral wanneer daar na die onderskeid tussen ruimte en plek gekyk word dat nuwe perspektiewe oopval en bestaande ondersoeke nuwe winste oplewer. Wat die digkuns betref, sou ek graag weer tyd saam met C Louis Leipoldt wou deurbring. En natuurlik Eugène Marais. Dan ook Wilma Stockenström (oor wie se prosatekste daar onlangs puik artikels geskryf is), TT Cloete, Petra Müller, George Weideman en selfs gedigte van Breytenbach en Krog wat met ’n nuwe bril bekyk kan word. Natuurlik ook Johann Lodewyk Marais, die digter met die mees uitgebreide natuursentriese oeuvre; en onder die nuwer stemme, Carina Stander.

Ekokritiek spruit deels voort uit die aarde se benarde ekologiese toestand en die groeiende bedreiging van natuurlike hulpbronne. Een van die kritieke wat teen ekokritiek geopper word, is die feit dat die studie van omgewingsgerigte letterkunde nie 'n daadwerklike oplossing bied vir die baie ekologiese krisisse wat tans wêreldwyd uitspeel nie. Hoe dra die studie van ekopoësie en ander omgewingsgerigte skryfwerk by tot die bekamping van die ekologiese penarie waarin ons ons tans bevind? Kan ons hoegenaamd so iets van literêre kritici, skrywers en digters verwag?

Die multidissiplinêre aard van ekokritiek dui alreeds aan dat ekokritiek nie los te maak is van al die omringende sisteme nie; dit is ’n ekotoon, ’n grenssone tussen baie ander dissiplines en subdissiplines, en speel ’n spesifieke rol binne ’n spesifieke konteks. Ekokritiek is nie ’n panasee vir alles wat verkeerd is met die omgewing nie; nog minder is dit die politieke towerstaffie wat almal gaan laat regop sit en die regte ding gaan laat doen.

Die rol van ’n groen gedig in die lewe van sy lesers behoort egter nie misgekyk te word nie. Dit is nie die teoretici wat die wêreld gaan verander nie, maar die digter wat, een leser op ’n slag, ’n nuwe perspektief kan bied, die saadjie van ’n nuwe ingesteldheid kan plant. Dit is die toeganklike, voete-op-die-grond gedig wat veral vir jonger lesers aan die hart kan ruk.

Letterkunde kan, in die woorde van Serenella Iovino, “potentially impact the imagination of an entire society, and thus offer more tools designed to interact with social life” (2010:57). As die letterkunde die wyses waarop menslike en niemenslike verskynsels beskryf word, kan verruim, bied dit ’n skerper perspektief op die sosiale en natuurlike werklikheid wat lei tot ’n skerper insig in die self. Literatuur word dan die terrein van konstante skeppende hernuwing van taal, persepsie, kommunikasie en verbeelding.

Die ontwikkeling van die teorie rondom die groen gedig is natuurlik belangrik – dit behoort nie net na die verlede en bestaande tekste te kyk nie, maar bied ook die potensiaal om deur nuwe ingesteldhede die pad vorentoe aan te dui en selfs ’n invloed uit te oefen op die wyse waarop nuwe tekste op nuwe wyses tot stand kom. Dit bied geleentheid vir interaksie en ontwikkeling van konsepte. Maar teorie alleen is uiteindelik net nog ’n instrument wat meet en vergelyk en lostorring aan die woorde van die digter.

Dana Phillips (1996:219) is van mening dat dit dalk uiteindelik die natuur self is wat ’n wêreldsiening van sy eie gaan dikteer: “Nature may soon begin dictating a new worldview of its own, setting harsher limits to our thinking, and our behaviour, for us.”

Jou debuutbundel, In die afwesigheid van sin, ondersoek die verskeie betekenisse van die begrip sin kry. Deesdae spits jy jou ook op ekopoësie toe. Het jou navorsing in omgewingskritiek jou poësie enigsins beïnvloed?

Dit is nou ’n lekker vraag, Elzette. Omdat ek die afgelope twee jaar veral besig was met ekokritiek en ekopoësie, het my eie skryfwerk definitief in daardie rigting begin ontwikkel. Trouens, ek dink ek is tans op ’n heeltemal ander plek (!) as toe my debuutbundel beslag begin kry het.

Dit is nie moontlik om die kreatiewe prosesse netjies in ’n kompartement te pas en opsy te skuif as mens met die teorie van letterkunde besig is nie – die osmose is daar. Ek wil graag glo dat van die gedigte waarmee ek tans besig is, voldoen aan die kenmerke van ingeplaaste skryf deurdat die digter, hetsy subtiel of minder subtiel, sigbaar is in die geskryfde plek – meer nog, deel word van daardie plek. Ekopoësie behoort ook nie ’n afstandelike en akademiese wégskryf van of áfskryf na die niemenslike omgewing te wees nie, maar eerder ’n ínskryf. Benoeming en katalogisering, wat sistematies of lukraak kan geskied, is ’n belangrike element van ekopoësie, maar moet na my gevoel nie bloedloos geskied nie. Dit bied uitdagings aan die digter om ’n balans te handhaaf tussen die informatiewe en die emotiewe, tussen verstand en hart, waarneem en ervaar. En ek wil graag op sowel die wetenskaplike as die kreatiewe stoel sit.

Klik hier om 'n onlangse webseminaar oor ekokritiek op LitNet te lees. 

 

Bibliografie

Buell, L. 2005. The Future of Environmental Criticism. Malden, MA: Blackwell Publishing.

Glotfelty, C en H Fromm (reds). 1996. The Ecocriticism Reader: Landmarks in Literary Ecology. Athene en Londen: University of Georgia Press.

Iovino, S. 2010. The Human Alien. Otherness, Humanism, and the Future of Ecocriticism. Ecozon@, 1(1).

O’Donohue, J. 1997. Anam Cara: Spiritual Wisdom from the Celtic World. Londen: Bantam Press.

Phillips, D. 1996. Is Nature Necessary? In Glotfelty en Fromm (reds) 1996.

Vital, A. 2008. Towards an African Ecocriticism: Postcolonialism, Ecology and Life and Times of Michael K. Research in African Literatures, 39(1):87−106.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top